Lacan en grufilms: ’n onderhoud met Cilliers van den Berg

  • 0

Jaco Barnard-Naudé gesels met Cilliers van den Berg oor sy twee onlangse LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikels oor Lacan en grufilms:

Geluk met die publikasie van jou twee uitmuntende artikels oor Lacan en onlangse grufilms. Uit die artikels is dit duidelik dat jy oor ’n diepgaande kennis van die genre beskik. Kan jy ons dalk meer vertel van hierdie belangstelling in grufilms? Hoe het dit ontstaan?

My gunsteling-filmkritikus, Mark Kermode van BBC Radio 5 live, het by geleentheid ’n opmerking gemaak oor sy gunstelingfilm van alle tye – ook ’n film wat hy as ’n meesterstuk beskou: The exorcist van William Friedkin. As mense hom sou vra waarom hy soveel waardering vir dié film het, het hy geantwoord dat hy baie dinge sou kon opnoem: vanaf die redigering, die komplekse religieuse simboliek en tematiek tot by die klankbaan en die visuele taal wat gebruik word. Maar uiteindelik hou hy gewoon van die film en sal al hierdie filmtegniese en narratiewe aspekte bloot redes wees om sy liefde vir die film te regverdig (nié dat al hierdie ander dinge nié as redes aangevoer sou kon word nie). Soms vind mens eenvoudig aanklank by iets, sonder om regtig te weet waarom. My belangstelling strek terug tot in my kinderjare: gogga maak vir baba bang, maar tog wil baba ook weet hoe gogga lyk, of hoe? Daar is seker iets gerusstellend daarin om die monster(agtige), hoe vreesaanjaend dit ook mag wees, in ’n woord of beeld te bestendig.

Later jare het ek gewoon aanklank begin vind by die genre en altyd gevoel dat dit nie ’n “gemaklike” genre is wat noodwendig inpas by dit wat as “aanvaarbare” hoë kuns sou geld nie, of noodwendig heteronormatiewe opvattings onderskryf nie. En na gelang van die kennis wat mens mettertyd opdoen oor die geskiedenis en “tropes” van die genre, word dit ook soveel te meer ’n intertekstuele spel tussen die films. Maar om ’n meer eenduidige antwoord te gee: wat ek interessant vind, is hoe mense met die onbekende en die ongemaklike omgaan – grufilms is niks anders as pogings tot die vergestalting of ver-beelding hiervan nie, wat natuurlik dui op die grense van representasie oor die algemeen.

In Plato se Republiek staan die verhaal van Leontius, ’n man wat homself – ten spyte van ’n amptelike verbod – nie daarvan kon weerhou om na die lyke van uitgeworpenes wat buite die stadspoorte van Atene gelê en ontbind het, te kyk nie. Die moderne weergawe van Leontius is seker die bekende situasie op ons paaie van ’n verkeersknoop wat nie soseer deur byvoorbeeld ’n ongeluk nie as deur die skare omstanders en toeskouers veroorsaak word. Hoe verklaar jy die mens se fassinasie met grusaamheid? 

Hieroor kan mens seker psigoanalities dink en ek vermoed dat dit tog herleibaar is na ’n bykans instinktiewe belangstelling in dit wat anderkant die normatiewe lê, hoe mens dit ook al sou wou inklee. Of dit nou Kristeva se abjekte of Lacan se Reële is, bly hierdie tipe goed as sodanig nou verweef met elkeen se eie ek en eie bestaan. Sommige mense word gesus deur die bestendigheid wat die normatiewe bied, terwyl ander meer geneë is om oor die rand te wil loer. Maar selfs hierdie tentatiewe uitreik na die onbekende geskied gewoonlik vanuit die valse sekerheid dat die eie wêreld teenoor eersgenoemde opgestel is en nie daarmee vervleg is nie. Die “fassinasie met grusaamheid” het hiermee iets te make, hoewel grusaamheid in grufilms waarskynlik ook anders te dui is. Hier gaan dit onder meer ook oor “tropes”, oor die uitdaging van kulturele, sosiale en estetiese “goeie smaak” en oor ’n siniese finansiële uitbuiting daarvan.

