Op 3 Maart 2023 het ’n interessante kunsuitstalling in Gqeberha geopen. Dit is getiteld Eureka! A journey delving into artisanal diamond mining en word in die Birdstraat-galery van die Nelson Mandela Universiteit gehuisves.
Die onderwerp van die uitstalling is informele diamantdelwers, ook bekend as zama zamas, in die Kimberley-omgewing. Daar is tans ’n baie groot aantal myners wat óf nuwe gebiede ontgin óf uitgewerkte mynhope weer deurgaan op soek na diamante.
Hier is geen groot masjiene aan die werk nie. Daar is gewoon mensekrag en implemente wat reeds in die dae van die Groot Gat gebruik is. Desperaatheid en hoop lok tans talle mense na Kimberley, op soek na daardie een stukkie geluk, daardie eureka-oomblik wat aan die uitstalling ’n naam verleen het.
Meer nog, hierdie bedrywighede is informeel, dikwels onwettig, en baie van die myners is buitelanders sonder formele werkspermitte. Gooi dit alles bymekaar, dan het jy ’n enorme aantal mense wat sonder enige vorm van beskerming ’n karige lewe probeer maak. Daar is geen arbeidswette wat na hulle regte omsien nie. Hulle lewe dikwels in plakkersgemeenskappe sonder enige formele fasiliteite.
Hierdie zama zamas is op soek na hoop, terwyl hulle ’n prekêre bestaan voer.
Hoop is al wat hulle aan die gang hou.
Die kunstenaars
Dit is twee besondere en uiteenlopende kunstenaars wat saamgespan het om hierdie uitstalling te skep.
André Rose is ’n spesialis in openbare gesondheid, maar is ook ’n gerekende kunstenaar.
Janine Allen-Spies is professor aan die Universiteit van die Vrystaat se kunsdepartement. Sy is ook bekend as The Brusher, en teken haar werk as sodanig, weens ’n uitstalling, The Visionary Brusher Game, waarin sy nogal bekend geword het.
Albei kunstenaars het my ’n kort onderhoud toegestaan by die opening.
Hoe dit als begin het
Allen en Rose wou bewustelik saamwerk oor die tradisionele grense van hul onderskeie dissiplines heen. Rose se kunsbelangstelling is bekend, ook so sy soeke na die menslike aspekte van die mediese wetenskap. Allen stel ook belang in die uitdaag van grense en poog om haar kuns vir bewusmaking te gebruik.
Dié twee het aanvanklik met ’n aantal genoteerde mynmaatskappye gaan gesels om toegang tot die mynwerkers te verkry met die doel om hierdie werkers se lewens te dokumenteer. Allen sê egter dat die mynmaatskappye glad nie opgewonde was wanneer hulle hoor Rose is ’n dokter nie.
Eendag het Rose se pa hulle gevra of hulle weet van die myners wat redelik naby die pa se huis besig was om te delf. Die twee kunstenaars het gaan kennis maak en het so van al hoe meer informele delwers gehoor.
Hulle het moeite gedoen om die delwers se vertroue te wen. Later kon hulle stories begin opneem en die kameras kon uitgehaal word.
Uiteindelik kon hulle oor jare heen verskillende gemeenskappe met verskillende tegnieke en gebruike dokumenteer.
Die subtitel verduidelik hierdie reis van die twee kunstenaars baie goed: A journey delving into artisanal diamond mining.
Janine Allen-Spies
Allen is ’n kunstenaar en visuele filosoof by die Universiteit van die Vrystaat. Sy vertel dat haar belangstelling in die projek juis daarin lê dat sy oor die grense van akademiese dissiplines heen kon reis.
Haar en Rose se reise na en van mekaar se dissiplines is ook ’n spieël waarin die lewens van die myners gesien kan word – hulle reis voortdurend van geleentheid tot geleentheid.
Sy beskou haar eie werk as ’n bewuste poging om teen die grein van heersende ideologieë in te werk. Aan die een kant is hierdie uitstalling ’n manier om die mynwerkers se ellendige toestande uit te beeld. Aan die ander kant is dit ook nodig om aan te toon dat hierdie myners glad nie die ekologie ter harte neem nie.
Sy het albei hierdie fasette in haar kuns probeer vasvat.
Daar is klein, persoonlike oomblikke, soos vasgelê in ’n groot olieverfskildery van ’n hoop grond wat bedek is met ’n veelkleurige tapyt. Die hoop grond verteenwoordig (ook) die mynwerker se hoop – die hoop om in daardie grond ’n diamant te kry wanneer hulle begin sif.
Daar is ook ’n foto van ’n tent – enkel en effens uit fokus – as ’n historiese blik op ’n pionier se staanplek, daar waar vandag ’n hele township vol desperate mense is wat op soek is na hoop.
Sy stal ook ’n groot doek uit wat Corona heet – die kroon lyk veel meer soos ’n koning se hooftooisel as na ’n virus. Dié werk bestaan uit olie, was en lateksrubber. Kyk ons mooi na die kroon, sien ons subtiele verwysings na myntorings in die bokant van die hooftooisel. Die “spykers” wat met COVID-19 geassosieer word, is vervang met die koorsdrome van moontlike rykdom in ’n uitgemergelde samelewing. Lateks is natuurlik ook waarvan die meeste kondome gemaak word, wat ’n baie beduidende interteks ontsluit na ’n ander virus wat steeds onder mynwerkers maai, al is MIV deesdae totaal behandelbaar en voorkombaar.
Die groot impak van die mynaktiwiteit op die omgewing is ook in haar fotografie gedokumenteer.
