Krap jou liedjie uit die laai!

  • 0

Lê daar ’n liedjie in jou laai wat jy heimlik dink die volgende Stuur groete aan Mannetjies Roux kan wees? Of dalk ’n Kaptein, span die seile? Dan is dit tyd om dit uit die laai op te diep en in te skryf vir GROOT Ontbyt Innibos Kunstefees Liedjie inni laai-kompetisie.

Die wenprys is R10 000 kontant. Daarby sal die wenliedjie professioneel vervaardig word as ’n enkelsnit, en gesing word deur ’n bekende Suid-Afrikaanse musiekkunstenaar op die hoofverhoog wanneer die volgende Innibos Kunstefees in Mbombela gehou word afhangend van Covid 19-regulasies.

Andy Lubbe, feesdirekteur van Innibos, sê die vermaakbedryf in Suid-Afrika is besonder erg gekniehalter deur die Covid-19-pandemie. “Tog het dit kunstenaars en liedjieskrywers gedwing om diep te delf in hul kreatiwiteit en is daar skeppende werk van hoogstaande gehalte. Die GROOT Ontbyt en Innibos Liedjie inni laai-kompetisie wil opkomende en gevestigde kunstenaars die kans bied om hul liedjies na die professionele arena te bring. Ons sien uit na ’n ryke liedjieskat!”

Amateur en professionele liedjieskrywers en musikante kan vir dié opwindende kompetisie inskryf. Liedjies kan in enige genre wees, maar moet die skrywer se eie komposisie en pennevrug wees, en in Afrikaans. Indien die liedjieskrywer nie self ’n vaardige sanger is nie, kan hy of sy die hulp inroep van iemand wat die noot kan hou, hoewel die prysgeld slegs aan die liedjieskrywe toegeken sal word.

Inskrywings open Donderdag, 15 Julie, en sluit 20 Augustus. Die wenner word reeds op 31 Augustus aangekondig.

Die kriteria waarvolgens die liedjies beoordeel word, is oorspronklikheid, inhoud, liriek en melodie. Die wenliedjie sal gekeur word deur ’n paneel suksesvolle sangers/liedjieskrywers, die programsamesteller van Innibos Kunstefees, asook verteenwoordigers van die musiekvervaardiger, The Hit Factory, en GROOT Ontbyt.

Kry die volledige kompetisiereëls en hoe om in te skryf by www.innibos.co.za of stuur ’n e-pos aan mariolise@innibos.co.za.

Kompetisie-riglyne

  • Inskrywings open 15 Julie 2021 en sluit op 20 Augustus 2021.
  • GEEN LAAT INSKRYWINGS SAL AANVAAR WORD NIE.
  • E-pos die inskrywing (volledig voltooide inskryfvorm, MP3 en getikte lirieke) na mariolise@innibos.co.za.
  • Die wenner word op 31 Augustus 2021 aangekondig.

Reëls

  • Deelnemers moet 16 jaar en ouer wees.
  • Slegs een inskrywing per deelnemer.
  • E-pos jou inskrywing (volledig voltooide inskryfvorm, MP3 en getikte lirieke) na mariolise@innibos.co.za
  • Die liedjie moet jou eie en oorspronklike komposisie wees.
  • Die liedjie kan enige genre wees.
  • Die liedjie moet in Afrikaans wees.
  • Die MP3-opname kan deur jouself of deur ’n derde party gedoen word, maar die prysgeld sal slegs aan die liedjieskrywer toegeken word.
  • Die MP3-opname hoef nie professioneel opgeneem te word nie, maar ons stel voor dat instrumentele begeleiding gebruik word (bv. kitaar of klavier). Backtracks word aanvaar.
  • Die kriteria waarvolgens die liedjies beoordeel word, is: oorspronklikheid, inhoud, lirieke en melodie.
  • Die beoordelaars se besluit is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die organiseerder behou die reg om geen wenner aan te wys indien die inskrywings nie aan die standaard voldoen nie.
  • Pryse is nie oordraagbaar nie en kan nie vir kontant verruil word nie.
  • ’n Afsonderlike ooreenkoms sal in oorleg met die wenner aangegaan word.
  • Die besluit oor watter kunstenaar die wenliedjie sal opneem berus 100% by die beoordelaars en die voorgestelde kunstenaar se platemaatskappy.
  • Sou jou inskrywing wen, gee jy hiermee toestemming dat jy jou liedjie se “eerste opname reg” / “first recording right” teen geen verdere koste toeken aan die sanger / platemaatskappy van die beoordelaars se keuse. Die liedjie bly egter jou eiendom dus sal jy alle toekomstige inkomste wat dit mag genereer uit opvoerings, radio, TV en stroomdienste steeds ontvang d.m.v. ’n “publisher” van jou keuse.
  • Die registrasie van jou liedjie (Samro, Capasso, Sampra en Risa) en die aanstelling van ʼn uitgewer wat tantieme namens jou sal invorder, bly jou eie verantwoordelikheid. Ons sal wel aan die wenner hiermee hulp verleen indien nodig.
  • Die organiseerders behou die reg om, in samewerking met die liedjieskrywer, veranderings aan die struktuur en/of lirieke van die liedjie aan te bring wat in die vervaardigingsproses nodig mag wees om die liedjie te verbeter.
  • Deur vir die kompetisie in te skryf, erken jy dat jy die reëls gelees het, en aanvaar.

Pryse

  • Die wenner se prysgeld is R10 000 kontant.
  • Die liedjie sal vervaardig en opgeneem word as ’n enkelsnit deur die bekende musiekvervaardiger Murray Lubbe van The Hit Factory in Pretoria.
  • Die liedjie sal deur die gekose kunstenaar op die hoofverhoog opgevoer word tydens die volgende Innibos-kunstefees (afhangend Covid-regulasies).
  • Innibos-kunstefees betaal die liedjieskrywer se reis- en verblyfkoste, sowel as sekere etes, vir die bogenoemde optrede.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top