Die psigoanalitiese filmteorie waarin die grufilm vanuit ’n Lacaniaanse hoek beskou word, word deesdae oorheers deur Slavoj Žižek se beroemde ontledings van, onder andere, Hitchcock. Hoe benader jy die “anxiety of influence” in hierdie verband?

Dit is natuurlik moeilik, omdat iemand soos Žižek (veral ook volgens homself) tans ’n belangrike Lacaniaanse mondstuk is. In my artikels het ek nie direk gepoog om alternatiewe te teoretiseer of te konseptualiseer nie, maar eerder gekyk na wat mens met die bestaande interpretasies van Lacan (in die eerste artikel) en veral ’n Žižekiaanse interpretasie van (en verdere nadenke oor) Lacan kan doen (vernaam in die tweede artikel). Wat egter dikwels gebeur, is dat die toets teen die empirie die leemtes van die koekiedrukker mag uitwys, wat natuurlik impuls moet wees vir die aanpas van die teorie. Maar ek het nog nooit teorie beskou as ’n weg om tekste ten volle te ontsluit nie – dit word eerder invalshoeke wat betekenisvlakke oopsluit (en in die proses vele ander toemaak).

Om dalk meer pertinent die vraag te beantwoord: in die spesifieke geval van die twee artikels was dit meer ’n geval van kyk wat mens met bestaande konseptualiserings van die Reële kan doen. Enige van my afleidings wat hieruit sou kon voortspruit, wat dan seker veral in die tweede artikel aan bod kom, moet in die verlengde hiervan gelees word. Waar dit kom by interpretasies en herinterpretasies van Lacaniaase teorie, gooi figure soos Žižek natuurlik ’n groot skaduwee. En dit raak ook meer kompleks wanneer jy jou moet verlaat op vertalings van die Franse oorspronklike werk. Lacan is natuurlik verder problematies, aangesien nie al sy werk vertaal is nie en selfs die vertaling van sy dikwels uiters komplekse taalgebruik soms die gevoel laat dat die toeganklikheid vir sommige veel eenvoudiger is as vir ander. Mens kan natuurlik nooit invloede prontuit afweer of beweer dat dit nie bestaan nie – die belangrikste is om selfrefleksief daarmee om te gaan en te probeer om die subjektiewe spieëltjies so te stel dat daar nie te veel dinge in die blinde hoeke wegkruip nie (jammer vir die “horror”-verwysing!).

Om by die films wat jy ontleed uit te kom: jou inskatting van The Babadook verskil drasties van jou gevolgtrekking oor die Saw-reeks. Wil jy kortliks die oorkoepelende betoog van elkeen van die artikels opsom en dan aandui waarom jy The Babadook nie oor dieselfde kam (kan) skeer as die Saw-films nie?

Die kruks van die argument(e) het te make met die wyse waarop die sg. Lacaniaanse Reële in die onderskeie films aangebied word. Sonder om al die fasette van hierdie konsep hier onder die loep te neem, kan simplisties gesê word dat die Reële onder meer te make het met die onbekende, met die onrepresenteerbare – en dus iets wat dikwels ontstemmende gevolge mag inhou sou mens daarmee gekonfronteer word. My hipotese is dat die Reële weens die aard daarvan (wat nie regtig vasstelbaar is nie en ook op verskeie maniere manifesteer) een van die beste invalshoeke kan wees om na grufilms te kyk. Nie dat die Reële nie ook in al die ander filmgenres kan voorkom nie, maar dat dit veral by grufilms die hele (visuele en narratiewe) aanbieding van die films rig.

In The Babadook kleur die kompleksiteit van die konsep die weefwerk van die handeling en die visuele beelde. Uiteindelik is die verhaal oor ’n ma en ’n seun se verlies van ’n eggenoot en ’n vader, met die “monster” as die “onbekende” wat nie verwerk moet word nie, maar waarmee uiteindelik saamgeleef moet word. My gevoel is dat die aanbieding, of dalk eerder suggestie, van die Reële naatloos en met filmiese vakmanskap in die vertelling ingebed word.

