Koos Human: Sonder hom was alles anders ...

  • 1

Koos Human | Foto: NB-Uitgewers

Koos Human se vormende invloed op Afrikaanse lettere en die plaaslike uitgewersbedryf is tevore al ruim beskryf, ook deur skrywers en medewerkers. Sy insig en oordeel, word meestal aanvaar, was in belangrike opsigte bepalend en ten goede; was hy nie daar nie, was die geskiedenis heel anders.

Agter sy aansien as ’n onderhoudende verteller was ’n mens met sterk, meestal goedgevormde menings, ingegee deur wye belangstellings en skerp insigte. Sy spitsvondige geselskap het nie altyd verbloem dat hy ook ’n komplekse mens was en spanning moes verwerk waar sy persoonlike oortuigings in belangrike opsigte verskil het van dié van die establishment waarbinne hy moes, en ook wou, werk.

Op skool was hy skrander, ’n goeie atleet en ook ’n musiekstudent wat ’n loopbaan as konsertpianis beplan het. Hy het sy studies in musiek aan die Universiteit van die Witwatersrand opgesê toe hy besef sy talent is nie voldoende om ’n pianis van die eerste rang te word nie. Hy het ’n meestersgraad in letterkunde verwerf, maar ’n sterk belangstelling in musiek behou, asook in die vele vorme van kultuur en in die samelewing en politiek.

Koos het wesenlik druk gewerk, gepraat en gespot om Afrikaans en die land oop te maak en oop te hou. Hy het dit gedoen met ’n intieme verstaan van NP Van Wyk Louw se manier van dink, sy formulering van die oop gesprek en met ’n eie deeglike verstaan van die vele vorme van lokale dwang. Sy ewe goeie verstaan van meelewing met Leroux, Brink, Rabie en ander skrywers in hul verset teen stugge gesag, mores en sensuur is gedoen in die begrip dat Afrikaans in hierdie land ’n oop en wye taal moet wees.

Human se lewe en belangstellings is goed gedokumenteer in die argiewe van uitgewerye, in praatjies, lesings en artikels, en ook in sy eie publikasies, Die A tot Z van klassieke musiek (1992) en ’n Lewe met boeke (2006).  As uitgewer had hy die luukse dat hy langer as enige ander uitgewershoof in Suid-Afrika in so ’n posisie was en dat hy ruim tyd gehad het om verhoudinge met skrywers te vestig en die bedryf van binne te leer ken. Toe hy in 1956 hoof van algemene publikasies by Nasionale Boekhandel word, was die bedryf in die hande van mense wat die werk van literêre skrywers met nasionalistiese ywer en mindere begrip uitgegee het. Die aandag van bestuurders by die groter uitgewerye, sowel in die noorde as in die suide, was op skoolboeke, en daarby (veral by die noordelike uitgewerye) op goedkoop liefdesverhale en avontuur. Uitgewers het nie tyd bestee om verhoudinge met skrywers te bou nie; selfs bars opdragte aan skrywers gegee. In ’n praatjie by die ALV-kongres in September 2006 sê Human in daardie tyd, in die vyftigs, het “opgevoede en verfynde lesers hulle begin afkeer van die Afrikaanse boek. Hulle het aanvaar die peil is deurgaans laag en het die aankondigings en advertensies, selfs die resensies, gewantrou.”

Die geheelbeeld was somber. Tussen die avonture van Rooi Jan en die digkuns van Louw, Opperman en Eybers was daar ’n reuse gaping. Elders in die wêreld het die lees van boeke toe reeds sterk toegeneem. Die sogenaamde goeie boek het minder stigtelik leersaam en meer algemeen toeganklik geword. Skrywers en hul boeke was toenemend in die kolligte van sowel kultuur as vermaak, en dié ligte het ook op die dikwels kleurryke uitgewers geval. In Suid-Afrika was die boekbedryf ’n paar dekades agter die ontwikkeling in lande met meer gevestigde lesers en boekbedrywe. 

’n Sterk teken van verandering in Suid-Afrika het gekom in 1962, toe Human byna gelyktydig boeke van NP Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, André P Brink en Etienne Leroux uitgegee het en sodoende Afrikaanse lettere en die uitgewerswese in ’n nuwe rigting help stuur het. Human was toe al by verskeie uitgewerye in diens voordat hy en Leon Rousseau, albei nog in hul twintigs, Human en Rousseau drie jaar tevore gevestig het.

Die feit dat digters en skrywers in die jare dertig self ’n tydskrif soos Standpunte kon versorg en dat skrywers in die jare van sensuur die uitgewery Taurus kon vestig en bestuur, is tekens dat vernuwende werk wel maniere kry om lesers te bereik. Feit is egter dat Human, met ’n bietjie geluk, maar meestal danksy sy verbintenisse, goeie begrip en simpatieke aanslag, gereed was om ’n uitstekende groep nuwe skrywers uit te gee en terselfdertyd die bedryf in Suid-Afrika in belangrike opsigte te professionaliseer.

