Kunsverwydering by die UK: Marianne de Jong gee haar mening

  • 1

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

The Task Team proposes that the curation policy, which will also affect the policies on acquisitions, should be developed through an open consultative process that includes the different voices on our campus. Through the provisional removal of some artworks the University is dismantling elements of its curation, not suppressing the individual works, before such a consultative process.[1]

Die bedekking en verwydering van kunswerke by die Universiteit van Kaapstad (UK) het uiteenlopende reaksies tot gevolg. Breyten Breytenbach beskou dit as ‘n ongebreidelde sensurering van kuns in die naam van godsdienstige, politieke en ander dogmas. In die amptelike reaksie van die topbestuur van die universiteit word aangevoer dat ander maniere van kyk na kuns erken moet word. Dis ‘n vae verwysing na swart studente wat ongelukkig is met werk van kunstenaars soos onder andere Kentridge, Diane Victor en Breyten Breytenbach waarop Breytenbach met ‘n volle laag ironie reageer:

Did the Salafists in Timbuktu and Gao not promote other modes of seeing when they pick-axed the mausoleums of the marabouts and threw the bones to the dogs?[2]

Ten einde “other modes of seeing”[3] te akkommodeer, maak jy jou kunswerke (tydelik) onsigbaar. Van so ‘n beleid spel Breytenbach die implikasies vir die kunstenaar soos volg uit:

Swallow your beard, Da Vinci, for not making the Mona Lisa invisible! And please paint out those racist Picassos that so offend our sensibilities![4]

Soos baie kunstenaars en kunskritici glo Breyten waarskynlik ook dat die kuns aanstoot móét gee.

Nou het dit inderdaad aanstoot gegee.

Die argument is, so lyk dit, dat die kuns se reg, en selfs plig, om aanstoot te gee erken en beskerm moet word – ‘n beskermde aanstoot, dus. Ons het almal spieëlneurone, om aan te haal uit Marlene van Niekerk se “Breekgoed”,[5] en dis nie moeilik om te snap wat omtrent sekere skilderye vir selfbewuste swart studente aanstootlik is nie: die geslagtelikheid van Diane Victor se bul via ‘n beestekultuurassosiasie, die “boy”-status van die swart man met die tou, of die swart vrou op die skoot van ‘n blanke man, al kopulerende, in Breyten Breytenbach se “Hovering Dog”.

Student members of the Task Team made strong representation to the Team concerning what they understood to be a widespread apprehension, on the part of students objecting to the artworks, that the works’ cumulative effect in terms of the representation of black people was negative, even abject.[6]

Dis die kunswerke wat bedek en verwyder is.

Die skilderyverbranders is as kriminele oortreders behandel. Die studente wat op die Artworks Committee dien en die ander “views” daar verteenwoordig, sien die kunswerke egter ook as ikone van ‘n kulturele mag. Ook dit is verstaanbaar: die universiteit koop werk van internasionale gehalte en tendens aan. Dit volg goeie smaak en ingeligte oordeel. Dit besluit ook per geleentheid wat antikolonialistiese kuns is. Dit stal uit. Uitstalling behels, naas bewaring, ook ‘n element van uithaal en wys.

Koos Kombuis het onlangs ná die debatte rondom die nuwe “Fallisms” opgemerk dat hy nou vir die eerste keer verstaan wat “witheid” beteken. Daar was toe al die tyd ook “more than one view” van witheid, naamlik dat dit bestaan, dat dit oral sy merk maak al wil dit nie, en dat dit vervreem. Voorlopig is dit nie transendeerbaar nie.

