Kriminele residivisme

  • 3

Foto: Canva

“As the saying goes, ‘The degree of civilization in a society can be judged by entering its prisons.’ Nelson Mandela clearly agreed. As he himself said, ‘No one truly knows a nation until one has been inside its jails. A nation should not be judged by how it treats its highest citizens, but its lowest ones’” (Guilmour, ongedateer).

Kriminele residivisme is ’n knelpunt van fenomenale omvang in Suid-Afrika, sowel as op internasionale gebied. Die term verwys spesifiek na die herhaling van kriminele gedrag, veral nadat vonnisse uitgedien is of ’n rehabilitasieprogram voltooi is. Die term word algemeen in die strafregstelsel gebruik om die neiging van individue te beskryf om, weer soos voorheen, aan kriminele aktiwiteite deel te neem. In aansluiting hierby sê Koen (2024) dat sedert die doodstraf afgeskaf is, bestaan daar geen voldoende afskrikmiddel vir misdadigers nie. Volgens die Amerikaanse National Institute of Justice is ’n operasionele definisie vir residivisme soos volg: “Criminal acts that resulted in rearrest, reconviction or return to prison with or without a new sentence during a three-year period following the person’s release.”

Terugval (relapse) moet noukeurig van kriminele residivisme onderskei word. Terugval verwys normaalweg na die terugkeer (veral) van onder andere mediese toestande of problematiese gedrag, dikwels in die konteks van verslawing of dwelmmisbruik. Dit word algemeen geassosieer met kwessies soos dwelmverslawing, alkoholisme of ander gedragsversteurings waar individue hul vorige gedragspatrone hervat ná ’n tydperk van onthouding of verbetering. Indien ’n persoon, nadat ’n rehabilitasieprogram vir alkoholisme suksesvol voltooi is, weer begin om alkohol te misbruik, sal dit as terugval beskou word.

Wat die insidensie van kriminele residivisme betref, is die betroubare en geldige meting van die effektiwiteit van die programme en intervensies wat aanvanklik ontwerp is om kriminaliteit te rehabiliteer, van besondere belang.

Waarom is die residivismekoers in Suid-Afrika so hoog? Volgens Venter (2023) is die residivismevlak (konserwatief geskat) in Suid-Afrika tussen 50%–70%. Daar is selfs navorsers wat die koers as veel hoër (55%–95%) aangee (Louw 2024). Word te veel persone nie dalk tot gevangenisse toegelaat en te veel word weer te gou vrygelaat nie? Die stelling word selfs gemaak dat ’n “land oor die getal misdadigers beskik wat die betrokke land verdien”. Vertolking van dié stelling is veral betekenisvol wanneer die sosio-maatskaplike omstandighede waaruit baie misdadigers afkomstig is, sowel as hul intense blootstelling aan armoede en werkloosheid as oorsaaklike faktore van misdaad en residivisme in ag geneem word (Louw 2024). Indien die omstandighede om nie te verander nie beter sou wees as die omstandighede nadat verander is, om watter redes sou ’n gevangene dan gemotiveerd wees om sy/haar gedrag te verander? (Loxton 2024). Wat behels die inhoudskwaliteit van die rehabilitasieprogramme waaraan gevangenes blootgestel word?

........
Residivisme word gesien as ’n kernkonsep in kriminaliteit omdat dit die mate weerspieël waartoe oortreders voortgaan of ophou met kriminele gedrag nadat hulle gestraf of gerehabiliteer is.
........

Verdere moderatorveranderlikes waaroor daar steeds geen klinkklare antwoorde bestaan nie, is die volgende: Hoe beïnvloed die graad van ernstigheid van die oortreding die rehabilitasieproses, die uitkomste en die residivismekoers? Beïnvloed ’n vorige verhouding tussen oortreder en slagoffer die uitkoms van restouratiewe regsplegingsprogramme? Is jonger oortreders meer vatbaar vir suksesvolle rehabilitasie as ouer oortreders? Hou die kwaliteit van opleiding van mediators verband met die suksesvolle uitkomste van die rehabilitasieproses?

In hierdie artikel word ’n seleksie van konsepte, beginsels en benaderings kortliks toegelig. Dit sluit in herstellende geregtigheid en rehabilitasie; die belangrikheid van residivisme; enkele teoretiese beskouings op grond waarvan die aard van residivisme beter verstaan en toegelig kan word, asook die Noorweegse model van rehabilitasie en herstellende geregtigheid (restorative justice programming) as ’n internasionale voorloperbenadering (state of art) met betrekking tot die bestuur van residivisme.

