Korrupsie hou die ANC bymekaar, daarom sal dit nie skeur nie

  • 5

Jason Lloyd

In ’n week van hoë politieke drama het die ANC se kunsmatige eenheid soos ’n besmette stinksweer oopgebars omdat die skelms, diewe, selfverrykers, nepotiste, tenderpreneurs, pantiepreneurs en Covidpreneurs in die ANC se vet besig is om uit te braai.

In ’n desperate poging om hul toegang tot staatsmag en hulpbronne te beskerm en te verseker het dié geslepe korruptes uit die binneste kamers van die ANC briewe en eise van bedanking aan president Cyril Ramaphosa gerig.

Dié stille paleisrevolusie tot nou toe binne die korrupte en onbevoegde ANC is eintlik deur Ramaphosa geopenbaar toe hy in ’n ongewone stap deur ’n ANC-leier ’n openbare brief van sewe bladsye, gedateer 23 Augustus 2020, aan ANC-lede gerig het. Daarin het hy geskryf die ANC staan as beskuldige nommer een in die beskuldigdebank wat korrupsie betref.

Dié hoë politieke drama is verlede Vrydag aan die begin van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se spesiale vergadering van drie dae op die spits gedryf toe oudpres Jacob Zuma in ’n verrassende stap die geveg tussen die korruptes en konstitusionaliste binne die ANC tot binne Ramaphosa se kryt geneem het. Hy het ’n 12-bladsy-brief, wat kamtig uitgelek het, gedateer 28 Augustus 2020, aan die President gerig.

Ramaphosa se 7-bladsy-brief is klaarblyklik geprikkel deur ’n reeks onthullings in die media dat invloedryke amptenare binne die ANC en die regering, insluitend sy eie woordvoerder, Khusela Diko, en haar man, Amabhaca Koning Madzikane II Diko, hul invloed na bewering misbruik het om voordeel te trek uit die verkryging van COVID-19-tenders ter waarde van miljarde rande.

Die wonderbaarlike stap deur die ANC in KwaZulu-Natal (KZN) om die omstrede Zandile Gumede, voormalige eThekwini-burgemeester, wat saam met 17 ander mense van bedrog van meer as R200 miljoen aan aangekla word, te verhef van ’n gewone raadslid tot ’n lid van die KZN se provinsiale wetgewer, het Ramaphosa onteenseglik rooi laat sien.

Ook het die beweerde korrupsie deur ANC-kaders met COVID-19-tenders die afgelope weke op sosiale media deurgeloop. Dit is met hutsmerke soos #VoetsekANC bejeën.

Na die verskyning van Ramaphosa se brief het die ANC-korruptes met mening teruggeslaan. In ’n skynbaar gekoördineerde aanval teen Ramaphosa het die korruptes wat Zuma en Ace Magashule, omstrede ANC-sekretaris-generaal, ondersteun, die President gevra om te bedank.

Onder hulle is die omstrede Baai-raadslid Andile Lungisa, wat tronkstraf uitgedien het omdat hy ’n DA-raadslid aangerand het, en Tony Yengeni, ‘n NUK-lid wat al tronkstraf vir bedrog uitgedien het.

In nog ’n dramatiese wending het die ANC se integriteitskommissie Magashule gedaag om oor die naweek voor dié kommissie te dien. Hy is gevra om te verduidelik wat hy verlede maand bedoel het toe hy in ’n TV-onderhoud gesê het hy sal nie weens bewerings van korrupsie teen hom opsy staan nie. Teen Sondag is berig dat Magashule wel bereid is om hom aan die integriteitskommissie te onderwerp op ’n tyd en plek wat gerieflik is vir beide partye.

Zuma beskuldig Ramaphosa daarvan dat hy byna R1 miljard in skenkings van witmonopoliekapitaal gekry het om sy interne ANC-leierskapstryd by die ANC se nasionale konferensie in 2017 te wen. Die bewerings het betrekking op sy CR17-veldtog om as ANC-president verkies te word, en wie dit finansieel gesteun het.

Op sy beurt het Lungisa die integriteitskommissie versoek om die CR17-veldtog te ondersoek en beweer onder meer dat uitgelekte CR17-e-posse onthul dat die huidige ANC-regime “gekoop” is.

