Laaste kans om die KKNK se virtuele galery te besoek

  • 0

Foto’s van kunswerke: verskaf

Kunsliefhebbers het slegs een week oor om die KKNK se heel eerste Virtuele Kunsgalery te besoek. Dié galery is tot Woensdag 19 Augustus oop.

“Hierdie inisiatief is ’n belangrike platform vir visuele kunstenaars om hulle werke, wat vir vanjaar se KKNK geskep is, te verkoop en sodoende ’n inkomste te genereer. Die galery het tot op hede 34 500 besoekers gehad en ons sien daarna uit om in hierdie laaste week nog meer besoekers te verwelkom.”

So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. Volgens Theart maak dié multimedia-ervaring die prag van 11 uitstallings wat by die KKNK uitgestal sou word, beskikbaar vir alle kunsliefhebbers om in die gemak van hul eie huise te geniet. “Die aanbod bestaan uit meer as 200 kunswerke, geskep deur 45 kunstenaars”, brei hy uit.

“Terugvoer van besoekers aan die galery is baie positief met verskeie komplimente vir hoe maklik die galery is om te gebruik. Besoekers is ook vol lof vir die verskeidenheid van tegnieke en werke wat gesien kan word”, sluit Theart af. 

Onder die gunsteling-uitstallings tel Maryna Cotton en Sarel van Staden se Karoo Stories, ’n uitstalling van die Karoo, maan en sterre. Hierdie versameling verken en belig die dikwels skugter vorme, teksture en stories van die oeroue Karoo-landskap.

Kunswerke van drie jong Oudtshoorn-kunstenaars, Colin Meyer, Zietske Saaiman en Earlyn Cloud, word deur die Absa Galery aangebied en ’n groot hoogtepunt van dié jaar se aanbod is die retrospektiewe uitstalling van vanjaar se feeskunstenaar, Barbara Wildenboer.

Ervaar dit self. Besoek www.kknk.co.za/virtual-gallery/ en wandel deur die gange van die KKNK se eerste Virtuele Galery.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top