LAPA se nuwe boeke vir Augustus 2015

  • 0

LAPA Uitgewers bied iets vir elke smaak gedurende Augustus!


opdragvanoorkant

Opdrag van oorkant

Alta Cloete

Prys: R199.99

ISBN: 9780799376302

Wanneer die bejaarde boer, Theresa Beyers se eksman, die geliefde Afrikaanse skrywer Coenraad Beyers sterf, bring die ongewone versoeke in sy testament haar te staan voor die vrou vir wie hy haar verruil het. Vir albei wag daar egter ’n verrassing in die vorm van die jong en swanger Cheryl-Anne Fortuin, wat toe veel meer as Coenraad se persoonlike assistent was. Ook Anna Philander, wat oënskynlik bloot die Beyers-gesin se huishulp was, kom prominent na vore.

Met die strooi van sy as op sy geboorteplaas en die boektoer om sy outobiografie bekend te stel, word die vroue gedwing om hulle verhouding met Coenraad, hulle foute van die verlede en hulle drome vir die toekoms te konfronteer.

Die boekgesprekke word gelei deur Coenraad se uitgewer Anthonie Binedell, self bejaard en klaarblyklik ernstig siek. Aanvanklik dien hy bloot as katalisator, maar hy word spoedig dieper betrek by die vroue se komplekse verhoudings.

Ten spyte van hulle diepgaande verskille word Theresa, Anna, Lisa en Cheryl-Anne in ’n ongemaklike eenheid saamgesnoer deur die wete dat hulle deelname aan die boektoer vir Cheryl-Anne in staat stel om ’n finansiële toekoms vir haar kind te verseker. Beide Theresa en Lisa word opnuut gedwing om hulle kinderloosheid in die gesig te staar en vind ook die rede daarvoor uit.

Die skrywer ondersoek die onregverdige mag wat ’n geliefde uit die dood oor die agtergeblewenes kan hê en stel ook die vraag of almal in die Nuwe Suid-Afrika werklik al so gelyk is soos ons graag wil glo. Die tema van verganklikheid staan ook sentraal in die verhaal.

Jeanette Ferreira skryf oor Opdrag van oorkant: “Cloete se outentieke dialoog en milieuskildering blink hierin uit, so ook haar kundige fokus op die fokaliserende karakter wat tot gevolg het dat die leser uitsluitlik met Theresa identifiseer.”

Enigeen wat Alta se romans al gelees het, sal weet sy slaan kaalvuis, maar dan salf sy ook mildelik.

Daar is bitter min skrywers wat die moed het om die soort goed aan te spreek wat Alta aanspreek. Sy is ’n gloeiende voorbeeld dat lekkerlees en betrokkenheid nie van mekaar verwyderd hoef te wees nie. Die wenteling in hierdie boek kom só onverwags dat ’n mens dit nie hier wil weggee nie: Die leser moet self die openbarings beleef.


onverwagteleuens250

Onverwagte leuens

Lien Roux-de Jager

Prys: R199.99

ISBN: 9780799376319

Kalli Krynauw werk deesdae net deeltyds vir SIS, want sy is swanger. Haar bydrae groei egter by die week, want SIS kry die een ondersoek na die ander: Die FBI het hulle gevra om te help met smokkelhandel; dit gaan oor ’n vigilante wat dwelmhandelaars die een na die ander met klein selfoonbomme opblaas. Toe verdwyn SIS se hoof, Kolonel Mothlala se vader. Sy lyk word dae later in ’n park gevind, maar dit is duidelik dat die moord nie daar gepleeg is nie. Hulle kan geen motief kry nie: die ou man was geliefd en het geen vyande gehad nie.

’n Rukkie later word ’n tweede lyk by ’n verlate bouvallige huisie gekry. Die honde snuffel ook ’n ander bloedkol daar naby uit, maar dit is met bleikmiddel behandel en DNS sal nie bepaal kan word nie. Hulle skep in elk geval die boonste laag af en neem dieper grondmonsters.

Op die koop toe verdwyn Brink. Hy los net ’n SMS vir Joe dat Kalli glad nie na die huis moet teruggaan nie. Hy laat weet ook alles is onder beheer, bly kalm.

Kalli se dae en nagte word ’n hel van kommer, al verseker almal haar dat sy nie bekommerd hoef te wees nie. Sy, haar ma en Berna word weer na die SIS-veiligheidshuis geneem, met wagte wat hulle dag en nag oppas, maar daarna loop hierdie huis deur onder petrolbomaanvalle. ’n Brief word in die posbus gevind, geadresseer aan Kalli: Nobody is safe.

Kalli kry toestemming om die veiligheidshuis te verlaat – vermom as ’n joernalis. Haar ma word Kaap toe gestuur om by haar suster te kuier tot al die probleme opgelos is. Kalli doen onderhoude met ooggetuies en mense wat iemand aan die dood afgestaan het. Dan word die huis waarin sy as vermomde joernalis woon, ook deur ’n petrolbom verwoes.