Allen se deel van die uitstalling dek verskeie mediums: oliewerk, lynsketse, linowerk, speldegaatjiefotografie en Holga-fotografie. (Ek verduidelik die gebruik van ’n Holga in die volgende afdeling.)
Allen se CV is indrukwekkend. Sy is by die 2010 Spier Kontemporêre Biënnale vereer; in 2016 wen sy die ABSA-toekenning vir die skone kunste by die Vrystaat-kunstefees; in 2021 volg die Stalsprys; en in 2022 die Villa-toekenning van die Nirox-stigting. Sy was ook al by talle geleenthede ’n inwonende kunstenaar.
André Rose
Rose is ’n mediese dokter en spesialis, maar ook ’n gerekende kunstenaar. Hy was ’n finalis by Sasol se New Signatures in 2018, 2019, 2021 en 2022, by die Thami Mnyele-kunskompetisie in 2018, en by die Vuleka-kunskompetise in 2021. In 2018 was hy ook ’n naaswenner in die New Breed-kunskompetisie.
Rose probeer bewustelik sy kuns gebruik om mense bewus te maak van probleme in ons samelewing, veral waar dit van toepassing is op openbare gesondheid.
Vir hierdie uitstalling is die meeste van sy werk met ’n Holga-kamera gelewer.
Die Holga is ’n goedkoop, massavervaardigde plastiekkamera. Alles, behalwe die sluiter, is van plastiek. Selfs die lens is van plastiek in die weergawe wat Rose gebruik. Dit is ’n filmkamera, ’n ware mik-en-druk wat dikwels nie ’n perfekte foto lewer nie.
Rose gebruik die imperfeksie van die Holga en gaan nog verder. Hy sou opsetlik soms nie die film aandraai voor hy nog ’n foto neem nie. So word twee, of self meer, beelde op een negatief vasgevang.
In ’n besonderse werk genaamd Chasing het Rose byvoorbeeld ’n landskap afgeneem en toe ’n lawaai gehoor. Dit was ’n hond wat ’n bakkie jaag. Sonder om die film oor te haal, het hy gewag tot die hond en die bakkie voor hom is en toe weer geklik.
Die effek is skimmige beelde wat oor mekaar geplak is; twee of meer objekte wat in gesprek staan met mekaar; die hond en die bakkie is daar, maar nie dadelik sigbaar nie.
Rose sê die bepaalde foto is vir hom tekenend van die gejaag na drome wat hierdie mynwerkers dryf.
My lewensmaat het opgelet dat die mense feitlik onsigbaar word in die groot armoede wat só vasgevang word; dit is dikwels eers by ’n tweede kyk dat die mense sigbaar word, skimagtig teen die agtergrond van ’n ander beeld.
Aangesien die Holga ’n redelik swak kamera is, kom baie van die foto’s nie uit soos hulle moet nie. En aangesien Rose soms meer as een foto op een negatief geneem het, het die meeste van sy filmrolle min opgelewer. Sommige het geen bruikbare foto’s gelewer nie. Maar dan, skielik, ’n diamant, ’n bruikbare kunswerk wat hy met die publiek kon deel.
By geleentheid is wel van digitale fotografie gebruik gemaak, soos die keer toe ’n delwer ’n diamant in sy hand kon hou. Dié geleentheid, die oomblik van eureka!, is sekuur vasgevang met ’n digitale foto as dokument.
Kuratorskap en die interdissiplinêre samewerking
Bruce Cadle, koördineerder van die nagraadse program by die Nelson Mandela Universiteit se Departement Beelde Kunste, het by die opening verduidelik hoe belangrik die interdissiplinêre aard van die uitstalling is, vandaar ook hulle versoek aan die mediese skool om iemand te stuur om die amptelike opening van die uitstalling waar te neem. Hulle hoop om sodoende gesprek aan te moedig oor belangrike kwessies in ons samelewing om die grense tussen akademiese dissiplines te laat sak.
Dit was skynbaar die eerste keer dat ’n mediese persoon ’n kunsuitstalling in dié galery open.
Pamela Maseko, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, het die opening bygewoon en in privaat gesprekke bevestig hoe belangrik interdissiplinêre samewerking vir die Mandela-universiteit is.
Elma de Vries het die opening waargeneem en het gevra of kuns en medisyne met mekaar kan dans om van mekaar te leer. Daar is ’n groeiende bewussyn in die mediese wetenskap dat die omgewing, werksomstandighede, werkloosheid en armoede ’n ewe groot mediese probleem is as die alledaagse siektes waarop die biomediese wetenskappe gewoonlik fokus. (Haar volledige toespraak is hier te lees.)
Jonathan van der Walt, ’n dosent in die Departement Beeldende Kunste, was die kurator van hierdie uitstalling. Hy was vol lof vir die twee kunstenaars wat saam met hom gewerk het om die versameling te hang.
’n Deel van die uitstalling is alledaagse gebruiksartikels in die lewens van die mynwerkers wat die kunstenaars op hulle reis versamel het. Hierdie objekte is sentraal geplaas in die hoofuitstalruimte. Die publiek is aangemoedig om daaraan te vat en dit van naderby te besigtig.
Eureka! A journey delving into artisanal diamond mining is oop vir die publiek van 6 tot 29 Maart in die Birdstraat-galery in Gqeberha se middestad. Die deure open om 10:00 en die galery sluit 15:00.
Lees ook:
Can there be a dance between the health sciences and the arts?
Full particulars podcast: Orality and the novel, Zakes Mda’s The Wayfarers' Hymns