Lede van Zinkplaat vertel van 10 jaar se musiekmaak

  • 0

Die immergroen Afrikaanse rockgroep Zinkplaat is vanjaar tien jaar oud en die viermanskap het besluit om ná vanjaar die kitare op te hang. Die vier lede – Beer Adriaanse, Bertie Coetzee, Basson Laubscher en Beitel van der Merwe – vertel individueel wat hul hoogtepunte, laagtepunte en so meer oor die afgelope tien jaar was.

Beitel van der Merwe, Beer Adriaanse, Bertie Coetzee en Basson Laubscher

Beer Adriaanse (tromspeler)

Vanjaar is die 10de herdenking van Zinkplaat se bestaan. Het jy ooit gedink die band sou dit só ver maak? Wat was jou aanvanklike mikpunte vir die band?

My ouers het laasjaar getrek en in die pak kom ek toe op ’n lysie af wat ek in standerd 9 gemaak het van dinge wat ek wil bereik. ’n Paar van die punte op die lys was: skryf musiek, toer met ’n band, neem ’n album op (in ’n studio), kry musiek op die radio, maak musiekvideo(’s). So my aanvanklike mikpunte was daai tyd nogal hoog gewees, maar ’n paar maande later het ek by Zinkplaat ingeval en ons het al die punte op my lysie sommer al in ons eerste jaar bereik. Hoewel dit deesdae na klein oorwinnings lyk, besef ek dat dit lugkastele was vir daai 17-jarige laaitie.

Ek moet sê, die feit dat nie een van ons ooit ’n drankprobleem ontwikkel het nie, het my nogal hoop gegee dat ons dalk langer as ander groepe sal kan uithou. Dit het egter soms bomenslike uithouvermoë geverg om in hierdie klein bedryf aan te hou doen wat ons doen. Ons het in 2005 amper Pretoria toe getrek omdat die mark daar groter was. Ons sou dit nie gemaak het nie. Ek dink deel van hoekom ons die 10-jaar-merk gemaak het, is dat ons soos die rugbyspelers van ouds amateurs was, wat heeltyd ander dinge as musiek ook gedoen het. Dit het gehelp dat ons darem nog inspirasie uit die regte wêreld kon trek vir lirieke en dat ons nie ’n las van ons passie maak nie.

Ek moet bysê dat ons aanvanklike planne met die band was om die land oor te vat, ’n skip te koop en daarmee te toer en allerhande ander belaglike dinge, so ons het nog nie ál ons mikpunte bereik nie!

As jy terugkyk oor die afgelope tien jaar, watter herinneringe staan vir jou uit wat jou ervarings met die band betref? Is daar een of twee hoogtepunte in die loopbaan waaraan jy kan dink?

Ons het regtig ’n baie vreemde pad gestap, omdat ons van die min bands was wat die normale rock ’n roll circuit kon speel met klubs en groot buitelugkonserte, maar dan ook ’n dubbellewe gelei het waar ons musiek moes maak by troues, begrafnisse, vrouevereniging-vergaderings, potjiekoskompetisies, kerkbazaars, pajamapartytjies in meisieskoshuise, motor-expo's, Sweet 16's, wynfeeste en allerhande ander vreemde geleenthede. Sulke ervarings sal my altyd bybly, aangesien ek nie weet hoe anders ek in sulke lukrake plekke en situasies sou beland het nie.

Om die eerste keer die binnekant van ’n professionele ateljee te sien, en nie eers te weet wat is ’n click track nie. Een van my hoogtepunte was om "Donkiekar windscreen" die eerste keer op die radio te hoor. Ek was in my kar toe dit opkom en draai toe die volumeknop al die pad en ry op en af in Dorpstraat.

Ons eerste oorsese toer was Londen toe saam met Valiant Swart. Ek dink nie ek was al ooit so trots nie. Dit was toevallig ook daar in Londen waar Bertie deur ’n verhoog geval het. Ek het al ook al een keer van die verhoog afgeval toe ek tydens die optrede my stoeltjie te ver teruggeskuif het.

