|
Opsomming
Parool en die paroolproses, asook die konsep van lewenslange gevangenisstraf, is dikwels verwarrend vir die algemene publiek. Onlangse mediaberigte oor slagoffers wat beweer dat hulle nie by die paroolproses betrek is nie, noodsaak ’n verduideliking van die regte van slagoffers van misdade (of hul naasbestaandes) ten opsigte van hierdie proses. Die bydrae ondersoek ook moontlike remedies wat sulke persone kan inspan indien hul reg om deel te neem aan die paroolproses verontagsaam is. Hierdie remedies sluit in ’n aansoek ten opsigte van die reg op toegang tot inligting, asook die tersydestelling van ’n besluit jeens parool op grond van ’n bewering van arbitrêre administratiewe optrede. Die bydrae oorweeg en analiseer verskeie relevante hofuitsprake, asook die toepaslike wetgewing om die betreklik ingewikkelde konsep van parool op ’n logiese en eenvoudige wyse te verduidelik.
Trefwoorde: Departement van Korrektiewe Dienste; gemeenskapskorreksies; korreksies; Korrektiewe Dienste; lewenslange gevangenisstraf; Minister van Korrektiewe Dienste; parool; paroolraad; straf; vonnis
Abstract
What does a life sentence entail? An exposition of the parole process in South Africa, as well as possible remedies for victims of crime who have been excluded from this process
Parole and the parole process, as well as the concept of lifelong sentences, are often perplexing to the layperson. Recent media reports in which victims of crime (or their next of kin) aver that they had not been included in the parole process of their perpetrators, necessitates an exposition of the rights of victims of crime regarding this process. The history of the parole process in South Africa is, therefore, briefly discussed and compared with the current parole process. The role of the victims of crime or their next of kin and their right (guaranteed to them by the Criminal Procedure Act 51 of 1977) to participate in this process with regard to perpetrators who have received lifelong sentences, are also considered. The recent release on parole of the sentenced attackers of Alison Botha is an important case study in this regard and is therefore discussed in detail. This contribution deals only with sentences of life incarceration or undetermined sentences. Undetermined sentences can be imposed by a court in terms of section 286B of the Criminal Procedure Act on perpetrators whom the court has declared to be dangerous criminals. (In such cases the sentencing court, and not the minister of correctional services or parole board, has the power to determine whether a sentenced offender should be released on parole.)
This contribution explores the possible remedies that are available to such persons who assert that their statutory right to participate in the parole process has been infringed upon. These remedies include an application in terms of the right to access to information, as well as an application for the possible setting aside of a parole decision based on an allegation of arbitrary administrative action in terms of the Promotion of Administrative Justice Act 3 of 2000 (PAJA). It is not far-fetched that such a victim of crime or their next of kin could bring an application in terms of the Promotion of Access to Information Act 2 of 2000 (PAIA) for information regarding the parole conditions of their perpetrators. The information regarding parole conditions does not fall under any of the exclusionary provisions regarding access to information under PAIA, because the parole decision is usually taken by the Executive (i.e. the minister of correctional services) in terms of life sentences.
The contribution considers and analyses relevant judgments such as Van Wyk v Minister of Correctional Services 2012 1 SACR 159 (GNP), Phaahla v Minister of Justice and Correctional Services (Tlhakanye Intervening) 2019 ZACC 18, and Waluś v Minister of Justice and Correctional Services 2022 ZACC 39 to determine the ambit of the courts’ power when determining a non-parole period, especially pertaining to lifelong sentences. The relevant judgments, as well as the Correctional Services Act 111 of 1998 and the Correctional Services Act 8 of 1959, are analysed to determine what a sentence of life incarceration actually entails, and also to explain what the victims of sentenced persons can expect from the parole process and the time frames applicable thereto.
The purpose is not to aver that the parole outcome of all “lifers” should be reviewed. Indeed, the hope is expressed that the goal of the Correctional Services Act (own emphasis) is achieved. This aim is to rehabilitate and correct sentenced offenders to ensure that they can once again become contributing members of society who pose no danger to their communities. It is, however, doubtful that the Department of Correctional Services can, in all cases, be relied on to achieve the correction of sentenced offenders, because of the high level of recidivism in the country. The case of S v Makhubela 2023-7-14 CC60/21 ZAGPPHC (KH) is singled out as an example case in which all three accused persons who had been found guilty and sentenced to life imprisonment for murder committed the act while out on parole for committing previous violent crimes.
One of the cornerstones of the rehabilitation process is remorse – this is reiterated by Chief Justice Zondo in the Waluś case. It is, however, doubtful whether remorse can truly be expressed if sentenced offenders are not afforded the opportunity to exhibit this penitence to the victims of their crimes (in writing or in person if the victims so wish). This cannot be done if there is no victim-offender dialogue before the parole process is concluded because the proven rehabilitation of a sentenced offender is a prerequisite of parole. It is the responsibility of the Department of Correctional Services to facilitate this dialogue and ensure that victims or their next of kin are at least informed of the commencement of the parole process. The Waluś judgment confirms the Department’s commitment to ensuring that the victims of crime or their next of kin are included in the parole process. It is, however, submitted that this commitment should be consistent across the board. The Department should afford all victims of crime in cases of offenders who have been sentenced to life incarceration the opportunity to participate in the parole process – as required by law.
The Waluś judgment confirms the principle that the Minister cannot arbitrarily decide to give or withhold parole. Unfortunately, the only existing recourse for victims or their next of kin who had expressed the wish to be, but were not, included in the parole process of their perpetrators, is therefore to approach the courts for intervention.
Keywords: community corrections; correctional services; Department of Correctional Services; life incarceration; life sentence; Minister of Correctional Services; parole; parole board; penalty; punishment; sentence; victims of crime
1. Inleiding
Op 14 Julie 2023 het die Noord-Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof in Pretoria drie beskuldigdes lewenslange gevangenisstraf opgelê vir onder meer die moord op Dries Nieuwoudt en poging tot moord op sy vrou.1 Al drie die beskuldigdes was uit op parool vir die pleeg van vorige misdrywe toe hulle die moord gepleeg het. Regter Papi Mosopa het in sy uitspraak benadruk dat die gemeenskap moeg is vir misdaad en dat dit uiters kommerwekkend is dat al drie beskuldigdes ’n rits vorige veroordelings teen hulle het vir soortgelyke gewelddadige misdade. Volgens regter Mosopa: “Dit is uiters kommerwekkend. Daar is ’n proses voordat iemand op parool uitgelaat kan word. Tog is hierdie net een van talle sake voor my waar oortreders op parool nog misdade pleeg. Dit is hoog tyd dat die paroolvrylatingsproses heroorweeg word.”
Die feit dat die aanvallers van Alison Botha ook onlangs op parool vrygelaat is, het skokgolwe deur die Suid-Afrikaanse samelewing gestuur. Botha beweer ook in verskeie mediapublikasies dat sy nooit betrek is by die paroolaansoekproses van Theuns Kruger en Frans du Toit nie.2 Du Toit en Kruger is daaraan skuldig bevind dat hulle Botha, asook twee ander vrouens, in die 1990’s verkrag het. Hulle het ook vir Botha gewelddadig aangeval en haar vir dood in bosse langs die pad agtergelaat. Regter Chris Jansen het die twee in Julie 1995 tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis, hulle as “inherent boos” beskryf en aanbeveel dat hulle nooit parool moet kry nie.3
Die kwessie wat Jan Publiek dan raadop het, is waarom oortreders soos Du Toit en Kruger dan wel nie lewenslank in korrektiewe sentrums opgesluit word nie en toegelaat word om weer by die samelewing aan te sluit.