Om die kroon te span verdwyn Berna ook ...


bloedophaarhande

Bloed op haar hande – vroue agter tralies

Carla van der Spuy

Prys: R184,99

ISBN: 9780799374315

Wat laat vroue moor? Hoe voel dit om ’n sel met moordenaars te deel? Wat is heel ergste van die tronkervaring?

Carla van der Spuy het vier tronke dwarsoor Suid-Afrika besoek en het gaan loer in die psiges van vroue wat geweldsmisdade gepleeg het. Sy kuier by hulle babas agter die tralies, vier Kersfees in die tronk en gesels van aangesig tot aangesig met verskeie geharde kriminele, insluitend diegene wat met messe of gewere gemoor het en dié wat ander gehuur het om hulle mans te vermoor.

Dus: vroue met bloed op hul hande.

Carla vra die vraag: Hoekom?

Wat het so verskriklik skeefgeloop in hul lewens dat die vroue tot sulke uiterstes toe gegaan het? Elke hoofstuk bevat ook ’n onafhanklike analise van die gesprek deur ’n kenner.

Die antwoorde is skokkend en telkens loop daar ’n goue draad deur die boek: Hoewel hierdie vroue veroordeelde kriminele is, is daar binne elkeen ’n mens wat liefde en aanvaarding nodig het.

 

Hierdie twee aanhalings uit die boek som diegene wat onderhoude toegestaan het, nogal goed op:

“There are no sweetie pies in Pollsmoor. And the women are the worst.”

– ’n Kommissaris van die Departement van Korrektiewe Dienste

 

“Hierdie vroue sit nie agter tralies omdat hulle Sondagskool gebunk het nie.”

– Sarie Peens van die Departement van Korrektiewe Dienste

 

Wie is Carla van der Spuy?

Carla van der Spuy is ’n bekroonde vryskutjoernalis en skrywer van drie niefiksieboeke, insluitend Mens of monster (2012), haar eerste boek oor veroordeelde misdadigers. Haar ongekompliseerde, openhartige gesprekke en haar gemaklike skryfstyl lei na ware stories met diepte wat haar lesers se hartsnare sal roer.


koningskosvirkinders

Koningskos vir Kinders

Helen Schöer

PRYS: R229,99

ISBN: 9780799374513

Talle ouers het al heerlik gelag vir die gesigte wat hulle kinders trek as die kabouter die heel eerste keer aan vaste kos blootgestel word, maar min van ons besef dat daardie kosbare baba se eerste happie babakos die begin is van ’n noodsaaklike, lewenslange verhouding met voedsel.

Hierdie boek sal elke ma help om die kanse te verbeter dat dit ’n gesonde, genotvolle verhouding moet wees. Dink aan daardie eerste, gladde purees, tot sagte kossies met effens meer tekstuur, die heerlike vat-vat-vingerkos en later daardie peutervriendelike disse waaraan die hele gesin kan smul.

Moenie bloot gaan kitskos koop nie! Hierdie boek se voedingsriglyne en maklike resepte sal alle ma’s en pa’s help om self voedsame koningskos voor te berei. Laat daardie liefling van jongs af leer: Die geure, smake, kleure en teksture uit Ma of Pa se kombuis is mos die ware koningskos!

Baba’s en hulle behoeftes verander verrassend vinnig, daarom lyk die boek se hoofstukindeling só: Eerste kos; 6 maande; 9 maande; Vingerkos en Peutervriendelik.

Koningskos vir kinders bied hulp aan almal om voedingswaardes te verstaan, dit verskaf talle wenke en heelwat moets en moenies waaraan die meeste van ons nie sou dink nie, maar die klem val beslis op al die heerlike, gesonde dinge wat ’n baba kán en behoort te eet, in plaas daarvan om te hamer op lyste vol goed wat nie geskik is nie.

Boonop sal die 110 watertandresepte, plus volkleurfoto’s, die ma’s en pa’s inspireer om vir hulleself én vir hulle kinders te leer: Kook liewer self, dis makliker, gesonder en lekkerder om self heilsame kos te maak as wat baie mense besef.

Helen Schöer is al vir meer as agt jaar lank die redakteur van Baba & Kleuter, Suid-Afrika se Afrikaanse ouerskaptydskrif wat alles dek van swangerskap tot graad 0. Met ’n honneursgraad in joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch in haar sak, het Helen haar loopbaan by die koerante begin. Met die koms van haar kinders – Sophia is nou 12 en Emily 9 – was Helen bly om die harde nuus te verruil vir leefstyljoernalistiek. Sy is passievol oor gesondheid en voeding, en lees resepteboeke soos ander mense fiksie lees. Helen se ander stokperdjies is joga en voetslaan.


savisboek

Die Suid-Afrikaanse Vis- en Seekoskookboek

Susina Jooste & Henk Stander

PRYS: R229.99

ISBN: 9780799374230

In die VSA word 80% van alle vis in restaurante geëet. Mense is bang om vis self voor te berei. In Suid-Afrika het ons nie sulke duidelike statistiek nie, maar die tendens blyk soortgelyk te wees in die meeste gemeenskappe.