By die eerste lees van die berigte van bedekking en verwydering het ek ’n visioen gehad van departementele bestuurders en adjunkbestuurders, volle en halwe professore, vas aangestelde en kontraktueel byna aangestelde dosente, plus skoonmakers en persoonlike assistente wat rondloop met borrelpapier en kleefband. Kunswerke word op teetrolllies uitgestoot. Dit was danksy die volgende opmerking in die amptelike reaksie:

The Task Team is aware that individual faculties and other campus entities have begun to remove works on display, employing what appear to be a range of ad hoc criteria.[7]

Die verklaring maak dus van die oënskynlik angstige gedoe ’n oorwoë beleid wat ordelik uitgevoer kan word ter wille van die beskerming van die kultuurgoedere.

Volgens heelwat kommentators, byvoorbeeld die kunskenners Marilyn Martin en Alex Dodd, moet die situasie wat UK tot hierdie stap genoop het as ‘n geleentheid tot dialoog dien:

If these works are so deeply provocative and problematic, I would have preferred to see the university curate a series of interventions that gave people the opportunity to voice publicly what they were reading in the works – to give words to the offence. … [H]osting some open discussions around these artworks might have given people the opportunity to really talk in quite personal and direct ways about the politics that is rippling under our skins.[8]

So ‘n “intervention” sal ‘n geleentheid wees om te praat oor onreguleerbare gevoelens, assosiasies, ervarings of insigte wat ‘n bepaalde kunswerk wakker maak by ‘n bepaalde kyker (eerstens die swart student wat ongelukkig voel oor wat sy of hy sien). Dit moet ruimte skep vir die sê van wat meestal versweë bly.

Afgesien daarvan dat die studente alreeds gesê het wat hulle voel, lyk Dodd se visie na ‘n positiewe stap na ‘n toekoms waarin, soos die bestuur by herhaling meld, die kunswerke hopelik weer uitgestal kan word. Die ideaal behels sekerlik meer as ‘n “kuns-as-terapie”-benadering en dit lyk ook nie of Dodd voorsien dat so ‘n uitruiling van reaksies moet afstuur op ‘n gemoedelike kompromie nie.

Hoe ontkom jy egter in so ‘n uitpraatsituasie aan die moontlikheid dat die student gewoon nie bevoeg is om kuns te interpreteer nie? Het die studente nie in die eerste plek geswyg oor die kuns in hulle studie-omgewing omdat hulle nie oningelig of selfs dom wou lyk nie?

In haar reaksie op die “removals” sê Marilyn Martin:

Unless you have attended a school or university and obtained formal education in the visual arts, or you have empowered yourself by reading about and looking at art, you are one of the millions – at all levels of society and across our complex demographics – of the visually illiterate.[9]

 Is dit nie juis die vereiste van visuele geletterdheid wat sommige studente ontuis laat voel op hulle kampus nie?

Miskien berus die skok en woede van kunstenaars soos Breytenbach oor die verwyderings ook op ‘n intieme kennis van Jan Rap en sy sensormaat se astrante domheid oor kuns. Die standbeeld van Jan Smuts voor die Nasionale Kunsmuseum in die Tuine in Kaapstad, wat in 1964 onthul is, het “an immediate outcry from all sections of the public” ontlok en is in 1974 vervang met “a statue more acceptable to the man-in-the-street”.[10]

Sou ‘n mens met die studente ’n opvoedkundige oefening kon onderneem oor die rits standbeelde van Nelson Mandela wat oor die laaste dekade of so oral in die land verrys het? Beplan jy ‘n pedagogies uitgewerkte demonstrasie wat wys dat ‘n beeldhouwerk wat representatief en positief is ook artistiek gesproke kragteloos en daarom swak kan wees?

Hoe sệ jy aan ‘n student wat sy eie politieke agent wil word dat hy verkeerd is omdat hy swak smaak het?

Hoewel nie sonder ’n steek na die (tydelike) taboeverklaring van “aanstootlike” kuns nie, is Sonja Loots se stuk oor Diane Victor se verwyderde Pasiphaë eintlik ‘n elegie, asof oor die einde van ‘n persoonlike verhouding en die verlies aan ‘n sekere interpreterende en nadenkende onskuld, sodat dit is asof die objekte in die skildery – bul, figuur in bul, dogtertjie, werker met die tou wat die bul vashou – alleen agtergelaat word.