Hierdie bydrae poog om meer duidelikheid oor parool te verskaf deur die geskiedenis van parool in Suid-Afrika, howe se magte met vonnisoplegging, asook die doel van parool en die paroolproses uiteen te sit. Verder word die rol van die slagoffer met die toestaan van parool, asook moontlike remedies vir persone wat op ’n irrasionele wyse van die proses uitgesluit is, bespreek, en aanbevelings word gemaak. Slegs die posisie ten opsigte van vonnisse van lewenslange gevangenisstraf, asook onbepaalde vonnisse, word, ter wille van bondigheid, behandel. Onbepaalde vonnisse kan deur ’n hof opgelê word kragtens artikel 286B van die Strafproseswet 51 van 1977 (hierna “die Strafproseswet”) ten opsigte van persone wat tot gevaarlike misdadigers verklaar is – sulke gevalle word hier onder ontleed.
2. Die geskiedenis van parool in Suid-Afrika
2.1 Lewenslange vonnisse – die posisie voor 1 Oktober 2004
Ná Uniewording in 1910 is die konsep van parool vir die eerste maal formeel deur die Britte in 1911 aan die Suid-Afrikaanse strafregstelsel in sy geheel bekendgestel.4 Dit het behels dat gevangenes vroeër op ’n proeftyd vrygelaat kon word of selfs laagbetalende arbeid kon verrig as ’n beloning vir goeie gedrag.5 Die Wet op Korrektiewe Dienste 8 van 1959 (hierna “die ou Wet”) het egter die sistematiese toepassing van parool in Suid-Afrika bewerkstellig, welke wetgewing en verwante beleide al verskeie keer die tydperk van nieparoolperiodes gewysig het.6 (’n Nieparoolperiode is ’n tydperk, soos deur die hof of wetgewing bepaal, wat ’n oortreder fisies in ’n korrektiewe sentrum moet uitdien.)7
Tussen Augustus 1987 en Maart 1994 byvoorbeeld het oortreders wat lewenslange gevangenisstraf opgelê is, binne 10 jaar nadat hul gevonnis is, in aanmerking gekom vir parool, maar die Konstitusionele Hof het opgemerk dat dit slegs in uitsonderlike omstandighede die geval was dat oortreders parool toegestaan is voordat hulle ten minste 15 jaar van hul vonnisse uitgedien het.8 (Die voor die hand liggende rede vir hierdie kort nieparooltydperk is dat howe voor die Konstitusionele Hof se uitspraak in S v Makwanyane 1995 3 SA ZACC 391 die doodstraf kon oplê vir misdade wat werklik weersinwekkend was en dat oortreders wat in hierdie tydperk lewenslange gevangenisstraf opgelê is, gewoonlik nie ’n uitermatige gevaar vir die samelewing in sy geheel ingehou het nie.)
Vanaf 1 Maart 1994 tot 30 September 2004 moes gevonniste oortreders ten minste 20 jaar van ’n lewenslange vonnis uitdien voordat hulle in aanmerking kon kom vir parool.9 In 1993 is die ou Wet gewysig deurdat gevonniste oortreders krediete kon verdien vir goeie gedrag wat die tydperk waarvoor hulle in aanmerking sou kon kom vir parool, kon verkort.10 Gevonniste oortreders kon byvoorbeeld krediete opbou vir die nakom van die korrektiewe sentrum se reëls, asook aktiewe deelname aan programme wat gemik was op hul behandeling, opleiding en rehabilitasie.11
Die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998 (hierna “die 1998-Wet”) het in 1998 in werking getree, maar die bepalings ten opsigte van parool het eers op 1 Oktober 2004 van krag geword. Die 1998-Wet het die kredietstelsel wat onder die ou Wet gegeld het, tot niet gemaak. Die wegval van hierdie kredietstelsel na afloop van die implementering van die 1998-Wet het aanleiding gegee tot ’n hofaansoek deur ’n gevonniste oortreder, ene Cornelius Johannes van Wyk, in die Hooggeregshof in Pretoria.12 Van Wyk het ten tye van die aansoek in 2011 reeds 16 jaar van sy lewenslange gevangenisstraf uitgedien. Hy het in sy aansoek aangevoer dat dit ongrondwetlik is dat die kredietstelsel wat gegeld het toe hy gevonnis is, afgeskaf is, en dat die 1998-Wet nie retrospektief geïmplementeer kon word nie. Die hof het Van Wyk gelyk gegee en bevind dat die retrospektiewe toepassing van die herroeping van krediete wat oortreders kragtens die ou Wet opgebou het, teenstrydig is met die beginsel van die oppergesag van die reg.13
Die Departement van Korrektiewe Dienste het kort ná die Van Wyk-uitspraak ’n beleid uitgevaardig ingevolge waarvan die nieparooltydperk verkort is tot 13 jaar en 4 maande vir alle oortreders wat lewenslange gevangenisstraf opgelê is vóór 1 Oktober 2004.14 Die afkondiging van hierdie beleid was vermoedelik om die onafwendbare toevloei van aansoeke soortgelyk aan die Van Wyk-aansoek te temper. Dit is belangrik om daarop te let dat die Van Wyk-uitspraak, asook die voortspruitende beleid, slegs op oortreders wat onmiddellik voor 1 Oktober 2004 gevonnis is, van toepassing was.15
In 2019 het die Konstitusionele Hof egter ’n verdere bevel in hierdie verband gemaak.16 Die applikant, Oupa Chipane Phaahla, ’n gevonniste oortreder, is op 25 September 2004 skuldig bevind op verskeie aanklagte, maar eers op 5 Oktober 2004 tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis – enkele dae nadat die nuwe paroolbepalings in werking getree het. Ingevolge die Van Wyk-uitspraak en die daaropvolgende beleid sou die applikant slegs 13 jaar en 4 maande van sy gevangenisstraf moes uitdien voordat hy in aanmerking kon kom vir parool as hy op dieselfde datum as sy skuldigbevinding gevonnis was. Omdat hy egter ná 1 Oktober 2004 gevonnis is, moes hy ingevolge die 1998-Wet ten minste 25 jaar van sy vonnis uitdien voordat hy in aanmerking sou kon kom vir parool – wat sy nieparooltydperk byna verdubbel het. Die applikant se aansoek was dus daarop geskoei dat die verskillende kategorieë van parool nie toegepas moet word ten opsigte van die datum van vonnis (voor of ná 1 Oktober 2004) nie, maar ten opsigte van die paroolstelsel wat gegeld het op die datum waarop die misdryf gepleeg is. Met ander woorde, indien ’n gevonniste oortreder voor 1 Oktober 2004 die misdryf gepleeg het, moet die bepalings van die ou Wet toegepas word, selfs al is hy eers ná 1 Oktober 2004 gevonnis.17 Die Konstitusionele Hof het, weer eens, die applikant gelyk gegee en die minister verantwoordelik vir korrektiewe dienste beveel om artikel 136(1) van die Wet te wysig sodat dit bepaal dat die datum waarop ’n misdryf gepleeg is, die toepaslike paroolstelsel sal bepaal.18
Dit beteken dat persone wat voor 1 Oktober 2004 ’n misdryf gepleeg het, maar eers ná hierdie datum gevonnis is, ook slegs op die mindere nieparooltydperk (13 jaar en 4 maande) kan staatmaak. Dit is kragtens die nulla poena sine lege-beginsel, wat bepaal dat die straf vir ’n misdaad reeds ten tye van die misdaadpleging in redelik duidelike terme deur die reg vasgelê moet wees en dat ’n hof nie ’n ander straf as die regtens bevoegde straf (wat gegeld het ten tye van die misdaadpleging) mag oplê nie.19
2.2 Lewenslange vonnisse – die posisie ná 1 Oktober 2004
Die term gevangenis of tronk is in 2008 deur die Wysigingswet op Korrektiewe Dienste 25 van 2008 vervang deur korrektiewe sentrum. Hierdie wysigingswet het enige verwysing na die term gevangene geskrap en vervang deur die term gevonniste oortreder. Hierdie veranderinge dui op die klemverskuiwing na die doel om oortreders te rehabiliteer (korrigeer) eerder as blote strafoplegging, en gemeenskapskorreksies (waarby parool inbegrepe is) vorm deel van die nastrewing van hierdie doelwit.