Ons eerste Weskustoer saam met Die Helde was die lekkerste toer waarop ek al ooit was. Dit was 2005. Bertie het ’n trok in die hande gekry, dit self geverf en bestuur, en toe val ons die Weskus binne soos ’n klomp filistyne op die oorlogspad. Ons het onder andere met die trok in die duine buite McDougalls Baai vasgesit, vir mense in hulle sitkamer gespeel in ruil vir kos en blyplek, en wyn onder uit die trok uit gesmous aan ’n polisievrou en haar man. Dit het gevoel soos die Wilde Weste. Dit was waar die saadjie van Avontoer die eerste keer geplant is.

Een van my ander hoogtepunte was ons Miskruier Gaan See Toe-album launch by die Barnyard-teater in Franschhoek. Die plek was propvol, Riaan Cruywagen was die seremoniemeester via voorafopnames en ons het ons Zinkplaat-wyn vrygestel. Goeie tye.

Daar is eintlik te veel om te noem.

Saam met die berge is daar natuurlik ook dale. Watter groot uitdagings het julle as band ervaar en hoe het julle dit oorwin? Enige spesifieke “laagtepunte” uit toere en so?

Hier en daar is aaklige gigs. Ons het eenkeer opgery Bloemfontein toe vir ’n konsert wat ons toe later uitvind word deur een of ander kreatienproduk geborg. Daar gekom, op die verhoog geklim, en toe ons in die eerste liedjie inskop, breek ’n woeste donderstorm uit en moes ons toe van die verhoog af vlug. Ons het die volgende oggend teruggery Kaap toe sonder ’n sent op ons naam, want die ouens het ons nie betaal nie. Daar was ook ’n Valentynsdagkonsert in ’n pub in PE wat een van my persoonlike slegstes was. Ek weet ook nie hoekom ons sou dink dat enigiemand Valentynsdag saam met ’n klomp bebaarde kaalvoet musikante sou wil spandeer nie.

Ons is nie so gepla as min mense opdaag nie, want dikwels is dit daai vyf mense wat wel opdaag wat jou herinner hoekom jy in ’n band is. 

Ons moes amper in 2005/2006 die band oppak toe Bertie erge nodules op sy stembande gekry het, maar wat erger was is dat die dokter vir hom gesê het hy moet ophou rooiwyn drink en vleis eet as hy wou beter word. Ons besluit toe dat ons in elkgeval nooit vir die Freddie Mercury klank gegaan het nie, en dat ’n bietjie skuurpapier in die stemboks nie die ergste is nie. Hy het gelukkig toe in elkgeval beter geraak.

‘n Aaklige een, maar waarop ek nogal trots is, was toe ons eenkeer in Wellington gespeel het. Dit was ’n groot gehoor en hulle het lekker saamgesing en tekere gegaan, tot Bertie ons liedjie “Hendsoppers” as “’n vet middelvinger vir die ‘De la Rey’-generasie" aankondig. Ek dink ’n goeie driekwart van die gehoor het net so omgedraai en weggeloop. Ons was daai tyd nogal gatvol vir die hele “De la Rey”-ding.

Deur die albums wat vrygestel is, het Zinkplaat se klank heelwat wisseling getoon. Hoe sou jy die “groei” tussen die albums en die proses wat daartoe gelei het, beskryf, en wat het jou die mees opgewonde gemaak hieromtrent?

Ons het van die begin af gesukkel om onsself aan ’n genre te koppel. Dit maak dinge nogal moeiliker op sekere vlakke, maar ten minste hou dit dinge vars. Ons eerste album, Karoo Poison, was basies geheel en al deur Bertie geskryf en ons ander ouens het net ons instrumente se dele bygesit en hier en daar dalk ’n liriek of idee in die potjie gegooi.

Teen Die Miskruier Gaan See Toe se tyd was ons al vir twee jaar op die pad en was ons as musikante ligjare beter as wat ons op die eerste album was. Ek het byvoorbeeld darem toe al geweet wat ’n click track is en ek kon min of meer op hom speel. Hoewel Bertie nog steeds die meeste van die liedjies geskryf het, het die res van ons ook elkeen ’n liedjie of twee bygedra. Ons was almal baie meer betrokke by die liriekskryf en op die musiekfront was ons besig om as ’n band ons klank te vind. Teen hierdie tyd was MK ook al lekker op dreef en het ons links en regs begin video's vrystel wat goed ontvang was deur ’n jong en honger kykersmark.

