Landbou Boerekos deur Arina du Plessis: van die plaas na die tafel

  • 0

Landbou Boerekos
Arina du Plessis
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798177139

Arina du Plessis gesels met Naomi Meyer oor Landbou Boerekos, wat onlangs by NB-Uitgewers verskyn het.

Hallo Arina, baie geluk met Landbou Boerekos - die boek. Is hierdie boek soos wat die naam verklap: 'n samestelling van resepte wat voortspruit uit die Landbou Boerekos-tydskrifte? Wat is eenders, wat is anders (as mens boek en tydskrif met mekaar vergelyk)?

Dankie! Landbouweekblad se kostydskrif, Landbou Boerekos, se lesers het al na die eerste paar uitgawes begin vra vir ’n kookboek met van die gewildste resepte. Na 12 uitgawes van die kostydskrif het ons gevoel die tyd is reg om ’n boek saam te stel. Die boek bevat nie net resepte uit vorige uitgawes van Boerekos nie, maar ook van die lekkerste resepte uit Landbouweekblad se kosrubrieke. Die resepte is dus bekende gunstelinge, maar die kookboek is in afdelings ingedeel volgens plaasprodukte, wat dit ’n heel ander gevoel gee as ons kosrubrieke in Landbouweekblad en ook as ons Boerekos-tydskrif.

Julle Landbouweekblad se kostydskrif is 'n baie herkenbare en geliefde tydskrif. Wil jy dalk die agtergrond en geskiedenis van hierdie betrokke tydskrif gee?

Landbou Boerekos het ons almal se verwagtinge oortref. Toe ’n paar Landbouweekblad-redaksielede in 2012 een middag begin gesels het oor ’n kostydskrif as handelsmerkuitbreiding vir Landbouweekblad, sou ek nie kon geraai het dat dit so suksesvol gaan wees nie.

Die eerste uitgawe het van die rakke gevlieg en lesers het oorweldigend positief daarop gereageer. Ek is nog steeds na elke uitgawe uitgeboul oor die aantal lesersbriewe wat ons ontvang. Die tydskrif het ’n baie lojale en betrokke lesersmark wat dikwels die moeite doen om te bel of ’n e-pos te stuur net om te laat weet hoe baie hulle ’n sekere storie of resep geniet het.

Boerekos verskyn twee keer per jaar – ons someruitgawe is van Oktober tot April top die rak en die winteruitgawe van Mei tot September.

Praat asseblief met my oor Landbouweekblad en kos. Dis seker vanselfsprekend dat kos en boerdery met mekaar saamloop: die meeste kommersiële boere se oogmerk sal die verskaffing van kos en inkomste wat hieruit voortspruit, wees – of hoe? Dalk kan jy hierop uitbrei, as jy wil?

Landbouweekblad skryf al vir byna 100 jaar oor onder meer die produksie van kos. Tog was baie mense skepties oor die idee van ’n kostydskrif as handelsmerkuitbreiding vir Landbouweekblad. Hoekom sal ’n landboutydskrif hom nou besig hou met kos en resepte? Dan was Landbouweekblad se redakteur, Chris Burgess, se antwoord altyd: “Landbouweekblad is die oorspronklike kostydskrif! Want sonder boere wat Suid-Afrika se winkelrakke en spense laat kreun onder ’n verbysterende verskeidenheid kos, sou daar bitter min gewees het om oor te skryf in daardie fensie glanskostydskrifte!”

Van die begin af was ons doel met Landbou Boerekos tweeledig: ons wou eerstens skryf oor daardie geliefde geregte en geure wat uit plaaskombuise kom – die kos en smake waarna ons verlang en wat ons nostalgies laat voel; goeie kos, gemaak met vars plaasprodukte en sonder enige tierlantyntjies. Maar ons wou ook die lig laat skyn op die mense wat ons kos produseer. Ons Boerekos-tydskrif moes boere nader bring aan die mense wat hulle kos koop.

Die gepubliseerde gesprekke met boere – waar boere self met lesers kan praat oor hul bedrywe, produkte en die uitdagings wat hulle elke dag moet aanpak om te sorg dat die res van ons kan eet – is uiters gewild by ons lesers. Wat my keer op keer laat besef het dat daar ’n behoefte is onder verbruikers om te weet waar hulle kos vandaan kom, om die mense agter die produkte te ontmoet.

Daar verskyn baie kookboeke op die rak, maar hierdie een het my aandag getrek. (Ek is immers ’n koper van julle Landbou Boerekos-tydskrif.) Wat, dink jy, maak hierdie een uniek of onderskei dit van ander resepteboeke?

