Koos Human (1931–2018)

  • 0

Gebore en getoë

Jacobus Johannes (Koos) Human is op 29 November 1931 gebore aan die Rand waar hy grootgeword het in die "rookvaal Witfield", ’n gebied naby Boksburg in die Oos-Rand, waar sy pa ’n mynamptenaar was. Die familie het maar swaar gekry, veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog-jare.

Hy was as kind al "boekbehep", het hy aan Hanlie Retief in Rapport van 15 Oktober 2006 vertel. Hy het onthou dat sy eerste leeservarings die Nederlandse boeke in sy ouerhuis was. In ’n Lewe met boeke (bladsy 11) het hy vertel hoe hy as jong kind al sy pennies bymekaar gemaak het om van die Burger-boekhandel die boekies van Helena Lochner, Leipoldt, Lulu Latsky en ander skrywers van dié dun kinderboekies te koop. Later het hy die rillers van Johann van der Post en Adriaan Roodt (wat toevallig dieselfde persoon was) vanaf Van Schaik-uitgewers bestel.

Hy het aan die Hoërskool Voortrekker op Boksburg gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná matriek is Koos na die Universiteit van die Witwatersrand waar hy hom ingeskryf het vir die graad B Mus, maar hy het vinnig tot die besef gekom dat ’n mens nie belangstelling met talent moet verwar nie, het hy aan Thessa Bos (Zuid-Afrika, 1 April 2007) vertel. Dit het hom presies twee weke geneem om te besef hy was besig om in die verkeerde rigting te studeer.

Aan Hanlie Retief het hy vertel: "Toe ek daai mannetjies en dametjies hoor klavier speel, het ek besef ek's nie in hul klas nie. Binne twee weke het ek van kursus verander."

Aan Bos het hy gesê dat sy volgende logiese keuse die letterkunde was. En hierdie verandering van kursus was die voorloper tot ’n baie interessante en, kan ’n mens maar sê, roemryke loopbaan in die Afrikaanse letterkunde. Alreeds in sy studiejare het hy in aanraking met die uitgewerswêreld gekom toe  hy vir sy M-skripsie (Die gewilde literêre werk: ’n ondersoek na die rol van leesstof in die hedendaagse samelewing) gesprekke met ’n aantal uitgewers, redakteurs en skrywers gevoer het, maar aan ’n loopbaan in die uitgewerswese het hy op daardie stadium nog glad nie gedink nie. Hy het sy MA-graad in 1953 met CM van den Heever as sy promotor behaal.

Ná sy studie is Koos na Die Vaderland as joernalis. Hier het hy kort na die ontdekking van goud in die Vrystaat hom soontoe begewe en daarvandaan verslag gedoen. "Een interessante tyd," het hy aan Bos vertel, "waarin ek mense met die vreemdste verhale ontmoet het.”

Sy loopbaan as joernalis het net so bietjie meer as ’n jaar geduur. Daarna was hy vir drie kwartale ’n onderwyser en het hy na sy tydjie as onderwyser twee jaar by die Vleisraad as vertaler gewerk.

Deur die bemiddeling van CM van den Heever het Koos in April 1954 sy loopbaan as uitgewer by Nasionale Boekhandel begin – vir twee jaar as assistent in die departement skoolpublikasies en vanaf 1956 (as 24-jarige) as hoof: algemene publikasies, waar hy, soos hy dit aan Hanlie Retief gestel het, "ewe dapper" ’n DF Malherbe-manuskrip afgekeur het.
Gedurende hierdie paar jaar by Nasionale Boekhandel het hy in kontak gekom met ’n aantal persone wat in sy latere loopbaan ’n beduidende rol sou speel. Een van die belangrikste van hierdie mense was Leon Rousseau wie se werke as skrywer en vertaler deur Nasionale Boekhandel uitgegee is.

In 1958 het Koos by Nasionale Boekhandel bedank en het hy ’n aanbod aanvaar om vir Afrikaanse Pers-Boekhandel in Johannesburg te gaan werk. Sy werk aldaar was gemik op die uitgewery sowel as die boekwinkels. Vir Koos het dit aanvanklik gelyk na ’n aantreklike sowel as uitdagende werk, maar hy het gou besef dat hy hom nie kan vereenselwig met die manier van werk by hierdie uitgewery nie en nege maande nadat hy daar begin het, het hy bedank.

Hy is in Februarie 1959 terug na die Kaap en was baie dankbaar toe Leon Rousseau sy voorstel om hulle eie uitgewery te begin, aanvaar het – en so het Human & Rousseau die lig gesien. Koos en Leon het as jong mense die waagmoed gehad om onbekende (vir daardie tyd) skrywers soos André P Brink, Etienne Leroux en Breyten Breytenbach onder hul vlerk te neem en hulle werke uit te gee, benewens die gewone skoolboeke en die tradisionele prosa en poësie. Só het Koos dan bekend geword as "die Peetvader van die Sestigers".