Lewenslange gevangenisstraf is die swaarste vonnis wat tans vir misdadigers opgelê kan word in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel. ’n Persoon wat ná 1 Oktober 2004 ’n misdryf gepleeg het en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is, word geag lewenslank onderhewig aan die korrektiewe stelsel te wees. Die Korrektiewe Toesig- en Paroolraad (hierna “die paroolraad”) of hof kan dus paroolvoorwaardes oplê wat vir die res van die oortreder se vonnis (dit wil sê vir die res van sy lewe) geld. Hierdie paroolvoorwaardes kan egter van tyd tot tyd hersien word.20
Oortreders wat lewenslange gevangenisstraf uitdien en onder die ouderdom van 65 jaar is, kan aansoek doen vir parool nadat hulle 25 jaar van hul vonnisse uitgedien het, maar hierdie aansoek moet steeds deur die paroolraad en minister of hof (in die geval van gevaarlike oortreders) oorweeg word en die minister of hof is by magte om die aansoek af te keur.21 Oortreders wat die ouderdom van 65 jaar bereik en reeds 15 jaar van ’n lewenslange vonnis uitgedien het, mag ook aansoek doen om parool. Die rede vir die onderskeid is dat die gevaar van die pleeg van gewelddadige misdade volgens navorsing dramaties daal nadat hierdie ouderdom bereik is.22
3. Die definisie van parool en die paroolproses
3.1 Die definisie van parool
Die paroolproses word deur die 1998-Wet gereël. Ingevolge artikel 1 van die Wet word parool gedefinieer as “’n vorm van gemeenskapskorreksies beoog in Hoofstuk VI [van die wet]”. Gemeenskapskorreksies word ook in artikel 1 van die 1998-Wet gedefinieer as: “alle niebewakingsmaatreëls en vorme van toesig van toepassing op persone wat onderworpe is aan sodanige maatreëls en toesig in die gemeenskap en wat onder die beheer van die departement is”. Parool word steeds deur die howe beskou as ’n vorm van straf deurdat dit gepaardgaan met die ontneming van ’n oortreder se vryheid (hoewel tot ’n mindere mate as gevangenisstraf), omdat paroolgangers onderworpe bly aan paroolvoorwaardes vir die duur van hul vonnis.23
Die oogmerk van gemeenskapskorreksies, asook parool, is dan ook om te verseker dat persone wat op parool is, by hul paroolvoorwaardes hou ten einde die gemeenskap te beskerm teen die misdrywe wat sodanige persoon dalk kan pleeg.24
Artikel 52 sit hierdie paroolvoorwaardes uiteen, en dit sluit in dat die hof, paroolraad of die nasionale kommissaris mag gelas dat ’n persoon wat op parool geplaas word, onder huisarres geplaas mag word (artikel 52(1)(a)); gemeenskapsdiens moet doen om “die herstel van die verhouding tussen die oortreder en die gemeenskap te fasiliteer” (artikel l52(1)(b)); hom-/haarself daarvan moet weerhou om in verbinding te tree met ’n spesifieke persoon of persone (artikel 52(1)(n)) of om hierdie persoon of persone te dreig deur woord of daad (artikel 52(1)(o)). Die paroolraad is ook veronderstel om genoegsaam ag te slaan op die belange van die samelewing wanneer paroolvoorwaardes oorweeg word.25
Hierdie voorwaardes word na gelang van elke geval oorweeg, maar die voorwaardes word nie aan die publiek bekendgemaak nie. Hier word voorgestel dat, veral in die geval waar oortreders gewelddadige misdade gepleeg het, hierdie paroolvoorwaardes wel geopenbaar moet word – al is dit nie aan die publiek nie, ten minste aan die oortreders se slagoffers of die slagoffers se naasbestaandes, om te verseker dat hulle bewus is van die beperkings wat op hul oortreders se bewegingsvryheid geplaas is en in staat is om enige oortreding van paroolvoorwaardes aan te meld.
In hierdie verband, is dit belangrik om ag te slaan op die bepalings van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting 2 van 2000 (hierna “PAIA”). Die aanhef van PAIA bepaal kortliks dat die doel van PAIA is om gevolg te gee aan die grondwetlike reg op, onder meer, inligting wat deur die staat gehou word welke inligting vir die uitoefening of beskerming van enige regte benodig word. Aangesien die vrylating op parool van oortreders moontlik kan lei tot inbreukmaking op die regte van veral klaers of hul naasbestaandes, word aan die hand gedoen dat hierdie persone wel ’n reg het op die inligting met betrekking tot paroolvoorwaardes. Artikel 39 van PAIA verplig wel die beskerming van polisiedossiere in borgverrigtinge, asook regspleging en regsverrigtinge, maar die paroolproses is administratief van aard (soos hier onder bespreek) en vorm nie deel van hierdie uitsluiting nie. Daar word verder aangevoer dat die beskikbaarstelling van die inligting nie onbillik inbreuk maak op die paroolganger se privaatheid nie, aangesien die reg wat beskerm word (die slagoffer se reg op menswaardigheid en toegang tot inligting) voorrang behoort te geniet bo die paroolganger se reg op privaatheid.26
Daar moet verder duidelik gemeld word dat parool nie die klinkklare reg van elke gevonniste oortreder is nie. Oortreders kom slegs in aanmerking vir parool ná die voorgeskrewe tydperke – dit is nie ’n gegewe dat ’n paroolaansoek outomaties gaan slaag nie.
Dit was byvoorbeeld die geval met verskeie paroolaansoeke van Janusz Waluś (die veroordeelde moordenaar van Chris Hani). Waluś het die minister van korrektiewe dienste (hierna “die minister”) se weiering om parool toe te staan tot in die Konstitusionele Hof beveg, waar hoofregter Raymond Zondo ’n besonder weldeurdagte uitspraak gelewer het. Zondo skryf in sy uitspraak dat die ergste vorm van straf wat ’n oortreder in Suid-Afrika kan uitdien, lewenslange gevangenisstraf sonder die opsie van parool is.27 Hy voeg in dieselfde paragraaf by dat voormelde mag plaasvind wanneer ’n oortreder nie aan die vereistes vir parool voldoen nie, geen tekens van rehabilitasie toon nie, of heeltyd moeilikheid maak in die korrektiewe sentrum.