By die Saw-reeks is die aanbieding van die Reële egter anders – met die trajek van die oorhoofse verhaallyn van die verskeie films word dit duidelik dat die hooffokus is om bloed en derms op te dis. Ek bring in my betoog hierdie grafiese beelde met die Reële in verband, met die gevolgtrekking dat juis hierdie vergestalting van die abjekte niks meer is as ’n manier om geld te maak nie: die Reële word eerstens netjies verpak (gekodifiseer) en dan verkoop (gekommodifiseer). En dit is juis nié hoe Lacan die Reële gekonseptualiseer het nie – by hom ontsnap dit altyd aan vasgestelde en vasstelbare definisies. Ek sluit dan die betoog af deur te beweer dat mense nie ontsteld moet wees oor die “transgressiewe” aard van die Saw-films nie, maar eerder ontsteld moet wees oor hoe die laat-kapitalistiese maatskappy ook die domein van swak smaak koloniseer ten einde finansiële voordeel daaruit te trek. Waar The Babadook dus raseg inspeel op die kompleksiteit van die Reële, is die Saw-films eerder ’n oppervlakkige uitbuiting daarvan.

Daarmee wil ek nie sê dat die Saw-reeks nie ook ’n springmielie-“guilty pleasure” kan wees nie, maar dis darem wraggies ook nou nie die beste wat die genre te bied het nie!

Ek wil jou nou ’n Lacaniaanse vraag vra, en spesifiek oor die verhouding tussen die Reële en die Verbeelde (of Imaginêre soos jy in die artikels daarna verwys). In die nadraai van 9/11 het Žižek geskryf dat die fundamentalistiese terrorisme wat dit onderlê het, die 20ste eeu se passie vir die Reële versinnebeeld het. Dink jy ons het daardie historiese en psigoanalitiese oomblik verbygesteek? My eie gevoel is dat die planeetwye passie deesdae die passie vir die beeld, verbeelding en die Verbeelde is – dit sal ten minste ’n Lacaniaanse verklaring bied vir waarom die vorme van narsistiese regressie sosiaal verplig word / dominant is. Natuurlik is dit waar dat die Reële nog altyd verbeeld is en gesimboliseer word, maar dit is asof simboliese mediasie deesdae in representasie omseil word – ons gaan direk van die Reële na die Verbeelde. Ek wonder, met verwysing na jou ontleding van die Saw-reeks, oor die maniere waarop die Reële en die Verbeelde in mekaar ingestort word of vervloei sodat ons nie meer te make het met ’n verbeelding van die Reële nie, maar eerder met ’n Reëel-alisering van die Verbeelde. Wat is die implikasies daarvan vir die talige Simboliese orde soos Lacan dit verstaan het?

Ek huiwer om die historiese ontwikkeling en gepaardgaande sosiale tendense direk en eenduidig op ’n skuif vanaf die Imaginêre na die Simboliese te karteer. Vir my beteken die interafhanklikheid van die Imaginêre, die Simboliese en die Reële eerder ’n konfigurasie wat onder meer histories beslag kry. Hierdie interafhanklikheid veronderstel nie linieêre ontwikkeling nie en ook nie ’n dialektiese proses nie – eerder iets wat voortdurend geherkonfigureer word. Sou mens dus van so ’n (laasgenoemde) veronderstelling uitgaan, sou mens seker na die historiese konteks en nadraai van 9/11 kon praat as tekenend van die Imaginêre as narsistiese plekhouer van die Reële, wat noodwendig verskeie implikasies inhou. In hoeverre die moontlike kollektiewe toepaslikheid van die implikasies wat daarop volg egter getuig van Eurosentriese of Anglo-Amerikaanse gesentreerdheid, is weliswaar ’n ander ope vraag.

Die rol van (die) medium, wat onder meer beslag kry in die hedendaagse kommunikasietegnologie – en wat op sy beurt geskoei is op die visuele beelde en verbeelding van die moderne samelewing – laat noodwendig die deur vir baie dinge oop, wat ’n enorme impak het op die (her-)konfigurasie van die Reële-Imaginêre-Simboliese. Sou mens hiervolgens kon beweer dat ’n suksesvolle, kollektiewe navigering van die Oedipus-kompleks deur die kollektiewe, sosiale ontwikkeling van tegnologie in die wiele gery word? Waarskynlik nie inherent nie, maar tog word dit deur die huidige tydsgees gefasiliteer. Die Reële en die Imaginêre val nie in mekaar nie – vervloei is dalk ’n beter term om ’n grys niemandsland mee aan te dui waaroor kollektief herbesin moet word.

