Kunste wat ’n verskil maak: ’n onderhoud met Amelda Brand

  • 0

Amelda Brand (Foto: Naomi Bruwer)

“Kunste het die vermoë om ruimtes te skep en te hou vir kommunikasie, waar ons kan stories uitruil, wat meer as een perspektief kan hou.” 

Só meen Amelda Brand, wat in die veld van dramaterapie en toegepaste teater werk, en sodoende die kunste inspan om ’n verskil in die samelewing te maak.

Amelda is by vanjaar se Toyota US Woordfees met die In Verbondenheid-toekenning vereer, waarmee daar erkenning gegee word aan “rolspelers wat in die kunste oor grense, onvermoeid en dikwels vir min of geen vergoeding, werk om groter sosiale kohesie te bewerkstellig”.

Sy is onder andere vereer vir haar werk met gemeenskappe en studente asook haar werk in die professionele uitvoerende kunste.

Vorige wenners van dié toekenning sluit in Simon Witbooi (HemelBesem), Janine Neethling en Felicia Lesch.
Amelda vertel meer oor die werk wat sy doen en waarom dit haar na aan die hart lê.

Amelda, vertel asseblief meer oor jouself – wat het jy studeer en hoe het jy uitgekom by die veld waarin jy werk?

Wat studie na skool betref, het ek ’n vierjaar-BDrama met spesialisering in spel by US se Dramadepartement gedoen, en daarna my MDrama in wat vandag bekend staan as toegepaste teater. Daarna het ek ’n MA in Creative Arts Therapies: Drama Therapy by die Concordia-universiteit in Montreal, Kanada, voltooi. Daar was ’n paar tussenin studies as “onafhanklike student” waar ek ekstra sielkundemodules by Athabasca-universiteit gedoen het en clowning by die Universiteit van Alberta (ook in Kanada).

Hoe ek in die veld beland het, verg waarskynlik ’n langer antwoord. Die kort antwoord is dat daar nie regtig vir my ’n ander opsie was nie. Ek was bevoorreg dat spel en teater al van vroeg in my lewe vir my toeganklik was, en so kon ek ook die krag, ruimte en potensiaal van teater raaksien, ervaar en met ander deel. Ek dink die groter vrae aan die begin vir my was hoe ek sou uitkom by wat ek nodig het om te doen, en waar en hoe ek sou kon leer en ervaar wat nodig was.

’n Produksie onder leiding van Amelda, Jakkals & Wolf Onbeperk

Na my aanvanklike studies by Stellenbosch het ek gewerk as performer en as toegepasteteater-praktisyn. Ek het eindelik besef dat die werk vra dat ek met ’n groter bewustheid van die terapeutiese waarde en potensiaal van die veld werk. Dit was duidelik dat baie van die werk wat ek op daardie stadium gedoen het, grootliks organies tydens die kreatiewe fases ontwikkel het. Ek het sterk staatgemaak op intuïsie en die raamwerke binne teaterpraktyk. Dit was goed, maar ek het besef dat ek altyd sal strewe na etiese teaterwerk en dat ek nie altyd toegerus genoeg gevoel het om al die materiaal te hanteer wat deelnemers na die “speelruimte” gebring het nie. Ek het nodig gehad om meer te weet van die teorie rondom geïntegreerde terapeutiese teater- en dramaprosesse. Dit was nie moontlik om op daardie stadium dramaterapie in Suid-Afrika te studeer nie, hoewel daar toe al ’n paar mense was wat teruggekeer het ná studies elders en reeds by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer het. Daar is sedert 2014 wel ’n geakkrediteerde M-kursus in dramaterapie by die Universiteit van die Witwatersrand.

Concordia-universiteit in Montreal was vir my ’n baie goeie opsie, omdat dit ’n kursus was wat ’n deurlopende praktiese komponent gehad het en die kursus gebou was op teorieë van beide die VK en die VSA (histories sterk rolspelers in die ontluikende veld). Daar was ook ’n sterk fokus op navorsing.

