Laat die Boston Filharmoniese Jeugorkes jou meevoer

  • 0

Die bekroonde Boston Filharmoniese Jeugorkes onder die charismatiese dirigent Benjamin Zander is tans op toer in Suid-Afrika. Hulle het reeds uitverkoopte vertonings in Pretoria en Soweto gehad toe ons in die Kaapse stadsaal vir een vertoning daar instap.

Ek sit by een van die deure en kan my verluister aan al die tale wat tussen gange en sitplekke gepraat word; die entoesiasme van ouers, broers en susters wat saam toer, oor presies waar hul wunderkind in die orkes sit en of hulle mooi foto’s sal kan neem vanwaar hulle sit.

Maar my hart swel as mense se asems hard ingetrek word as hulle die stadsaal binnestap: Dis in perfekte toestand, elke gloeilamp in die reusekandelare brand, die maroenrooi fluweelgordyne op die balkonne is bollend vol en die sitplekke gemaklik en uitnodigend in hul rooi fluweelglorie.

Daar is altesaam sewe konserte op die orkes se SA-toer en hulle voer twee reusagtige orkeswerke op: Richard Strauss se “Ein Heldenleben” en ’n werk wat min gehoor word, die massiewe Simfonie No 2 C Mineur “Resurrection” van Gustav Mahler met die Gauteng Choristers, onder leiding van Sidwell Mhlongo en Andiswa Makan (sopraan) en Bongiwe Nakani Mcetywa (mezzo-sopraan).

Die persvrystelling wat op my tafel beland het en my genoop het om kaartjies te kry, lees: “In resensie na resensie prys kritici die Boston Filharmoniese Jeugorkes (BPYO) met verwysing na ’n musikale volwassenheid, wat die kunstenaars se teer ouderdomme weerspreek. Onmiskenbaar waar, maar tog kan ’n sterk argument gemaak word dat die BPYO uitblink – nie ten spyte van nie, maar – weens hul jeug. Hulle bring ’n lewenskragtigheid, entoesiasme en genot in ontdekking wat slegs diegene wat iets vir die eerste keer ervaar, kan produseer. Dink aan die kragtige impak van eerste liefde.”

Voor die vertoning ’n aanvang neem, lees ek op my foon ’n resensie van die Chicago Tribune waarin die orkes se opname van Mahler se Simfonie No 6 as een van 2017 se top-10-klassieke vrystellings gereken word. Ek weet dus hier kom ’n ding.

Die verhoog is stampvol. Daar is harpe, tjello’s, dromme, simbale, trombone en natuurlik ’n see van jong mense wat almal hul instrumente verstel, ’n noot of drie speel, weer verstel. Die reuse-amfiteateragtige ring agter die orkes se rooi fluweelbankies loop vol: ’n Reusekoor, die Gauteng Choristers in pikswart pakke en lang, syagtige swart rompe gaan sit daar. Ek tel 70 van hulle.

Die gehoor kom tot rus, die orkes begin hul voete op die houtverhoog stamp, Benjamin Zander kom uit in sy swaelstertpak en wit hemp. Sy kop is witgrys. Die gehoor klap uitbundig hande. Hy vertel hy het in 1996 by ’n ete aan huis van ’n vrou wat vanaand in die gehoor is, vir “ons geliefde Madiba – die man na wie die hele wêreld opkyk – belowe ek bring die Boston Filharmoniese Jeugorkes na Suid-Afrika. Dit het my effe langer geneem as wat ek gehoop het, maar hier is ons. Dis nou al die kinders van die kinders van daardie orkes, maar hulle het 12700 km gereis om hier te wees en het die tyd van hul lewens hier in jul land.”

Hy vertel daar is 112 musikante tussen die ouderdomme van 14 en 22 op die verhoog en is mal oor elke noot in hierdie musiek. “Ek is nou 84 en nie seker of ek hierdie stuk ooit weer sal dirigeer nie. Maar vanaand sal ek elke noot in my lyf voel, want dis die manier om te lewe.”

Hy verduidelik Mahler se werk en sê dis een van die uitdagendste orkesstukke en bestaan uit vyf bewegings wat in Mahler se woorde in ’n “Cry of Disgust” eindig. Hy verduidelik dat ons moet luister daarvoor, dis ’n tipe kakofonie van instrumente.

Wat is die regte manier om na klassieke musiek te luister en dit te resenseer, wonder ek. Gee jy jou oor aan die note wat soms soos wildsbokkies galop, dan sag soos vlinders op delikate blomblare fladder en dan in watervalle van klanke op jou af val? Soms voel dit of jy saam met die fluite, harpe en viole vlieg. Laat jy jou gedagtes saam met die musiek dartel en die stres stadig uit jou skouers vloei, of is dit oukei as jy soms wegdwaal en vergeet waar jy is, maar weet jy is veilig en gekoester?

Ek doen so ’n bietjie van albei, terwyl my oë voortdurend oor die gehoor, die mooie gebou, die orkes en die koor gly. Ek besef die omvang van dit waarvan ek deel is hier.

Die mezzo-sopraan Bongiwe Nakani Mcetywa staan voor die dirigent in die middel van die orkes op en begin sing. Haar stem sweef saam met die melankoliese klanke van die viole. My wange word nat.

Is dit die manier om te luister: Onbewustelik geraak deur hierdie magiese werk?

Twee maal gaan ’n deur agter die orkes oop en trompetklanke kom half gedemp van agter die deure. Later verdwyn ’n paar orkeslede links van die verhoog af en speel daar hul harte uit, maar die klanke kom van veraf na ons aangesweef.

Naby aan die einde staan die koor soos een reusegolf op. Die note kom in ’n lae dreuning soos ’n murmeling aangerol – bo-oor die orkes – maar in perfekte harmonie daarmee. My lyf slaan in hoendervleis uit.

Toe die uitvoering by die “Cry of Disgust” kom, jaag my hartklop in my keel. Die instrumente en musikante word opruiend meegevoer. Ek voel dieselfde adrenalienagtige vrees vir iets groter as ek, soos destyds in Hitchcock se The Psycho se bekende moordtoneel agter die stortgordyn.

Die gehoor gaan mal, weer en weer kom die dirigent en soliste uit; weer en weer buig die hele orkes en koor. Ek stap uit met die laaste geklap nog glad nie minder in intensiteit nie.

Buite is die parade waar ons parkeer het, stil. Ek kyk terug na die verligte stadsaal. Dis 20:50 wys die reusehorlosie in die toring. Dis minder as twee uur sedert ons gaan sit het.

Onder die horlosie in die halfdonker staan Madiba se standbeeld. Sy hand in ’n wuif gelig en as jy jou verbeel dis ’n konsertprogram in sy ander hand, kan jy dink hoe gelukkig hy sou wees met vanaand se (langverwagte) uitvoering.

Boston Filharmoniese Jeugorkes Afrika-toer

  • Met: Boston Filharmoniese Jeugorkes
  • Dirigent: Benjamin Zander
  • Koor: Gauteng Choristers onder leiding van Sidwell Mhlongo
  • Woensdag 21 Junie 2023 om 19:00 | Hugo Lambrechts Musieksentrum op Stellenbosch, Program I
  • Vrydag 23 Junie 2023 om 19:00 by die Nasionale Kunstefees, Makhanda in die Guy Butlerteater, Program I en op Saterdag 24 Junie 2023 om 11:00 Nasionale Kunstefees, Makhanda by die Fountain Foyer, ’n gemengde program.
  • Kaartjies deur https://www.classicalmovements.com/bpyo-south-africa-tour/

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top