Lara se pienk mandjie

  • 2

“Wat is in daai pienk mandjie wat sy dra?”

“Seker ’n bom om die skool op te blaas,” sê Marié laggend. Josua glimlag en kyk net weg.

Josua is ’n sestienjarige seun in Hoërskool Luiperdsrant en spandeer al sy pouses met Hanna en Marié, sy twee vriendinne. Hulle was vriende sedert graad agt en die vriendskap staan nog steeds sterk. Hulle sien hulself as ’n tipiese middelklas tienergroep. Hulle is nie deel van die populêre groep nie, en ook nie deel van daardie tieners wat onder op die ranglys lê nie.

“Ek sal nie verbaas wees nie; sy haat alles en almal!” sê Marié ernstig.

“Ek weet nie wat het ons ooit aan haar gedoen nie. Ons het rêrig ons bes probeer om haar te betrek”, kla Hanna.

 

Josua en Lara was beste vriende in die laerskool. Hulle het altyd by mekaar gaan speel, langs mekaar gesit in elke klas en alles met mekaar gedeel. Sedert die begin van graad agt het Lara egter vir Josua vermy en ná twee jaar nog nooit weer met hom gepraat nie. Josua was aanvanklik hartseer en kwaad omdat sy die vriendskap beëindig het, maar het intussen vrede daarmee gemaak. Hanna en Marié se vriendskap het dit ook vergemaklik en sy seer laat wegkwyn. Lara, daarenteen, het nooit weer ander vriende gemaak nie en haarself heeltemal afgesonder in die hoërskool. Selfs na telkemale se probeerslae deur Hanna en Marié het Lara haarself net nog meer geïsoleer. Sy lyk kwaad vir die hele wêreld. Dit lyk of hoërskool ’n straf is vir Lara.

 

Biologie, oftewel lewenswetenskappe, is Josua se gunstelingvak. Elke periode by mnr Brandt is sy hoogtepunt van die dag, die enigste periode waarna hy werklik uitsien. Hier leer hy van die wonders van die natuurlike wêreld en heel dikwels verskynsels wat hy nog nooit van gehoor het nie. Mnr Brandt is ’n passievolle onderwyser met ’n besonder belese agtergrond in die biologiese wetenskappe. Hy maak die vak interessant en Josua en ander kinders in sy klas hang behoorlik aan sy lippe elke periode. Dikwels word daar gespekuleer hoekom hy nie eerder ’n navorser by die universiteit geword het of ’n mediese dokter nie. As daar vir hom gevra word hoekom hy in die onderwys beland het, sê hy dat hy nie regtig ’n keuse gehad het nie, maar dat hy mal is oor sy werk. Tog is Josua baie dankbaar dat mnr Brandt sy biologie-onderwyser is; hy sien homself as ’n natuurkenner en kan vele plant- en dierspesies identifiseer. Mnr Brandt verbreed sy kennis nog meer.

 

“Dankie tog ons gaan nou Lewens toe. Om vir twee periodes lank na juf Spies te luister gaan my mal maak!”

“Ag Josua, juf Spies is nie so erg nie. Jy kan net nie wag elke dag om biologie toe te gaan nie,” sê Hanna terwyl hulle verby die lowergroen koorsbome langs die saal stap.

“Ja!” voeg Marié by, “Jy het ’n obsessie met mnr Brandt – ’n mens sal sweer jy het ’n crush op hom!”

Alhoewel hulle net grap, is Josua al keelvol vir die herhalende getergery van sy vriendinne oor sy liefde vir biologie en sy bewondering vir mnr Brandt.

“Moenie laf wees nie. Hierdie grappies elke dag raak nou regtig afgesaag. Get a life man.”

Marié en Hanna lag terwyl hulle weer vir Lara en haar pienk plastiekmandjie kyk.

 

Hanna redeneer: “Dalk het sy haar grondmonster vroeër saamgebring; wanneer het Meneer nou weer gesê moet ons dit hier hê?”

“Eers Maandag volgende week,” antwoord Josua. “Ek weet nie of die grond in ons tuin enige mikroörganismes gaan hê nie. Die grond is so vaal soos nog iets.”

“Of dalk het sy ’n regtige monster gebring!” skerts Marié.

“Sjuut!” snou Josua haar toe.

“Ja, sy is nie ons gunstelingmens nie, maar hou tog net op om al hierdie simpel comments oor haar te maak.” Marié rol net haar oë.

 

Josua sien dat Lara met mnr Brant praat toe hulle by die klaskamer instap. Hy is die enigste onderwyser wat sy enigsins mee praat, en soms lyk dit tóg vir Josua of sy die biologieklasse geniet. Daar is nog steeds iets wat hy en sy gewese kindervriend gemeen het, dink hy.

