kykNET Silwerskermfees 2015: Onderhoud met Antoinette Louw

  • 0
antoinette15.600

Antoinette Louw

Silwerskermfees-onderhoud met Naomi Meyer: Antoinette Louw oor Foto en 'n Man soos my pa.

  1. Antoinette, die Silwerskermfees is op ons drumpel. Sedert die vorige Silwerskermfees tot hierdie jaar s’n, wat het als in jou lewe gebeur?

Ten opsigte van werk het ek aan 'n Man soos my pa geskiet, 'n nuwe toneelstuk op die been gebring wat by die Vrystaat Kunstefees geopen het, en ek en my goeie vriendin en kollega, Milan Murray, is besig met die filmteks van 'n bekende Afrikaanse skryfster. Maar baie belangrik (en iets waarop ek trots is en wat my eindelose genot verskaf): ek het begin hekel!

foto600

  1. In Foto is jy ‘n fotograaf. Is fotografie ook ‘n persoonlike belangstelling, en moes jy iets hieromtrent leer om voor te berei vir jou rol?

Ek het tot my spyt nooit fotografie opgeneem nie. Ek is mal daaroor as 'n kunsvorm en die emosies wat dit kan ontlok. Gelukkig hoef ek geen tegniese aspekte te geleer het nie. My tegniese intelligensie is nie baie hoog nie. Ek moes net 'n knoppie druk.

  1. Wie is jou karakter in ‘n Man soos my pa?

Ek speel die jonger Nakkie (ek en Sandra Prinsloo speel dieselfde karakter) en is met Neels van Jaarsveld se karakter getroud (Neels en Albert Maritz speel dieselfde karakter). Nakkie is die waarnemer van die verhouding tussen pa en seun, die gom wat hulle as gesin probeer aanmekaar hou.

mansoospa600

  1. Ek lees in ‘n ander onderhoud dat jy meen ‘n Man soos my pa is geskik vir mense van albei geslagte, en of jy nou kinders het of nie. Dink jy nie tog dat ‘n verhouding tussen ‘n pa en ‘n seun ‘n dinamika van sy eie het, soos die verhouding tussen ‘n ma en ‘n dogter nie? Wat is vir jou eenders, wat is vir jou anders, as jy nou die twee soorte verhoudinge vergelyk?

Ja, die dinamika hét sy eie identiteit/persoonlikheid. Maar dis maar net omdat die geslagte verskil. Seun/dogter word met verskillende goed tydens tienerskap gekonfronteer, maar die emosies en basis is dieselfde. Daar is sekere dinge waaroor net 'n pa en seun kan praat, en dieselfde met 'n ma en dogter.

  1. Gaan jy vanjaar enige ander films by die Silwerskermfees kyk, of watter ander films in die Afrikaanse filmbedryf maak jou opgewonde?

Ek gaan soveel films kyk soos wat ek kan. Ek is baie opgewonde oor die tipes films (kort en vollengte) wat vanjaar gewys word. Daar word al hoe meer met ander genres geëksperimenteer – en dit word in geslaag. Want ons kan en ons het die talent. Ons hoef vir niks terug te staan nie. Dis goed dat ons begin wegbeweeg van die romantiese komedies wat die mark tans oorheers. 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top