Jan Rabie het Human & Rousseau "die onafhanklikste en ondernemendste uitgewers in die land" genoem en Koos het hierdie skrywers se vriend en hawe geword, veral in die tye toe daar verwoed teen die sensuurstelsel in Suid-Afrika geveg is.

Koos het aan Die Burger (30 April 1994) vertel dat hy en Leon Human & Rousseau begin het met vier mense – hulle twee, ’n bode en ’n tikster. "Sy was ’n skitterende vrou. As jy in 10 van haar bladsye ’n tikfout gekry het, was jy bly om te sien sy is ook maar menslik. Sy het eenkeer vir ons instruksies getik oor ’n paar dingetjies in die kantoor, wat ek vir Leon gaan wys het. 'Ek wens ons het net een skrywer gehad,' het ek vir Leon gesê, 'wat iets so helder en duidelik kan uiteensit'."

Koos en Nakkie Louw, dogter van NP van Wyk Louw, is op 3 Januarie 1959 getroud. Hulle het twee dogters, Joan en Maria, en ’n seun, Jacobus. Nakkie is op 14 Julie 1984 op 49-jarige ouderdom aan ’n hartaanval oorlede en in 1986 is Koos getroud met Trewhella Cameron, ’n geskiedenis-onderwyser en skrywer van Die nuwe geskiedenis van Suid-Afrika.

In April 1980 is Koos genooi om aan ’n nasionale konferensie oor sensuur by die Universiteit van Kaapstad deel te neem waar hy oor "Die uitgewer en sensuur" sou praat. Hy het aanvanklik hierdie uitnodiging aangeneem, maar nadat hy gehoor hy sou die verhoog deel met Lammie Snyman, ’n vorige voorsitter van die Publikasieraad, het hy besluit om te onttrek. Volgens die korrespondent van The Star (16 April 1980) het Koos, sowel as Snyman geweier om kommentaar te lewer.

In 1981, met Koos se 50ste verjaardag, het daar ’n huldigingsbundel vir hom by Human & Rousseau verskyn onder die titel ’n  Natsteen vir Koos Human: bundel aangebied aan Koos Human by geleentheid van sy vyftigste verjaardag op 29 November 1981 in Kaapstad. In die perswese is ’n natsteen ’n lekker klein makietie – ’n kansie vir die setters en ook die redaksielede om te ontspan en wyn te drink in die drukkery nadat ’n skof goed afgeloop het. Die oplaag van ’n Natsteen was beperk tot 125 genommerde eksemplare wat nie in die algemene handel beskikbaar was nie.

Hierdie bundel bevat bydraes van skrywers en mede-uitgewers waarin hulle herinneringe rondom 20 jaar se "vreugdes en storms rondom die Afrikaanse boek" opgeteken het. Die bydraers was Hans Büttner, Abraham H de Vries, Elisabeth Eybers, WA Hofmeyr, JC Kannemeyer, Antjie Krog, Etienne Leroux, DJ Opperman, Jan Rabie, Leon Rousseau, Karel Schoeman, Lina Spies en Ernst van Heerden.

André P Brink se bydrae was getiteld "Die donkie se wonderlike ding" en hy het dit as volg afgesluit: "En uit vandag se middeljarige welvarendheid wat skrywers én uitgewers getref het, kan mens net met genoeë terugdink aan die avontuur van daardie tyd: ‘Bliss was it in that dawn to be alive, and to have Koos as your publisher’ – nou ja, so nie very heaven nie, dan tog ’n versekering dat jy met ’n oortuigde vegter langs jou beter toegerus is om die duiwel se leërs aan te pak." (Dit was na aanleiding van die stryd om Lobola vir die lewe gepubliseer te kry.)

Koos het Human & Rousseau in Desember 1994 verlaat en vanaf Januarie 1995 was hy redakteur van die meningsblad Insig. Hy het terselfdertyd op ’n deeltydse grondslag die kleiner uitgewery Brommaert-pers bedryf. Hy was vir jare betrokke by Kruik as voorsitter van die musiek en balletkomitee, asook lid van die uitvoerende komitee.

Vanaf Maart 1986 tot September 2008 was Koos verantwoordelike vir die skryf van Die Burger se hoofartikel op Saterdae. Tussen 1973 en 1980 het hy die radiorubriek vir Die Burger behartig en vir 16 jaar ook die platerubriek onder die titel Klassieke klank. Hy het in 1995 die DF Malherbe-gedenklesing in Bloemfontein gelewer toe hy gepraat het oor Die toekoms van die Afrikaanse boek.

Die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging het hulle erepenning vir 1992 aan Koos toegeken. Die destydse voorsitter van hierdie vereniging, professor doktor GJ Schutte, het tydens ’n besoek aan Suid-Afrika die erepenning persoonlik aan hom oorhandig. Schutte het Koos geprys vir sy bydrae tot die bou van kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika en het ook gewys op die verhoudings wat Koos met baie Nederlandse uitgewers, skrywers en vertalers gehad het. Hy was ook vol lof vir Koos as uitgewer se belangstelling in publikasies oor die gesamentlike Nederlands-Suid-Afrikaanse historiese en kulturele erfenis.

