kykNET Foxwood-fees bring hulde aan Ingrid Jonker

  • 1

wereldwyd650

Johannesburg se eerste Afrikaanse kunstefees – die kykNET Foxwood Kunstefees – ontplof in Oktober met spesiale aanbiedings ter ere van Ingrid Jonker, wat vyftig jaar gelede in die Kaapse see verdrink het.

Die spesiale multimedia-vertoning Ingrid Jonker Wêreldwyd, is deur Petrovna Metelerkamp saamgestel om die internasionale reikwydte van Ingrid Jonker se werk as digter, skrywer en ikoniese figuur te illustreer. Dit bied ’n oorsig van dié geliefde digter se lewe, met foto’s en kommentaar deur vriende soos WA de Klerk, Marjorie Wallace, Jan Rabie en André P Brink. Grepe uit argiefmateriaal bevat ook ’n unieke insetsel van die enigste video-opname van Ingrid Jonker.

Van die talle gedigte in die program word deur Ingrid Jonker self voorgedra. Vertalings word onder andere in Pools, Zoeloe, Hindi, Portugees en Spaans gelees. Antjie Krog lees ’n bekende gedig voor en grepe uit Saartjie Botha se drama Altyd Jonker word vertoon.

Video-onderhoude sluit intieme gesprekke met Jonker se dogter Simone in, asook bestekopnames deur Joan Hambidge, Louise Viljoen en Lesley Marx.

’n Nuwe toneelstuk deur Deborah Steinmair dramatiseer die verhouding tussen Ingrid Jonker en André P Brink en Jan Groenewald se sensasionele eenmanstuk Pruimboom, kom op die planke.

Amanda Strydom, Richard van der Westhuizen, Lizanne Barnard en André en Jenny Hattingh tree by die fees op en etlike bekende figure word deur Sandra Prinsloo vereer.

Die feestelikheid begin Dinsdag 13 Oktober wanneer Foxwood House (5de Straat no 13,  Houghton, Johannesburg) tot erfenisstigting verklaar word en eindig Sondag 18 Oktober.

Sien Foxwood-fees op Facebook vir meer inligting en bespreek by www.webtickets.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • As jong onderwyser in 'n plattelandse dorp het ek my leerlinge aan Ingrid Jjonker en Adam Small se gedigte blootgestel. (Amper uit die skool geskop!) Nou na al die jare moet ek erken Ingrid was maar wishy-washy. Sy het slegs aandag gekry toe Mandela haar gedig aangehaal het. Nee, haar gedigte hou nie stand vergeleke met Van Wyk-Louw byvoorbeeld nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top