Kortliks met Stefaans: Die Afrikaanse kortverhaal as tydsdokument

  • 0

Samesteller: Valda Jansen, Suzette Myburgh en Marius Swart
Titel: Dis hoog tyd (2026)
Uitgewer: Woordfees
ISBN: 978-1-0483-4001-3

Daar is ’n verskil tussen ’n bloemlesing wat terugkyk op ’n literêre tradisie en een wat jaar ná jaar nuwe werk opneem. Abraham H. de Vries se Die Afrikaanse kortverhaalboek vervul ’n belangrike historiese en kanoniserende funksie deur verhale uit byna 120 jaar van Afrikaanse kortverhaalkuns bymekaar te bring. Die Nuwe Stories-reeks het weer doelbewus op jong, dikwels nog ongepubliseerde skrywers gefokus en aan hulle ’n geleentheid gebied om hul werk te ontwikkel en gepubliseer te kry.

Die Stellenbosch Woordfees se kortverhaalbundels, waarvan Bly in 2016 die eerste was, bring iets van albei hierdie publikasieprojekte bymekaar. Anders as De Vries se historiese terugblik word hier jaarliks nuwe verhale opgeneem. En anders as Nuwe Stories is deelname nie tot jong skrywers beperk nie. Nuwe en gevestigde skrywers ding op gelyke voet mee. Die Woordfeesbundels het dus nie net ’n platform vir nuwe stemme geskep nie, maar begin ook ’n omvangryke versameling verhale opbou waarin die ontwikkeling van die Afrikaanse kortverhaal oor tyd gevolg kan word.

Wat die projek besonder interessant maak, is dat die skrywers nie ’n voorgeskrewe tema ontvang nie. Tog ontstaan daar dikwels ’n gemeenskaplike onderwerp of gevoeligheid in verskillende verhale. Volgens die organiseerders kom sulke temas spontaan na vore. Dit is presies die soort verskynsel wat ’n mens in ’n literatuurhistoriese studie behoort te ondersoek. Die bundels funksioneer immers soos ’n literêre jaarboek: ’n versameling verhale waarin iets van die tyd waarin ons leef, vasgevang word.

’n Vergelyking tussen Wys (2017) en Dis hoog tyd (2026) kan byvoorbeeld heelwat oplewer. Twee verhale uit hierdie bundels kan elk op hul eie uitstekende kortverhale wees. Maar wanneer hulle saam gelees word, begin ander vrae ontstaan, soos: Hoe het ons taalgebruik, politieke bewussyn, tegnologiese verbeelding, gesinsverhoudings, seksualiteit en sosiale vrese oor hierdie dekade verander? Wat het ons agtergelaat, en wat het ondanks die verloop van tyd dieselfde gebly?

Die Woordfees se 11 bundels bied nou genoeg materiaal om sulke vergelykings te begin tref. Waar De Vries se bloemlesing ’n historiese oorsig van die Afrikaanse kortverhaal saamstel, bou die Woordfees jaar ná jaar aan ’n nuwe korpus verhale. Dit is nie bloot 11 afsonderlike publikasies nie. Saam begin hulle ’n literêre tydsbeeld vorm wat vir toekomstige navorsers van groot waarde kan wees.

Statistiek

Ter agtergrond: In 2016 is geen algehele wenner aangewys nie. ‘n Eerste prys is eers in 2017 ingestel nadat Du Toitskloof Wyne begin het om die prysgeld te borg. Keith Oliver Lewis is vanjaar dus die tiende wenner. Geluk aan hom met hierdie besonderse prestasie wat hy met sy wenverhaal, “Nagwaak”, agter sy naam skryf.

Met 11 bundels agter die rug, en met die voorraad van die vorige uitgawes wat al skraler raak (van die vorige bundels is daar volgens die Woordfees se voorraadlys nog net enkele uitgawes beskikbaar), is dit seker tyd dat die organiseerders ’n bloemlesing met gunstelingverhale uit die afgelope 11 jaar oorweeg. Hopelik drie keer dikker as die huidige formaat, maar dit hoef natuurlik nie al die verhale wat reeds gepubliseer is, te bevat nie.

Vir interessantheid: Volgens my telling is daar tot 2026 reeds 264 verhale opgeneem. Die naamregister dui op meer as 200 verskillende skrywers oor die 11 jaar, waarvan ’n kwart meer as een keer in die bundels verskyn het. Onder hulle is ’n hele paar gevestigde figure in die Afrikaanse letterkunde.