Omdat Boerekos ’n kostydskrif met ’n landbouhart is, het ons besluit om die boek se resepinhoud volgens plaasprodukte in te deel, soos ek reeds genoem het. Die A–Z van die lekkerste kos met plaasprodukte: van aartappels en amandels, beet, dadels, lamsvleis en lemoene tot by waterblommetjies en wortels. Die boek bied ook uitstekende waarde vir geld, met meer as 300 resepte. Die boek bevat ’n lekker mengsel van oud en nuut – tradisionele treffers en meer moderne boerekos. Daar is regtig iets vir elke smaak.

Die tydskrif is dikwels gekoppel aan 'n seisoen of 'n streek (in die herfs was daar nou onlangs 'n uitgawe met die klem op appels en pere, en die streeksfokus was die Overberg). In die boek word egter, soos jy nou reeds gesê het, klem gelê op produkte. Watter soort produkte?

Elke winteruitgawe van Landbou Boerekos is ’n reisuitgawe. Ons besoek ’n streek soos die Overberg, Kalahari of Oos-Vrystaat, waar ons saam met boere en hul gesinne in hulle plaaskombuise kook en bak. Ons vertel elke gesin se storie en fokus in hierdie uitgawes op tradisionele kos, familieresepte en streeksprodukte. Die mees onlangse reisuitgawe, oor die kos en mense van die Overberg, het onder meer heerlike resepte met streeksprodukte soos appels en pere, lamsvleis, persimmons en graanprodukte bevat.

Jy het reeds noem dat daar ou gunstelinge in die boek is, sowel as nuwe resepte – produkte wat ander baadjies aantrek? Kan jy effens hieroor uitbrei?

Al die ou gunstelinge is daar, ja! Wildspastei, tamatiebredie, afval, souskluitjies en sagopoeding, maar daar is ook ’n groot verskeidenheid vinnige, maklike en moderne resepte. Ons voel sterk daaroor dat alle resepte in Landbouweekblad en in Landbou Boerekos toeganklik moet wees vir ons lesers. Goeie kos, maar sonder vreemde bestanddele. Baie van ons lesers woon op plase of in klein dorpies waar hulle nie toegang het tot deliprodukte en spesialiteitswinkels nie. Dus maak ons seker dat ons resepte met alledaagse, bekostigbare bestanddele gemaak word.

Jy is ’n kosskrywer - wat is vir jou lekker daarvan om oor kos te skryf en wat is uitdagend? (Is dit nie soos die afneem van kos nie – mens moet beslis weet wat jy doen sodat mense die skepping wil eet – dit moet ware lusmakers wees?)

Alles omtrent my werk as kosskrywer is vir my lekker – die uitdagings (soos weeklikse spertye!) ook. As kosskrywers kry ons die geleentheid om kreatief te wees, tyd in die kombuis te spandeer en om te skryf – al my gunstelinge. Ek het op ’n plaas grootgeword en boerekos en plaasprodukte was van kleins af deel van my verwysingsraamwerk, daarom is dit nie vir my moeilik om vir Landbouweekblad te skryf nie. Dit is my mense – ek verstaan die mark. Ek was baie jonk toe ek aangestel is as kosredakteur by Landbouweekblad en aan die begin was dit nogal intimiderend om kosdemonstrasies te doen of kosartikels te skryf vir mense wat al baie langer as ek kosmaak!

Ek sien jy het ook ander boeke geskryf - wil jy dalk nog hiervan vertel? Hoe verskil Landbou Boerekos van ander boeke waarby jy betrokke was?

My eerste kookboek, Onthaal, het in 2004 verskyn en daarna was daar ’n reeks kinderpartytjieboeke saam met Bernice van der Merwe. Ook nog twee kookboeke vir Landbouweekblad. In 2016 het ek Plaaskos geskryf, die boek wat my die naaste aan die hart lê – oor die kos waarmee ek grootgeword het en wat ek in my ma en oumas se kombuise leer ken het. Die styl van die resepte in Plaaskos is baie dieselfde as die resepte wat ek vir Landbouweekblad en vir Landbou Boerekos skryf – boerekos, plaaskos is wat ek ken en waarvoor ek lief is.

Wat is jou gunstelingresep in die boek? Kan jy dit dalk met ons lesers deel?

Dit is onmoontlik om net een te kies! Maar ek het vanmiddag die gebakte kersiekaaskoek met sjokoladekors (bl 97) gemaak met ’n bakkie kersies wat ek in die vrieskas gehad het, en ek het al vergeet hoe lekker die resep is. Die kersieseisoen begin een van die dae – dis ’n fantastiese somernagereg of iets soet om vir teetyd te maak.

http://www.humanrousseau.com/Books/20467

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top