Zondo wys ook daarop dat die veronderstelde doel van gevangenisstraf is om oortreders te rehabiliteer of tereg te wys sodat dit onwaarskynlik is dat hulle met ontslag uit die korrektiewe sentrum ’n onverantwoordelike lewe sal lei, maar eerder ’n misdaadvrye bestaan sal voer.28 Hy voeg by dat indien al die getuienis daarop dui dat die risiko dat ’n oortreder weer sal oortree indien hy op parool vrygelaat word, skraal is, die betrokke owerhede dit ernstig behoort te oorweeg om die oortreder op parool te plaas.29
3.2 Die aanvang tot die toestaan van parool
Elke korrektiewe sentrum in die land het een of meer gevallebestuurskomitees wat uit korrektiewe beamptes bestaan.30 Dit is onder meer die plig van elke gevallebestuurskomitee om gereeld onderhoude te voer met oortreders, asook om ’n korrektiewe vonnisplan vir oortreders te hersien en, indien nodig, te wysig.31 ’n Vonnisplan word gereël kragtens artikel 38(1A) van die Wet en hou verband met die toekoms van oortreders wat vir langer as 24 maande gevangenisstraf moet uitdien. Die korrektiewe vonnisplan moet:
- die voorgestelde ingryping bevat wat ten doel het om aandag te gee aan die risiko’s en behoeftes van die gevonniste oortreder, soos geïdentifiseer tydens ’n diepgaande risiko-evaluering, om die misdadige gedrag te korrigeer
- uiteensit watter dienste en programme benodig word om misdadige gedrag te teiken en om die gevonniste oortreder te help om vaardighede te ontwikkel om die sosio-ekonomiese toestande wat tot kriminaliteit gelei het, te hanteer
- dienste en programme uitspel wat benodig word om die gevonniste oortreder se sosiale funksionering te verbeter
- tydraamwerke daarstel en verantwoordelikhede spesifiseer om te verseker dat die beoogde dienste en programme aan die oortreder gebied word.32
Dit is verder die taak van gevallebestuurskomitees om verslae ten opsigte van oortreders op te stel wat dan aan die paroolraad voorgelê word aangaande onder meer:
- die oortreding of oortredings waarvoor die gevonniste oortreder ’n termyn van opsluiting uitdien, tesame met die uitspraak oor die meriete en enige opmerkings wat deur die betrokke hof gemaak is tydens die oplegging van die vonnis, indien dit aan die departement beskikbaar gestel is
- die vorige kriminele rekord van sodanige oortreder
- die gedrag, dissiplinêre rekord, aanpassing, opleiding, aanleg, arbeidsaamheid, fisieke en geestelike toestand van sodanige oortreder
- die waarskynlikheid van sy of haar terugval in misdaad, die risiko wat dit inhou vir die gemeenskap en die wyse waarop hierdie risiko verminder kan word.33
’n Gevonniste oortreder moet ingelig word oor die inhoud van hierdie verslag en ook die geleentheid gegun word om skriftelike vertoë in hierdie verband aan die paroolraad voor te lê.34 Die paroolraad moet alle verslae en aanbevelings van die gevallebestuurskomitee oorweeg en met betrekking tot ’n gevonniste oortreder wat lewenslange gevangenisstraf opgelê is, aanbevelings doen aan die minister oor die toestaan van, onder meer, parool onderworpe aan die paroolvoorwaardes van gemeenskapskorreksies waaraan die gevonniste oortreder onderworpe behoort te wees.35 Die finale besluit oor parool ten opsigte van lewenslange vonnisse berus ingevolge die 1998-Wet by die minister.36
Daar is wel ’n uitsondering op bogemelde stelling: Kragtens artikel 286A van die Strafproseswet kan die hof ook tydens vonnisoplegging ’n misdadiger tot ’n gevaarlike misdadiger verklaar indien die hof oortuig is dat die oortreder “’n gevaar vir die fisiese of geestelike welstand van ander persone inhou en dat die gemeenskap teen hom beskerm behoort te word”. Gevaarlike misdadigers word ’n onbepaalde vonnis van gevangenisstraf opgelê. Kragtens artikel 286B van die Strafproseswet moet die voorsittende beampte wat sulke oortreders gevonnis het (of indien die betrokke voorsittende beampte nie beskikbaar is nie, ’n voorsittende beampte met soortgelyke magte), ná ’n bepaalde tydperk die oortreders se vonnis heroorweeg. Wanneer ’n hof die vonnis heroorweeg, het die hof dieselfde magte as tydens die aanvanklike vonnisoplegging.37 Die hof kan, wanneer die onbepaalde vonnis van gevaarlike misdadigers heroorweeg word, die vonnis bevestig, die gevangenisstraf omskep na korrektiewe toesig, die oortreder onvoorwaardelik vrylaat, of die oortreder vrylaat op sekere voorwaardes soos deur die hof opgelê.38 Die hof is egter verplig om, voordat die vonnis heroorweeg word, ’n verslag van die paroolraad oor die oortreders te oorweeg. In die geval van oortreders wat deur die hof bestempel is as gevaarlike misdadigers, moet die beskuldigde weer ná (op die langste) 25 jaar voor die hof verskyn en die hof moet dan bepaal of die oortreder parool mag kry en wat die paroolvoorwaardes sal wees.
Paroolrade moet ook enige kommentaar van die vonnishof oorweeg wanneer paroolverslae opgestel word “in die lig van” die beplanning rondom die wyse waarop oortreders hul vonnisse uitdien”.39 ’n Interpretasie van artikel 42(2)(d)(i) van die Wet dui daarop dat ’n gevallebestuurskomitee wel verplig is om ’n vonnishof se aanbevelings ten opsigte van parool in ag te neem wanneer parool oorweeg word. Die vraag is dan waarom die minister nie die bepalings van regter Jansen in die Alison Botha-saak ter harte geneem het ten opsigte van die bevel dat Du Toit en Kruger nooit op parool uitgelaat moet word nie.
Die antwoord hierop is te vinde in die departement se Prosedurehandleiding vir Korrektiewe Toesig wat bepaal dat in alle gevalle waar parool oorweeg word, die aard van die misdaad oorweeg moet word, asook enige kommentaar van die voorsittende beampte wat die vonnis opgelê het.40 Tereg het regter Zondo in die Waluś-uitspraak daarop gewys dat hierdie opmerkings van die voorsittende beampte slegs van toepassing is op die minimum tydperk van gevangenisstraf wat die hof mag oplê voordat ’n oortreder vir parool oorweeg moet word.41 Die Strafproseswet bepaal dat die nieparooltydperk wat howe mag vasstel, nooit twee derdes van ’n vonnis of 25 jaar (welke ook al die kortste is) mag oorskry nie.42
Die handleiding bepaal verder dat in gevalle van gewelddadige misdade die paroolraad die tipe wapen en die graad van aggressie tydens die pleeg van die misdaad in ag moet neem. Die erns van die misdaad kan dus ’n deurslaggewende rol speel wanneer parool oorweeg word. Inderdaad was dit in die Waluś-saak een van die redes wat die minister aangevoer het vir sy weiering om parool toe te staan:
The Minister stated that, notwithstanding the factors referred to above which supported the applicant’s application for parole, there were also “negative factors” that supported the dismissal of the applicant’s application. He said that these were “the nature and seriousness of the crime of murder committed by the [applicant] and the remarks made by the courts at the time of the imposition of sentence.43
Dit is belangrik dat hierdie oorweging van die minister in alle gevalle van ernstige misdaad konsekwent toegepas word wanneer parool oorweeg word.
Dit is die rol van paroolrade om hierdie oorwegings aan die minister of hof voor te lê. Paroolrade moet ten opsigte van oortreders wat tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is, asook misdadigers wat deur die hof as gevaarlik verklaar is,44 aanbevelings doen rondom die vraagstuk of aan bepaalde oortreders parool toegestaan behoort te word, asook wat die voorwaardes van sodanige parool behoort te wees.45 In sulke gevalle moet die gevonniste oortreder ook toegelaat word om skriftelike vertoë te rig oor die paroolraad se aanbevelings, wat dan ook aan die minister of hof verskaf moet word.46 Die oortreder kan ook mondeling vertoë aan die paroolraad rig (persoonlik of via ’n toegelate verteenwoordiger);47 gevaarlike misdadigers moet in elk geval weer voor die hof verskyn en enige vrae van die voorsittende beampte beantwoord.48
(Die rol van klaers of hul onmiddellike naasbestaandes in die paroolproses word later in die bydrae bespreek.)
