Kwarantynketting: "Jan Tuisbly se karretjie" deur Evita Bezuidenhout

  • 0

Met die land wat tans in kwarantyn is, voer skrywers ’n korona-kettinggesprek oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Evita Bezuidenhout vertel meer:

Tydens tuisblykwarantyn is die beste persoon om mee saam te smul jy self! (Foto: Stefan Hurter)

.....

“Jan Tuisbly se karretjie gaan nog staan tot 30 April. Skatties? Daar’s tyd vir heelwat snoepgereggies!”

.....

Hier in Jan Tuisbly se karretjie, hoeveel koeksisters kan ek per dag bak voordat ek maller word? En daar is nog baie dae wat voorlê.

Wat sal gebeur as ek siek voel? Ek sal dadelik dink dis die COVID-19-gogga! Sommige berigte op televisie kondig aan dat dit miskien net griep kan wees. En dat 99% van dié wat die virus opdoen, die siekte sal oorleef. Miskien ja, maar waar kan ek getoets word as dit voel asof ek koors het? En skielik ook ’n droë hoesie? Of is dit maar net ’n gewone hoes wat “hoesierig” klink?

Sonder ’n toets vir COVID-19, hoe kan jy seker wees? Nou sit jy ingehok onder huisarres. Waar kan jy getoets word? Nie in my kontrei nie. Mag ek na ’n hospitaal ry? O hel, waar is my aaklige masker? Mense lag op Twieter: “Ag, Tannie, dis nou weer ’n tipiese oorreaksie.” Ja, miskien, maar sonder ’n toets, hoe sal ek weet: Het ek dit of nie? Moet ek nou met my lewe voortgaan asof ek wel (flouerig) die virus het, sodat ek dit nie onder ander versprei nie? Dus bly ek liewers hier in my Madiba-milieu tot einde van die maand.

Ek kyk te veel televisie met die C-19-spannings, die vrese, die skokkende einde van ’n wêreld wat nooit weer kan terugkom nie. Genoeg! Tannie maak ’n plan! Hier is ’n paar van my klein resepte perfek vir so ’n alleenlike lewe. Hulle benodig nie groot inkopies by die plaaslike supermark nie. Hulle is maklik om voor te berei, en perfek om te geniet. Jan Tuisbly se karretjie gaan nog staan tot 30 April. Skatties? Daar’s tyd vir heelwat snoepgereggies!

Kekerertjieslaai en pasta

Dreineer en spoel kekerertjies onder die kraan af. Kap ’n medium ui en soteer stadig in olyfolie tot deurskynend. Voeg 1 t fyn komyn by. Voeg 1 fyngedrukte knoffelhuisie, kekerertjies, sout en peper en ’n spatseltjie goeie asyn by. Meng. ’n Smaaklike peuselhappie en meer: Gryp daardie pakkie spaghetti en kook tot aldente. Voeg by die pan met kekertjies, meng behoorlik en sit onmiddellik voor.

Hummus

Maak die kekerertjies gaar soos hier bo beskryf, plaas in ’n mengbak en gebruik ’n vurk om fyn te maak tot ’n growwe pasta (of versap tot ’n gladde puree). Voeg ekstra olyfolie en suurlemoensap by en geur. Vir ’n brandsmakie kan jy Tabasco byvoeg. Sit met kruieroosterbrood voor.

Geroosterde sardientjies

Dreineer geblikte sardientjies. Maak fyn met ’n vurk. Voeg 1 t gekapte kappertjiesaad en 1 t fyngekapte ui en ’n bietjie suurlemoensap by. Smeer op snytjies dag-oue brood of baguette. Plaas onder ’n warm oondrooster vir twee minute, of tot die brood gerooster is. Hou dop om te keer dat dit aanbrand.

Kruieroosterbrood

Sny ’n dag-oue baguette in dun snytjies. Plaas op ’n bakplaat. Bedruip met ’n bietjie olie en geur met herbes de Provence. Oondrooster vir ’n minuut (of twee). Verwyder sodra dit goudbruin is, en strooi sout en peper oor. Hou dit heeltyd dop – dit word baie vinnig bruin. Sit voor met hummus, of net so op hulle eie.

Kaneelroosterbrood

Benodig: brood, 5 e botter, 3 t bruinsuiker, 3 t fyn kaneel.

Sny ’n hele paar snye brood, rooster hulle en sny die korsies af. Maak botter sag en vou die suiker en kaneel in. Smeer die mengsel op die warm roosterbrood. Maak ’n stapel roosterbrood, hou dit warm en sny in vingers net voor dit voorgesit word.

Clafoutis

Benodig: 2 eiers, 125 g gewone meel, 1 koppie melk, 3 e suiker, 1 450 g-fles kersies.

Smeer ’n pasteiskottel met botter. Meng eiers, meel, melk, ’n knippie sout en 1 e suiker. Dreineer kersies en plaas in ’n oondvaste bak. Giet die beslag oor die kersies. Bak ongeveer 40 minute teen 180° C. Haal uit die oond, strooi die res van die suiker bo-oor en plaas weer in die oond vir 5 tot 10 minute.

Ertjieslaai

Benodig: 250 g bevrore ertjies, 2 e mayonnaise, 2 e suurroom, 2 sprietuie, fyngekap, 1 e gekapte kruisement.

Kook ertjies 4 minute in water. Dreineer. Meng mayonnaise en suurroom met gekapte sprietuie en kruisement en geur. Skep op heel slaaiblare, soos sigorei of botterblaarslaai.

Lees ook

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top