Lag ’n slag!

  • 0

Nik Rabinowitz is 43 jaar oud en daar is sekere dinge wat sak; ander wat minder word; midriwwe wat uitsit en die frustrasies van middeljarigheid wat hom begin inhaal. Sy nuwe vertoning, Late Bloomer, steek die draak met middeljarigheid en al sy tentakels. Dit spot met mans wat op 40 begin fietsry 04:00 op ’n Saterdagoggend; of Harley Davidsons koop; en haardokters wat moet help om jou welige haredos terug te kry.

En so saam met die middeljarigheid kom daar die voor- en nadele van ’n DNS-toets. As jy uitvind waar jou voorvaders vandaan kom, is daar allerhande nuwe paspoort-geleenthede wat wink; maar die kanse is ook groter vir allerhande skete noudat jy weet waaraan jy dalk kan doodgaan.

En ons kan nie vir Marie Kondo vergeet nie; want o heigend, jy kan nie bekostig om in die nuwe millennium op te gaar nie; dit moet in hopies gesorteer word en weggegee word.

Dis sy dertiende eenmanvertoning en die konsertsaal is tot barstens toe vol en dis nie die openingsaand, waar die helfte van die kaartjies komplimentêr is nie: nee, mense wil hier wees, hulle wil vir hulself en hul buurman lag.

Ek het dit al in vorige resensies gesê: as jy ’n aanhanger van iemand se vertonings is, is dit baie moeilik om nie later van sy stories en sêgoed in elke vertoning te hoor nie. Wanneer daar dan ’n nuwe vertoning is, is jy skugter vir presies hoe nuut dit is. Late Bloomer is kraakvars, skreeusnaaks en teen die halfpad-merk is jou wangspiere seer gelag, jou snaarstyf skouers ontspan en vee jy trane af oor sy pittighede.

Natuurlik bly niemand gespaar nie: nie eers die Joodse sinagoge se Vrydagaand Live!-konserte; Jew-fro’s (daai krullerige hare waarmee Nik glo hy as Joodse seun “gestraf” is en sy eie seun nou het), middeljarigheid, skoonfamilie, emigrasie en seks nie.

Hy vra dat mense simpatie met middeljarige wit mans moet hê - “al is hulle verantwoordelik vir die meeste gruwel reg oor die wêreld, want ons weet nie waardeur hulle persoonlik gaan nie”.

Nik Rabinowitz in Late Bloomer (foto: Malusi Maseti)

Hy het weer ’n paar (on)willige teatergangers met wie hy regdeur die vertoning gesels en op wie hy goedhartig pik, terwyl die res van die gehoor skater oor die uitlatings en maar net te bly is dis hulle gespaar. Hy vra vir een jong kind of hy ’n oorhoofse projektor ken. Toe die kind sy kop skud, antwoord Nik droog: “O ja, uitkoms-gebaseerde onderrig: geen uitkoms” en almal proes van die lag.

Hy bly weg van die politiek, maar vleg sy opinies oor die stand van die politiek baie slim regdeur sy 90 minuut lange vertoning.

En net voor die ligte doof, is daar ’n oomblik van nugterheid: hy smeek die gehoor om op te hou kla; op te hou dink aan na watter land hulle gaan emigreer en eerder te kyk hoe hulle in hul eie land ’n verskil kan maak.

Stof tot nadenke, as jy in ag neem die vertoning het 40 minute laat begin, weens beurtkrag. Hoewel die Baxter kragopwekkers het, is daar besluit om te wag tot die krag weer herstel is, voor ons kon ingaan.

Die 40 minute-vertraging het die kroeg se kasregisters goed gedoen, maar ook ’n soort gevoel van kameraderie onder die gehoor geskep. Toe die ligte uiteindelik aangaan, is dit begroet met ’n luide applous en halleluja’s. En met daardie samehorigheid van saam swaarkry (al is dit net vir minder as ’n uur sonder lugversorging en ligte) is almal die konsertsaal binne.

Dis met sulke geleenthede wat jy kyk oor ’n veelkleurige, veelrassige, bont, gemengde, of wat ook al jy ons Reënboognasie wil noem, dat jy nie kan help om aan die knop in jou keel te sluk en te dink dis juis deur ons verskille, wat ons soveel in gemeen het.

En ek met Nik saamstem: ek gaan nêrens, ek bly hier ... en nie te danke aan die Facebook-blad #ImStaying nie, sommer uit my eie. Hier is hopeloos te veel redes om te bly.

Late bloomer
Met: Nik Rabinowitz

Regie: Rob Van Vuuren  
Die Baxter-teatersentrum, Konsertsaal
Tot 14 Desember 2019
Ouderdomsbeperking: 14
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by www.webtickets.co.za en by enige Pick ’n Pay-tak. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top