3.3 Nadat parool toegestaan is
Nadat ’n oortreder parool gekry het en sekere paroolvoorwaardes opgelê is, moet hierdie voorwaardes onder die toesig van korrektiewe beamptes uitgevoer word.49 Die 1998-Wet bepaal egter dat hierdie toesig nie onnodig mag inbreuk maak op die privaatheid van die betrokke paroolganger nie,50 maar daar mag van paroolgangers vereis word om vergaderings met korrektiewe beamptes by te woon.51 Vir doeleindes van toesig skryf wetgewing voor dat daar ’n toesigkomitee (bestaande uit korrektiewe beamptes en, indien nodig, gedragswetenskaplikes)52 by elke gemeenskapskorreksiekantoor moet wees wat die vlak van toesig oor elke persoon betrokke by gemeenskapskorreksies (dit sluit parool in) moet vasstel en gereeld moet hersien.53
Die toesigkomitee moet ook die mate waartoe die oogmerke van gemeenskapskorreksies bereik is, oorweeg of hersien en daarna:
- besluit of die mate en vlak van toesig toegepas op so ’n persoon gewysig moet word; en
- ’n verslag indien en die Korrektiewe Toesig- en Paroolraad of die Nasionale Kommissaris, na gelang van die geval, adviseer aangaande die wenslikheid van —
-
- ’n aansoek om ’n verandering in die voorwaardes van die gemeenskapskorreksies waaraan sodanige persoon onderworpe is; of
- ’n aansoek vir of die uitreiking van ’n lasbrief vir die arrestasie van sodanige persoon.54
Die rol van die toesigkomitee is dus, kortweg, om toe te sien dat paroolvoorwaardes nagekom word. Indien dit nie die geval is nie, moet die nasionale kommissaris (in geval van oortreders wat tot lewenslange opsluiting gevonnis is) op die advies van ’n toesigkomitee die betrokke paroolraad versoek om raad te gee oor die herroeping van ’n oortreder se parool of om die paroolvoorwaardes te heroorweeg.55 Die paroolraad moet dan hieroor aanbevelings aan die minister maak, maar die 1998-Wet bepaal dat die aanbevelings voorlopig geïmplementeer mag word selfs voordat die minister sy besluit geneem het. In sulke gevalle van heroorweging of herroeping moet die oortreder weer eens toegelaat word om skriftelike of mondelinge (persoonlik of per toegelate verteenwoordiger) vertoë aan die raad te rig.56
Artikel 75(9) van die Wet bepaal dat die minister parool kan kanselleer indien hy die een is wat die besluit geneem het om die parool toe te staan. Aangesien die minister die besluit aangaande parool moet neem ten opsigte van alle oortreders wat lewenslange gevangenisstraf opgelê is (behalwe in die geval van gevaarlike misdadigers), word afgelei dat slegs die minister die bevoegdheid het om sy besluit te hersien om parool toe te staan. (Die Korrektiewe Toesig- en Paroolhersieningsraad het dus geen insae in sodanige besluite nie.)
Dit is egter nie altyd die geval dat oortreders wat hul paroolvoorwaardes verontagsaam, se parool herroep word nie. Die nasionale kommissaris kan ook persone wat hul paroolvoorwaardes verontagsaam: berispe, beveel om voor die paroolraad te verskyn; of ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van so ’n paroolganger uitreik.57
3.4 Die rol van slagoffers of hul naasbestaandes
Artikel 299A(1) van die Strafproseswet bepaal dat klaers die reg het om vertoë te rig wanneer gevonniste oortreders wat sekere misdade gepleeg het (insluitend moord, verkragting of gedwonge verkragting, roof met verswarende omstandighede, seksuele aanranding en menseroof), op parool uitgeplaas word. Die vonnishof moet in sulke gevalle klaers of, in geval van moord, die slagoffer se onmiddellike naasbestaandes, inlig dat hulle die reg het om vertoë te rig, of om ’n tersaaklike vergadering van die paroolraad by te woon, wanneer die uitplasing op parool van hul oortreders oorweeg word.
Die onus rus dan op klaers of hul naasbestaandes om die kommissaris van korrektiewe dienste skriftelik in kennis te stel van hul voorneme om aan die paroolproses deel te neem, asook om die kommissaris skriftelik van ’n pos- en woonadres (asook enige veranderinge aan voormelde) in te lig.58 Artikel 299A(2) van die Strafproseswet bepaal dat die plig dan op die Kommissaris rus om die betrokke paroolraad skriftelik in te lig van die klaer of sy naasbestaandes se voornemens om vertoë te rig, en die paroolraad moet die betrokke persone skriftelik inlig wanneer en aan wie hulle vertoë moet rig of wanneer en waar ’n vergadering sal plaasvind.
Die pro forma-vorm wat voltooi moet word om kennis te gee van ’n persoon se voorneme om vertoë te rig, word egter gerig aan die voorsitter van die betrokke paroolraad en nié aan die kommissaris soos voorgeskryf deur die Strafproseswet nie. Dié vorm is wel aanlyn beskikbaar, maar kan nie per e-pos gestuur word nie en moet per pos of met die hand by die betrokke Paroolraad afgelewer word.59 Dit blyk dus dat die departement van slagoffers of hul naasbestaandes verwag om uit te pluis in watter korrektiewe sentrum oortreders aangehou word ten einde die korrekte paroolraad te kontak. Dit is ’n haas onbegonne taak vir die deursneeslagoffer, aangesien die data van watter gevangenes waar aangehou word, nie vrylik beskikbaar aan die publiek is nie. Verder verduister dié teenstrydigheid met wetlike voorskrifte die reeds ingewikkelde paroolproses nog verder vir klaers en slagoffers se naasbestaandes.
Dit blyk verder dat misdadigers soms die paroolproses deurmaak en parool toegestaan word sonder dat klaers of hul naasbestaandes ooit van verrigtinge in kennis gestel word. In ’n onlangse TV-onderhoud bevestig oudregter Siraj Desai, voormalige voorsitter van die Korrektiewe Toesig- en Paroolhersieningsraad, dat oortreders nie parool toegestaan mag word sonder dat die sogenaamde slagoffer-oortreder-dialoog plaasvind nie.60
Indien daar na die Waluś-uitspraak as voorbeeld gekyk word, blyk dit wel dat die minister waarde heg aan die insette van slagoffers se naasbestaandes, deurdat die oortreder se aanvanklike aansoek om parool in 2011 afgekeur is, aangesien die minister bevind het dat Chris Hani se familie nie die geleentheid gegun is om insette te lewer tydens die proses nie.61 In hierdie geval het die departement dus te kenne gegee dat die bydrae van klaers wel ’n vereiste oorweging is alvorens parool toegestaan mag word. Die Hoogste Hof van Appèl het ook in dieselfde saak beveel dat die minister die slagofferimpakverslag van Hani se weduwee in aanmerking moet neem wanneer Waluś se parool oorweeg word.62 Die insette van klaers of hul naasbestaandes wat graag aan die paroolproses van hul oortreders wil deelneem, mag dus nie bloot deur die departement verontagsaam word nie.