In sy brief het Zuma vir Ramaphosa soos ’n veglustige kêrel uitgedaag om liewer voor sy eie deur te vee. Hy is veral ontevrede omdat Ramaphosa volgens hom gewone ANC-lede aankla van korrupsie om sy eie bas te red. Zuma skryf verder dat Ramaphosa nie verstaan hoe die ANC-leierskap met ANC-strukture kommunikeer nie.

Dit blyk Zuma is so vasgeverf in die ANC se uitgediende dogma en nostalgie van ’n bevrydingsbeweging dat hy nie die omvang van die ANC se korrupsie, staatskaping, onbekwaamheid en faksiegevegte verstaan nie. Die ANC se totale aftakeling van die land en ons toekoms verg dringende en buitengewone ingryping om ons van totale ekonomiese en morele ondergang te red. Dus was dit nodig vir Ramaphosa om as staatsman bokant die ANC uit te styg deur te erken dat sy party as beskuldigde nommer een voor in die koor staan as dit by korrupsie kom.

Dit sal ook help as Ramaphosa die ANC se uitgestelde, maar broodnodige skuif van ’n uitgediende en sinlose bevrydingsbeweging wat valse revolusionêre liedere sing na ’n moderne politieke party sal kan aanhelp. Dié indringende skuif sal die skeiding tussen party en staat bespoedig soos dit in ’n grondwetlike demokrasie hoort.

Zuma het egter ’n punt beet as hy Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy net lippediens aan die volgende 2017-nasionale-kongres-resolusies verleen:

  • Die nasionalisering van die Reserwebank
  • Grondonteiening sonder vergoeding
  • Radikale ekonomiese transformasie.

Zuma vergeet egter gerieflik, of ly hy aan selektiewe geheueverlies, dat die 2017- nasionale kongres ook ’n resolusie teen korrupsie aanvaar het. Ramaphosa het reeds in sy 7-bladsy-brief die onderneming gegee dat dié teenkorrupsieresolusies in werking gestel moet word. Dit voorspel natuurlik niks goeds vir Zuma en sy makkers, wat alles sal doen om uit die hof en tronk te bly, nie. Dus reeds daarom dat hulle na ’n politieke oplossing binne die ANC soek om korruptes se bas te red.

Dit is verblykend dat die nasionale werkkomitee (NWK) – die ANC se hoogste besluitnemende liggaam tussen NUK-vergaderings – en die NUK Ramaphosa se 7-bladsy-brief ondersteun het.

Nog ’n goeie verwikkeling aan die Ramaphosa-kant is dat Ramaphosa alreeds ’n onderneming aan die integriteitskommissie gegee het dat hy bereid is om voor dié kommissie te getuig om vrae rondom sy CR17-veldtog te beantwoord. Dit sal ander ANC-lede wat geïmpliseer word in korrupsie en wat Ramaphosa oor die CR-17-kwessie verdag maak, laat besef en dwing om dieselfde en die regte ding te doen om hulle integriteit te probeer beskerm.

Die groot vraag wat gevra moet word, is of die ANC se nuwe ingesteldheid jeens korrupsie genoeg sal wees om dié organisasie van korrupsie en staatskaping te reinig.

Ek is bevrees ek het lae verwagtinge, veral as ’n mens in gedagte hou wat oudpres Thabo Mbeki in 1989 gesê het.

Mbeki het tydens ’n vergadering met ’n groep Afrikaner-leiers gesê die moontlikheid bestaan altyd dat ’n toekomstige ANC-regering korrup kan wees. Dit is omdat regerings wat in Afrika ná kolonialisme, en in Suid-Afrika se geval ná apartheid, aan bewind kom, dink dis moreel geregverdig om korrup wees. Hulle dink dit is reg omdat hulle vir ongeveer 300 jaar nie in hul onderskeie lande se heuning en melk kon deel nie.

Die nuutgevonde skyn van eenheid in die ANC is fabelagtig omdat hulle besef dat as die ANC sink, hulle almal finansieel sink. Die waarheid is dat die ANC homself nie van korrupsie kan red nie, want die meerderheid ANC-leiers is van korrupsie afhanklik vir hul ekonomiese voortbestaan.

Dus reeds daarom dat die ANC in die afsienbare toekoms nie sal skeur nie, want soos voormalige ANC-lede wat in 1999 en 2009 weggebreek het om onderskeidelik die UDM en Cope te stig, besef het, is dit bibberend koud buite die ANC.