Die kortverhaalmaestro Gerda Taljaard-Gilson hou die rekord met sewe opnames. Michèle Meyer volg met ses, terwyl van Deborah Steinmair, Madeleen Welman en Ryno Eksteen elk vyf verhale in die reeks opgeneem is.

’n Skrywer as literatuurhistoriese meetpunt

Michèle Meyer se deelname aan die Woordfeesreeks bied ’n besonder interessante voorbeeld van wat ’n mens met hierdie bundels kan doen. Sy was in 2017 die eerste wenner van die kortverhaalkompetisie met “Langsaan” in Wys. Nege jaar later verskyn sy weer in Dis hoog tyd, die bundel waarin die tiende wenner aangewys word. Tussenin het sy in nog vier Woordfeesbundels verskyn.

Haar ses verskynings is nie bloot ’n statistiese prestasie nie. Dit gee ’n mens die geleentheid om dieselfde skrywer se werk oor ’n dekade te volg en te kyk hoe haar vertellers, temas en taalgebruik verander, maar ook watter literêre belangstelling deurgaans herkenbaar bly.

Die twee verhale wat ek hier langs mekaar wil plaas, is “Langsaan” (2017) en “Die volgende berig bevat inhoud wat sensitiewe luisteraars mag ontstel” (2026). Die verskil tussen die wêrelde waarin hulle afspeel, is opvallend.

In die eerste verhaal staan die familiehuis, Ouma, kinderlike herinneringe en die huishoudelike lewe sentraal. Meyer gee besonder baie aandag aan die voorwerpe en klein besonderhede waaruit hierdie wêreld bestaan. In die latere verhaal is die leser in ’n moderne stedelike omgewing van leefstylkomplekse, selfone, Google Maps, voertuie en geweldsmisdaad.

Die verskil is ook in die taalgebruik te bespeur. Die meer huislike, herinneringsgedrewe Afrikaans van “Langsaan” maak in die 2026-verhaal plek vir ’n vinniger stedelike register waarin Engels, tegnologie, populêre kultuur en moderne leefstylverwysings deel van die verteller se alledaagse woordeskat word. Dit is nie bloot ’n kwessie van meer Engelse woorde nie. Die taal skep ’n ander soort karakter en ’n ander wêreld.

Tog is daar ook ooreenkomste. Albei verhale raak aan menslike kwesbaarheid en die behoefte aan versorging. In “Langsaan” word dit binne die familiekring uitgebeeld, met Ouma se ouderdom, siekte en afhanklikheid. In die 2026-verhaal word die mens se weerloosheid binne ’n gewelddadige stedelike omgewing geplaas. Veiligheid is in albei verhale relatief: Die bekende huis beskerm nie teen siekte en verlies nie, en die moderne stad se tegnologie kan nie noodwendig teen geweld beskerm nie.

Dit is presies die soort verskynsel wat ’n literatuurhistorikus oor ’n tydperk behoort te bestudeer. Ek sou dieselfde met die 10 wenverhale wou doen.

Vrae

’n Vraag wat ek gereeld hoor, is: Is daar ’n kortverhaal wat jy graag in die bundel sou wou sien, maar wat nie opgeneem is nie?

’n Eerlike antwoord is: Natuurlik. As ek vinnig moet dink, is Sidney Gilroy se “Koebaai, Meraai” beslis een wat ek sou kies (Koebaai, Meraai – LitNet).

Ek dink egter die vraag is effens onregverdig. Ek het immers nie al die verhale gelees wat vir die kompetisie ingeskryf is nie. Hoe kan ek dan oordeel watter verhale die keurders moes gekies het? Die vraag wat ek eerder wil vra, is: Is die verhale wat wél in die bundel opgeneem is, die moeite werd om te lees?

Nog ’n vraag wat ek al gehoor het, is of ek ’n gunsteling-Woordfeeskortverhaal het. My gunsteling uit alles wat ek tot dusver gelees het (2017–2019, 2021 en 2023–2026), is Coen Basson se 2021-wenverhaal, “Eenzaamheid”.

Net soos sy voorgangers, wys Dis hoog tyd vir ons hoeveel nuwe stemme daar nog in Afrikaans wag om ontdek te word. Moenie wag totdat hierdie skrywers hul eie boeke publiseer voordat jy hulle raaklees nie. Lees hulle nou!

Lees meer hier: Kortverhaalbundel - Toyota Stellenbosch Woordfees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top