Herstellende regspleging en rehabilitasie

In herstellende of restouratiewe regspleging word die fokus hoofsaaklik geplaas op die herstel van die skade wat deur die oortreding veroorsaak is, en die herstel van verhoudings tussen die oortreder, slagoffer en die gemeenskap. Die proses behels direkte kommunikasie tussen die oortreder en die slagoffer, wat die oortreders in staat stel om verantwoordelikheid vir hul dade te neem en aktief deel te neem aan die herstel van verhoudings.

Op hierdie wyse word die grondoorsake van kriminele gedrag aangespreek en aanspreeklikheid en genesing binne die gemeenskap bevorder.

By kriminele rehabilitasie word gekonsentreer op die verandering van die oortreder se gedrag, houdings en vaardighede om sodoende toekomstige kriminele aktiwiteite te voorkom. In die proses word van opvoedkundige, psigoterapeutiese en beroepsontwikkelingsprogramme gebruik gemaak, met die doel om die oortreder op te lei en te rehabiliteer, meestal binne die grense van ’n korrektiewe fasiliteit.

Terwyl in herstellende regspleging sowel as kriminele rehabilitasie gepoog word om kwessies wat verband hou met kriminele gedrag, aan te spreek, plaas herstellende regspleging ’n sterk klem op die herstel van skade en die herstel van verhoudings. Kriminele rehabilitasie fokus weer meer op die verandering van die oortreder se intrinsieke gedrag deur middel van verskeie programme en intervensies.

Belangrikheid van residivisme

Waar residivisme ter sprake kom moet daar ’n duidelik identifiseerbare beginpunt wees soos ontslag op parool of voltooiing van ’n rehabilitasieprogram. Na afloop van hierdie gebeurtenis moet daar een of ander vorm van “mislukking” voorkom (byvoorbeeld herarrestasie weens ’n verdere geweldsmisdaad). Derdens volg ’n opvolgperiode en hierdie nuwe periode word as ’n residivisme-vensterperiode beskou.

Residivisme word gesien as ’n kernkonsep in kriminaliteit omdat dit die mate weerspieël waartoe oortreders voortgaan of ophou met kriminele gedrag nadat hulle gestraf of gerehabiliteer is. Residivismekoerse hou ook implikasies in vir die doeltreffendheid en doelmatigheid van die strafregstelsel, sowel as die sosiale en ekonomiese kostes van misdaad. Residivisme kan beïnvloed word deur verskeie faktore, soos individuele persoonlikheidseienskappe, sosiale en omgewingsfaktore, asook die tipe en kwaliteit van rehabilitasieprogramme. Daarom is doelbewuste pogings om verlaging van residivismekoerse te bevorder, ’n belangrike doel van die kriminologie- en strafregbeleid.

Enkele teoretiese gesigspunte

  • ’n Basiese teoretiese vertrekpunt by kriminele rehabilitasie is dat die uitkomste van programme objektief meetbaar (of assesseerbaar) moet wees, ten einde die risiko van residivisme te verlaag. Die effektiwiteit en akkuraatheid van die bestaande algoritmiese risikoassesseringshulpmiddels in die voorspelling van residivisme is ’n onderwerp wat voortdurende meningsverskille oplewer. Daar is ’n sterk behoefte om hierdie hulpmiddels te verfyn en te verbeter deur die instrumente se voorspellingsgeldigheid te verhoog.

Residivisme-risikoassessering en risikovoorspelling kan een en dieselfde proses of twee verskillende prosesse wees (Walters 2017).

Voorstanders van risikoassesseringstegnieke (Hamilton 2020) gebruik ongelukkig dikwels die term gevalideerde instrumente, selfs wanneer hulle staatmaak op ’n enkele maatstaf wat ’n uiters beperkte en potensieel misleidende perspektief bied op die geldigheid en betroubaarheid van hierdie instrumente. Sommige kundiges erken selfs dat sommige instrumente nie op ’n aanvaarbare standaard funksioneer om hul nut te regverdig by die neem van belangrike strafregtelike besluite nie.

By risikoassessering van residivisme is veral drie teoretiese konsepte van belang (Hamilton 2020).