Professor Schutte het ook die groot waarde van Koos se belangstelling in die publikasies van Nederlandse literêre werke vir gebruik in die Suid-Afrikaanse onderwys, soos byvoorbeeld die reeks Literatuur van die Lae Lande en Momente in die Nederlandse letterkunde, onderstreep. (Zuid-Afrika, Februarie 1992)

In 1994 het Koos die graad D Phil (honoris causa) van die Universiteit van die Vrystaat ontvang vir sy bydrae tot die vorming van die Afrikaanse letterkunde en die stimulering van die produksie van wetenskaplike werke. Ook in 1994 het Koos ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang vir die bevordering van die Afrikaanse boek.

In 1995 was Koos aan die ontvangkant van die Phil Weber-prys, die hoogste eerbewys aan ’n amptenaar van die Nasionale Pers. Oor hierdie eer en hoe hy daaroor voel, het Koos aan Johann Botha (Die Burger, 9 Augustus 1995) gesê: "Ek het drie antwoorde. Die eerste is dat dit vir ’n uitgewers nogal vreemd voel om ’n prys te kry. Gewoonlik is dit sy skrywers wat pryse kry, en dis ook hoe dit hoort.

"Maar – en dis my tweede antwoord – dis ’n besondere prys. Phil Weber was besturende direkteur van Nasionale Pers toe dié Human & Rousseau in 1977 oorgeneem het. Daar was altyd hierdie besondere verband tussen H & R en Phil Weber. Om nou ’n prys te kry wat na hom vernoem is, is spesiaal.

"Dis ook vir mense wat met boeke werk, ’n erkenning. Al die vorige wenners van die Phil Weber-prys was uit sektore soos koerante, tydskrifte en bestuur – groot kanonne soos (Lang) Dawid de Villiers, Piet Cillié, Wiets Beukes, Willem Wepener, Niel Hammann, Hennie Conradie, Danie Krynauw en ander.

"Vir my derde antwoord dink ek aan die beweerde woorde van Bertrand Russell toe dié verneem het hy gaan die Nobelprys kry: 'The honour is fine, but the money is beter ...' Vandag sou Russell dalk gesê het: 'and the tax man is the worst of all ...' "

Op 6 September 2008 het Koos se laaste bydrae tot Saterdae se hoofartikels in Die Burger verskyn. Hieroor het hy aan Heindrich Wyngaard (Die Burger, 6 September 2008) gesê: "Wanneer jy vir so lank ’n nuwe onderwerp vir elke skryfbeurt moet vind, raak dit op die ou einde sleurwerk en begin dit jou later bekommer."

Oor hierdie skryfproses het hy verder aan Wyngaard verduidelik: "Ek het altyd probeer om oor iets te skryf wat min of meer ter sake was, nie abstrakte onderwerpe nie, maar iets wat in die nuus min of meer aktueel is."

Hy het die hoofartikels destyds op ’n gewone tikmasjien getik en later het hy ’n rekenaar begin gebruik. "Ek sou dit egter nooit gewaag het om met die hand iets te skryf nie, want my handskrif is so lelik dat ek dit self nie sal kan lees nie. Ek bly ’n tweevinger-tikker."

In 1992 begewe Koos hom aan die anderkant van die uitgewers- en skrywersverhouding toe Die A tot Z van klassieke musiek verskyn het.

In Die Republikein van 27 November 1992 het Ia van Zyl geskryf dat dit die boek is waarvoor Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers gewag het. Dit bevat 1 300 afsonderlike alfabetiese inskrywings wat inligting gee oor 700 werke uit die klassieke repertoire. Die stories van al die bekende operas en ballette word vertel. Die belangrikste arias van die operas word vermeld en dit help die leser om dit in konteks van die verhaal te plaas.

Ook die belangrikste komponiste se lewensloop word uitvoerig weergegee. Daar is ’n musikale bespreking van die verskillende dele van simfoniese werke, concerto's en ander komposisies met spesiale aandag wat aan die verskillende instrumente afgestaan word.

Van Zyl het haar bespreking afgesluit: "’n Mens is Koos dankbaar vir ’n werklik monumentale stuk werk."

In 2005 is ’n nuwe uitgawe van Die A tot Z van klassieke musiek uitgegee. Gottfried Maas het in sy resensie daarvan (Die Burger, 11 Julie 2005) melding gemaak van Koos se groot liefde vir musiek. Hy het sy kennis van musiek uitgebrei deur soveel as moontlik daarna te luister, daaroor te lees en te gesels.

"Tot 2002 het hy as plate- en CD-rubriekskrywer 16 jaar lank met Die Burger se lesers tegelyk opvoedend en onderhoudend 'gesels'. Dat hy die afgelope 60 jaar intensief na musiek geluister en daaroor nagevors het, ly geen twyfel nie. Die meeste werke wat hy in Die A tot Z  bespreek, het hy gehoor en sy bronnelys is langer as twee bladsye.