Op Musiek Uit Die Geraas het ons die eerste keer amper al die liedjies saam met mekaar geskryf. Ons het baie demokraties te werk gegaan en het ook lekker met klank en struktuur begin eksperimenteer. Ons het basies vir 10 dae in ’n rivierhuisie buite Buffelsjagsfontein gaan bly en met ’n album teruggekom samelewing toe. Om een of ander rede voel MUDG soos ons mees melankoliese album. Twee van ons goeie vriende is in daai tyd oorlede, so dit het die skryfproses beïnvloed. 

Mooi Besoedeling was weer eens ’n demokraties-kommunistiese samewerking en ons het die eksperimentering nog verder gevat. Wat lekker was van hom, was dat ons vir mekaar se liedjies kon lirieke skryf, of vir mekaar se lirieke musiek kon skryf. Ek dink ons het vir die eerste keer as individuele liedjieskrywers begin kop uitsteek, so ons het hier en daar lekker koppe gestamp in die ateljee, maar dit het goed uitgekom. Ons is nou nog besig om video’s van hom af vry te stel en hy is vir ’n SAMA benoem.

Hoewel ons klank met elke album verander het, het ons uitkyk op die lewe min of meer dieselfde gebly, so ek hoop dit is die goue draad wat deur al vier strek. Dan was daar natuurlik ons producer, Jürgen von Wechmar, wat ons vyfde lid in die ateljee was. Ons het basies in sy Sunset Studios ons voete gevind en hy was gereeld die bemiddelaar wat die proses deur die ergste drif getrek het. 

Die storie loop dat Zinkplaat ná vanjaar gaan opbreek. Hoe voel jy oor die einde van dié hoofstuk? Wat dink jy is die band se nalatenskap? Met ander woorde, hoe wil jy graag hê mense moet Zinkplaat onthou?

Die storie loop so, ja.

’n Jaar gelede sou ek hierdie vraag baie anders beantwoord het. ’n Jaar of twee terug was ons nogal in ’n vreemde plek. Die meeste van ons vriende se bands, saam met wie ons al die jare getoer en gespeel en gekuier het, het opgebreek. Ons het ’n string aaklige gigs gespeel en Beitel het ’n amperse dodelike motorongeluk gemaak op pad na een van ons gigs toe. Daar was min in die bedryf om oor opgewonde te raak en dit het gevoel asof al die jongmense net Dubstep luister. Ons besluit toe om ’n vakansie te vat. Bertie het gaan boer, ek en Beitel is oorsee en Sonnie het sy Violent Free Peace band tot ’n volgende vlak gevat. Ná ses maande weg het ons stadig weer die stukke opgetel en weer begin Noorde toe toer, en dit was asof iets in die tussentyd gebeur het. Die mense wat ons liedjies saamsing, was meer, en soveel mense het ná die konserte met ons kom praat oor wat ons musiek vir hulle beteken het, of nog steeds beteken. Daar was ook ’n klomp jongmense wat nog op laerskool was toe ons begin het, wat begin opdaag het. Ek is nie seker of ons verander het, of die gehoor nie, maar dit was ’n welkome verrassing.

Ek is nie seker wat de hel ons nalatenskap is nie. Ek weet nie of ons genoeg aanhangers het om as ’n cult band te klassifiseer nie, maar ons het aanhangers wat regoor die planeet versprei is, wat ons gereeld kontak en herinner hoekom ons doen wat ons doen.

Ek hoop mense onthou ons as ’n klomp ouens wat uit verskillende agtergronde bymekaar gekom het en musiek gemaak het vir die liefde van die saak, wat altyd ons eie ding gedoen het, teen die stroom geswem het, en ons bes probeer het om eerlik te wees in wat ons speel en sing. Dis dalk ’n bietjie baie gevra, en geskiedenis is nie ’n vleiende lens nie, maar ’n man kan seker droom!

Bertie Coetzee (hoofsanger en kitaarspeler)

Vanjaar is die 10de herdenking van Zinkplaat se bestaan. Het jy ooit gedink die band sou dit só ver maak? Wat was jou aanvanklike mikpunte vir die band?

