Die sanger en liedjieskrywer Len Muller, wat ook in aksie was by die AfriVisie-eindronde, het onlangs ’n nuwe album, Doodgewone Avontuur, vrygestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Len. Hoe's dinge?
Dit gaan baie goed met my, dankie!

Geluk met die onlangse vrystelling van jou nuwe album, Doodgewone Avontuur. Hoe is die terugvoer en reaksie daarop tot dusver? Hoe het jou benadering met die album – die skryf van die liedjies, die balans daarvan op die album, die produksie – verskil van jou benadering met die solo-EP?
Baie dankie! Die reaksie is ongelooflik sover. Ek glo ons sal nog goeie reaksie kry soos wat die album meer mense bereik. My ma hou daarvan, so dis altyd goed …
Ek het hierdie ronde meer saam met ander verskriklik talentvolle skrywers geskryf en dit het ’n groot verskil gemaak in my aanslag. Ek voel ek het bietjie meer ervaring en ook perspektief gehad met hierdie album.
Ek voel ook ek het uiteindelik my eie klank ontwikkel met die opname van hierdie album – met die EP het ek en Wynand Delport van die groep Anders gespeel met ’n paar idees. Hierdie nuwe album is baie soos wat ek wil klink en dit het natuurlik baie te doen met die invloed wat vervaardiger Ewald J v Rensburg en Francois de Klerk gehad het op die album. Ek is ’n groot aanhanger van hul werk en werk gemaklik saam met hulle.
Volgens ’n onlangse artikel op kykNET se webwerf het jy drie jaar lank aan die oorspronklike materiaal gewerk vir die eerste EP en ’n verdere twee jaar aan die materiaal vir Doodgewone Avontuur. Dit is relatief lank. Kan ’n mens aanneem dat jy perfeksionisties is in terme van die liedjies? In dieselfde artikel word jy aangehaal dat jou lirieke "byna net so uit my persoonlike joernaal kom" – is die liedjieskryfproses vir jou dus grootliks toonsetting, of hoe werk die liedjieskryfproses vir jou en wanneer besluit jy dié is ’n góéie liedjie?
Ek sal nie sê dat ek ’n perfeksionis is as dit kom by my musiek nie. Mens wil natuurlik hê dit moet die beste klink wat dit kan, maar iets wat ek by Stef Bos geleer het in ons saamskryf aan “Sarie Marais” is dat liedjies moet “mature”. Hoe meer ’n mens dit sing en opvoer, hoe meer skaaf ’n mens daaraan. Ek voel dit het so lank gevat omdat ek nog besig was om myself in my musiek te vind maar ook dat die liedjies genoegsaam “mature” het, as jy verstaan wat ek bedoel.
Nee, ek skryf oor wat ek voel of beleef. Die woorde uit my joernaal vra partykeer vir toonsetting, maar ander kere is dit andersom. Ek skryf dalk ’n stuk musiek en gaan haal dan lirieke uit my lewe en stories wat daarby pas. Dis moeilik om vir jouself te sê wanneer jy nou ’n goeie liedjie geskryf het, daarom toets ’n mens dit op ander ore en skryf ook saam met mense wat bekend is vir hul goeie liedjies.
Daar is verskeie collabs of samewerkings op die album – onder meer het Bouwer Bosch, Retief Burger en selfs Stef Bos help skryf, en van hulle het ook aan die opnames deelgeneem. Wat is die waarde vir jou daarin om saam met ander jong kunstenaars te skryf en te werk, en ook met meer gesoutes soos Stef? Hoe werk daardie slyp-mekaar in die saamwerktyd? Is daar ander kunstenaars met wie jy spesifiek nog wil saamwerk in die toekoms?
Dit het vir my gróót waarde. Die musiekwêreld, of eintlik die kunstenaarswêreld in die breë, is maar baie persoonlik. Dis soort van elke ou vir homself. Meestal omdat baie van ons so “insecure” is oor ons kuns. Maar iets moois gebeur wanneer jy jou kuns met ander begin deel. Mens begin perspektief kry, en ook, ’n mens groei vreeslik as jy jouself nie heeltyd probeer vergelyk nie. Wat ook gebeur, is jy maak nuwe vriende met mense wat dieselfde passie het as jy! Die wêreld is ewe skielik nie so eensaam nie.
Ek sal nog vreeslik graag saam iemand soos Joe Niemand wil skryf, maar ook ouens soos Joe Foster en Christoph Kotze, of Appel, soos almal hom noem. Maar as ek nou groot mag droom, sal ek graag saam Ed Sheeran, Jack Johnson, Ben Howard of One Repuplic wil skryf!
Jy was voorheen die voorman van die rockgroep Die Foute. Die klank en aanslag waarbinne jy nou werk – meer die akoestiese melodiese rock-gevoel – verskil nogal baie van daardie harde aanslag van Die Foute. Wat het aanleiding daartoe gegee dat jy die nuwe rigting ingeslaan het? Mis jy die kameraderie van ’n band, en mis jy soms die distortion pedal? Wat is die voordele in terme van die musiek wat jy wil maak met die nuwe inslag?