Ek en my oorlede man, Jurie, het op daardie stadium toe al vir ’n aantal jare tussen Kanada en Suid-Afrika beweeg. Hy het van tyd tot tyd as mediese dokter in Kanada gewerk. Ons het ooreengekom om vir ’n langer tydperk in Kanada te bly sodat ek my studies in dramaterapie kon aanpak.

Amelda Brand (Foto: Naomi Bruwer)

Vertel asseblief meer oor die tipe werk wat jy doen – wat behels dit?

Met my agtergrond in spel en dramaterapie vind ek ’n goeie plek in werk wat onder die sambreelbenaming toegepaste teater val. Dit gaan vir my oor teater/dramaprosesse vir ’n doel met bewustheid. Die verhouding van teater tot die samelewing.

Ek is bevoorreg dat ek as dosent by die Dramadepartement met studente kan werk. Dis heerlik verfrissend, omdat mens heeltyd uitgedaag word om verder te dink en te soek. Ek waardeer ook verdere kreatiewe projekte wat ek saam met kollegas kan aanpak. Dan is die werk saam met die NPO sp(i)eel vir my so belangrik en waardevol. My kollega Marlize Swanepoel is aan stuur van sake. Wat lekker is, is dat toegepasteteaterstudente van die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad hulle prakties kan doen as deel van die onderskeie projekte wat reeds op koers is. Soos tyd ons nou geleer het, word van die oudstudente dan later kernrolspelers in die organisasie.

Die omvang van die werk by sp(i)eel sluit juis meer gefokuste terapeuties-kreatiewe werk sowel as toegepaste teaterwerk in. Die inspirerende groep mense wat saamwerk, sluit in professionele teatermakers en toegepasteteaterpraktisyns, drama-, kuns- en musiekterapeute en verskeie mense wat in die kunste belangstel. Dit kom vir my baie naby aan ’n model waar deelname aan/in kuns geïntegreerd deel van die lewe is.

Hoe kan die kunste gebruik word om sosiale kohesie te bewerkstellig, en hoe word dit gedoen?

Kunste het die vermoë om ruimtes te skep en te hou vir kommunikasie, waar ons kan stories uitruil, wat meer as een perspektief kan hou.

Hoekom doen jy wat jy doen?

Dit maak sin en is vir my ’n manier om sin te maak en te vind in die lewe, saam met ander.

Waarom is die kunste vir jou belangrik?

Juis oor die magiese daarin, die skoonheid, die ritme, seremonie, ritueel, dit wat ons verstaan en nie verstaan nie. Dit wat ons kan beheer en nie kan beheer nie.

’n Produksie onder leiding van Amelda, Jakkals & Wolf Onbeperk

Word die kunste genoeg ondersteun?

Dis ’n moeiliker vraag, want as ek sê dit word nie genoeg ondersteun nie, is dit asof iemand ’n fout maak of aspris iets verkeerd doen. Ek kan wel sê ek vind dit tragies dat kuns, wat seker veronderstel is om so integraal deel te wees van ons menswees – hoe ons inligting kan oordra en verwerk en kan speel – so ontwikkel het dat dit op ’n manier soms verwyder is van ons daaglikse lewe en as “eksklusief” gesien word – iets waaraan net sekeres kan deelneem. Hier is die sportanalogie altyd vir my belangrik. Die meeste van ons is op een of ander manier op ons eie aktief – bv balspeel in die tuin, dan saam met ander in die parkie gaan speel, sommiges sal dalk by ’n klub aansluit ... en dan sal die meeste van ons gaan kyk hoe die “professionele” spelers die spel op die hoogste vlak beoefen. Ek dink/voel in ’n samelewing waar daar baie gesteun word op kreatiewe denke en probleemoplossing, ons nie genoeg toeganklike speelruimtes het waar kreatiwiteit as’t ware geoefen/beoefen en ontwikkel kan word nie. Terselfdertyd het die professionele spelers en skeppers ook ’n belangrike rol te speel om ruimtes te skep waar mense toegang het tot hulle eie en ander stories en ook ’n verbeeldingswêreld waar ons dinge op ander maniere kan sien en verwerk.

Dink jy die mag van die kunste word onderskat?

Nie oral nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top