kykNET Silwerskermfees 2019: 14 kortfilms in kompetisie  

  • 0

Vir die negende Silwerskermfees is die kortfilms verminder van 20 na 14 (van 22 minute elk), wat ’n goeie aanpassing blyk te gewees het – afgesien van ’n paar dowwe kolle was die standaard deurgaans hoog.

Die filmtemas is wyd uiteenlopend, van ’n vampierfliek en wetenskapfiksie tot ’n romantiese komedie en metafilm, met humor of ’n ligte aanslag as die enigste deurlopende tema in die meeste aanbiedings.

My gunsteling was ongetwyfeld Oedipus: Die musical – ’n dokumentêr. Soos die titel aandui, is dit ’n fliek oor die maak van ’n fliek, wat boonop fokus op een van die grootste tragedies van alle tye, Oedipus Rex deur die klassieke Griekse dramaturg Sofokles. Heelwat van ’n akademiese belangstelling dus, maar dis skreeusnaakse satire en puik van die begin tot by die absurd-perfekte einde. Dit het vyf pryse verower: vir beste kortfilm, beste regie (Stefan Benadé) en redigering (Canya Cruywagen), beste manlike byspeler (Ludwig Binge), en beste grimering en haarstilering (Charné Burger).

My ander groot plesier was Miemie (en die meteoriet wat haar definitief gaan tref). In die laaste tyd is romantiese komedies so skaars soos hoendertande, wat hierdie een met Mila Guy en Bennie Fourie as ’n onpaar paar selfs meer spesiaal maak.

Op ’n wranger (romantiese) noot is daar die eweneens puik Gebles met Stiaan Smith en Greta Pietersen. Swaaibraai met sy swinger-tema is meer gewaag, maar ook vars en oorspronklik soos al die bogenoemdes. 

Meer realisties, maar met ’n pragtige balans tussen erns en humor, is Die begrafnis (bekroon vir beste kostuumontwerp: Juanita Ferreira). Die kleindorpse milieu van Janneman sowel as Rooilug sluit daarby aan, met laasgenoemde as ’n swaargewig-drama oor armoede, drankmisbruik en vrouemishandeling. Ilse Oppelt in Janneman is bekroon as beste vroulike byspeler.  

Binnelandse Sake is gebaseer op Enrique Grobbelaar se kortverhaal uit die 2019-Woordfeesbundel wat kykNET se kortfilmprys ontvang het. Die verhaalgegewe van verkragting is treffend aangepas vir die film, met Ansu Visser wat welverdiend bekroon is as beste aktrise en Wesley Ayliffe as beste klankontwerper.

Hoe om ’n perd te teken is ’n gevoelvolle familiedrama waarin veral die hantering van die magies-realistiese element beïndruk. Luan Jacobs is bekroon as beste draaiboekskrywer én akteur.

Ook familiedramas, maar ongelukkig veel minder geslaag, is Sussie en Lakens. Beide draaiboeke het nog heelwat verfyning gekort, met die wisseling tussen realiteit en die verbeelde wat nie oortuigend genoeg uitgewerk is nie.

Ten spyte van nougesette aandag aan besonderhede slaag My gelykenis net gedeeltelik as wetenskapfiksie, dalk omdat die ontknoping niks nuuts bied nie (dink Ex Machina). Janhendrik Burger is bekroon as beste kinematograaf, en Idelette Jordaan en Nadine Minnaar vir beste produksie-ontwerp.

Die vampierfliek Vinnie & Olga begin belowend, maar raak swakker na die einde toe. Uiteindelik is die ontknoping net nie sterk genoeg nie. Ditto Van nasionale belang – dit het soveel belowende elemente, daar is humor en grappies en goeie toneelspel, maar op die ou end is die kool nie heeltemal die sous werd nie.

Die kortfilms is ’n belangrike ontwikkelingsprojek van die jaarlikse Silwerskermfees, en kykNET verdien werklik lof vir die manier waarop hulle bereid is om voortdurend te belê in Afrikaanse films én die groter Suid-Afrikaanse mediabedryf.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top