Die betekenis vir die simboliese orde dus? Dat ’n openheid vir die kreatiwiteit van onvoltooidheid, onsekerheid en destabiliserende oomblikke getemper word. Wat dit in konkrete, byvoorbeeld politieke, terme beteken, kan ek nie sê nie – net dat ek nie om dowe note die term navigasie in die artikels gebruik het nie. Want die “suksesvolle” navigasie van die reis van en via die imaginêre oomblik is soms moeilik as mens, soos ek, geen rigting het nie. Waaroor mens seker wel verder kan nadink, is dat die op-die-voorgrond-tree van die Imaginêre ’n negatiewe impak op die diversiteit van die Simboliese het. Ek dink byvoorbeeld aan politieke korrektheid, wat sekerlik as (simboliese?) teenvoeter gesien sou kon word vir polities-narsistiese drogbeelde en drog-ver-beeldings. Die simbolies-gemedieerde reaksie op hierdie beelde en verbeeldings word so verskraal wanneer dit net gaan oor liberaal-demokratiese onderskrywing van polities-korrekte normatiwiteit. Miskien is die groot probleem nie dat die Simboliese ten gunste van die Imaginêre versaak word nie, maar eerder dat die interafhanklike navigasielyne tussen die twee tot ’n stowwerige enkelspoorstraatjie gereduseer word.

Ek dink dis ’n wonderlike antwoord – die Simboliese as gereduseer tot enkelspoorstraatjie onder die juk van die eindelose variasies van globale liberale kapitalisme. Jou antwoord resoneer sterk met Bernard Stiegler se idee van “symbolic misery” in sy 2014-boek met dieselfde titel. Ek wil terugkom na The Babadook. Dit is vir my interessant dat die Reële in die film sterk verbind word met die gestorwe vader. Soos jy weet, is die psigoanalitiese impuls om die Reële aan die figuur van die moeder te verbind. Žižek praat in vroeër werk van die maternale superego, maar goed, hy verbind die superego later aan die jouissance-Vader van Totem und Tabu. In The Babadook kry mens die idee dat Oedipale identifikasie nie voltrek is nie (Sylvia Plath se “Pa, jy is dood voor ek jou om die lewe kon bring”) en dat afrekening met die funksie, oorgedra aan die moeder, ook nie uitwerk nie. Die mislukte Oedipale identifikasie is dus die oorsaak van die worsteling met die Reële wat as vader gerepresenteer word. En dan is daar daardie einde. My vraag is: In die konteks van die kommodifisering van die Reële, is The Babadook ’n subversiewe film? Waarom of waarom nie? 

Ek hou van die “cliffhanger”: dan is daar die einde! Of The Babadook subversief is? Ja en nee – sou mens kon sê “subversion is in the eye of the beholder”? Volgens Deleuze en Guattari sou die film sekerlik nie subversief wees nie: die oedipalisering (jammer vir die verbalisering, maar ek beroep my op Anti-Oedipus!) van die handeling, hetsy suksesvol genavigeer deur die karakters op handelingsvlak of nie, sou volgens hulle perspektief (Deleuze en Guattari s’n ) indruis teen enige sin vir subversie.

Maar gesien vanuit ’n genreperspektief sou mens presies die teendeel kon beweer: iets wat duidelik geword het uit ontwikkelinge in die grufilmgenre oor die afgelope dekade of wat, is die herverfilmings (“remakes”) van klassieke grufilms uit die sewentiger- en tagtigerjare. Vanaf Halloween tot A nightmare on Elm Street poog die nuwe weergawes van hierdie klassieke films dikwels om deur uitvoerige agtergrondinligting beweegredes vir die monsters te gee: redes vir hoekom hulle is wie/wat hulle is. Ek vind dit altyd ’n opmerklike algemene tendens van moderne “horror” – ons moet altyd weet wie en wat die monster is (soortgelyk aan die verklaring in die laaste bedryf van Psycho – miskien die swakste skakel in Hitchcock se meesterstuk?). Hy/sy is nie meer die “absolute” Ander nie, maar word eerder netjies verpak in psigologiese oorsaak en gevolg. Destyds was dit nie altyd so nie – die monsteragtige was dikwels ook die raaiselagtige, die nievasstelbare. (Dink aan die ikoniese slottonele van die oorspronklike The Texas chainsaw massacre: ’n bykans poëtiese daarstelling van die irrasionele/onbekende in die vorm van Leatherface wat met sonsopkoms ’n vreemde dans met sy elektriese saag uitvoer.) Natuurlik is daar geweldig baie uitsonderings, maar dit sê tog iets van ons samelewing dat alles verklaar móét word. Asof ons nie erkenning kan gee aan die monsters anderkant ons epistemologiese wagtorings is nie ... En verklarings lei dikwels tot kapitalisering, hetsy materiële wins of andersins.