"Human het hard gewerk – meer as drie jaar aan die eerste uitgawe – aan dié 'enigste omvattende gids tot die wêreld se klassieke musiekrepertoire in Afrikaans'. Sy bydrae tot die boek– en musiekkultuur is groot. Maar al sou hy nét Die A tot Z van klassieke kultuur tot stand gebring het, moes sy naam in goue letters op die gedenkmuur van kultuurpresteerders gestaan het. 'Dis inderdaad ’n geskenk vir ’n leeftyd,' het Daniël Kirstein in Insig oor die eerste uitgawe geskryf. Aan dié waarheid het niks verander nie."

In 2006 is Koos se ’n Lewe met boeke gepubliseer. In hierdie boek kuier jy saam met Koos, het Gerrit Brand in Die Burger van 9 Oktober 2006 geskryf. "Hy vertel jou oor sy lewe met boeke. Hoe hy by Nasionale Boekhandel begin werk het, sy kortstondige tydjie by Afrikaanse Pers-Boekhandel in Johannesburg en sy oprigting van Human & Rousseau saam met Leon Rousseau. (...)

"Meestal put hy maar uit sy geheue, maar kort-kort gaan krap hy in sy papiere, of raadpleeg die uitgewery se lêers. 'Ek het nooit ’n dagboek gehou nie,' sê hy wat klink na ’n tikkie selfverwyt.

"Hy vertel wonderlike stories oor karakters soos LW Hiemstra, DJ Opperman, Peter Blum en sy vrou, en boekmense wat aan die verkeerde kant van die wet beland het, soos Theo Friis en Mauritius Spies. (...) Die interessantste is egter die skrywers met wie hy te doen gekry het: Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Etienne Leroux, Karel Schoeman, André P Brink, Breyten Breytenbach en ander. By die nadink oor dié lys wonder jy hoe die Afrikaanse letterkunde sou gelyk sonder Human & Rousseau. (...)

"Meestal wanneer mense hul storie vertel, is dit om te wys hoe reg hulle, en hoe verkeerd ander, was. Nie Human nie. Hy erken byvoorbeeld ruiterlik dat hy slegte oordeel aan die dag gelê het deur sekere manuskripte van Brink af te keur. (...) Hy blaas nooit sy eie trompet nie. Hoewel verskeie skrywers en ander kennisse bondig as byna tasbare karakters geskets word, bied hy geen 'sappige stories van agter die skerms nie', omdat hy 'die vertrouensverhouding tussen skrywer en uitgewer' respekteer. (...)

"Ná die kuier is daar nog soveel wat ’n mens wil weet, maar dat Human onderhoudend kan vertel, is ’n feit. Ek het ’n Lewe met boeke in een nag deurgelees – en eers láát in die bed gekom."

Joan Hambidge (LitNet) skryf dat die waarde van ’n Lewe met boeke vir haar daarin lê dat dit ’n stuk geskiedenis vir die leser bewaar. "Hierdie boek is ’n uiters belangrike tyds- en nie ’n ego-dokument nie. Dit is ’n argief waarin jy byvoorbeeld kan lees presies waarom Standpunte nie meer met ons is nie. (...)

"Elke hoofstuk in ’n Lewe met boeke is ’n verslag van ’n lêer in ’n kabinet wat ’n mens oopmaak. Vir die Afrikaanse leser is dit ’n belangrike boek, omdat Human hom altyd in die eerste instansie uitlaat oor letterkundige gehalte. Markgerigtheid is nie sy eerste drif nie."

Op LitNet maak Hannes van Zyl in sy bespreking van ’n Lewe met boeke melding van die geleentheidsgedig van Elisabet Eybers vir Koos se 50ste verjaardag voor in die boek. "Hy sluit dié aanprysende gedig in, maar waarsku dat die aandagtige leser nie maklik deur die oënskynlike vleitaal geflous sal word nie. Dit is wel so, maar die aandagtige leser sal nietemin oplet dat die gedig ook méér sê: haar uitgewersmedewerker word bevestig as medepligtige, ’n waardering van groter betekenis as enige maklike vorm van vlei.

"Human self het in ’n lesing voor die ALV-kongres by wyse van ’n aanhaling van Sir Stanley Unwin, ’n nugter mening oor die aard van die uitgewers gesuggereer: 'Publishers are not necessarily either philanthropists or rogues.' En die uitgewersbedryf is nie 'an occupation for gentlemen' nie; dit is 'a real business'.

"Sowel Eybers se gedig as Human se aanhaling van Unwin val in die toon van ’n boek wat reguit en sonder aanstel is en juis daarom ten volle bevestig dat Human nooit bloot ’n handelaar in bedrukte paper was nie, maar wel uitgewer in die rykste, wydste sin van die woord."