Die reikwydte van Human & Rousseau is met die jare verbreed, om ook kinderboeke, kookboeke, ensiklopedieë, boeke oor politiek, geskiedenis en kultuur, en akademiese boeke in te sluit. Onder die literêre skrywers by Human & Rousseau was Opperman, Van Wyk Louw, Eybers, Jan Rabie, Breyten Breytenbach, Uys Krige, Ina Rousseau, Ernst van Heerden, Herman Charles Bosman, Antjie Krog, Ingrid Winterbach en Koos Prinsloo.

In dié tyd het Koos Human uit die aard van sy werk, en ook bewustelik, die beeld van die aandagtige, kleurryke “gentleman publisher” beliggaam. Dit is ’n beeld wat gestalte gekry het in uitgewers soos Horace Liveright, Alfred Knopf, Stanley Unwin, André Deutsch, Allen Lane, Tom Maschler, George Weidenfeld en andere.

Terwyl Human se werk by die etos van dié uitgewers aansluit, is daar nietemin ’n betekenisvolle verskil as ’n mens sy herinneringe vergelyk met dié van hierdie uitgewers.  Human was, soos die meeste van hulle, ’n vaardige skrywer en skerp waarnemer wat goed kon vertel sonder om te veel aandag op homself te vestig. Dit is maklik en ’n plesier om al die uitgewers se herinneringe te lees. Wat in ’n vergelykende lees tog opval, is die alomteenwoordige en dikwels neerdrukkende invloed wat politieke, ekonomiese en sosiale omstandighede in Suid-Afrika op skrywers, boeke en uitgewers gehad het.

Die donker geskiedenis rondom die opkoms van Hitler en die Tweede Wêreldoorlog neem buite Duitsland nie groot plek in veral Britse en Amerikaanse uitgewers se herinneringe op nie. Hulle deel met hul lesers ’n lewensruimte waarin lees en stylvolle boeke ’n vaste, gerespekteerde plek het. In Human se herinneringe is die leser veel meer bewus van die aanvanklike afwesigheid van ’n gevestigde boektradisie, daarná van toenemende hovaardige eiewaan in die Afrikaanse establishment, en eindelik sensuur en terselfdertyd buitensporige politieke druk op skrywers en uitgewers. 

Die bemoeienisse van destydse eerste minister John Vorster was ’n faktor in ’n fout wat Human later erken het en waaruit hy kon leer. Vorster se inmenging by literêre pryse en skrywers het gelei tot ’n misverstand tussen Human en Breyten Breytenbach en het uitgeloop op ’n ope brief waarin Human en ander direkteure van die uitgewery hulle van Breytenbach se politieke stellings gedistansieer het. Die gevolg was ’n breuk met Breytenbach wat eers jare later herstel is. Human het die ope brief later ’n oordeelsfout genoem. Hy het terselfdertyd talle voorbeelde aangehaal van goeie mense in die kultuurwêreld wat met dreigemente deur politieke leiers ingeboelie is tot optrede wat teen hul basiese oortuigings indruis.

Human is in latere jare deur jonger skrywers as deel van die establishment gereken. Sy rol was toe steeds ten goede, toenemend om in ’n klein taalgemeenskap ’n ewewigtige bydrae te lewer, mense te vergaar eerder as te verdeel, en om die integriteit van die uitgewersbedryf te handhaaf.

Human het meermale verwys na die vraag wat ’n Britse sakeleier vir die uitgewer Fredric Warburg sou vra: “Is publishing an occupation for a gentlemen or is it a real business?”  Human het toenemend beklemtoon dat die uitgee van boeke ’n saaklike bedryf is. Human & Rousseau leef voort as ’n besonderse literêre-uitgewersnaam, sedert 1977 binne Naspers, maar nie as ’n selfstandige onderneming nie. Die betreklik klein plaaslike mark het dit in Human se lewe meestal moeilik vir uitgewers gemaak om sonder skoolboekvoorskrywing wins te maak en te oorleef. Dit was vir hom soms ’n bykomende spanning, by die spanning van politieke inmenging en sensuur. Die saamvoeg van uitgewerye in die laaste jare van die vorige eeu is nietemin ’n wêreldwye verskynsel en nie uniek aan Suid-Afrika nie.

Koos Human se eerste vrou, Nakkie, ’n dogter van Van Wyk Louw, is in 1984 oorlede. Hul drie kinders, Jakobus, Joan en Maria, is elkeen in verskillende opsigte suksesvol. Sy tweede huwelik was met Trewhella Cameron, ’n skrywer en historikus, en in sy laaste jare ’n sterk, bestendige en ondersteundende vennoot.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top