
Foto: Fiona MacPherson
Na ’n bekroonde speelvak wat in Augustus 2024 by die Edinburgh International Festival gedebuteer het en daarna in 2025 in Londen se West End te sien was, het David Ireland se drama The fifth step verlede week sy Suid-Afrikaanse première by die Baxter Studio gehad.
Hierdie internasionale treffer kry ’n vars, plaaslike, emosionele trefkrag wat die gehoor van die eerste oomblik af meesleur.
Die Noord-Ierse dramaturg en akteur David Ireland is bekend vir sy vreeslose skryfwerk, vlymskerp humor en sy vermoë om moeilike, sosio-politieke en menslike temas sonder skroom te takel. Hy het in 2012 die Stewart Parker- en Meyer-Whitworth-toekenning ingepalm en was ook op die kortlys vir die Evening Standard-toekenning vir mees belowende dramaturg in 2016.
Resensente loof Ireland se vreeslose skryfstyl, emosionele diepte en vlymskerp humor. The Daily Mail se beskrywing van ’n “meedoënlose bokswedstryd van ’n drama” en lof vir die “rou, aangrypende en dikwels skokkend snaakse inhoud” is in die kol.
In The fifth step ondersoek Ireland die uitmergelende en diep menslike proses van herstel teen die agtergrond van Alkoholiste Anoniem (AA). Temas soos manlikheid, geloof, aanspreeklikheid en die soeke na vergewing staan sentraal.
Die titel verwys na die deurslaggewende vyfde stap van die AA-program, ’n stap wat ’n volledige en ongefiltreerde sondebelydenis van die verlede aan iemand anders verg. Wat aanvanklik as ’n standaard mentorskap tussen twee mans begin, ontwikkel vinnig in ’n komplekse, sielkundige skaakspel.
Soos die grense tussen borg en geborgde vervaag, kom diepgewortelde traumas en geheime aan die lig, wat albei mans dwing om die brose aard van hul eie nugterheid in die oë te kyk.
David se teks is skerp, realisties en gelaai met ’n donker humor wat die swaarte van die tema op geniale wyse verlig. Die teks vermy gelukkig die tipiese stereotipes rondom verslawing – wat die storie ook wyer aanklank sal laat vind. Dit fokus eerder op die subtiele dryfkragte van afhanklikheid: die behoefte aan goedkeuring, die angs vir eensaamheid en die dun lyn tussen opregte ondersteuning en manipulasie.
As jou pad al ooit met dié van iemand in die AA gekruis het, sal jy van die tekens duidelik herken.
Onder die regie van die bekroonde Charmaine Weir-Smith – wie se werk in Expelled en The Beauty Queen of Leenane my voete onder my uitgeslaan het – kry hierdie aangrypende storie ’n besonder intieme en deurdringende verhooglewe. Charmaine rig die tempo en spanning met meesterlike presisie, sodat die dinamika tussen die twee karakters voortdurend verskuif.
Sy gee die teks die nodige lug om asem te haal, terwyl sy die emosionele druk opbou sodat die insigte en konfrontasies diep tref. Daar is ’n duidelike sug uit die gehoor wanneer die spanning uiteindelik breek. Maar vir baie is dié sug ook een van verslaenheid en nie die positiewe klimaks waarop almal gehoop het nie.
Hoewel David se teks ’n uitstekende fondament lê, is dit die kragtoer-vertolkings van die twee akteurs wat vir my hierdie produksie sy ware trefkrag gee.
Die bekroonde Albert Pretorius vertolk die rol van James, ’n AA-veteraan wat reeds vir jare skoon en nugter is. Hy bring ’n gekombineerde laag van uiterlike sterkte en beheer én innerlike broosheid na die verhoog. Sy vertolking van ’n man wat probeer vashou aan sy eie herstelsukses, terwyl hy ’n ander probeer lei, is fantasties afgewerk.
Hy bly een van my gunstelingakteurs en sy vermoë om die karakter te wórd kom ook in hierdie toneelstuk tot sy ware reg. Albert is nie verniet al twee maal as die Cape Town Theatre Awards se beste manlike akteur én die Fiësta-wenner in dieselfde kategorie aangewys nie.
Die talentvolle Lyle October speel teenoor hom as Luka, ’n jong nuweling wat mentorskap ontvang. October skitter as die onvoorspelbare, rou en soekende jong man waarvan die gedrag voortdurend tussen kwesbaarheid en opstandigheid wissel. Ook hy wórd sy karakter.
Lyle was deel van die Baxter se Fires Burning Company en het al in die Studio geskitter. Dit was veral sy rol as Jason in Rosalind Butler se An unromantic comedy waarin hy my beïndruk het.
Die wisselwerking en chemie tussen hulle twee is tasbaar. Hul spel ruk diep en hou die gehoor vasgevang in ’n wipplank van emosies, van skaterlag tot tye van stomme stilte.
Die kompakte ruimte van die Baxter Studio is die perfekte platform vir hierdie intens intieme produksie, waar geen emosie of oogwink vir die gehoor verlore gaan nie. Jy voel amper asof jy nêrens het om weg te hardloop of te skuil as dinge uitmekaar begin val nie.
The fifth step is deurdringende teater wat nie net die dinamika van verslawing ontleed nie, maar ook die kompleksiteit van manlike verhoudings en menslike feilbaarheid blootlê.
Dit ontgin stereotipes en wys dat almal maar eintlik voete van klei het – hoe heldhaftig hulle ook al aanvanklik blyk te wees.
The fifth step
- Deur: David Ireland
- Met: Albert Pretorius en Lyle October
- Stel en beligting: Wolf Britz
- Kostuums: Marisa Steenkamp
- Ouderdomsbeperking: 16+ (volwasse temas en sterk taal)
- Tot 26 September 2026 by die Baxter Studio, Rondebosch, Kaapstad. Vertonings Dinsdag tot Saterdag om 20:00 en Saterdag middagvertoning om 15:00.
- Kaartjies: Beskikbaar aanlyn en by Pick n Pay-winkels via Webtickets
(Hierdie teks is my eie werk en is nie deur kunsmatige intelligensie geskryf of geskep nie.)

