
Foto: Christian Wolf
Kurt Darren, bekend vir energieke dansliedjies, het pas ’n enkelsnit “Die goeie ou dae” vrygestel. Dit is ’n stiller, meer intieme lied. ’n Mens sou dit kon sien as ’n trooskombers vir diegene wat ver van mekaar om ’n vuurtjie sit en verlang. Izak de Vries het hom hieroor uitgevra.
Kurt, dis nou ’n lekker lied. Sagte perkussie, akoestiese kitaar en ’n trekklavier met ’n mooi ritmekitaar daarmee saam. “Ons doen dit op die ou manier,” soos jy in die lied sing. Is ek reg?
Ja, Izak. Ons het gedink ons kan die mooi boodskap oordra met ’n sagter melodiese aanslag, maar die ritme is nog steeds daar. So almal gaan wil saamsing. Ek wil nie net hê die mense moet mekaar mis nie; ek wil hê hulle moet uitsien om weer by mekaar te wees!
Ek kan nie help om te dink dat dit ’n song is wat iemand sal speel as hulle verlang na mense wat hulle nie kan sien nie weens COVID. Opsetlik so, of droom ek?
Die grendeltyd het ons nog eens laat besef hoeveel ons almal mekaar nodig het; net om te kan gesels en saamlag is deel van ons menswees. Die liedjie laat jou uitsien na die goeie tye wat voorlê.
“Die goeie ou dae” koppel die liriek direk aan “elke vriend wat ek al gemaak het” – dit is hulle na wie die lied verlang toe “almal om die vuur” kon sit. Dit is dus ’n mensgerigte liedjie, nie waar nie?
Familie is ’n ander storie, ’n ander soort liefde, maar ons almal het daai paar vriende waarop ons altyd kan staat maak, enige tyd van die dag of nag, en wat saam jou deur enigiets sal staan.
Jou bekende “Selfie song” is speels, met hoë energie en gemik op dans in die klubs. In “Die goeie ou dae” sing jy oor die foto’s wat “ons” gesteel het. Dus ’n ander era toe jy nog die meisies versigtig moes afneem om oor hulle te droom. Is ek korrek dat hier ’n hunkering is na ’n tyd voor alles onmiddellik openbaar is, juis toe vriendskappe langer geneem het om te vorm en dalk langer gehou het?
Nee wat, als in die liedjie gaan oor dinge wat ons goed laat voel, of ons herinner aan al die goeie tye soos foto’s wat vasgevang is in die ingewing van die oomblik. As ek ’n goeie vriend maak, is ek baie lojaal, en die vriendskap is vir altyd.
In Maart 2020 het “Party Tyd” gedrop. Dis suiwer klubmusiek. Na daardie crescendo bars kan niemand meer stilsit nie; selfs hier in die kantoor het ek weer op en af gehop toe daai DJ die beat terugbring, hande in die lug. Ek neem aan dit suck om klubmusiek vry te stel en dan word alle klubs vir ses maande gesluit? Het dit jou baie geraak, of kon mense in hulle huise van hulle stres ontslae raak op die maat daarvan?
Daar het baie mense van regoor die wêreld video’s op sosiale media gesit waar hulle dans en saamsing met “Party Tyd”; hulle het die liedjie aan die lewe gehou, en ek is baie dankbaar daarvoor! Ek glo dat “Party Tyd” regoor Suid-Afrika vorentoe boer op die dansvloer.
Ek wil gou terugkeer na die akoestiese klank van “Die goeie ou dae”. Toe jy nog jonk was (of sal ons sê jonger was?), het jy ’n tyd lank in die Weermag se vermaakafdeling gewerk en julle het, onder andere, so bietjie Boeremusiek gemaak. Gaan ons in die toekoms dalk meer van jou stem met akoestiese begeleiding hoor?
Dit hang als af van die styl van die liedjie wat ons skryf; as dit ’n dieper, rustiger liedjie is, sal dit meer akoesties wees. Ek gaan vir seker nog baie dansmusiek uitbring; ek het soveel idees wat in my kop rondhardloop.
Laastens. “Die goeie ou dae” gaan oor vriende. Jy het bekend geword met Engelse albums, maar nou is jy totaal ingegrawe in die Afrikaanse musiekwêreld. Is dit die vuur waar jou vriende deesdae is?
My vriende en familie is baie belangrik vir my. Hulle was nog altyd deel van my loopbaan en die skryf van my musiek.