Jis, om eerlik te wees dink ek nie ons het te veel gedink oor enigiets behalwe om aan die jam te kom en ’n album te maak nie. Dit was interessante jare en ek dink ek het baie groot drome gehad vir die band (wat eers net ek en toe ek en Basson was), maar het geen idee gehad van wat "bestaan" behels nie. Dit is nogals mal, dit voel glad nie soos 10 jaar nie!

As jy terugkyk oor die afgelope tien jaar, watter herinneringe staan vir jou uit wat jou ervarings met die band betref? Is daar een of twee hoogtepunte in die loopbaan waaraan jy kan dink?

Jis, daar is so baie. Seker die eerste optrede, net ek by Rock ’n roll Jannie by Paul Roos.

Die keer toe ek vir my koshuisvriende gejok het deur te sê "Blikkitaar Blues" is ’n Spinnekop-song, om te toets of die ouens regtig dink dis ’n goeie song.

Die eerste show saam met Basson in Bohemia toe almal in die koshuis pak slae gekry het omdat dit in die middel van ons eindeksamen was.

My ontmoeting met Beitel in Victoriastraat en die één kopknik in sy eerste rehearsal om te wys dat hy dink dit kan dalk werk, hierdie idee.

Die oefeninge in Paul Roos se saal saam met Beer, wat die sleutel uitgeteken het omdat hy ’n leerlingraadslid was.

Die eerste dag in Sunset Studios – ons het "Karoo Poison" probeer neerlê en Jurgen se enigste woorde was: "Ouens, dis bietjie rof."

Die verstommende uitdrukking op Beer se gesig toe Jurgen vir ons vra of ons al met ’n click track gespeel het ... "’n Wat?”

Die aande by Hangklip Hotel wat almal al heeltemal deurmekaar geraak het in my kop.

Die eerste toer saam met Delta Blue, vol selfvertroue, maar geen skills.

Ons Miskruier Gaan See Toe-CD launch by die Barnyard-teater by Bridgehouse. Stampvol. Ons launch ook ons eerste wyn, ons website en ons eerste video met Neels van Jaarsveld in (MK het toe net begin). Riaan Cruywagen was die MC en my troue sal moet cool wees om daai aand te top!

Toe natuurlik die Weskustoer saam met Die Helde in 2005, die Ubuntoer, ons Londen-toer saam met Valiant in 2006, die eerste Avontoer, en al die res.

Die recording van Musiek Uit Die Geraas was ’n groot draaipunt in ons loopbaan, en tot nou toe vir my ons beste album.

So baie dinge, kan nie uitsonder nie!

Saam met die berge is daar natuurlik ook dale. Watter groot uitdagings het julle as band ervaar en hoe het julle dit oorwin? Enige spesifieke “laagtepunte” uit toere en so?

Die grootste uitdagings was nog altyd seker tyd, finansies en verspreiding (van albums). Ek, Beitel en Beer was al drie in verskillende koshuise, het al drie probeer graad kry en het deelgeneem aan als van sokker en rugby, sêr-kompetisies en koshuistoer tot HK-verpligtinge, en om dit saam met Zinkplaat se toere en opnames te doen was nog altyd ’n groot uitdaging. Basson is ’n professionele musikant en het toe tyd gehad om te begin session en sy blues-band te begin – dit is dus deesdae vir hom amper nog moeiliker om sy baie gigs en verpligtinge te juggle.

Ons wou van die begin af geen kompromiëe aangaan met kwaliteit nie, en het hard investeer in ons produk, ons opnames by Sunset Studios, die maak/inkoop van ons wyne, ons designs en merchandise. Ons kon nie ’n recording company en ondersteuningsraamwerk vind wat in ons produk belangstel nie en het toe als ge-DIY (dit was 2002) en self gefinansier deur gig-gelde te spaar en baie merch te verkoop. Ons het oor die jare baie op ons vriende staatgemaak, Stephanus Rabie en Neels vir ons video’s, Jan Solms en Rohan Etsebeth van Fanakalo vir ons designs (meestal kunsprojekte wat getweak is), en selfs Jurgen by Sunset moes baie wyn as betaling aanvaar.