 

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Chris Erasmus

    Dankie, uiteindelik iemand wat "sense" skryf. Volens my weet niemand werkilk wat in die binnekringe van die ANC aangaan nie. Die ANC is reeds gekaap deur vreemde moonthede en is dit slegs "window dressing:" wat tans plaasvind. Elke "groot" etniese en "strugglers"groep het sover 'n beurt gehad om te regeer. Dit was die Xhosas (Mandela - Zambie) toe Mbeki (Angola) en toe Zuma (Binnelandse - Nie exile) groep. Almal het beurt gehad om te skep. Ramaphosa is 'n Venda, en is die "slimste/mees uitgeslape" van die lot. Ons sal maar sien wie die geveg gaan wen. Korrupsie, watse korrupsie, wat jy waar kry.

  • Avatar
    Karel Willemse

    Goeie artikel, en ek stem saam met baie wat jy se. Net een ding pla my. Waarom is beskuldigde nommer een, en al sy trawante selfs die pantiepreneurs (wie of wat hulle ook al is), nog nie agter tralies nie? Klink vir my meer na iemand wat 'n frase uit 'n Steven Seagal movie geneem het.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Korrupsie, magsdronkheid en eie belang is inderdaad die gom wat hierdie bende rampokkers bymekaar hou. Van heelbo tot heelonder. Gerugte en berigte dat daar 'n faksie was/is om die President uit te werk het hom skielik tot 'aksie' laat oorgaan. Daar moet noú teen korruptes opgetree word nadat jare niks gebeur het nie en dinge buite beheer ge-eskaleer het.

    Is dit nie dalk 'n geval van die President om sy eie bas te red nie. Hy weet die media sal hom steun en so ook akademici en politieke kommentators, oongeag......... Hy het poste in vervolgingsgesag georiënteerde instellings intussen met sy 'eie' mense gevul (net soos Pres. Zuma) en hoop dit hom sal help om van diesulkes ontslae te raak. Dít terwyl hy nog self moet antwoord of hy in sy tydperk as Adjunk President nie dalk ook 'besigheid' met die Staat gedoen het nie. Soos sy seun en 'n woordvoerder in sy kantoor, sommer onlangs. Ook word erg bespiegel wie diegene is wat miljoene vir sy CR17 veldtog gegee het. In sy jare as Adjunk President is al die Staatsinstellings onder sy toesig soos Eskom in die grond in bestuur.

    Wanneer dinge op die spits gedryf word gaan die poppe begin dans. En moenie vir 'n oomlik dink dat dinge na 'normaal' terugkeer wanneer van Ace of sy trawante uitgewerk is nie........ sou dit gebeur. Die interne stryd in 'n erg verdeelde ANC gaan dan eers begin. Die alternatief? Dreig, praat en raak hier en daar ontslae van 'n paar persone maar beskerm die 'eenheid' van die ANC bly steeds 'n opsie. Nie omdat daar noodwendig in eenheid geglo word nie maar omdat daar nie bekostig kan word om van kollegas ontslae te raak nie omdat die meeste self geraamtes in die kas het. Tyd sal leer.

  • Avatar
    Johan Malherbe

    Dankie Jason. Goed oordink, goed geskryf. Om net soos mense praat mense agter tralies te kry gaan nie die probleem dadelik aanspreek nie. Eerstens moet sake goed voorbereid wees, tweedens moet die ANC se DNA verander. Zuma mag steeds dink dat dit 'n bevrydingsbeweging is, maar die huidige ANC is soos n dobbelhuis gemeng met 'n smokkelhuis en gebou op ander man se kasregister. Die ANC moet sy karakter verander (daarmee ook die RSA township straatpolitiek)

  • Avatar
    Anthony "Speedo" Wilson

    Dankie Jason! In die kol soos gewoonlik. Zuma verstaan kastig niks en ly aan Alzheimers light wanner dit hom pas. Jy't dit baie mooi ... soos hulle in Engels sê "Succinctly" uiteengsit. Die is NIE die ANC wat ons ken nie - ook nie Mandela s'n nie! Hulle't geen skaamte nie. Maak soos hulle wil; Waar hulle wil; Wanneer hulle wil en die land ly daaronder. Die Here weet. Dié ANC MOET gestop word anders sal daar nie meer 'n land oor wees nie! Sies!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top