Tog het Alison Botha ingevolge verskeie mediaberigte te kenne gegee dat sy glad nie by die paroolproses van Du Toit en Kruger betrek is nie. Ook die familie van die vermoorde Elroy van Rooyen is, luidens mediaberigte, eers twee weke voor sy vrylating in kennis gestel van die veroordeelde moordenaar Norman Simmons (die sogenaamde stasiemoordenaar) se parool.63 Die pa van die vermoorde Lee Matthews het ook na vore gekom en die Departement van Korrektiewe Dienste gekritiseer oor hul traagheid om Lee se naasbestaandes by die paroolverhore van Donovan Moodley te betrek.64 Hieruit kan die afleiding gemaak word dat politiek moontlik ’n beduidende rol speel in die besluitnemingsproses, alternatiewelik dat besluite met betrekking tot parool nie konsekwent toegepas word nie.
Howe erken ook dat die kans skraal is dat ’n persoon wat nie werklik berou het nie, gerehabiliteer kan word en dat berou beteken dat die oortreder moet erken wat hy gedoen het.65 Dit word betwyfel of berou ooit ten volle betoon kan word indien die oortreder se slagoffer of die slagoffer se naasbestaandes nie die geleentheid gegun word om aan die paroolaansoekproses deel te neem nie. Die departement behoort hulle dus met meer inspanning te beywer vir die fasilitering van slagoffer-oortreder-dialoog of ten minste om vas te stel of die klaer daarin belangstel om deel te neem aan ’n oortreder se paroolproses.
4. Die howe se rol en magte ten opsigte van strafoplegging
In die Alison Botha-saak wat destyds groot opslae in die Suid-Afrikaanse samelewing gemaak het vanweë die wreedheid en grusaamheid van die dade wat gepleeg is, en nou weer met die vrylating op parool van die twee oortreders opslae maak, het regter Chris Jansen (par. 10) bepaalde uitsprake oor die oortreders se vrylating op parool gemaak:
Die belange van die gemeenskap moet in aanmerking geneem word by vonnisoplegging. In sekere gevalle speel die belange van die gemeenskap ’n groter rol as by ander. Sekere misdrywe tas die gemeenskapsbelange tot ’n groter mate aan as ander minder ernstige misdrywe. Beskerming van die gemeenskap kom by sekere misdadigers sterker na vore as in ander gevalle.66
Die regter het ook nie, soos versoek deur die staat, die twee oortreders tot gevaarlike misdadigers verklaar nie. (Sien die verduideliking oor gevaarlike misdadigers hier bo.) Regter Jansen het pertinent in die vonnisoplegging aangedui dat hy nie vir Du Toit en Kruger tot gevaarlike misdadigers gaan verklaar nie. Hy het die volgende geldige rede vir sy besluit gegee:
[D]aardie artikel [is] na my oordeel bedoel vir ’n geval waar die regter van oordeel is dat, na ’n tydperk soos deur hom bepaal, die beskuldigdes weer voor hom gebring moet word sodat hy kan besluit of, in die lig van veranderende omstandighede, indien enige, die beskuldigde weer in die samelewing toegelaat behoort te word. So ’n situasie is na my oordeel nie gepas in die onderhawige geval nie.67
Hy bepaal verder, nadat hy twee maal lewenslange gevangenisstraf vir beide oortreders opgelê het:
Ek gelas dat hierdie uitspraak op vonnis getik word en twee afskrifte aan die Gevangenisowerhede gestuur word om op die lêers van die twee beskuldigdes geplaas te word, sodat dit duidelik is vir die Minister van Korrektiewe Dienste en die Nasionale Adviesraad, wat op enige stadium in die toekoms moontlik oorweging kan skenk aan die vrylating van enige van die beskuldigdes ... dat dit inderdaad my bedoeling was met hierdie vonnisoplegging, dat beide beskuldigdes vir die res van hulle natuurlike lewe uit die samelewing verwyder moet word.68
Uitsprake soos dié van regter Jansen skep vertroue by die slagoffer, asook die samelewing dat die regstelsel hulle beskerm teen diegene wat vir hulle ’n gevaar inhou. Sedert hierdie uitspraak is daar egter ’n al groter klemverskuiwing ten opsigte van die doel van strawwe deurdat rehabilitasie vooropgestel word.69 Dit is ook duidelik uit die terminologie in die 1998-Wet wat telkens “korreksie” benadruk. Ingevolge artikel 50 van die 1998-Wet is die oogmerke van gemeenskapskorreksies om, onder meer, oortreders die geleentheid te bied om hul vonnisse in die gemeenskap uit te dien,70 asook vir gerehabiliteerde oortreders om ten volle in die gemeenskap te integreer wanneer hulle hul vonnisse uitgedien het.71
Met bostaande in ag genome het die Hoogste Hof van Appèl in 2004 bevind dat dit nie die funksie van die vonnishof is om die tydperk van gevangenskap te bepaal wat ’n oortreder moet uitdien nie.72 Die Appèlhof het verder bepaal dat die vonnishof geen beheer het oor die minimum tydperk van die vonnis wat deur ’n oortreder uitgedien moet word nie, aangesien dit ’n oorskryding op die terrein van die uitvoerende gesag (die minister en Departement van Korrektiewe Dienste) sou daarstel.
Verder, soos wat die geval was in die vonnis wat regter Jansen opgelê het, kan oortreders meer as een lewenslange vonnis opgelê word, of ’n lewenslange vonnis tesame met ’n bepaalde vonnis van ’n gespesifiseerde aantal jare. Dit lei dikwels tot verwarring by die publiek, aangesien daar verwag word dat hierdie oortreders ’n langer tydperk agter tralies moet deurbring of dat die nieparooltydperk van 25 jaar verdubbel word. In S v Mhlakaza73 het die Hoogste Hof van Appèl in 1997 hierdie vraag oorweeg ten opsigte van die oortreders wat effektief onderskeidelik 47 en 38 jaar gevangenisstraf deur die verhoorhof oopgelê is. Op daardie tydstip was die nieparooltydperk vir lewenslange vonnisse 20 jaar (soos hier bo bespreek). Die hof het bevind dat alle vonnisse van gevangenisstraf wat deur die howe opgelê word, in werklikheid onbepaalde vonnisse is, omdat die funksie van ’n vonnishof bloot is om die maksimum tydperk van gevangenisstraf te bepaal wat ’n gevonniste oortreder mag uitdien.74 Die hof haal dan in Mhlakaza ’n vorige uitspraak van dieselfde hof in 1990 aan: “Die plig en die verantwoordelikheid om die gemeenskap teen so ’n moordenaar te beskerm berus dus in die eerste en in die finale instansie by die Minister.”75 Verder bepaal die Wet ook dat gevonniste oortreders wat 25 jaar van ’n vonnis of kumulatiewe vonnisse uitgedien het, vir uitplasing op parool oorweeg moet word.76
Uit sowel die howe se uitsprake as die 1998-Wet is dit dus duidelik dat die bevoegdheid om parool aan oortreders toe te staan, hoofsaaklik by die uitvoerende gesag (verteenwoordig deur die minister en paroolrade) berus en dat alle oortreders onder die ouderdom van 65 wat misdrywe gepleeg het, onder die werking van die 1998-Wet ongeag die lengte van hul vonnis en hoeveelheid vonnisse ná 25 jaar van aanhouding in aanmerking kom vir parool.
5. Howe se magte om paroolbesluite te hersien
Die Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 (hierna “PAJA”) het ten doel (soos in die aanhef tot die Wet uiteengesit):
Om uitvoering te gee aan die reg op administratiewe optrede wat regmatig, redelik en prosedureel billik is; en om uitvoering te gee aan die reg op skriftelike redes vir administratiewe optrede soos voorsien in artikel 33 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996; en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee verband hou.