Ons sukkel egter tot vandag toe nog om ons CD's versprei te kry, en ons is nou terug by die ou posstelsel!

Deur die albums wat vrygestel is, het Zinkplaat se klank heelwat wisseling getoon. Hoe sou jy die “groei” tussen die albums en die proses wat daartoe gelei het, beskryf, en wat het jou die mees opgewonde gemaak hieromtrent?

Toe ons in 2003 in Sunset Studios beland met Karoo Poison, was Beer vars uit ’n D'ville punk band en hy het nie geweet wat ’n click track is nie. Basson het net een blues scale geken (en dan die snare gebend in plek in as die song ’n ander scale benodig het). Beitel was een van Bloem se beste bassists, maar hy het nie geweet waar sy volume-knop is nie. En ek het nog ’n Bo-Karoo-aksent gehad, nie geweet wat "harmonise" beteken of wat ’n bassist se rol in die band is nie, en het ’n fassinasie met lirieke oor bergies (arm mense) en die Karoo gehad. Die resultaat was dus die som van al hierdie dele – rof, onafgerond, vol vals note, maar opreg in alle opsigte.

Baie van die liedjies op Miskruier Gaan See Toe was reeds geskryf in die Karoo Poison-era toe ons begin om Miskruier so stuk-stuk deur 2005 op te neem soos wat ons tyd en geld tot ons beskikking gehad het. Dalk bietjie meer afgerond, maar die musiek nog steeds meestal uit my en Basson se liriek-bekfluitjie-kitaarsolo-skool. Ons het bietjie harmonies begin gebruik en Basson het selfs ’n volledige blues-nommer opgeneem wat hy ook geskryf het. Ek en Beer het saam geworstel aan "Piekniek" en dit was Beer se toetrede tot die kreatiewe kant. "Bloedkitaar" en "Miskruier gaan see toe" het ons so bietjie in ’n ander rigting begin stoot.

Na Miskruier se launch het ons ernstiger begin toer en begin weggaan op naweke waar ons net skryf. Musiek Uit Die Geraas was ’n absolute nuwe rigting, Beitel het toegetree met sy meesterlike liedjieskryfvermoëns en hy en Beer het ernstig begin inspring met die lirieke. "Die Spons", wat by Beitel begin het, was die eerste lied wat ons al vier ’n aandeel in gehad het – musiek, lirieke en verwerking – en dit was vir my die draaipunt gewees in ons klank en ons rigting musiekgewys. Van die liedjies is op die bass geskryf, die klavier het ingekom en ons was absoluut op dieselfde plek liriekgewys. Dit was ’n tyd wat ons twee vriende, Willie du Toit en Jaco Geusteyn, verloor het in motorongelukke ("Dit wat Oorbly", “Lyne” en selfs "Die Spons" en "Gedigte vir Gesigte" in ’n mate). Daar was die vrae oor dinge soos politiek en geloof en die soeke na die middelpunt ("Middelman", "Wolwe Baklei", "Gees Belemmer"), en dan liefde natuurlik ("Jy was Daar", "Gedigte vir Gesigte", "Hondeklipbaai"), en dan natuurlik "Krismis in Kampala" en "Hondeklipbaai", wat bietjie meer oor ons toere en ervarings gegaan het en net sowel op Miskruier kon gewees het ("Krismis" was al geskryf in Miskruier se tyd). Die musiek, lirieke en verwerkings was omtrent rofweg gelykop verdeel tussen ons vier – as iemand nie die lied geskryf het nie, was hul deel van die proses. Die album is vol "cross-referencing" tussen die liedjies en dit is seker so naby as wat ons nog aan ’n konsep-album gekom het. Jurgen von Wechmar was die producer en het ’n baie belangrike rol gespeel om dinge in plek te laat val in die studio.

Mooi Besoedeling het op ’n bedrywige en moeilike tyd gekom in 2009 en musiekgewys het ons nog verder in ’n nuwe rigting gegaan. Beitel het die meeste van die musiekskryfwerk gedoen, ons het baie klavier, synth en kitaarlayers gebruik, en aan die liriekkant was dinge nogals donker en ernstig (in Zinkplaat-terme, of op ’n Zinkplaat-skaal). Ons het baie meer konsepte aangeraak as wat ons stories vertel het, maar dit was vir my uitdagend – ek moes as musikant ’n step-up maak met kitaar, klavier en stem en het meestal gehelp skryf aan lirieke.