Op kampus is daar steeds ’n muur tussen my en hulle: Die bul, die man in sy maag, die dogtertjie en die werker. Hulle het geen uitsig nie en moet hul in donkerte teen ’n muur blindstaar.

Ek mag ook nie meer na húlle kyk en ’n pad uit die labirint soek nie, want kennelik het die era van stoptekens en doodloopstrate onverbiddelik aangebreek.[11]

Wat vir hierdie kyker ’n intieme, vertroude ruimte geword het waar sy al ses jaar verbyloop, kyk en bly kyk, word nou vervreem deur ‘n “muur”. Dis dieselfde muur wat moet help dat dieselfde ruimte vir studente minder vreemd en meer vertroud word.

Asof die toespyker van kunswerke metafories gesproke die deure vir swart studente wat uitgeslote voel, sal oopmaak.

Dit stuk bevestig wel die argument vir blootstelling aan en onderrig in kuns. Loots skryf dat sy ‘n “halfvergete, halfonthoude lesing in Maties se Ou Hoofgebou” kon gebruik om die mite van Phaladaë te betrek. Dit plaas die kyker op ‘n “labirint” van dink, wonder, spel en insigte.

Nou is Diane Victor se werk in een interpretasie vasgenael.

Met die bedekking en wegvoer van kunswerke het UK ‘n metafoor geskep wat nie deur artworks committees of bestuursbulletins oor redelikheid, inklusiwiteit en transformasie in bedwang gehou sal kan word nie.

In die amptelike verklaring van Max Price en Sandra Klopper verklaar die universiteit:

Through the provisional removal of some artworks the University is dismantling elements of its curation, not suppressing the individual works, before such a consultative process.[12]

Internasionale kuratoriese studie en praktyk maak al lankal werk van raming en ruimte, plasing en postkoloniale subversies. Dit betrek ook lankal, soos Dodd opmerk, die kyker direk. Dis onwaarskynlik dat UK se kuratore bloot net nou wakker skrik. Het hulle gehoop dat die bevryde denke waartoe die werke hopelik aanleiding sou gee, die ding sal doen? Het hulle staatgemaak op die Tsumeles wat prontuit sệ dat hulle nie daarvan hou dat andere vir hulle as kunsliefhebbers sệ waarvan om te hou of nie te hou nie?[13] Het hulle aangeneem dat daar genoeg anti- of postkoloniale werk deur genoeg kunstenaars met diverse Suid-Afrikaanse kleure was om aanvaarding te verseker?

Die besluit om die (beloofde) herplasing van kunswerke ‘n kuratoriese saak te maak, en om studente in die tersaaklike komitees in te sluit, lyk goed. Dis egter duidelik ook strategies. ‘n Mens kom moeilik weg van ‘n indruk van beeldpoetsery met behulp van bemarkingskonsultante. Sekere terme, sou so ‘n konsultant kon gesệ het, móét in jou openbare verklaring verskyn, aldus:

We view the discussion around works of art as part of UCT’s accelerated transformation process. We are seeking to discuss with all members of the University community how we can reflect different aspects of our university community, our diverse body of staff and students, and help to create an inclusive community where everyone can readily identify with the institution. We invite you to share with us your idea of how the UCT environment can be used to show our pride in the growing diversity of our campus community: what works of art speak to you, how and where you feel those works should be displayed.[14]

Transformasie is deel van die diskoers van effektiewe universitệre bestuur. Soos nou duidelik is, bly die “output” van die transformatiewe effek van die kunste maar onindrukwekkend.

Dit tref my al lankal dat die korporatiewe universiteit en “transformasie” sulke goeie bedmaats is. Trouens, hulle het saam-saam, soos ‘n akteursegpaar, op die Suid-Afrikaanse akademiese toneel verskyn.

