
Hierdie is ’n doodgewone, byna banale storie wat op skoolgronde afspeel, maar van meet af is daar iets dreigends teenwoordig. Algaande word die doodgewone skooldag verpletter, en goddank opgekikker, deur ’n bonatuurlike element.
Die openingsin en openingsparagrawe is belangrik. Die belangstelling van die leser moet onmiddellik geprikkel word, of jy's jou leser kwyt.
Voorstel: Begin met die lab-klas en die reusagtige, skaduagtige wildevy buitekant (p 3). Hiermee sein jy alreeds dreiging. Laat Lara dan die klas binnekom met haar mandjie.
Vertel die storie van daardie punt af en beeld die karakters uit met subtiele, minimale verwysings na hulle verlede en hulle verhoudinge. Hiervoor kan jy dialoog gebruik en wys wat hulle aanvang, eerder as om te vertel.
Die skrywer sou trouens die meeste van die storie in die lab-klas kan laat afspeel.
Die eerste drie lang paragrawe moet grondig hersien word – wys eerder hoe vriendskappe verloop eerder as dat jy aan die leser verduidelik. Die skrywer kan ook werk aan sy/haar taalgebruik – minder gewoon, maar sonder om slim te probeer wees. Maak seker jy't jou oor dig teen die monde van hierdie tienerleerders om hulle taalgebruik en toon so goed moontlik vas te vat.
Beide Joshua en mnr Brandt is belangrike karakters in die storie. Die eerste lang paragraaf oor die twee kan hersien word om die dinamika tussen hulle uit te beeld, en om iets essensieel van beide weer te gee.
Oorbodige verduidelikings, ongeloofwaardige dialoog en ’n verdigting van die meeste van die paragrawe is ’n paar fasette waaraan gewerk kan word. Wanneer die hel losbars met die plant, moet die taal en sinsvorming/sintaksis die helse situasie vasvat.
’n Dreigende element moet van die begin af in die storie aanwesig wees, sonder om te veel te verklap.
Die storie het potensiaal, maat moet grondig hersien word. Ek sien uit na daarna.
*
(Nota aan die leser: Venter het ook aan elke skrywer ’n gemerkte weergawe van hulle verhaal gestuur. Ons kon dit om tegniese redes nie openbaar maak nie, maar tydens ’n volgende ronde sal ’n ander werkwyse gebruik word om ’n meer openbare rekord te hê.)