In 1962 het Afrikaans, wat Van Wyk Louw aan Koos beskryf het as ’n annus mirabilis, beleef. En dit was by Human & Rousseau wat dit gebeur het. Koos (Beeld, 12 November 1992) het meer daaroor  vertel: "Op 30 November 1962 skryf NP van Wyk Louw soos volg aan my: 'Baie dankie vir die eerste eksemplaar van Tristia. Ek is meer as tevrede daarmee, net soos almal aan wie ek dit al gewys het. Ek het eintlik ’n hele week gesmul aan H & R-produkte: eers Lobola wat ek uitstekend gevind het – so goed dat ek vir André Brink ’n fan mail-telegram gestuur het. Dit is verdomp slim gedoen. (...) Dankie ook vir die toestuur van die Silbersteins; ek is sowat halfpad daarmee, en geniet dit baie, stukke  beter as die vorige boeke. En al drie die werke so uitstekend van buite. Dis vir jou werklik ’n annus mirabilis."

Human & Rousseau, en daarby ingesluit dan Koos ook, het met die publikasie van daardie drie boeke wat binne drie maande verskyn het, die hele landskap van die Afrikaanse letterkunde verander.

Koos het vertel hoe dit gebeur het dat hierdie drie boeke by hulle uitgewery verskyn het: "Die eerste was Lobola vir die lewe. Hierdie roman het op ’n vreemde manier by H & R beland. Op ’n dag kry ek ’n oproep van WEG Louw wat my sê hy is deur George Minnaar gevra om ’n manuskrip van Brink vir Nasionale Boekhandel te beoordeel. Die titel was Naakfiguur, kers en ruit.

"Hy het gesê hy het in sy verslag duidelik aangedui dit is ’n belangrike roman wat gepubliseer moet word. Sy boodskap aan my was ons moet probeer om die manuskrip in die hande te kry as Nasionale Boekhandel teen publikasie sou besluit, Hy het my ook Brink se adres in Parys gegee. (...)

"Op die ou einde het die manuskrip wel by ons beland, en ons het toe besluit om dit te publiseer. ’n Ware via dolorosa het egter op die manuskrip gewag, waarvan gedeeltes in ’n Natsteen vir Koos Human deur Brink self beskryf word."

Koos en Leon wou die boek by Nasionale Handelsdrukkery laat druk, maar Phil Weber het Calvyn Palm, hoofbestuurder van die drukkers, aangeraai om dit nie te doen nie. Die manuskrip is daarna na die Cape Times waar ’n baie ywerige proefleser nie van sekere woorde in die teks gehou het nie en met groen ink baie kru Engelse vertalings van hierdie woorde in die kantlyn aangebring het.

Nadat die stel proewe by Guy Cronwright, destyds hoofbestuurder van die Cape Times, beland het, het hy vir Koos genooi om die saak te bespreek. Nadat hy gehoor het dat WEG Louw Lobola vir publikasie aanbeveel het, het hy gesê: "If as eminent a critic as dr Louw recommended publication of this manuscript, there is no question that the Cape Times must go ahead and print it." Daar is egter enkele mindere veranderinge aangebring.

Koos het verder vertel: "Sewe dae by die Silbersteins het op ’n ewe onverwagte manier by ons beland. Leroux se eerste boeke het by die ou HAUM verskyn. En hy moes eintlik die drukkoste van ten  minste die eerste roman betaal. Later was Gerry de Melker bestuurder, en hy en Leroux het goeie vriende geword. De Melker is weg, en John Malherbe het oorgeneem as bestuurder.

"Einde Junie 1962 kry ek ’n oproep van De Melker wat in geheimsinnige toon vra of hy my dringend kan kon spreek. Daar daag hy toe op met’n koevert in sy hand waaruit hy die later so bekende gelerige omslag haal waarop in groot swart letters geskryf staan: SEWE DAE BY DIE SILBERSTEINS met Leroux se handtekening daarby.

"Volgens De Melker het Leroux, met hom as tussenganger, die manuskrip aan HAUM aangebied, wat dit aan John Kannemeyer gestuur het vir ’n verslag. Hy het dit aanbeveel.

"Ek het Malherbe opgebel om seker te maak daar is nie êrens ’n misverstand nie, maar hy het gesê sy publikasieprogram vir die jaar is vol, dat Leroux daarop aandring dat die roman voor die einde van die jaar moet verskyn, en dat hy dit om daardie rede van die hand gewys het. So het ons nie net Sewe dae by die Silbersteins bekom nie, maar ook al Leroux se latere romans.

"Dit is oor die algemeen goed ontvang en sake het heel vreedsaam verloop totdat die Hertzogprys in 1964 daaraan toegeken is. Uit ’n bemarkingsoogpunt was dit ’n dubbele geluk, want nie net het ons meer as 30 000 eksemplare van Silbersteins verkoop nie; Een vir Azazel het in dieselfde tyd verskyn, en ons eerste oplaag van 6 000 is binne ’n oogwink uitverkoop.

Tristia het ook by wyse van spreke op ’n onverwagte manier by H & R beland. Van Wyk Louw het op ’n dag laat weet hy wil ’n manuskrip aan hulle voorlê. "Ek het hom op die nadele daarvan gewys, onder meer dat sy digwerk tussen twee uitgewers versprei sou wees en dat Tristia nie vir die WA Hofmeyer-prys in aanmerking sou kom nie.