Ek mis vir seker die manne en dis lekker om saam met ’n paar pelle te toer en grappies te vertel, maar dit het ook maar sy negatiewe kant. Almal in die band daardie tyd het ook maar hul eie idee gehad van wat ons moet doen en almal het uiteenlopende persoonlikhede gehad. Vir my het dit altyd gegaan oor liedjies skryf. Studiotyd en liedjies skryf was nog altyd my gunstelingdeel van die hele storie. Nie so mal oor optree nie, omdat dit voel ek gee stukkies van my weg. Maar om terug te kom na jou vraag: ek toer as agent en toerbestuurder vir die legendariese blues/rock-kunstenaar Dan Patlansky. Dis my “day job”, so ek kry darem nog genoeg van die distortion pedals in my lewe.
Oor die aanslag of klank van my solo-goed het ek maar ’n mengsel van musiek gevat wat ek baie van hou om my “klank” te kry. Dis baie rou, “stripped down” en eerlik. Mense kan die lirieke ordentlik hoor, so die boodskap kom oor. Ek glo ook mense sal hulself meer met die nuwe liedjies kan vereenselwig. Dis vir my lekker as ek mense kan inspireer deur my musiek of selfs net laat begin dink oor hul lewens en wat om hulle of in hul eie harte aangaan.
Hierdie genre waarin jy jouself nou begeef, is natuurlik een waarin ’n magdom kunstenaars ook deel is van die partytjie, beide plaaslik en internasionaal. Is dit soms in jou agterkop – dat ’n mens iets spesiaals moet voeg by die musiek om dit te laat uitstaan, of hoe werk dit vir jou? Wat is jou filosofie in terme van liedjieskryf en produksie in daardie opsig, die ding van hoe-maak-ons-dit-’n-treffer?
Ek glo glad nie dat mens naïef moet wees oor die populêre musiek van vandag nie. Ek sal ook nie so ver gaan soos om myself te vergelyk met ander kunstenaars nie, maar om weer die wyse man Stef Bos aan te haal: “Waarvoor vra die song, ou Len?” Stef het my geleer dat ’n mens moet luister na wat die song vra. Dis wat goeie “producers” ook doen. Hul moet vat wat reeds daar is en dit net tot volle reg laat kom.
Daar is ’n onmiskenbare Christelike aanslag in baie van jou lirieke, maar tog is dit ook nie oorweldigend nie. Daar's heelwat plaaslike kunstenaars wat gemaklik oor die "gospel"- en hoofstroommark se grense werk (trouens, dit oorvleuel dikwels), maar ’n mens loop seker ook ’n gevaar om jouself in ’n hoekie in te werk as jy net binne een benadering werk. Wat is jou gevoel hieroor, wat spesifiek jou plek op die toneel betref en ook hoe ’n mens daardie balans tussen die "markte" moet handhaaf, indien enigsins?
Ek hou nogal van Bouwer Bosch se benadering op hierdie vraag. Hy beantwoord dit gewoonlik met ’n teenvraag: “Wat maak hierdie of daardie akkoord nou meer geestelik of Christelik? Is dit nie maar net musiek nie? Akkoorde is tog net akkoorde.” Dit gaan oor die hart van die persoon wat agter daardie akkoorde sit. Elke kunstenaar wil graag hê dat soveel mense moontlik hul kuns sal sien, of in hierdie geval luister. Ek glo. En ek wil hoop dat ek dalk ’n ander manier gekry het om oor die gospel (soos jy dit noem) te sing. Hoeveel beter as dit nie in ’n boksie hoef te pas nie en selfs in ’n “sekulêre” konteks gehoor kan word?
Jy is nou al ’n hele tydjie doenig op die plaaslike musiektoneel – enige spesifieke optredes wat uitstaan as hoogtepunte, en gebeure wat jy nie sommer sal vergeet nie? Enige venues of geleenthede wat jy eerder wil vergeet, of waar jy nie sommer weer sal draai nie?
Een van die hoogtepunte vir my is die hele AfriVisie-finaal-ondervinding. Dit was by verre die grootste verhoog waarop ek al opgetree het, en dit saam met van die beste musikante in ons land. Dit was ook die eerste keer dat ek regstreeks op televisie gesing het! Die laagtepunt was toe ek na die tyd op ’n opname hoor hoe dit klink! Haha! Kon hoor ek was maar paniekerig op daai verhoog.
Ek het ook vir die laaste drie jaar ingeskryf om by Innibos op te tree en hierdie jaar toe ek eintlik opgegee het, toe vra hulle my om te kom optree! Interessant hoe die lewe draaie met ’n mens loop! So ek is baie opgewonde om daar op te tree.
Ek glo nie die ideale plek vir my musiek is in ’n kroeg of ’n biertent nie, so ek dink die kere wat ek daar en by feeste moes optree by sulke venues, was dit vreeslik moeilik vir my. My musiek is intiem en ek hou daarvan om met die gehoor te gesels.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Len Muller in, in soverre jy dit kan beheer?
Ek sal graag nog vele liedjies wil skryf en natuurlik soveel moontlik optree, omdat ek glo my musiek ’n verskil kan maak in mense se lewens. Ek streef glad nie daarna om “famous” of in Afrikaans bekend te word nie, maar ek streef wel daarna om ’n loopbaan in die musiekbedryf te hê en dis ook hoe ek verder bou.
Wat is die sin van die lewe?
Om jou roeping/doel op aarde te ontdek en dit elke dag ten volle uit te leef.