PAJA gee uitvoering aan artikel 33(1) en (2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (hierna “die Grondwet”) wat aan almal die reg gee op administratiewe optrede deur die staat wat regmatig, redelik en prosedureel billik is, asook dat elkeen wie se regte nadelig deur administratiewe optrede geraak word, die reg het op skriftelike redes vir daardie besluit. PAJA gee verder uitvoering aan artikel 33(3) van die Grondwet wat bepaal dat staatsorgane se administratiewe besluite deur die howe hersien kan word.
Ingevolge artikel 1 van PAJA sluit ’n administratiewe handeling nie die regterlike funksies van ’n regsprekende amptenaar van ’n hof in nie. Soos hier bo bespreek, is dit egter duidelik deur die howe en wetgewing vasgestel dat paroolbesluite die funksie van die uitvoerende gesag (die minister of Departement van Korrektiewe Dienste) is, tensy die oortreder natuurlik tot ’n gevaarlike misdadiger verklaar is, in welke geval die hof mag het oor sy vrylating op parool al dan nie. Dit is dus duidelik dat howe enige besluit oor parool kan hersien, aangesien dit ’n administratiewe handeling deur die uitvoerende gesag daarstel. Die woordomskrywingsartikel in PAJA definieer verder besluit as om enige besluit in verband met die “stel van ’n voorwaarde of oplegging van ’n beperking” in te sluit. Dit beteken, argumentsonthalwe, dat die howe selfs die mag het om enige paroolvoorwaardes, soos deur die minister of paroolraad opgelê, te hersien.
Persone wat wesenlik benadeel word deur ’n administratiewe handeling, mag ook die betrokke staatsorgaan binne 90 dae nadat die persoon bewus geword het van die handeling, versoek vir skriftelike redes vir die besluit.77 In die geval waar klaers of hul naasbestaandes nie die geleentheid gegun is om deel te neem aan die paroolproses van die betrokke oortreders nie, kan aangevoer word dat daar wesenlike benadeling van hul regte plaasgevind het. Dit staan dus hierdie persone vry om te versoek dat die minister (in geval van lewenslange vonnisse) skriftelike redes verskaf vir sy besluit. Hierdie redes sal uit die aard van die saak die paroolvoorwaardes van die oortreders moet insluit, aangesien die minister sal moet kan bewys dat die besluit oor parool geen gevaar vir die samelewing inhou nie. Die minister sal by die ontvangs van só ’n versoek binne 90 dae redes moet verskaf vir sy besluit;78 indien hy dit nié doen nie, word dit geag dat hy die besluit sonder enige goeie redes geneem het.79
Indien die klaer of naasbestaandes van mening is dat die minister se besluit om parool toe te staan of dat die paroolvoorwaardes irrasioneel is, sou hulle die hof kon nader om die besluit tersyde te stel.
In die Waluś-saak het die Konstitusionele Hof bevind dat die hof wel sodanige irrasionele besluit van die minister tersyde kan stel.80 Die hof het onder meer bepaal dat die minister se besluit nie rasioneel verband hou met die magte wat aan hom toegeken is nie en daarom irrasioneel is en deur die hof tersyde gestel word.81 Regter Zondo haal (par. 62) Pharmaceutical Manufacturers Association of South Africa: In re Ex Parte President of the Republic of South Africa82 aan waar die Konstitusionele Hof bevind het dat die besluite van die uitvoerende gesag nie arbitrêr geneem moet word nie, maar objektief rasioneel moet wees. Met ander woorde, enige besluit rakende die toestaan van parool wat deur die minister of paroolraad geneem word, moet redelikerwys verklaar kan word.
In die Waluś-saak het die oortreder al vir meer as ’n dekade lank die hofstryd gevoer om die minister se weiering om hom op parool uit te laat, tersyde te stel. Die Konstitusionele Hof het dus nie die saak terug verwys na die minister om Waluś se paroolaansoek opnuut te oorweeg nie, maar bloot die bevel gemaak dat parool toegestaan word. Regter Zondo bevind in sy uitspraak dat die Suid-Afrikaanse reg nie bepaal dat howe in geen omstandighede self besluite mag neem wat gewoonlik by die uitvoerende gesag berus nie, veral as dié besluit ’n uitgemaakte saak is.83 Howe sal egter slegs in uitsonderlike omstandighede die besluite van staatsamptenare namens die uitvoerende gesag neem en dit is nie iets wat die howe ligtelik doen nie.84 Howe het wel, kragtens artikel 8(1) van PAJA, ’n wye diskresie om enige bevel wat regverdig en billik is te maak ten opsigte van ’n onbillike administratiewe besluit deur die staat.
Dit kan dus wees dat indien ’n klaer of naasbestaandes nie betrek is by die paroolproses van oortreders nie, die hof sekere paroolvoorwaardes kan oplê of selfs die toestaan van parool sal kan omkeer.
6. Kommentaar en samevatting
Die doel van hierdie bydrae is nie om aan te beveel dat alle oortreders se uitlating op parool hersien moet word nie. Inderdaad word die hoop uitgespreek dat rehabilitasie wel in alle gevalle plaasvind en dat gevonniste oortreders weer positief sal kan bydra tot die samelewing. Die strafregstelsel mag nooit daaraan skuldig wees dat persone wat gerehabiliteer kan word, bloot versaak word sonder enige ingryping nie. Victor Hugo verwoord dit sierlik in sy roman Les Misérables wat reeds in 1862 gepubliseer is:
Such is the remorseless progression of human society, shedding lives and souls as it goes on its way. It is an ocean into which men sink who have been cast out by the law and consigned, with help most cruelly withheld, to moral death. The sea is the pitiless social darkness into which the penal system casts those it has condemned, an unfathomable waste of misery. The human soul, lost in those depths, may become a corpse. Who shall revive it?
Die vraag ontstaan egter of die Departement van Korrektiewe Dienste wel die vermoë het om oortreders te rehabiliteer (inderdaad hul siele te laat herleef). Met vlakke van residivisme (die terugval van vrygelatenes in misdaad)85 tussen 50% en 70% (konserwatief geskat)86 is dit onwaarskynlik. Oudregter Desai erken ook in die TV-onderhoud dat daar hoë vlakke van residivisme in die land is.87 Dit val egter nie binne die bestek van hierdie bydrae om voorstelle te maak rakende die korrektiewe stelsel in totaliteit nie – dít vereis ’n baie meer omvangryke en diepgaande studie. Dit is wel voor die hand liggend dat die stelsel soos dit tans funksioneer, onder ernstige kritiek gebuk gaan.
Daar moet egter onderskei word tussen oortreders wat wel berou het en rehabiliteerbaar is en diegene wat geen berou toon vir hul dade of belangstel in die rehabilitasieproses nie. In dié gevalle is dit nie wenslik dat oortreders in die samelewing vrygelaat word waar hulle ’n gevaar vir wetsgehoorsame burgers inhou nie. Dit word ook in hierdie bydrae aangevoer dat werklike berou nie kan bestaan as die nodige slagoffer-oortreder-dialoog nie plaasgevind het nie (natuurlik met die instemming van die slagoffer; indien die slagoffer nie belangstel om deel te neem nie, kan die oortreder nie hierdeur benadeel word nie).
Hoewel ’n hersiening van die paroolproses in sy geheel, soos obiter gemeld deur regter Mosopa,88 inderdaad nodig is, is daar wel remedies beskikbaar vir slagoffers wat van die paroolaansoekproses van hul oortreders uitgesluit is. Hierdie remedies sluit, eerstens, ’n aansoek kragtens PAIA in ten einde meer inligting te kry oor die paroolverslag wat deur ’n paroolraad opgestel is, asook om die betrokke oortreder se paroolvoorwaardes onder oë te kry.89 Tweedens staan dit slagoffers of hul naasbestaandes vry om ’n aansoek kragtens PAJA te bring indien ’n irrasionele besluit van die minister of paroolraad vermoed word – daar word inderdaad aangevoer dat die uitsluiting van slagoffers tydens die paroolaansoekproses van hul oortreders irrasioneel is. Dit is uit die aard van die saak onregverdig dat slagoffers regskostes moet aangaan bloot om hul reg om deel te neem aan die paroolproses af te dwing, maar totdat die proses hersien word, is dit moontlik al manier waarop hulle dié reg kan afdwing.