Die eerste kwessie in verband met die benutting van wetenskaplike getuienis in ’n regsgeding, is relevansie, ook bekend as geskiktheid/gepastheid (fitness) van die getuienis vir die doel wat ter sprake is. Geskiktheid word gewoonlik nie deur statistiese kriteria bepaal nie. Selfs ’n instrument wat goed presteer met die voorspelling van residivismerisiko sal onvanpas wees om ’n regsbesluit te informeer waar risiko vir residivisme normaalweg nie ter sprake is nie (byvoorbeeld tydens regsuitsprake en skuldigbevindings). Indien die instrument gebruik word om te informeer oor die tipe rehabilitasieprogram ná vonnisoplegging, sal ’n hulpmiddel wat ook die individu se kriminologiese behoeftes (soos swak selfbeheer, antisosiale persoonlikheidstrekke, disfunksionele gesinsisteem) aanspreek, geskik wees vir daardie doel. Hulpmiddels wat residivismerisiko tot ver in die toekoms voorspel (byvoorbeeld oor ’n twee, vyf of 10 jaar periode) sal onvanpas wees wanneer regsbesluite met korttermynrisiko in verband staan. ’n Instrument wat gebruik word om die residivismerisiko van volwasse oortreders te voorspel, se gepastheid sal onder verdenking wees wanneer besluite oor jeugdige oortreders geneem word.

’n Verdere kwessie van residivismerisiko-meetinstrumente handel oor die akkuraatheid van die resultate wat opgelewer word. Dit verwys na die diskriminasiegeldigheid van die instrument. Met ander woorde, beskik die instrument oor die vermoë om potensiële residiviste van nie-residiviste doeltreffend te onderskei.

Betroubaarheid is die derde psigometriese dimensie en hou verband met die interbeoordelaarsbetroubaarheid van die evalueerders of gebruikers van die instrument. Die metingsuitkomste soos verkry op grond van die toepassing van die instrument moet geloofwaardig wees en ondersteuning bied aan die alledaagse praktiese ervaring met die geneigdheid van oortreders tot residivisme.

  • In immuniteitsleer (of inokulasieteorie) is die vertrekpunt dat die oortreder se rasionele besluitnemingsvermoë tydens die psigoterapeutiese proses versterk word om sodoende deeglike weerstand te kan bied teen toekomstige versoekings vanuit die sosiale omgewing om weer misdade te pleeg (Matusitz en Breen 2013). Die proses staan bekend as kognitiewe herstrukturering. Die risiko vir onaanvaarbare gedrag (met ander woorde herhaling van misdaad) word geminimaliseer deur te voorkom dat negatiewe houdingsveranderinge deur nuwe snellergebeurtenisse (byvoorbeeld nuwe versoekings) plaasvind. Tydens die terapeutiese proses word die oortreder aanvanklik deeglik daarop voorberei dat hy/sy ná ontslag ongetwyfeld weer die prooi van herhaalde versoekings sal wees. Dit verwys na die bedreigingsbestanddeel (threat element) in immuniteitsteorie.

Die tweede kernbestanddeel is kognitiewe verplasing, met ander woorde, deeglike vaslegging van die idee by die oortreder dat toekomstige terugval in die herhaling van misdaad nooit ’n haalbare opsie mag wees nie (refutational pre-emption). Beide hierdie terapeutiese bestanddele is van kardinale belang om voldoende weerstand by oortreders te bewerkstelling om toekomstige oorredende boodskappe selfstandig uit hul houdingsraamwerke te verdryf.

  • Selfbeskikkingsteorie (self-determination theory) is ’n empiries-gebaseerde teorie van selfmotivering en -ontwikkeling (Van der Helma, Kuiper en Stams 2018). Die kernhipotese hier is dat geïnternaliseerde (intrinsieke) motivering, in teenstelling met eksterne of gedwonge motivering (wat tot demotivering kan lei), aanleiding gee tot beter uitkomste op ’n wye reeks terreine, soos kwaliteit van werksprestasie, akademiese prestasie, sosiale integrasie en selfs vordering tydens psigoterapie.

Dit word verder ook voorgehou dat intrinsieke en ekstrinsieke motivering nie noodwendig negatief korreleer nie, maar eerder beskou moet word as ’n weerspieëling van verskillende grade van selfbeskikking. Selfbeskikking behels dat ’n persoon optree op grond van vrye keuse en wilsbesluitneming, eerder as op grond van eksterne verpligtings of eksterne druk. Voldoende intrinsieke motivering, die prototipe van selfbepaalde aktiwiteit, is aan die een pool van ’n teoretiese selfbeskikkingskontinuum geleë. Demotivering (die relatiewe afwesigheid van motivering), daarenteen, word aan die teenoorgestelde kant van die kontinuum geplaas.