"Sy betrekkinge met die destydse uitgewersafdeling van Nasionale Boekhandel was egter nie goed nie, en hy het wel die manuskrip gestuur met die versoek dit moenie in die 'ouderling-swart' van sy ander bundels verskyn nie, maar liewer bruin (’n kleur wat dikwels in Tristia voorkom). Ook oor die stofomslag het hy ’n wenk gegee: die teks daarvan het hy gemerk in ’n uitgawe van The Penguin book of Latin verse. Dit is reëls van Ovidius, waaroor ook uitvoerig geskryf is'."

Koos het ’n hele paar eerstes en hoogtepunte in sy lang loopbaan in die uitgewersbedryf beleef. Hy het aan Die Burger (30 April 1994) vertel: "Daar was ’n paar eerstes. Ek meen ek was die eerste – dit was nog in die dae by Boekhandel – wat ’n manuskrip van DF Malherbe afgekeur het. Dit was Die Boerprofeet wat later wel by ’n kerklike uitgewer verskyn het. En die eerste om die prys van ’n jeugboek bokant 10 sjielings op te skuif.

"Een van die dinge waarmee ek in die jare saam met Leon na my mening die voortou geneem het, was met posbemarking, lank voor Leserskring. Dan was Lobola vir die lewe bepaald die eerste Afrikaanse boek waarin die woorde ef-el en naai voorgekom het. Boerneef het nog vir my gesê hy het nooit gedink hy sal dit beleef om dit te sien nie.

"Dan was daar ’n paar belangrike werke buite die letterkunde soos die herinneringe van Betsie Verwoerd se sekretaresse, Annatjie Boshoff, en spesifiek politieke boeke, soos ons eerste boek by H & R, Anthony Delius se satiriese gedig The last division.

"Die grootste enkele prestasie, as ’n mens dit so wil noem, was vir my die deurslaggewende rol wat die polemiek in die hofsaak rondom Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein gespeel het in die afbreek van sensuur.

"Maar dit is ’n gedeelde prestasie, gerugsteun byvoorbeeld deur die gewilligheid van Nasionale Pers om finansieel by die hofsaak betrokke te raak, en die Akademie-toekenning van die Hertzog-prys toe die boek nog verbied was. Hierdie aangeleentheid styg uit bo enige enkele boek. Dit was ’n beginselsaak met – vir daardie tyd – ’n baie dramatiese betekenis."

Koos het ’n hele hoofstuk in ’n Lewe met boeke gewy aan die geskiedenis van Magersfontein, o Magersfontein. Hy het vertel Etienne Leroux het vir hom geskryf in ’n brief wat Koos op 11 Desember 1973 ontvang het dat hy die eerste hoofstuk voltooi het.

Koos het verder vertel van die toeval wat ook ’n rol gespeel het in die totstandkoming van die boek: "Nadat die manuskrip voltooi is, het Leroux nie, soos altyd in die verlede, na die Kaap gekom vir die finale redigering nie, want ek moes in daardie tyd in Pretoria wees en ons het daar in die Burgerspark-hotel aan die manuskrip gewerk. Twee uitsonderlike maar toevallige omstandighede moet vermeld word. Daar sou ’n groot ballonvaart-gebeurtenis in Pretoria plaasvind en die hele voorportaal van die hotel was versier met plakkate wat allerlei lugballonne uitbeeld. Dit was natuurlik gesien as die slot van Magersfontein waar lord Sudden en Gert Garries in ’n ballon die ewigheid in styg ...

"Die tweede is dat ons ’n in die nabygeleë restaurant, Janina, gaan eet het. Die enigste ander gaste was die latere Magersfontein-nemesis, dr Albert Hertzog, en ’n dame. (Ek meen hy was toe ’n wewenaar.)"

Magersfontein se publikasie in 1976 is dit in 1977 met die destydse CNA-prys bekroon en oor die algemeen baie gunstig ontvang. Daar is ’n klag oor die boek by die direktoraat van publikasies ingedien, maar ’n komitee van deskundiges het geen rede gesien hoekom die boek verbied moes word nie. Die direktoraat het dus besluit om nie die beslissing na Lammie Snyman se appèlraad te verwys nie.

"’n Organisasie in die destydse Verwoerdburg genaamd Aksie Morele Standaarde het ingespring en ’n brieweveldtog op tou gesit, gerig aan die minister, diverse hoogwaardigheidsbekleërs, die skrywer en die uitgewers. Die proses was deursigtig. Maak nie saak waar die brief vandaan gekom het nie, dit is altyd in Verwoerdburg gepos en die handskrif op die koevert het verskil van dié in die brief."

