Leer ’n gemeenskap lees en skep ’n volhoubare toekoms vir Suid-Afrika

  • 0

“In hierdie inligtingseeu is geletterdheid onontbeerlik vir gesonde gemeenskappe in Suid-Afrika,” sê Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV. Die tema van vanjaar se Internasionale Geletterdheidsdag wat op 8 September deur UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) gevier is, is geletterheid en volhoubare gemeenskappe. Volgens UNESCO is geletterheid die sleutel tot volhoubare ontwikkeling. Volhoubare gemeenskappe is dan ook presies wat die ATKV deur middel van verskeie leesprojekte wil bereik.

Die ATKV se aktiwiteite en projekte is daarop gerig om Afrikaanse geletterdheid op ’n inklusiewe en kreatiewe wyse te bevorder. Dit strek van Afrikaanse olimpiades, spelkompetisies, leeskompetisies en leeskringe tot slypskole vir onderwysers – en dit word nie net vir moedertaalsprekers van Afrikaans aangebied nie, maar ook vir tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans.

Prof Ekkehard Wolff, ’n Duitse taalkundige, skryf in 2006 dat taal nie alles in die onderwys is nie, maar dat alles in die onderwys niks is sonder taal nie. Die ATKV voel presies net so as daar oor taal in die onderwys gepraat word: taal is belangrik in die onderwys. Afrikaans moet ingespan word om inklusiwiteit en toegang tot geletterheid te verseker. Dit is nie net die regering se plig nie - elke Afrikaanssprekende het ’n verantwoordelikheid as dit by taalsake en geletterdheid kom.

Afrikaanssprekende ouers moet dus moeite doen om hulle kinders na Afrikaanse skole te stuur en so Afrikaanse onderwys in stand te hou. Hulle ondersteun nie net Afrikaanse geletterheid op hierdie manier nie, maar bewys ook hulle kinders ’n groot guns. Konseptualisering (verwerking en verwerwing van kennis) vind in die moedertaal plaas. Kinders leer gewoon beter in hulle moedertaal. Die goeie uitslae van kinders wat in hulle moedertaal skoolgaan is jaar na jaar ’n bewys van die voordele van moedertaalonderrig.

Ongelukkig is daar nog te veel Suid-Afrikaners wat nie die vreugde van geletterdheid smaak nie, meen Amanda de Stadler, hoof van die Vriende van Afrikaans, ’n afdeling van die ATKV. "As ek om my kyk, beskou ek geletterheid as 'n voorreg en is ek elke dag dankbaar daarvoor.” Sy meen een manier om mens se dankbaarheid vir jou eie geletterdheid prakties te demonstreer, is deur geletterheid vir nog een mens in jou omgewing moontlik te maak. De Stadler glo dit is binne die bereik van die meeste Afrikaanssprekendes om die lewe van een ongeletterde mens onomkeerbaar te verander deur geletterheid 'n werklikheid te maak. “Die ATKV nooi Afrikaanssprekendes uit om, waar hulle ook al werksaam is, ’n verskil te maak in hulle gemeenskappe wat geletterheid betref. Deur ’n gemeenskap te leer lees, help skep jy ’n volhoubare toekoms vir Suid-Afrika.”

Indien jy lid wil word van hierdie dinamiese organisasie skakel vandag nog 011 919 9000 of stuur e-pos na atkv@atkv.org.za. Lees gerus meer by www.atkv.org.za oor die ATKV se projekte.

Kontak Amanda by amandad@vva.atkv.org.za om meer oor die VVA se aktiwiteite te wete te kom.

Foto's: VVA Geletterdheidsprojek in Kayamandi

Geltterdgeid VVA0025 Geltterdgeid VVA0024 Geltterdgeid VVA0023 Geltterdgeid VVA0022 Geltterdgeid VVA0021 Geltterdgeid VVA0020 Geltterdgeid VVA0019 Geltterdgeid VVA0018 Geltterdgeid VVA0017 Geltterdgeid VVA0016 Geltterdgeid VVA0015 Geltterdgeid VVA0014 Geltterdgeid VVA0012

Foto's © Izak de Vries

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top