Die Universiteit van Kaapstad is een van dié wat die langste uitgehou het.

Aan die ander kant: net ‘n komitee met ‘n kuratoriese taak wat volgens ‘n korporatiewe model funksioneer het ‘n kans op sukses. Komitees, so weet ons, het maar dikwels ‘n toespykeringsfunkse. Sonder om te veel te bespreek, gee studente hulle mening oor die staan of gaan van ‘n werk, die aankoop of afwys, met opgaaf van redes. Die vakkundiges maak hiervan ‘n databasis wat bowendien nuttig is vir verdere navorsing. Die komitee voer sy funksie effektief uit, naamlik die kategorisering van kunswerke volgens “aanstoot”. Lede, veral dié in senior posisies, hoef nie oop kaarte te speel nie. Die studentelede moet nie die indruk kry dat dit nie hulle mening is wat die deurslag gee nie. Die komitee se voorstel moet net aan voorwaardes soos die volgende voldoen: dit moet verdere moeilike ideologies-estetiese konfrontasie in die Raad oorbodig maak; dit moet duidelike opdragte aan die universiteit se Departement van Geboue-administrasie gee.

Van opvoeding en interpretasie sal hier waarskynlik nie veel sprake wees nie.

Die proses word gelukkig versnel deurdat die vermaledyde skilder- en beeldhouwerke reeds verwyder en/of buite sig geplaas is. Met die verwydering van die objek van aanstoot neem, hopelik, die aanstoot ook af.

Ek voorsien nie ‘n woedende debat van tien jaar soos oor oom Jannie se standbeeld nie.

Die komitee kan hom beroep op die pragmatiese aard van sy kuratoriese taak. Dit gaan oor ruimtes en plasing waaroor die kunstenaar self nie besluit nie, ten spyte van bekende postmoderne praktyke wat beoefen word deur kunstenaars so divers soos Willem Boshoff en Joseph Beuys. Daar is ‘n gerieflike kwantitatiewe element hier, ‘n beramingsmoontlikheid wat onmin kan uitskakel.

Die behoud en/of plasing van die oorgeblewe (indien enige) visekanseliers mag ‘n logiese (nie logistiese nie) probleempie skep. Jy kan nie almal onsigbaar wil maak behalwe Ramphele Mamphele en Njabula Ndebele nie. Mens wil nie jou kuratoriese beleid te deursigtig maak nie.

Donateurs wat met kunswerke verbind word, is ‘n ander saak. Anders as wat die geval is met die taal Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch het ‘n universiteit tog wel ‘n taak om duur, versekerde, gedoteerde of met tradisie en status gelaaide kunswerke te beskerm.

Met eerlike respek vir die akademici en kurators van UK: hierdie toemaak en wegpak bied net te veel ironiese ruimte.

Dis egter in die huidige bestel moontlik om ‘n uitstalling van aanstootlike kuns binne een of meer goedgekeurde, nie-aanstootlike uitstallings by die universiteit op te stel.

Sit alle toegemaakte, verwyderde kunswerke terug waar hulle was en bedek hulle elk met ‘n posdiensverpakking.

Afgesien daarvan dat sulke soort drukwerk volgens geskenkwinkeltjies in inkopiesentrums en die CNA baie in die mode is, sinjaleer dit duidelik dat hierdie kunswerke gepos is, al staan hulle nog daar. Dit bied ook geleentheid tot kreatiewe opvoedkunde. Die verskil tussen ‘n kunswerk (selfs al is dit afwesig) en ‘n poskaart kan verduidelik word. Die verskil tussen universitệre verpakkingsbeleid en die staat se Departement van Poswese kan ontleed word. Moet die kunswerk teruggestuur word na die kunstenaar met ‘n “Return to sender”-stempel daarop? Dit kan ’n gesprek oor die regte van die kunstenaar aanvoor.