Op 7 September 1977 het Connie Mulder sy reg uitgeoefen om die Appèlraad te gelas om die besluit van die komitee van deskundiges te heroorweeg. Daar was gerugte dat Mulder en Lammie Snyman ooreengekom het dat die boek verbied sou word voor die algemene verkiesing van 30 November 1977. Almal op Snyman se paneel, behalwe AP Grové, moes vooraf ’n onderneming gee dat hulle teen Magersfontein sou stem. H & R het 19 kundiges op hul paneel gehad – GJ Beukes, Audrey Blignault, Elize Botha, Wimpie de Klerk, Dawie de Villiers (minister), IL de Villiers, AH de Vries, BJ Engelbrecht (Hervormde Kerkteoloog aan die UP), Hugo Lambrecht (Kaapse direkteur van onderwys), Truida Louw, PJ Nienaber, Fanie Olivier, DJ Opperman, Coenie Rudolph (Transvaalse onderwysman), Franklin Sonn, Ernst van Heerden en Jan J van Schaik – en hulle was almal teen die verbod.

Geen vertoë sou help nie, want die bevinding was ’n voldonge feit. Op 21 November 1977 is die bevinding gelewer. AP Grové en Douglas Fuchs het ’n minderheidsverslag vir die boek ingedien. Maar die groot bom het gebars op 27 April 1979 toe die Akademie bekend gemaak het dat die Hertzog-prys aan Magersfontein toegeken is.

Hierna sou nog drie jaar verloop voordat die verbod op Magersfontein, o Magersfontein uiteindelik op 2 Desember 1980 opgehef is.

Koos sluit hierdie hoofstuk in sy boek af deur te erken dat hierdie hele geskiedenis vir hulle as uitgewers nie so ’n lekker afloop gehad het nie. André P Brink het ’n Oomblik in die wind na H & R gebring vir publikasie, maar ná ’n lang wroeging het hulle besluit om dit nie uit te gee nie. Brink het hulle nie kwalik geneem nie. Maar niemand het geweet dat die hele sensuurstelsel in Suid-Afrika ’n ommekeer sou hê nie. Ad Donker het ’n Oomblik uitgegee en dit het goed verkoop en dit is later deur Taurus oorgeneem. Nadat H & R vir Taurus in die 1990's oorgeneem het, het al Brink se ander boeke sedert Die muur van die pes in 1984 by Human & Rousseau verskyn.

Die effek wat die uitgerekte en dikwels vernederende geskiedenis op Etienne Leroux gehad het, het duidelik geblyk uit die aantal boeke wat hierna uit sy pen verskyn het. In 1982 het Onse Hymie verskyn, terwyl die onvoltooide Die suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman eers na sy dood in 1990 gepubliseer is.

Op Vrydag 10 Augustus 2018 is Koos in sy huis in Kaapstad aan longontsteking oorlede. Hy was 86. ’n Gedenkdiens is op 21 Augustus vir hom gehou in die Christ Church in Constantia in Kaapstad. Eerwaarde Terry Lester het voorgelees uit Prediker en 1 Korintiërs. Sy vrou, Trewhella, het die bedankings gedoen.

Huldeblyke:

  • Wilma Stockenström: "Koos Human is onvervangbaar." (Die Burger, 11 Augustus 2018)
  • Kerneels Breytenbach: "Die grootste geluk wat my ooit getref het, was om vir Koos Human te kon werk. Hy was ’n besielende mens, wat die kuns verstaan het om na mense te luister. Hy kon beuselagtighede vermy, hy had styl in alles wat hy doen. Wyd belese, gretig om nuwe dinge te leer. Dit het neerslag gevind in ’n uitgewershuis waar daar ’n allesoorheersende liefde was vir boeke – veral Afrikaanse boeke. Hy het berekende risiko's geneem, en had ’n intuïtiewe aanvoeling vir idees wat blitsverkopers kon word. Daar is baie prinse in die uitgewershuise, en min konings. Koos Human was laasgenoemde." (Die Burger, 11 Augustus 2018)
  • Joan Hambidge: "Hy was ’n uitsonderlike intellek wat groot skrywers soos Karel Schoeman en Etienne Leroux kon inskat en Stockenström se besonderse Die kremetartekspedisie gepubliseer het. Hy was uiters belese en het onder meer by geleentheid opgemerk dat ’n mens War and peace moes ken voor jy kon saampraat oor die letterkunde. Verder het hy jong digters uitgegee en kon hy kundig praat oor lettertipes en presies waar ’n digter inpas. Hy het jong literatore in 1980's ook aangevat oor los uitsprake. Hy had ’n ingeboude snert-meter. Hy was ’n bon vivant." (Die Burger, 11 Augustus 2018)
  • Ton Vosloo: "Koos Human en Leon Rousseau het in die laaste eeu die toonaangewendste uitgewery opgebou, van Afrikaanse boeke wat vensters oopgeruk het sodat die vars lug die muwwe sensuursbelaaide regime kon aanpak." (Die Burger, 11 Augustus 2018)
  • Hettie Scholtz: "Human sal altyd onthou word as dié uitgewer wat ’n bepalende rol in die Suid-Afrikaanse uitgewerswese gespeel het. As natneus-uitgewers in die vroeë 1980's was hy vir my en my kollegas by HAUM-Literêr ’n rigtingwyser van wat dit beteken om ’m uitgewer te wees. Sy belesenheid, professionaliteit, waagmoed en vaardigheid as raconteur is goed bekend. Op my beurt sal ek hom ook altyd onthou as ’n gewer wat nie suinig was met goeie raad nie, selfs vir die 'onervare' opposisie." (Die Burger, 11 Augustus 2018)
  • Eloïse Wessels: "Koos Human was ’n kleurryke persoonlikheid wie se aandeel aan die ontwikkeling van die uitgewersbedryf in Suid-Afrika onvolprese is. RIV Koos. Ons gaan jou verskriklik mis.” (LitNet)
  • Jacobus, sy seun: "Koos Human het ’n besonderse benadering tot die lewe gehad. Hy was sterk, maar ook sensitief en kwesbaar. Ek en my twee susters was bevoorreg om ’n pa soos Koos te hê. Aandete was ’n baie spesiale tyd. Ons kinders is rondom daardie tafel gevorm." (Die Burger, 22 Augustus 2018)
  • Etienne Leroux: "Slegs die ingewydes ken Koos se beroemde lag. Dis ’n vorm van petit mal. Sy oë word vaal, hy strek sy arms soos ’n priester wat sy seën oor persone en sake uitspreek. Daar is ’n stilte voor die benediksie terwyl Koos geluidloos heen-en-weer wieg. En daarná kom die edele geroggel vóór die groot ontploffing. Ons wag almal in diepe spanning totdat Koos oor die damwal bars en ons almal meesleur in die bruisende stroom. Dis ’n heerlike ervaring. Koos is gelukkig; ons is gelukkig. (...)