Mnr Brandt frons en lyk stomgeslaan terwyl Lara vir hom die inhoud van die mandjie wys.

“Ek sê julle nog steeds! Dis seker ’n regte monster wat sy gebring het!” fluister Marié.

Shut up!” brom Josua.

Al die graad 10-lewenswetenskappe-leerders skuif agter hulle stoele in mnr Brandt se klas in. Sy klaskamer is ’n laboratoriumklaskamer op die eerste verdieping met min lig, weens die reusagtige wildevy voor die vensters. Daar is talle ou plakkate wat bekende bioloë soos Darwin en Pasteur uitbeeld, asook foto’s van natuurtonele van verskeie omgewings regoor die aardbol. Die klas lyk oud, maar is esteties en gee die idee van ’n studeerkamer van ’n natuurkundige uit die 19de eeu.

“Goeiemôre graad tiens!”

“Goeiemôre Meneer.”

“Sit asseblief en haal dadelik julle skrifte en handboeke uit.”

Mnr Brandt lyk nog steeds verward sedert sy aanskouing van die onbekende voorwerp in Lara se mandjie. Hy loer vinnig weer in die mandjie, wat Lara voor op sy tafel gelos het, en maak die PowerPoint-aanbieding op sy skootrekenaar solank oop vir die les wat volg.

“Lara het vandag iets ... interessants vir ons saamgebring.”

Lara lyk ietwat ongemaklik as gevolg van die skielike aandag en oë op haar.

“Soos sekere van Lara se vriende reeds weet, was haar ouers in Suid-Amerika. Meer spesifiek, Peru.”

Almal kyk vragend rondom hulle om die beweerde vriende te sien wat hy van praat.

“Haar ma versamel eksotiese plante, en wil graag hierdie een vir ons wys wat sy daar gekry het.”

Josua onthou hoe tannie Anna-Marie, Lara se ma, behep was met plante. Die huis het altyd vol plante gestaan en sy het haar gedurig besig gehou met haar groen vingers in die tuin. Sy was die plaaslike kwekery se top klant en hulle moes altyd vreeslik moeite doen om sekere plantvariëteite vir haar in die hande te kry.

Mnr Brandt lig die potplant uit die mandjie en die gegons druis deur die klas. In sy hand hou hy die rooiste blomplant wat Josua al ooit gesien het. Die blare het ’n eienaardige stekelrige voorkoms met twee bloedrooi blomme, so groot soos hande. Die plant het geen groen dele nie; selfs die blare is donkerrooi.

“Ek het nog nooit so ’n plant gesien nie. Die blare ... sjoe, dit lyk ... dit lyk nie eers eg nie. Lara sê haar ma het nie die spesienaam genoem nie; ek gaan dit so gou as moontlik opsoek in my boeke vanmiddag.”

“Mmm ... lyk my nie dis net jý wat ’n crush het op hom nie,” fluister Marié. Hanna giggel saam, maar Josua is net so uit die veld geslaan deur die pragplant dat hy haar nie hoor nie. Hy roem graag op sy vermoë om plante te identifiseer, maar hierdie een is vir hom ’n struikelblok. Sy oog vang weer vir Lara wat ewe skielik baie anders lyk. Selfversekerd. Ernstig. Boos. Hy het haar nog nooit so gesien nie.

 

Mnr Brandt het intussen sy les oor plantorgane begin. Die meeste kinders maak notas, terwyl ’n groepie agter in die klas vir mekaar fluister. Josua kyk nog steeds na Lara, wie se postuur en gesigsuitdrukking nog onveranderd is. Iets voel verkeerd. ’n Angstige gevoel klop in sy keel.

Meteens spring Lara op en hardloop by die klas uit. Haar stoel tuimel om en die hele klas skrik van die onverwagse slag wat deur die ou klas weergalm. Mnr Brandt hardloop agterna uit die klas uit. Jandré du Toit spring agterna om mnr Brandt te volg, maar die deur klap in sy gesig toe. Hy kry dit nie oop nie.

“Wat de donder het nou gebeur?!” roep Marié.

Al die kinders is verbaas oor die gebeurtenis en die klas skarrel en raas soos wat almal meer inligting wil kry oor die voorval. Jandré kry nog steeds nie die deur oop nie.

“Ek het nog die heeltyd gesien sy lyk weird. Iets het baie af gelyk.”

“Het sy al ooit so iets gedoen, Josua?” vra Hanna.

“Nee, ek haar nog nooit so gesien nie. Ek voel eintlik nog steeds vreemd oor die hele situasie ...”