In hierdie sin is The Babadook wel subversief – dit speel met die onpeilbaarheid van die monsteragtige op baie vlakke. ’n Opvolgfilm sou hierdie onpeilbaarheid en subversiwiteit heel waarskynlik ondergrawe en mens is eintlik dankbaar dat dit waarskynlik nie gaan gebeur nie. ’n Film soos It follows is nog ’n voorbeeld waar erkenning gegee word aan die integriteit van die onbekende, hoewel die film ook met baie ander genre-“tropes” speel. My gevoel is dus dat die Reële in films soos The Babadook duidelik nie so gekommodifiseer word soos wat byvoorbeeld die geval is in die Saw-films nie. Maar weer eens hang dit af van die invalshoek – ek het slegs twee hier vermeld.

’n Laaste vraag, Cilliers. In ’n onderhoud met die Italiaanse pers in 1974 verklaar Lacan: “We must be able to get used to the real.” Hoe sien jy die noodsaaklike (“we must”) vermoë om gewoond te raak aan die Reële en hoe kan die grufilm help om ons gewoond te maak aan die Reële (sonder om natuurlik daarmee vrede te maak)? 

Ek ken nie die konteks van die onderhoud nie, maar met die veronderstelling dat Lacan dikwels ambivalente uitsprake gemaak het, kan mens seker byvoeg: “... and likewise one must be able to be alienated by the symbolic”. Of ten minste is dit graag wat ek in die uitspraak sou wou inlees. Waarskynlik gaan dit hier gewoon oor dit waarna Žižek dikwels verwys as “traversing the fantasy”, dws waar die subjek selfrefleksief bewus word van die gekonstrueerdheid van sy/haar ego en sy/haar wêreld. Maar mens kan eweneens hier ook ’n sekere ironiese nuanse inlees: ja, mens móét gewoond raak aan die Reële, aan die gedagte dat ons o so sinvolle wêreld bloot ’n konstruksie is om ’n gat in ons bestaan te bedek – want die performatiewe herhaling van hierdie insig word gewoonte en dít beteken uiteindelik ook sekuriteit. En sonder sekuriteit op individuele en kollektiewe vlak is (die kenbaarheid van) ons geordende wêreld in groot gevaar.

Watter rol grufilms hier speel? Beide konstruktief en negatief: soos in die geval van The Babadook kan ’n kyker wel bewus word van die nate in die laslappies van die bestaan wat elkeen van ons vir onsself weef. Hierdie insig kon egter positief of negatief aangewend word – my hoop is positief, waar elkeen hom- of haarself en die wêreldbeeld wat hy/sy onderskryf, minder ernstig opneem en ’n meer pragmatiese ideaal van saamleef kan nastreef. Maar as mens van die veronderstelling sou uitgaan dat grufilms die valse illusie skep dat die Reële vertaal kan word in beelde en woorde, vier dit juis nie meer die kreatiewe impuls wat die Reële as verteenwoordigend van die onbekende bied nie.

Uiteindelik kan mens seker net gewoond raak aan die gedagte van die Reële en nie die Reële self nie. Dit bly dus in ’n sekere sin ’n konfrontasie (negatief?) of ontmoeting (positief?) met die onbekende. Of hierdie onbekende die onverstaanbaarheid van hartseer, van verlies, of selfs van oorweldigende vreugde (jouissance) is, dit bly steeds die belangrikste aansporing vir die grootste wetenskap en kuns wat die mens nog geskep het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top