Die feit dat ons klank so verander het, was nooit geforseer nie. Ons vier kom uit baie verskillende musiekstyl-agtergronde en ons albums is basies altyd ’n botsing van waar ons vier op daardie tydstip van ons lewens is.

Die storie loop dat Zinkplaat ná vanjaar gaan opbreek. Hoe voel jy oor die einde van dié hoofstuk? Wat dink jy is die band se nalatenskap? Met ander woorde, hoe wil jy graag hê mense moet Zinkplaat onthou?

Dit is ongelukkig waar dat ons die tokse (of kitare) as Zinkplaat gaan ophang. Dit was 10 ongelooflike jare en alhoewel Neil Young sê "It's better to burn out then to fade away", dink ek tog dat ons ’n goeie innings ingesit het. Dit het nog altyd vir my oor meer as net die musiek gegaan, en ek is seker daar gaan nog baie Zinkplaat-albums en musiek uit ons vier kom in die toekoms.

Oor nalatenskap ... Dit is ’n baie moeilike vraag, en ek is bang ek is nalatig met my woorde. Ek sal natuurlik graag wil hê dat mense ons musiek en veral lirieke moet onthou, dat dit met hulle sal aanhou praat en met nuwe generasies ook. Ek dink ons nalatenskap is ’n handvol musiek wat altyd van ’n spontane en eerlike plek af gekom het, en ek sal graag in kontak wil bly met almal wat ons op ons avonture ontmoet het in watter walk of life dit ook al is.

Basson Laubscher (hoofkitaarspeler)

Vanjaar is die 10de herdenking van Zinkplaat se bestaan. Het jy ooit gedink die band sou dit só ver maak? Wat was jou aanvanklike mikpunte vir die band?

Ek is op ’n manier baie verbaas dat ons die 10-jaar-merk bereik het, maar in ’n sekere opsig ook nie, hahaha. Ek dink ek is verbaas in die sin van toe ons begin het, was die alternative Afrikaans scene ’n droë wasteland desert – daar was nie regtig ’n scene eintlik nie, so ek dink ons het nie enigsins gedink dit sal 10 jaar hou nie, maar met digital media en MK het dinge so gegroei ... dis ongelooflik. So ’n mens kan dit nou doen en die enigste mense wat dit lank gemaak het voor ons was Valiant, Koos en Piet, maar hulle was almal solo-kunstenaars, so ja, ons het nie gedink, as ’n band, "we'll make it 10 years" nie, hahaha. Ons mikpunte dink ek was net om musiek te maak met mekaar en jam en toer. Ek dink Zinkplaat wou nog altyd net eintlik goeie musiek maak en kyk wat gebeur. Ons het nooit regtig gaan sit en sê: "OK, ons wil dit en dat doen" nie, als het baie natuurlik gebeur, baie organised proses, dis hoekom ek ook dink ons sal nooit kon gesien het 10 jaar aan nie, want ons het net nie so ver vooruit gedink nie.

As jy terugkyk oor die afgelope tien jaar, watter herinneringe staan vir jou uit wat jou ervarings met die band betref? Is daar een of twee hoogtepunte in die loopbaan waaraan jy kan dink?

Daar is te veel om te mention ... vanaf die eerste Weskustoer saam met Die Helde tot die eerste paar Avontoere, Potch-tonnelworse en gummyberrys, eerste toer saam met Delta Blue, Lambertsbaai Kreeffees, waar almal uitgeloop het nadat ons ná Kurt Darren gespeel het, tot vandag net te veel, maar my favourite ding, dink ek, van die laaste 10 jaar is dat ons regtig die land kon sien en die mense ontmoet. Ek dink ’n mens kry ’n baie beter visie van Suid-Afrika as mens so baie toer en in al die klein plekkies en groot plekke kom. Ek dink ook een van my favourite memories is al die mense na wie ek opgekyk het, dat ek die meeste kon ontmoet en actually nou vriende is met sommige van hulle.