LAPA is dus trots om ’n boek te bied wat sal help om die vrees uit die voorbereiding van vis te haal.

Ons het twee kenners, Susina Jooste, die direkteur van The Private Hotel School in Stellenbosch, en Henk Stander, ’n baie ywerige visserman en die algemene bestuurder van die akwakultuureenheid aan die Universiteit Stellenbosch, laat saamwerk met ’n span redakteurs om ’n eenvoudige, maar deeglike, gids te skep wat die leser stap-vir-stap lei deur die voorbereiding van vis en seekos.

Hierdie boek bied iets vir elke Suid-Afrikaner, of jy nou in die Kaap of in Limpopo woon. Daar is waardevolle riglyne oor die koop van vis en seekos, maar ook hoe om dit vars te hou, of te vries, voor dit gaargemaak word.

Daar is selfs stap-vir-stap instruksies en foto's wat verduidelik hoe om ’n vis self skoon te maak en dit dan in fillette of steaks te sny. Ons wys jou ook hoe om sonder vrees ’n aftreksel van vis te maak – en selfs hoe om vis te rook.

Die resepte is verdeel in twee hoofafdelings: Varswatervis en Seevis en Seekos. Daar is heerlike resepte soos geroosterde forel met ’n mango- en papajasalsa, of hoe klink forelpatee? Ons wys jou ook hoe om ’n heel kabeljou in ’n uiekors op die kole te braai en moenie vergeet van die krap- en klapperkerrie nie! Al hierdie resepte is boonop maklik om te maak.

Neem die vrees uit akwakultuur

Die Suid-Afrikaanse Vis- en Seekoskookboek bied selfs inligting oor die ontwikkeling van akwakultuur in Suid-Afrika. Eens is gedink die see is 'n groot, onuitputlike hulpbron, maar die oseane gaan gebuk onder ’n beduidende verlies van noodsaaklike biodiversiteit. Akwakultuur bied ’n alternatief tot die vangs van vryswemmende vis.

Ter opsomming

Hierdie boek is daarop gemik om die vrees uit die koop, die voorbereiding, die kook en die eet van die vis te haal. Sodra die leser dan verstaan hoe lekker en maklik vis is, sal hy of sy miskien selfs begin vis teel!

Die skrywers

Susina Jooste, die direkteur van The Private Hotel School in Stellenbosch, se loopbaan strek oor dertig jaar. Sy het ’n B. Huishoudkunde (Ed) van Stellenbosh, ’n B. Ed (Honneurs) van Potch en ’n Meestersgraad van Stellenbosch, maar sy het ook gestudeer aan The Culinary Institute of America in New York, Le Cordon Bleu in Parys en die City and Guilds of London.

Henk Stander is die Bestuurder van die Akwakultuureenheid by die Universiteit van Stellenbosch se Departement Veekundige Wetenskappe. Hy is al vir meer as 20 jaar betrokke by die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse akwakultuur en is ’n toegewyde visserman met ’n passie vir die beskerming van Suid-Afrika se riviere en kuslyne.


rose250

Rose, die Suid-Afrikaanse groeigids vir al vier seisoene

Nan Steyn

PRYS: R244.99

ISBN: 9780799374476

In Rose – die Suid-Afrikaanse groeigids vir al vier seisoene word elke afdeling van roosverbouing volledig bespreek, met maklike, praktiese raad en wenke. Die moontlike slaggate word ook uitgewys. Die boek se toeganklike skryfstyl maak daarvan ’n ideale boek vir die gewone tuinier wat net ’n paar rose wil plant, of vir iemand wat vir die eerste keer wil rose kweek.

Die klem van die boek word geplaas op die bewaring van die omgewing en gesonde, organiese verbouingspraktyke. Daarom is dit nie bloot ’n kweekgids nie, dit is meer. Die boek sê: neem eers die natuur in ag. Daar is al ander gidse gepubliseer, maar nie een soos hierdie nie.

Nan Steyn is ’n lid van die Wes-Kaapse Roosvereniging en daarmee ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Roosvereniging (ROSA). Sy was in die verlede ook ’n lid van die American Rose Society (ARS).

Nan is die laaste 20 jaar intensief besig met roosverbouing. Deur rose te bestudeer, die bywoning van rooskonferensies en uit jarelange ondervinding, het sy ’n ongelooflike kennis opgebou oor rose en hulle behoeftes.

Gedurende die laaste paar jaar was sy betrokke by die aanplant, algemene versorging, voeding en snoei van ’n gastehuis se plukrose in Swellendam, haar tuisdorp. As gevolg van haar passie vir, en kennis van, rose word sy gereeld deur tuinbouverenigings en individue genader vir raad.

Besoek LAPA se webtuiste hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top