    "Nadat alles afgehandel is ... is daar ’n bietjie droefheid by Koos. Hy het ’n manier om homself in ’n eie wêreld te onttrek. (Ek dink sy beste vriende ken daardie wêreld nie, dit is sy eie.) En dit geskied op die mees onverwagte oomblikke. Koos is vrolik, Koos is puntenerig, Koos is onnutsig sondig. En, meteens, word Koos eensaam. Maar, as Koos terugkom, op sy vakgebied, is hy so koud soos die noorde." (Die Burger, 10 Desember 1994)

  • André P Brink: "Van die eerste dag af het dit vir Koos gegaan om die publiseer van ’n werk waaraan hy geglo het en wat hy teen alle denkbare weerstand – spesifieke struikelblokke sowel as ’n algemene 'klimaat' – in  verdedig het. Binne die opset van destyds (1960's) ondenkbaar, soos Louw inderdaad uitgespel het, dat Lobola sou kon verskyn as dit nie was dat ’n jong ondernemende uitgewer bereid was om end-uit daarvoor te baklei nie. Die kleiner kompromieë wat ons daarvoor gesamentlik moes aangaan, was gesien in die geheelkonteks minimaal. Die wins vir die hele Sestiger-geskiedenis was yslik: toe Lobola binne dieselfde maand as Silbersteins by H & R verskyn het, het al wat jong skrywer in die land was, eensklaps besef dat daar vir hulle werk ’n tuiste was: en dat Tristia bowendien nog dieselfde maand, nes tewens Balans, by dieselfde amper onbeduidende klein uitgewery die lig gesien het, het bewys dat dit nie gaan om sensasie of eendagsvlieë nie, maar om die literatuur self. Ek wil skaars dink aan wat sou gebeur het as Koos op daardie spesifieke tydstip nie byderhand was nie: hy en Sestig is ondenkbaar sonder mekaar." (Uit: ’n Natsteen vir Koos Human. Soos oorgedruk in Rapport, 13 Desember 1981)
  • Elisabeth Eybers:

Vir Koos

Liewe, deskundige Koos,
ag waar sou ons sonder jou wees?
– Ons, elkeen met vasberade
aanspraak op jou genade,
kon nooit van die denkbeeld genees
dat Suid-Afrika gretig moet wees
om wát ons ook neerpen te lees.

Liewe, deskundige Koos,
ag waar sou ons sonder jou wees?
– Sonder jou koel taksasie
maar veral jou gulhartige grasie,
jou altyd geduldige lag,
jou sikkels wat ons verag
dog nietemin klokslag verwag?

Met al ons verdraaidheid en vrees,
voortvarend en voorsorgloos,
as waar sou ons sonder jou wees?
Al is die kuns ook hóé boos,
steun ons nóg, medepligtige Koos!
(Uit: ’n Lewe met woorde. Human & Rousseau, 2006)

Publikasies

Publikasie

Die A tot Z van klassieke musiek

Publikasiedatum

  • 1992
  • 1993
  • 2005

ISBN

0798145137 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Klassieke musiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Lewe met boeke

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798147032 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Koos Human as samesteller:

  • Liggaamlose taal: gedigte oor die musiek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1996 [ISBN 079813576 (hb)]
  • Raar maar waar: 100 ongelooflike feite uit die hede en verlede. Kaapstad: Human & Rousseau, 2000
  • Willekeur: ’n willekeurige keur. Kaapstad: Human & Rousseau, 1994 [ISBN 0798133279 (hb)]

Artikels oor Koos Human beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Human, Koos. 2006. ’n Lewe met boeke. Kaapstad: Human & Rousseau
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top