Saam met die berge is daar natuurlik ook dale. Watter groot uitdagings het julle as band ervaar en hoe het julle dit oorwin? Enige spesifieke “laagtepunte” uit toere en so?

Die monster genaamd die click track, hahahahaha! Ons was baie jonk, en soos ek vroeër gesê het, die music industry toe was nog in doeke, so ek dink ons het baie geleer en moes baie vinnig leer hoe dinge werk soos recording en toer, al daai dinge, so ek dink ons moes ’n paar dinge al oorwin, maar dis deel van die fun. Laagpunte ... Hmmm, ek dink in die algemeen die gigs waar daar net drie mense is of die gigs wat niemand regtig wil music luister nie, net dronk raak, en jy is die backtrack. Maar een staan uit: op ons eerste toer noorde toe het ons in ’n battle of the bands by die ou Nile Crocodile gespeel. Ons het twee-uur die oggend eers opgegaan en die gehoor was vyf mense, naamlik die sound guy, die twee bartenders, ons lift en ’n dronk punk wat uitgepass was onder ’n tafel.

Deur die albums wat vrygestel is, het Zinkplaat se klank heelwat wisseling getoon. Hoe sou jy die “groei” tussen die albums en die proses wat daartoe gelei het, beskryf, en wat het jou die mees opgewonde gemaak hieromtrent?

Well, haha, vanaf jonk en naïve tot mature en meer thought behind the process, hahaha. Ons was net twee weke ’n band, toe record ons Karoo Poison, so ons was superjonk, almal was nog vars op hulle instrumente en ons het ingegaan guns blazing, nie ’n clue hoe ’n studio werk nie, so daai album het ook daai gevoel ... Ek dink dit groei maar deur toer en saam speel en bietjie meer weet hoe die studio werk en dat almal meer begin skryf het en dit baie meer ’n colab tussen ons almal geraak het, waar in die begin was daar meer principal songwriters. Een ding van Zinkplaat nog altyd was ook, ons almal luister heeltemal verskillende musiek, so al daai elemente gaan in die process in, so mens weet nooit wat gaan uitkom nie.

Die storie loop dat Zinkplaat ná vanjaar gaan opbreek. Hoe voel jy oor die einde van dié hoofstuk? Wat dink jy is die band se nalatenskap? Met ander woorde, hoe wil jy graag hê mense moet Zinkplaat onthou?

Ek is baie trots op wat ons gedoen het. Ek dink nie baie mense besef wat ons behind the scenes al gedoen het nie, soos Avontoer en Ubuntoer en ’n paar ander dinge wat ek dink die industry ’n push vorentoe gegee het, maar dis maar soos ’n verhouding wat ’n mens weet eendag gaan eindig, so dis ’n mengelmoes van sad maar trots en bly, dis iets waarop ’n mens kan terugkyk en sê: "Yes, I made that." En ek dink ek het drie beste vriende ook uit die band gekry, so ek's baie bly daaroor, hahaha ... Maar ja, it's sad, maar ek dink dis in die tradisie van Zinkplaat, van: moet nooit iets forseer nie, laat dit maar sy natuurlike pad stap en die Zinkplaat-trein het verder gegaan as wat dit kon gaan, ons is almal ouer en wyser en beweeg aan. Ek sal graag net wil hê ons moet onthou word as ’n band wat hulle eie pad gestap het en goeie musiek gemaak het. 

Beitel van der Merwe (baskitaarspeler)

Vanjaar is die 10de herdenking van Zinkplaat se bestaan. Het jy ooit gedink die band sou dit só ver maak? Wat was jou aanvanklike mikpunte vir die band?

Ek dink nie dit was iets wat enigiemand eers oorweeg het in daardie tyd nie. Vir my was dit, na ’n paar optredes saam met die ouens, iets waarvan ek graag wou deel wees om te sien wat gebeur. Daar was ’n tipe gees wat aansteeklik was, maar nie regtig ’n meesterplan nie. Ek dink die idee van Zinkplaat as iets meer permanent het maar geleidelik bymekaargekom tussendeur ons almal se swotjare. Ons Stellenbosch-"rent-a-crowd" op die tyd het ook natuurlik ’n groot verskil gemaak en die band aanvanklik op sy bene gehou.