Volgens hierdie teorie word selfmotivering beïnvloed deur die impak wat verskeie omgewingsveranderlikes het op persepsies van persoonlike bevoegdheid, persoonlike outonomie en persoonlike aanvaarding. Dit word verder beredeneer dat die ervaring van bevoegdheid, outonomie en aanvaarding ’n aanduiding is dat ’n individu se sielkundige behoeftes vervul word, wat die ontwikkeling van selfmotivering verder stimuleer. Aan die ander kant produseer omgewingsfaktore wat sodanige persepsies benadeel, negatiewe emosionaliteit met ’n negatiewe uitwerking op selfmotivering.

  • Weiss, Hawkins en Despinos (2010) gaan van die standpunt uit dat vorige lewensomstandighede van gevangenes ’n sterk bepalende faktor in die voorspelling van residivismerisiko is. Vorige ervaring van dwelmmisbruik, roekelose seksuele gedrag en blootstelling aan geweld kom algemeen onder gevangenes voor. Oortreders toon ook dikwels ’n hoër insidensie van psigiatriese versteurings en mediese gesondheidsprobleme as nie-gevangenes. Baie oortreders het ’n beduidende aantal stresvolle lewensgebeurtenisse beleef voor inhegtenisneming. Wanneer hul egter weer vrygelaat word, het baie oortreders steeds onvervulde behoeftes wat tot hul herarrestasie kan aanleiding gee. Baie voel onvoorbereid vir vrylating en staan dikwels voor struikelblokke wat gesonde, produktiewe inskakeling by hul gemeenskappe aan bande lê. Die meerderheid oortreders wat gedurende 2003 uit Noorweegse tronke vrygelaat is, was op ’n stadium in hul lewe voor inhegtenisname in voltydse poste werksaam, maar dit het ongeveer 30 maande geneem vir 30% van hulle om ná ontslag weer in diens geneem te word. Indiensneming het statisties beduidend verband gehou met ’n laer risiko van residivisme vir alle kategorieë oortredings (Skardhamar en Kjetil 2012).

Gevangenes verteenwoordig dikwels die ekonomiese randfigure van die gemeenskap. Staat-gewaarborgde finansiële ondersteuning om korttermynbehoeftes soos behuising sinvol aan te spreek, kan die risiko vir residivisme beduidend verlaag. Die sterkste voorspellers van residivisme is om werkloos te wees gedurende die 12 maande periode voor inhegtenisneming, ’n geskiedenis van psigiatriese versteurings en ’n rekord van vorige inhegtenisneming. Suksesvolle deelname aan interne rehabilitasieprogramme, voorkoming van dwelmmiddelmisbruik, asook opvoedkundige programme en werkvaardigheidsontwikkeling is statisties gesproke uitstekende voorspellers van laer residivismerisiko’s.

Benewens die beperkte getal teoretiese konsepte waarna hierbo verwys is, kom verskeie ander benaderings in die literatuur voor, byvoorbeeld Merton se stresteorie, die etiketteringsteorie en die roetine aktiwiteitsteorie op grond waarvan die aard van residivisme verder toegelig word.

Noorweë

Noorweë se gevangenisstelsel het gedurende die 1990’s ’n radikale transformasie ondergaan. Die benadering het verskuif van ’n strafbenadering na ’n fokus op rehabilitasie en herintegrasie van oortreders. Noorweë se gevangenismodel, wat klem lê op kleiner, gemeenskapsgebaseerde korrektiewe fasiliteite, het ’n wêreldwye nastreefbare model geword. Uitstaande kenmerke sluit in die plasing van gevangenes in korrektiewe fasiliteite relatief naby aan die gemeenskappe waaruit hul afkomstig is; gereelde besoeke deur vriende en familie; uitskakeling van stigmatisering en ’n fokus op vaardigheidsontwikkeling.

Prominente voorbeelde van Noorweegse fasiliteite sluit in die Halden-gevangenis, bekend vir sy menslike toestande en geriewe soos ’n fiksheidsentrum en opname-ateljee. Die Bastøy-gevangenis, wat op ’n eiland geleë is en bekend is vir die aanmoediging van besoeke deur eggenote, kinders en familie aan gevangenes. Die Ullersmo-gevangenis is die grootste korrektiewe fasiliteit. Hier word voorsiening gemaak vir aggressiewe en gewelddadige misdadigers, maar steeds gepaardgaande met professionele rehabilitasieprogramme as ’n basiese prioriteit.