Werklik problematies is die vraag: Waarheen gaan die stukke wat permanent verhuis as die kunstenaars dit nie wil hê en as die staat nie daarvoor wil vergoed soos in die geval van #FeesMustFall nie?

Na ‘n ou soutmyn in die Noord-Kaap?

Na ‘n onbenutte kelder saam met die portrette van ou visekanseliers?

 ‘n Leë lokaal op ‘n buitekampus in die middestad, met besigtiging teen afslag vir pensioentrekkers en ‘n spesiale uitnodiging aan alumni?

Na ‘n lesingsaal vir nagraadse studente met ‘n fokus op post-Fall-istiese probleme? Gebruik titels soos: The disaster of white anti-colonialist/anti-racist art.

Ek kan Breyten se onsteltenis voorsien: stel jou voor sy werk word uitgestal ter wille van die vermeende pedagogiese waarde.

In plaas van Postnet-papier kan ‘n mens ook ‘n swart doek oorweeg.

Ek merk egter op dis reeds gebruik. Dit bedek Willie Bester se Sara Baartman-werk in ‘n UK-biblioteek.[15]

Marianne de Jong

Literatuurteoretikus

[1] Why some artworks have been pulled from display – UCT. Max Price, Sandra Klopper, 12 April 2016.

www.politicsweb.co.za/.../why-some-artworks-have-been-pulled-from-di.. Toegang 24.04.16.

[2]  Letter to the Editor: Breyten Breytenbach on vanishing UCT artworks and blank minds. Daily Maverick, 11.04.16.

[3] Why some artworks have been pulled from display, ibid.

[4] Breytenbach, ibid.

[5] Kaar. Marlene van Niekerk (2013, bl 79).

[6] Interim Statement of the Council’s Artworks Task Team. 8.03.16.

https://www.uct.ac.za/downloads/.../ArtworksTaskTeam_March2016.pdf. Toegang 24.04.16.

[7] Why some artworks have been pulled from display, ibid.  

[8] Alex Dodd and Hans Pienaar. The removal of art at UCT: interview with Alex Dodd. Alex Dodd and Hans Pienaar. LitNet, 18.04.16. https://www.litnet.co.za/the-removal-of-art-at-uct-interview-with-alex-dodd/. Toegang 19.04.16.

[9] The removal of art at UCT: Marilyn Martin’s response. Marilyn Martin and Hans Pienaar. LitNet, https://www.litnet.co.za/the-removal-of-art-at-uct-marilyn-martins-response/. Toegang 18.04.16.

[10] capetownhistory.com/?page_id=208. Toegang 20.04.16.   

[11] Heilige koeie is die spykers in ons doodskis. Sonja Loots. Netwerk 24, 17.04.16. Toegang 24.04.16.

[12]  Removal of UCT artworks is about curation, not censorship, says Price. www.uct.ac.za, 11.04.16. https://www.uct.ac.za/usr/press/2016/11-04-2016_Removal_UCT_Artworks.pdf. Toegang 24.04.16

[13]  The removal of art at UCT: interview with Edward Tsumele. Edward Tsumele and Hans Pienaar. LitNet, 14.04.16. https://www.litnet.co.za/the-removal-of-art-at-uct-interview-with-edward-tsumele/. Toegang 18.04.16.

[14]  Why some artworks have been pulled from display, ibid.

[15] Sara Baartman van Willie Bester, bedek met ‘n swart doek.

www.groundup.org.za/article/art-and-uct-opportunity-encourage-debate,  14.04.16. Toegang 24.04.16.

  • 1

Kommentaar

  • Corlia Fourie

    Ek was ongelooflik dom toe ek 'n student was - dom oor kuns, letterkunde, die lewe, politiek ensovoorts, ensovoorts. Ek is bitter bly niemand het my menings ernstig opgeneem en daarop gereageer nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top