As jy terugkyk oor die afgelope tien jaar, watter herinneringe staan vir jou uit wat jou ervarings met die band betref? Is daar een of twee hoogtepunte in die loopbaan waaraan jy kan dink? 

Daar is heeltemal te veel om op te noem. Die Miskruier Gaan See Toe-album se bekendstelling was iets spesiaal, asook die shows destyds in Hangklip Hotel, die twee trips Londen toe, en ook Mooi Besoedeling, wat vir ’n SAMA genomineer is. Vir my (ek dink vir die ander ouens ook) is studio-tyd ook altyd ’n hoogtepunt. Dan is daar ook baie meer alledaagse goed – mense, toere en plekke en baie, baie ure in Bertie se bakkie. Ek het al heelwat gelag tot ek huil saam met en vir die ander manne. Ek is ook bly dat ons die 10-jaar-mylpaal gehaal het. Oor die afgelope 10 jaar het ‘n klomp goeie bands gekom en weer gegaan en dit was hartseer om te sien. Ons was op een of ander manier net altyd bereid om aan te hou en gelukkig genoeg om dit te kon doen. Ek dink ons beplan nou al vir vyf jaar lank net ’n jaar op ’n slag vooruit. 

Saam met die berge is daar natuurlik ook dale. Watter groot uitdagings het julle as band ervaar en hoe het julle dit oorwin? Enige spesifieke “laagtepunte” uit toere en so?

Vir ons almal (behalwe dalk Sonnie) is musiek nog altyd ’n tipe van ’n verbode passie. Ons het vroeg besef dat, selfs al wou ons, ons nie eintlik ’n lewe sal kan maak uit speel in ’n band nie. Tog wou ons nie net “hobbyists” wees nie. Vir die eerste drie, vier jaar was ons uit en uit ’n studenteband, maar êrens het ons besluit om dit bietjie meer ernstig op te neem. Sedertdien was dit nogals moeilik om daardie balans te vind tussen vier ouens as ’n band en vier ouens wat elk hul eie belange, werke ensovoorts buite die band het.

Deur die albums wat vrygestel is, het Zinkplaat se klank heelwat wisseling getoon. Hoe sou jy die “groei” tussen die albums en die proses wat daartoe gelei het, beskryf, en wat het jou die mees opgewonde gemaak hieromtrent?

Die grootste verandering was dat ons die musiek saam begin skryf het – veral sedert Musiek Uit Die Geraas. Ek dink dit het so half ’n nuwe element aan die musiek gebring en nuwe geleenthede vir elke ou om homself uit te druk binne die groep. Ek dink die groei kom ook meestal van nuwe goed probeer – goed waarmee ons nie altyd 100 persent gemaklik was nie, maar wat shows en oefeninge opwindend gehou het.

Die storie loop dat Zinkplaat ná vanjaar gaan opbreek. Hoe voel jy oor die einde van dié hoofstuk? Wat dink jy is die band se nalatenskap? Met ander woorde, hoe wil jy graag hê mense moet Zinkplaat onthou?

Ons mik om nog te bestaan tot middel volgende jaar. Dis hartseer en dis iets wat ek baie gaan mis, maar ek dink die tydsberekening is goed. Vir nou dink ons nie te veel daaraan nie, aangesien daar nog ’n paar doelwitte is ... Daar is ’n gevoel in die Zinkplaat-kamp dat ons ’n album wil maak wat verbeter op die voriges. Ek hoop dat ons ’n album kan maak wat naby is aan die beste album wat ons vier moontlik ooit saam sal kan maak.

Wat nalatenskap betref: Ek hoop mense wat daar was by die shows en die musiek geluister het, sal met ’n glimlag terugdink aan die tye, plekke en mense van daardie tyd. Hopelik is Zinkplaat deel van die agtergrondmusiek van ’n paar mense se goeie herinneringe.

- Besoek Zinkplaat se Facebook-blad vir besonderhede oor die toer waarmee hul 10-jarige bestaan gevier word.

- Zinkplaat is een van ses groepe wat aan LitNet se Sing'it-kompetisie vir liriekskrywers deelneem. Klik hier vir meer besonderhede.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top