Radikale hervormings aan die stelsel het die uitskakeling van lewenslange vonnisse ingesluit en is vervang met ’n maksimum vonnis van 21 jaar (onlangs verleng tot 30 jaar vir spesifieke misdade). Noorweë se fokus op rehabilitasie het gelei tot ’n aansienlike afname in residivisme, met slegs 20% van die oortreders wat binne twee jaar ná vrylating weer oortree het en met ’n 25% residivismekoers na verloop van vyf jaar. Die rehabilitasiebenadering het ook ’n positiewe impak op die ekonomie, deurdat indiensnemingsyfers onder voormalige gevangenes verhoog word.

........
Die filosofie is gewortel in die behandeling van gevangenes as individue met volwaardige menswaardigheid om sodoende hul hertoetrede tot die samelewing te vergemaklik en hul vaardighede, selfvertroue en selfrespek te ontwikkel.
........

Noorweegse gevangenisse handhaaf sekere basiese menseregte, soos om te mag stem tydens verkiesings, om verdere opleiding te ontvang en deel te neem aan buitemuurse aktiwiteite. Die filosofie is gewortel in die behandeling van gevangenes as individue met volwaardige menswaardigheid om sodoende hul hertoetrede tot die samelewing te vergemaklik en hul vaardighede, selfvertroue en selfrespek te ontwikkel.

Elektroniese monitering (EM) in Noorweë word gebaseer op die modelle en vorige ervaring van Denemarke en Swede. By elektroniese monitering word radiofrekwensie of ander tegnologie gebruik om inligting te verskaf oor presies wat ’n oortreder se bewegings is (Andersen en Telle 2022).

EM is aansienlik goedkoper as beide gewone gevangenisse en standaard gemeenskapstoesig, en om ’n vonnis met behulp van EM uit te dien, kan die oortreder in staat stel om werksverpligtinge te handhaaf, belasting te betaal en by die gemeenskap betrokke te raak.

’n Spesifieke doel van die EM-program in Noorweë was aanvanklik om tekorte in tronkkapasiteit aan te spreek, wat gelei het tot ’n seldsame verskynsel van tronk-waglyste in Noorweë. Die Noorweegse EM-program maak gebruik van radiofrekwensie-tegnologie om te verseker dat oortreders voldoen aan ’n persoonlike weeklikse skedule wat tussen 15 en 40 uur se werkverwante, buitenshuise aktiwiteite insluit (byvoorbeeld onderrig, indiensnemingsgerigte programme, vrywilligerswerk en gereelde betaalde werk), sowel as gereelde supervisie-afsprake met die Noorweegse Korrektiewe Diens.

Ander lande, insluitend sommige Amerikaanse deelstate, het pogings aangewend om elemente van die Noorweegse stelsel te implementeer. Die sukses van sodanige stelsels hang egter onder andere af van wydverspreide maatskaplike steun en spesifieke ekonomiese oorwegings. Noorweë bestee aansienlik meer per kapita aan oortreders in vergelyking met die Verenigde State, wat vrae laat ontstaan oor die haalbaarheid van so ’n benadering in lande met verskillende waardes en finansiële beperkings.

Noorweë se gevangenisstelsel, met ’n primêre fokus op rehabilitasie, restouratiewe regspleging en respek vir gevangenes se menswaardigheid, het bewys dat die residivismekoers verlaag kan word en dat rehabilitasie tot die daarstelling van ’n veiliger samelewing kan bydra. Die duplisering van hierdie model in ander lande kom egter voor uitdagings te staan wat verband hou met kritiese maatskaplike houdings en ekonomiese implikasies.

Ten slotte

Dit is van kritiese belang om die langtermyn-doeltreffendheid van rehabilitasieprogramme vir en intervensies met kriminele oortreders doeltreffend te evalueer. Om te bepaal watter tipe programme mees doeltreffend is vir die verlaging van kriminele residivismekoerse, is ’n deurlopende uitdaging om sodoende die welwese van oortreders en die samelewing in die algemeen te verbeter.

Die effektiwiteit en akkuraatheid van bestaande risikoassesseringshulpmiddels vir die voorspelling van kriminele residivisme is ’n onderwerp van voortdurende debattering. Daar is ’n behoefte om hierdie hulpmiddels psigometries te verfyn en te verbeter ten einde hul voorspellingsgeldigheid te verhoog.