“Meneer moes ons toegesluit het of iets!” skree iemand wat saam met Jandré aan die deur ruk.

“Hanna, Marié, my gut sê vir my iets groots is fout.”

‘n Menigte kinders probeer nou om die deur oop te maak. Hulle kan nie sien wat buite aangaan nie, aangesien daar geen vensters aan daardie kant van die klaskamer is nie. Die enigste vensters is dié aan die wildevy se kant.

“Wat gaan aan?!” skree ’n kind.

Josua se oog vang ’n beweging op mnr Brandt se tafel, waar Lara se rooi plant nog staan.

“Julle, kyk daar!” skree Josua.

Die plant op die tafel het in ’n kwessie van sekondes ten minste ’n meter gegroei en hou aan groei. Dit begin ’n menslike figuur aanneem. Nog nooit het Josua iets so afskuwelik gesien nie. Die kinders gil en hardloop histeries na die agterkant van die klas. Die deur kan nie oop nie.

“Wat is dit?!” roep Hanna en Marié terselfdertyd.

“ ’n Alien!” skree ’n ander meisie.

Die gedrog snork varkagtige geluide uit wat die kinders nóg meer ontstel en doen toe iets wat die konsternasie vererger. Elke steel van die plant het gegroei in ’n ledemaat wat een vir een na ’n kind toe skiet en reg rondom die kind se lyf draai. In ’n oogwink is die kind geheel en al weg. Jandré het eerste verdwyn. Toe Michelle, toe Karabo.

“Wat gaan ons doen?!” skree Marié vir Hanna en Josua.

“Kom ons breek die vensters oop met die stoele,” stel Josua outomaties voor.

Terwyl Josua, Hanna en Marié elkeen ’n laboratoriumstoel gryp, hardloop die kinders nog verwilderd rond in die klas om die tak-arms van die plant te ontwyk. Hulle al drie spring uit. Die slag op Josua se voete is seer. Om vanaf die eerste verdieping te spring is nie iets wat enige van hulle al gedoen het nie. Hanna het haar arm seergemaak, dalk gebreek. Die seer is egter gou vergete toe hulle weer ontnugter word deur die klanke en geluide uit die biologieklas. Hulle hardloop so vinnig as wat hulle kan na die kantoorgebou. Rondom hulle sit kinders nog in klasse, heeltemal onbewus van die bonatuurlike situasie wat in mnr Brandt se klas afspeel. Terwyl hulle hardloop, kom mnr Brandt uit die kantoor uitgestap en lyk verbaas om hulle te sien hardloop na die kantoor toe.

“Hoekom hardloop julle hiernatoe?”

“Meneer!” roep al drie uit met min asem na die gehardloop.

“Die plant! Dis ... nie ’n plant nie,” mompel Josua vinnig.

“Hy gryp die kinders!” voeg Marié by.

“Wat gaan met julle aan?! Ek dog dit is net Lara wat die pad byster geraak het vandag.”

“Meneer asseblief, laat mnr Hanekom weet! Ons is ernstig.” Mnr Hanekom is die skoolhoof.

“Eers sê Lara dat ’n spul ruimtewesens haar gedwing het om kinders vir hulle te ontvoer, en nou ’n plant wat kinders gryp?!”

Die drie kinders kyk verdwaas na mekaar. Mnr Brandt besef dat daar dalk ’n waarheid in die waansin skuil, beveel hulle aan om daar te bly, en hardloop toe terug na sy klaskamer toe.

 

Josua sit tjoepstil op die sitkamerbank terwyl die nuus op die Afrikaanse kanaal die hooftrekke wys: “Vyf-en-twintig leerders van Hoërskool Luiperdsrant, in Luiperdsrant, Noordwes, raak vermis in ’n raaiselagtige gebeurtenis.”

Josua sit verstar, terwyl sy ma oor die foon met familie praat. Hoe kan dit die realiteit wees? wonder hy. Hy is vreesbevange. Hoe gaan hy ooit slaap vanaand? Wat gaan by die skool gebeur? Wat gaan met sy gunstelingonderwyser gebeur? Lara is weg. Die plant, of wat ook al dit was, is daar geen teken van nie.

 

Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>

LitNet-slypskool Om te skryf: Ontmoet die deelnemers en lees die verhale

  • 2

Kommentaar

  • Ek het vir Barend Wiskunde gegee. Het die verhaal só geniet; kon nie ophou lees nadat ek begin het nie. Nie geweet die man het nog ’n talent nie.

  • Jeanne Grobler

    Ek was Barend se Boil-onderwyser. Ek het sy verhaal so geniet en kan nie wag vir die opvolgepisode nie. Dit is so wonderlik dat talentvolle jongmense nog onderwysers word ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top