
Neels Coetzee, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Marion Holm
Foto: verskaf
“Kyk Noord en Stoot Voort” met ’n eekhoring in die middel is die leuse en wapen van Laerskool Noord. Natuurlik laat dit die mondhoeke opkrul, want hoeveel van ons gebruik nie ’n soortgelyke uitdrukking – net met ’n kragwoord in – as iemand vra hoe dit gaan nie?
En dis presies wat in dié komedie gebeur. Elkeen maak maar eintlik soos hy wil in dié skool. Die adjunk-hoof se kantoor is waar al die aksie gebeur.
Drie onnies beplan ’n verrassingspartytjie vir hul skoolhoof se aftrede. Tussen die netbaljuffrou, Zelda, se vreeslose fluitjie, Bets se dramatiese, deurmekaar administrasie en kaftans en sorglose Marietjie, wat probeer om die vredesvlaggie te laat wapper met haar glitter stickertjies en poedelballonnetjies, is die toneel ’n tikkende tydbom. Elkeen wil gehoor wees.
..........
Voeg hierby die ongelooflike korrektheid van skool-jargon en doodgewone woorde wat met sulke hoogdrawendheid rondgegooi word soos “kollegas”, “agenda”, “Suid-Afrikaanse Onderwysunie”, “netbalwedstryd” en jy sou sweer die onnies is besig met sake van internasionale spioenasie.
..............
Voeg hierby die ongelooflike korrektheid van skool-jargon en doodgewone woorde wat met sulke hoogdrawendheid rondgegooi word soos “kollegas”, “agenda”, “Suid-Afrikaanse Onderwysunie”, “netbalwedstryd” en jy sou sweer die onnies is besig met sake van internasionale spioenasie.
En natuurlik is die oorskakeling na Meneer wat by ’n kongres is, om te hoor wie by hom oorneem as die nuwe hoof van Laerskool Noord, die onderliggende rede vir rou senuwees.
Die Boer Durbanville is gepak vir ’n Sondagmiddag en ek weet dis nie net oor die beesstert of varklies met ’n lekker wyn dat mense uit hul huise gelok is nie.
Dis die tweede maal dat ons dié skaterlagsessie meemaak en met die vinnige humor is dit heerlik om weer ’n kans te kry om die kwinkslae behoorlik op te neem.
Ek en my geliefde het nie kinders nie en die meeste van ons vriende ook nie – óf hul kinders is lankal uit die skool – so baie van die gesegdes wat dié vier op die verhoog kwytraak, is só bekend, maar ek het dit so lanklaas gehoor dat ek van voor af skaterlag.
“Jy soek vir my; jy toets vir my,” uit Zelda se mond met die gepaardgaande skril fluitjie in daai blou butch sweetpak, sit my terug in my skoolbank. Die sêgoed wat ons as leerlinge uitgedink het om ons onnies en hul snaakse gewoontes of kleredrag te beskryf, kom ewe skielik een na die ander terug uit my onderbewussyn.
Bets se opmerking: “Zelda se stem trek verder as ’n ossewa”, of die feit dat sy elke keer as sy skrik ’n vloekwoord verdoesel met ’n ander woord, kon net sowel een van my eie skoolervarings gewees het. En as Bets haar Wena Naudé-stem gebruik en haar dramabewegings uithaal om die ander twee te oortuig dat sy tog maar ’n voordrag by die hoof se partytjie moet doen, kom al die benoudheid van Afrikaans én Suid-Afrika van 50 jaar gelede terug in my geestesoog.
Marietjie se verkleinwoordjies verg kophou – nie net vir haar nie, maar ook vir die gehoor – en uitdrukkings soos “blaadjie-maatjie” (Facebook), “tollietruitjie” (kondoom), “korrelkolletjies” (plakkers in die seunstoilette om hulle te help om beter te mik) en ’n “Vloekvarkie” (’n blik met ’n varkiefiguur waarin geld gedeponeer moet word as iemand vloek) is klassiek.
My vriendin uit Amerika kuier hier en wou graag een of ander Afrikaanse teater sien. ’n Paar aande voor ons kuier by Die Boer eet sy by ons aan huis en vertel van haar ervaringe met mammas en juffrouens en tennisafrigters en tieners in Amerika. Min het ons geweet dat dit wat ons as komedie op die verhoog geniet, deel van haar daaglikse lewe is, maar met WhatsApp-groepies, verpligte sosiale byeenkomste en mamma-tees bygesit.
Wat dié Sondagmiddagervaring egter tot ’n nuwe hoogtepunt voer, is vier onnies by die tafel reg teenaan die verhoog. Hulle vou dubbeld van die lag en klop soms instemmend met hul hande op die tafel of knik almal in gelid. Toe Zelda boonop die hoof as ’n “lui #@%” uitkryt, ken hul lag geen perke nie en die gehoor lag meer vir hulle as die span op die verhoog.
Ek kan nie sê wie van die drie juffrouens my die lekkerste laat lag het nie. Elkeen het hulself só goed in hul rolle ingeleef dat my lojaliteit deurentyd geskuif het.
Wat wel seker is, is dat ek hierdie stuk nog ’n keer sal kan gaan kyk, want dis die lekkerste lag-en-ontspan-uur wat ek in ’n lang tyd ervaar het.
Dis met Albert Maritz, die bekroonde akteur, se woorde waarmee ek volstaan: “Die play is soos ’n glad-geoliede masjien tussen drie tegnies-uitstekende aktrises, wat ’n storie – tot groot vermaak van die gehoor – vertel en die omstandighede wat almal maar goed binne-in ’n skool tussen ’n klein groepie onderwysers ken vir ons wys. As ’n mens suiwer gesinsvermaak soek – definitief – maar met ’n klein bietjie waarheid wat ’n mens aanraak. Met ’n gelukkige einde: hoe is die lewe dan nou sleg as dit só is?”
Laerskool Noord – ’n komedie
Met: Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee.
Teks: Ilne Fourie
Regie: Gideon Lombard
Ouderdomsbeperking: geen onder 13’s
Die stuk reis die volgende paar weke en is te sien by:
Atterburyteater in Pretoria van 15–19 Februarie; 15–18 Februarie om 19:00 en Sondag 19 Februarie om 15:00, Vrydag 17 Februarie – oggendvertoning om 10:00 met verlaagde toegang. Bespreek by https://www.seatme.co.za/.
Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp op Dinsdag 21 Februarie om 19:00. Bespreek by Computicket.
Hoërskool Wesvalia se TharseoTheatro in Klerksdorp op Woensdag 22 Februarie. Bespreek by 018 468 1023/4.
The Buffalo Entertainment Centre in Bloemfontein op Donderdag 23 Februarie om 19:30. Bespreek by Computicket.
Jacobsdal op Vrydag 24 Februarie. Finale reëlings moet nog gefinaliseer word.
Laerskool Newton in Kimberley op Saterdag 25 Februarie. Bespreek by 083 276 4878 / iTickets.
The Drama Factory in Strand op Saterdag 1 April om 19:30 en Sondag 2 April om 14:00. Bespreek by https://www.thedramafactory.co.za/.
Absa KKNK by Hoërskool Oudtshoorn op Vrydag 7 April om 9:30, Saterdag 8 April om 13:30 en Sondag 9 April om 13:00. Bespreek by Webtickets.