Die uitdagings wat oortreders ná vrylating ten opsigte van gemeenskapherintegrasie ervaar en die identifisering van doeltreffende strategieë om suksesvolle herintegrasie te ondersteun, behoort voortdurend die fokus van kenners op hierdie terrein te bly.

Dit is laastens belangrik om op hoogte te bly van die nuutste navorsingsbevindings en ontwikkelinge op die terrein van kriminaliteit, restouratiewe regspleging en residivisme, aangesien nuwe navorsingsbevindings verdere insigte mag oplewer ten einde hierdie en ander dringende toepaslike vrae sinvol te konseptualiseer.

In hierdie verband is verdere navorsing en ontwikkeling in verband met die elektroniese monitering van oortreders ’n goeie voorbeeld.

Bibliografie

Andersen, SN en K Telle. 2022. Better out than in? The effect on recidivism of replacing incarceration with electronic monitoring in Norway. European Journal of Criminology, 19(1):55–76.

Guilmour, G. Ongedateer. The Nelson Mandela Rules: Protecting the rights of persons deprived of liberty. United Nations Chronical. The Nelson Mandela Rules: Protecting the Rights of Persons Deprived of Liberty | United Nations

Hamilton, M. 2020. Judicial gatekeeping on scientific validity with risk assessment tools. Behavioral Sciences and the Law, 38:226–45.

Koen, T. 2024. Ergste misdadigers kry parool. Die Burger Forum. 19 Januarie 2024.

Louw, DAP. 2024. Kliniese sielkundige en kriminoloog. Persoonlike kommunikasie. Stellenbosch, 16 Januarie 2024.

Loxton, L. 2024. Ouditeur. Persoonlike kommunikasie. Stellenbosch, 16 Januarie 2024.

Matusitz, J en G-M Breen. 2013. Applying inoculation theory to the study of recidivism reduction in criminal prison inmates. Journal of Evidence-Based Social Work, 10(5):455–65. DOI: 10.1080/15433714.2012.760929.

Skardhamar, T en T Kjetil. 2012. Post-release employment and recidivism. Journal of Quantitative Criminology, 28(4):629–49.

Van der Helma, GHP, Kuiper, CHZ, en Stams, GJJM. 2018. Group climate and treatment motivation in secure residential and forensic youth care from the perspective of self determination theory. Children and Youth Services Review, 93:339–44.

Venter, N. 2023. Wat behels ’n lewenslange vonnis? ’n Uiteensetting van die paroolproses in Suid-Afrika, asook moontlike remedies vir misdaadslagoffers wat by dié proses uitgesluit word. LitNet Akademies, 20(3). LitNet_Akademies_j20n3e1_Venter.pdf

Walters, G. 2017. Beyond dustbowl empiricism. The need for theory in recidivism prediction research and its potential realization in causal mediation analysis. Criminal Justice and Behavior, 44(1):40–58. DOI: 10.1177/0093854816677566.

Weiss, JA, JW Hawkinsen en C Despinos. 2010. Redefining boundaries: A grounded theory study of recidivism in women. Health Care for Women International, 31(3):258–73. DOI: 10.1080/07399330903052160.

Lees ook:

Wat behels ’n lewenslange vonnis? ’n Uiteensetting van die paroolproses in Suid-Afrika, asook moontlike remedies vir misdaadslagoffers wat by dié proses uitgesluit word

Strafoplegging vir dummies

 

  • 3

Kommentaar

  • Ludolph Botha

    Uitstekende artikel en die terugvalfaktor uiters kommerwekkend wat Suid-Afrika betref. Noorweë stel ’n besondere navolgingswaardige voorbeeld.

  • Koos Holtzhausen

    Uitstekende artikel.

    "EM is aansienlik goedkoper as beide gewone gevangenisse en standaardgemeenskapstoesig, en om ’n vonnis met behulp van EM uit te dien, kan die oortreder in staat stel om werksverpligtinge te handhaaf, belasting te betaal en by die gemeenskap betrokke te raak."

    Ek voel al lankal dat EM-monitering (sensor om die been?) te maklik afgemaak word.

    Oorbevolking van tronke kan uitgeskakel word. Ons het goeie elektroniese ingenieurs wat onfeilbare monitering- en datastelsels kan bedryf.

    Wat nodig is, is die politieke wil om so 'n stelsel op groot skaal te implementeer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top