Kultuur in XXXL

  • 0

Wat is kultuur?

’n Antropoloog het op ’n tyd gesê kultuur is die geïntegreerde stelsel van sosiaal verworwe waardes en gedragskodes en -patrone wat dien as bakens binne enige gegewe samelewing (Columbian Encyclopedia, 6de uitgawe). Dit sluit nou in tradisies, die kunste en alle manifestasies van die mensdom se intellektuele prestasies wat in die kollektiewe beskou word. Behoudendes van ’n menigte kulture wêreldwyd sal seker met my saamstem dat dit die vooruitgang of ondergang van ’n nasie aantoon.

Ek sien dit as ’n vergrootglas wat die kontoere van veranderinge tussen generasies aandui. Dit bied voorbehoed vir wrywing en twis tussen nasies. Dit is die barometer van vordering op alle gebiede, van tegnologie tot politiek, literatuur tot wetenskap.

Behoudendes van en rolspelers in elke kultuur dra die verantwoordelikheid van elke nasie se vooruitgang as gevolg.  

Hier wil ek myself gou onderbreek om ’n tipe kultuur van silence in Suid-Afrika aan te spreek. ’n Silence wat die “ja baas, nee baas”-mentaliteit nog laat voortbestaan. ’n Silence wat geweld goedkeur. ’n Silence wat inheemse regte onder die mat vee. Die silence wat jy voel wanneer jy die nationality-boks moet tik wanneer jy byvoorbeeld ’n Home Affairs-dokument moet voltooi. Die lys is langer as queues virrie Lotto! Silence is priceless maar dit is die slagoffers wat die prys betaal.

Onthou Marikana.

Vir die instandhouding van ’n kultuur word die publieke platform gebruik vir protes.  Protes: 'n verklaring of handeling wat afkeuring van of beswaar teen iets uitdruk (Google).

So was die tradisie oor die eeue nog voor 1652 en die aankoms van vreemde sogenaamde owerhede wat die lot van die plaaslike volkere verontagsaam en ondermyn het. G’n wonder die klopse-beweging was so prominent onder die slawe nie (soos die capoeira-beweging wat krygskuns as ’n dansvorm gekamoefleer het in Brasilië). Klopse-moppies en ghoemaliedjies was deel van ’n jaarlikse openbare demonstrasie, outlet en tentoonstelling van die oorgrote meerderheid van slawe en inheemse verdruktes se gemoed, alhoewel dit gedoen was sonder om die agterdog van die slawe-eienaars en -eienaresse te wek. Protes was gelyk aan bewusmakingskemas, en struggle songs het die massas verenig teen die duiwel van die dag en om dit te oorwin. Die internasionale media was verward en het gedink ons was gelukkig omdat ons weerstand express in harmony en ritme. Dit was nie gelukkigheid nie. Ons was lively! So het weerstand deur middel van protes as tradisie ontwikkel tot en met 1994.

Protest Grotesque

Sekere schools of thought glo die proteste na 1994 word gedoen onder die auspice om die demokratiese goewerment te laat werk. In die afgelope dekade in postapartheid Suid-Afrika vind daar ongeveer 300 proteste per jaar plaas in gemeenskappe landwyd. Miljoene se frustrasies in salvo’s van Grabouw tot Zimbabwe met stewige teenkanting van die arm van die staat. Daar word ook nie altyd geonderskei tussen ontwrigting en vernietiging nie. Is dit ’n excuse on chaos te veroorsaak? ’n Verdeelde nasie bied net die regte ammunisie vir teenstryding wat dikwels oplossings uitstel oor generasies. ’n Ramp soos die xenofobie-geval in 2008 sou vermy kon gewees het in hindsight, maar die onrustigheid was met behulp van grootskaalse bedrog herlei. Nog ’n voorbeeld van nadelige protesaksie soos #FeesMustFall het deur vandalisme en chaos die studente-aktiviste se boodskap belemmer. Jy moet ’n lyn trek. Ja, geweld is die aard van ’n protes, maar nie alle vorme van geweld is aanvaarbaar nie. Almal is verantwoordelik. Ja, menige keer is diegene van die upper echelons nie toeganklik tydens proteste nie, maar hiervoor moet alternatiewe stappe gedoen word.

Kom (uittreksels uit Afrikaaps)
Kom en sit by my vuurgeheim
En leer van ’n beskawing wat aan Xam sy klieks gegee het
Wie gee aan die stamleier sy kleed?
Sy kroon?
Sy kreet?
Die chromosoom van donderweer en mis lê in die embrio van my bevrugting
Ja, hier staan die genesis van alle bygeloof
Die karos, die pyl en die boog wat jagtery romanties bind
Eland, herder, jakkals, weiveld en leeu is my kind
Die Gorrenhaikhona vang vis in my hooggety
Vandag noem kenners my
Nostalgia soos iets vergete en verlate
En bind my spore in museums
Biblioteke
Skole
Kerke
Parlemente … met intelleksement
Imperialistiese drekspul met hul titels van impotens
Hah!
Die stories sal vertel word deur die mense wat die taal praat.

Swagganomix

Jongspanne het regoor die wêreld sosiale bewegings aangehelp en gedryf. Van nuwe idees tot posts teen die gevestigde orde. Op die frontline van transformasie met die hoop om die lewens van miljoene te verbeter. Jongelinge het meer energie, hashtags en  moerse groter sosiale netwerke wat kan dien as dirigente vir die oordrag van idees en mobilisering in vergelyking met die ouer generasie. Hulle is meer geneig om die nuutste tegnologie in te span vir die verspreiding van boodskappe deur middel van hul innovasie in die gebruik van media. Jou hoërskoolleerder het meer band width en tyd as die ouer garde en groter kans om risiko’s te neem in die geveg teen die status quo wat hulle ’n oorweldigende magtige element maak as ’n deelnemer vir verandering.

So, jongelinge wat dit lees, respekteer jou geskiedenis, anders het jy nie ’n toekoms nie. Soos Korina Emmerich, kampvegter vir Volhoubare Modes, lament: As jy die geskiedenis ken van die assimilasie in “wit kultuur”, dan weet jy waar die pyn vandaan kom. In die fashion world word inheemse vrouens veral overtly geseksualiseer, volgens haar, en dit voel soos ’n moderne volksmoord. Vroumense word as heilig beskou in ons gemeenskap en die manier waarop die media hulle uitbeeld is absoluut walglik. As jy enigsins geïnspireer word deur inheemse kulture, tel die phone op en kontak hulle direk. Daar is so baie wat toevertroud is met die skills om jou te assist daarmee.

Politiek is net ’n klomp morals en ethics. Morele waardes het geen age limit nie. Analyse die feite en onderskei met jou eie opinies. Staan by jou punte sonder om te swig onder die haze van propaganda se slinkse bewoording. Kies om onthou te word as mense in ’n tyd wanneer die wêreld dit die meeste nodig het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top