Bibliografie
AfriForum. 2020. Paroolverhore. YouTube-video. https://www.youtube.com/watch?v=GOx_DFyudf0&t=1s (1 Augustus 2023 geraadpleeg).
Carte Blanche. 2020. Parole boards under scrutiny. YouTube-video. https://www.youtube.com/watch?v=6zmD0mqVNhA (1 Augustus 2023 geraadpleeg).
Cornelius, C., C. Lynch, V. Modeling en R. Gore. 2017. Aging out of crime: exploring the relationship between age and crime with agent based modeling. http://scs.org/wp-content/uploads/2017/06/6_Final_Manuscript.pdf (6 Augustus 2023 geraadpleeg).
Hendricks, C. 2023. “Stasiemoordernaar” op parool vrygelaat: Die wonde is weer oop, sê slagoffer se tannie. Huisgenoot. https://www.netwerk24.com/huisgenoot/nuus/stasiemoordernaar-op-parool-vrygelaat-die-wonde-is-weer-oop-se-slagoffer-se-tannie-20230728 (1 Augustus 2023 geraadpleeg).
Hoctor, S.V. 2022. Snyman’s criminal law. 7de uitgawe. Hilton: LexisNexis.
Hugo, V. 2018. Les misérables. (Vertaal in Engels deur Christine Donougher.) Londen: BBC Books.
Khwela, M. 2015. Effects of incarceration on recidivism in South Africa. Journal of Public Administration and Management, 50(2). https://hdl.handle.net/10520/EJC183271 (2 Augustus 2023 geraadpleeg).
Molyneaux, A. en L. Isaacs. 2023. The release of Alison Botha’s attackers on parole “scares her”, says lawyer. Eyewitness News. https://ewn.co.za/2023/07/07/the-release-of-alison-botha-s-attackers-on-parole-scares-her-says-lawyer (2 Augustus 2023 geraadpleeg).
Van den Heever, M. 2023. Alison Botha’s attorney, GBV activists shocked at attackers’ release. The South African. https://www.thesouthafrican.com/lifestyle/celeb-news/breaking-alison-botha-attack-parole-release-gbv-latest-10-july-2023 (2 Augustus 2023 geraadpleeg).
Eindnotas
1 S v Makhubela 2023-7-14 CC60/21 ZAGPPHC (KH).
2 Molyneaux (2023); Van den Heever (2023).
3 S v Du Toit 1995-8-7 CC21/94 & CC15/95 ZAECPEHC (KH).
4 Wet op Gevangenisse en Verbeteringskole 13 van 1911.
5 Phaahla v Minister of Justice and Correctional Services (Tlhakanye Intervening) 2019 ZACC 18 par. 5.
6 Ibid.
7 Art. 1 van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998 (1998-Wet).
8 Phaahla-saak par. 6.
9 Wet op Korrektiewe Dienste 1959.
10 Art. 22A van die Wysigingswet op Korrektiewe Dienste 68 van 1993.
11 Van Wyk v Minister of Correctional Services (40915/10) 2011 ZAGPPHC 125; 2012 1 SACR 159 (GNP) par. 8.
12 Ibid.
13 Van Wyk-saak parr. 13, 22.
14 Waluś v Minister of Justice and Correctional Services 2022 ZACC 39 par. 42.
15 Waluś-saak.
16 Phaahla-saak.
17 Phaahla-saak par. 25.
18 Hangende wysiging: Subart. (1) sal vervang word deur art. 3 (a) van Wet No. 7 van 2021 en tree in werking op ’n datum deur die President by proklamasie in die Staatskoerant bepaal – datum nie bepaal nie.
19 Hoctor (2022:57).
20 Art. 71 Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
21 Art. 73 Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
22 Cornelius (2017: 2).
23 Phaahla-saakpar. 35.
24 Art. 50 Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
25 S v Mhlakaza 1997 ZASCA 7; 1997 1 SACR 515; 1997 2 All SA 185 par. 15.
26 Art. 36 van die Grondwet maak voorsiening vir die opweging en beperking van regte.
27 Waluś-saak par. 22.
28 Waluś-saak par. 3.
29 Waluś-saak par. 37.
30 Art. 42(1) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
31 Art. 42(2)(b) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
32 Art. 38(1A)(b) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
33 Art. 42(2)(d) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
34 Art. 42(3) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
35 Art. 75(1)(c) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
36 Art. 73(5)(a)(ii) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
37 Art. 286B(4)(a) van die Strafproseswet 51 van 1977 (hierna Strafproseswet).
38 Art. 286B(4)(a) Strafproseswet.
39 Art. 38(1A)(2) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
40 Prosedurehandleiding: Toesig (2019:18).
41 Waluś-saak par. 73.
42 Art. 276B(1) Strafproseswet.
43 Waluś-saak par. 67.
44 Art. 286A Strafproseswet .
45 Art. 75(1)(b) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
46 Art. 75(3)(c) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
47 Art. 75(3)(a) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
48 Art. 73(6)(d) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
49 Art. 57(1) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
50 Art. 57(2) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
51 Art. 57(6) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
52 Art. 58(1) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
53 Art. 58(2) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
54 Art. 58(6) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
55 Art. 75(2)(c) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
56 Art. 75(3)(a) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
57 Art. 70(1) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
58 Art. 299A(2) Strafproseswet.
59 Vorm: Versoek om vertoë aan paroolraad te rig (https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_documents/parole-board-form_0.pdf).
60 Carte Blanche (2020).
61 Waluś-saak par. 8.
62 Waluś-saak par. 11.
63 Hendricks (2023).
64 AfriForum (2020).
65 Moore v S (A48/2015) 2016 ZAGPPHC 468 (19 Mei 2016) par. 29.
66 Du Toit-saakpar. 10.
67 Du Toit-saakpar. 20.
68 Du Toit-saakpar. 30.
69 Hoctor (2022:15).
70 Art. 50(1)(a)(i) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
71 Art. 50(1)(a)(iii) en (iv) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
72 S v Botha (318/03) 2004 ZASCA 51; 2006 2 SACR 110 (HHA) par. 25.
73 S v Mhlakaza 1997 ZASCA 7; 1997 1 SACR 515; 1997 2 All SA 185.
74 Mhlakaza-saak par. 17.
75 S v Mdau 1990 ZASCA 126; 1991 1 SA 169 (A) esp 176D-177A.
76 Art. 73(6)(a) Wet op Korrektiewe Dienste 1998.
77 Art. 5(1) van die Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000.
78 Art. 5(2) Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid.
79 Art. 5(4) Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid.
80 Waluś-saak par. 60.
81 Waluś-saak par. 82.
82 2000 ZACC 1; 2000 2 SA 674 (KH); 2000 3 BCLR 241 (KH).
83 Waluś-saakparr. 84, 85.
84 Waluś-saak par. 86.
85 Pharos http://www.pharosonline.co.za/ (30 Julie 2023 geraadpleeg).
86 Khwela (2015:1).
87 Carte Blanche (2020).
88 Makhubela-saak.
89 AfriForum 2020.
- Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur Tim Hüfner en is verkry op Unsplash.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.