Kuns maak die onsigbare sigbaar: Unseen together – a visual exploration of illness and disability

  • 0

Op 24 Augustus het ’n interessante uitstalling in die Birdstraat-galery, Nelson Mandela Universiteit se uitstalruimte, geopen.

Die titel van die uitstalling is Unseen together – a visual exploration of illness and disability. Dit is die samevloei van twee onafhanklike navorsingsprojekte wat uiteindelik raakpunte gevind het en toe met ’n derde projek begin saamwerk het.

Basil Brady het op Facebook ’n wonderlike reeks foto’s oor die uitstalling geplaas. Ek het nie probeer om dit na te doen nie. Klik gewoon hier om sy besonder knap visuele opsomming te sien. Gebruik die pyltjies om verder te blaai.

Op 5 September het die drie kunstenaars ’n rondleiding gedoen om oor die werke te praat.

Amberleigh du Plessis, ’n kunstenaar en grafiese ontwerper, het ’n reeks kunswerke geskep rondom mense met fisieke gestremdhede, veral persone in rolstoele. Sy het met talle mense onderhoude gevoer om hul stories te hoor. Sommige mense is toe geskets. Sy het aanhou werk aan haar kuns totdat dié wat hul stories gedeel het, tevrede was dat sy gehoor het hoe hulle uitgebeeld wou word.

Du Plessis se kuns spreek ook beswaar uit teen die feit dat mense in rolstoele onsigbaar word in ons samelewing, of gesien word as minderes, bloot omdat hulle nie kan loop nie.

Haar broer was in ’n rolstoel, en ná sy afsterwe het sy ’n aantal werke oor pyn en verlies geskep.

Dié ondersoek na pyn het by Micaela Scholtz aanknoping gevind. Scholtz het ’n reeks werke oor endometriose geskep. Dit is ’n pynlike siekte weens vergroeiings in die liggaam wat nie sigbaar is met die blote oog nie.

Scholtz het begin wonder hoe om ’n siekte wat moeilik is om te verstaan, visueel te maak. Sy het toe met Polaroid-emulsie begin werk. Ek het nie geweet hiervan nie, en het daaroor gaan lees. Hier is ’n hele verduideliking van die proses; ek kan dit nie beter doen nie.

Van belang is dat Scholtz hierdie baie moeilike tegniek gebruik het om amorfe kuns te maak wat lyk soos mediese skuifies wat ondersoek moet word, dikwels onder ’n vergrootglas.

Sy het ook ’n reeks werke geskep met die emulsie as agtergrond, maar bo-oor die amorfe agtergrond het sy met absolute presisie template uitgesny, net soos ’n sjirurg dit sou doen. Sy noem dit “Through the keyhole” – wat verwys na laproskopiese sjirurgie waarmee die vergroeisels in die liggaam weggebrand kan word.

Die derde kunstenaar, Mieke Janse van Rensburg, doseer modeontwerp. Sy het by Scholtz se werk aangesluit deur ’n skynbaar deurmekaar, maar pynlik gedetailleerde vierkant van verskillende soorte lap, borduurwerk, tapisserie en dies meer aanmekaar te las. Dit wil chaoties lyk, maar die detail word sigbaar wanneer ’n mens nader kom. Van daardie lap is met Polaroid-emulsie deur Scholtz bedruk.

Janse van Rensburg het toe ’n kliniese “verduideliking” van elke soort lap langs die groter werk uitgestal – netjies geraam en afgebaken. Dit verteenwoordig hoe die mediese wetenskap dikwels na deeltjies van ’n siekte kyk en nie noodwendig die hele persoon sien nie.

Janse van Rensburg het ook ’n spierwit, klassieke rok ontwerp en gemaak. Dit word toe as doek gebruik om Scholtz se werk met emulsies op te projekteer. So word die onsigbare pyn in die lyf visueel voorgestel op die rok.

Net weer die titel: Unseen together. Ja. Al drie het op hul eie manier saamgewerk aan projekte oor dit wat onsigbaar is, maar saam het hulle ook dit wat onsigbaar is, help sigbaar maak.

  • Fotografie: Izak de Vries
Lees ook:

Can there be a dance between the health sciences and the arts?

Eureka! Waar kuns en die mediese wêreld mekaar ontmoet

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top