Komvandaan: Waar die natuur jou naam onthou – Suidoosterfees se visuelekunsprogram

  • 0

Die Suidoosterfees vind vanjaar van 29 April tot 3 Mei in Kaapstad plaas. Met Tuiste as die feestema, bied die visuelekunsprogram – gekureer deur Carin Bester – ’n ryk verskeidenheid uitstallings, installasies en optreekuns wat feesgangers uitnooi om te ontdek hoe die natuur ons stories en herkoms dra.

Onder die aansluitende tema Komvandaan: Waar die natuur jou naam onthou verken kunstenaars die diep verbintenis tussen mens en aarde. In ’n land soos Suid-Afrika, waar ‘tuiste’ soveel lae van geskiedenis, verandering en herstel dra, herinner hierdie werke ons daaraan hoe sterk die grond ons stories vashou. Ons wortels raak nooit verlore nie – hulle leef in grond, water, wind en geheue.

Sonya Mmakopano Rademeyer, Changing narrative

Reg oor die Kunstekaap-teatersentrum kan feesgangers uitstallings en optreekuns beleef wat speel met organiese teksture, natuurlike materiale en elemente uit die landskap. Kunstenaars deel hul eie maniere van dink oor erfenis, ekologie en daardie diep gevoel van behoort wat ons almal soek.

Yonela Makoba, Maak Ons Tee

Yonela Makoba se werk staan sentraal met twee projekte wat mekaar komplementeer. Rooi-Land is ’n installasie in die Marmerportaal wat rooibos as ’n simbool van geheue en stryd verken. Deur grond-konstellasies en voorwerpe van teesakkiepapier skep sy ’n stil maar kragtige ruimte waar ritueel, gender-spesifieke arbeid en die nalatenskap van koloniale verowering na vore tree. In haar optreekuns Maak Ons Tee op die Piazza-trappe nooi sy feesgangers uit om te sit, te luister en die gelade ritueel van rooibostee maak te beleef – ’n werk wat vra wie se hande vir ander troos inskink en wie se arbeid oor die hoof gesien word.

Detail uit Stillewe

Stillewe, ook in die Marmerportaal, bring die fyn vakmanskap van Frances VH se handgeweefde sybokhaar-tapiserieë, geïnspireer deur die Karoo, saam met die treffende keramiekwerk van Siyabonga Fani en Siyanda Sipolo. Hul spiraalveer-houers en kleiwerke toon hoe landelike en stedelike wêrelde mekaar ontmoet deur tekstuur, ritme en gedeelde verlangens.

Krisante

In dieselfde portaal bied die Chrysanthemum-voorskou, aangebied deur die Nasionale Krisantevereniging van Suid-Afrika, ’n fees van kleur en vakmanskap. Hierdie voorskou van die vereniging se jaarlikse skou – wat in 1916 as ’n klein skoutjie deur die Wellingtonse Klub begin is – stel van die land se mooiste krisante ten toon.

Uit Fisher Child van Traci Kwaai

Fisher Child van Traci Kwaai, ’n sesde-generasie visser-afstammeling, nooi feesgangers tot in die hartjie van Kalkbaai se visser-erfenis deur middel van ’n omvattende virtuele-werklikheidservaring en installasie in die Marmerportaal-uitbreiding. Kykers stap ’n 360-grade digitale omgewing binne waar stories, herinneringe en kuslandskappe lewendig word – ’n innoverende geleentheid om ’n gemeenskap se erfenis van binne te ervaar.

Die groepuitstalling Komvandaan in die Kandelaar-portaal bring die kunstenaars Seretse Moletsane, Sibusiso Ngwazi, Sonya Mmakopano Rademeyer, Katleho Habi en Olosa byeen. Met grond, kleurstof en gebare skep hulle ’n visuele taal waarin die natuur geheue én emosie word – ’n plek waar die natuur eerder aangevoel as gesien word. Die uitstalling bied ’n meesleurende ervaring wat besoekers uitnooi om stadiger te beweeg, nader te kyk en hul pad terug te ‘voel’ na waar hulle vandaan kom.

Lynette du Plessis en Miché van Wyk (onder leiding van Working Title Multimedia Curation) se optreekuns Haar pad huis toe op die Piazza-trappe beeld vroue se reise van tuiskoms uit. Die kunstenaars ‘stap’ saam met hul voormoeders en verander die handeling van beweging in ’n daad van herinnering wat die arbeid en veerkragtigheid van geslagte vroue eer.

Uit oos wes tuis bes

oos wes tuis bes, gekureer deur Anne-Ghrett Erasmus Coetzee, is ’n groepuitstalling met 16 kunstenaars wat herkoms, identiteit en taal vier. Geïnspireer deur Adam Small se woorde oor die Boland se warm oranje grond, ondersoek die kunstenaars hoe oorsprong en herinnering ons begrip van ‘tuiste’ vorm. Small se beskrywing van sy Afrikaans as ’n spruit binne die groot boom van die taal dien as poëtiese anker vir hierdie veelsydige uitstalling in die Kandelaarportaal-uitbreiding.

Skildery deur Pierre Cloete

Dans lat die stof so staan, aangebied deur Figure of 8-dansteater in die Teaterportaal, ondersoek ritme as ’n lewende argief van geheue, identiteit en erfenis. Met die idee dat ‘rieldans ’n geestelike verbinding met die heelal is’, bring die kunstenaars Gary Frier, Pierre Cloete en Terence Visagie visuele kuns en beweging in gesprek met mekaar.

Art on the Mountain stel werk van ’n groot aantal Kaapse kunstenaars ten toon wat in Oktober en November 2025 gewerk het om die stad se ikoniese berg en sy unieke fynbosbioom te vier. Die projek, onder leiding van Hermien van der Merwe, bring kuns, natuur en bewaring op ’n lewendige manier saam en is tydens die fees in die Teaterportaal te sien.

Die interaktiewe kunsinstallasie Die betekenis van ‘tuiste’ nooi besoekers uit om te reageer op die vraag: ‘Wat beteken tuiste vir jou?’ Met gekleurde toutjies volgens ouderdomsgroepe weef deelnemers hul antwoorde in ’n gesamentlike installasie wat deur die loop van die fees op verskeie plekke in die teatersentrum groei – ’n lewende portret van gedeelde én individuele ervarings.

Seisoene van verandering is ’n kinderkunsuitstalling by Kunstekaap se Ingang 5 waarin leerders van die WKOD se kunssentrums en uitgesoekte skole kunswerke met bewegende onderdele geskep het, geïnspireer deur Suid-Afrika se ekosisteme. Met weggegooide karton en natuurlike materiale belig hierdie outomata-gebaseerde werke temas van volhoubaarheid en onderlinge verbondenheid.

Uit Rooi-Land

Die feeskurator Carin Bester bied op 1 Mei om 10:00 ’n rondleiding deur die uitstallings aan. Feesgangers word uitgenooi om in die Marmerportaal by die Rooi-Land-installasie te ontmoet vir hierdie 90 minute lange gratis rondleiding in Afrikaans en Engels.

Toegang tot die uitstallings is gratis. Volledige besonderhede is in die feesprogram op suidoosterfees.com beskikbaar.

Die visuelekunsprogram van die Suidoosterfees word ondersteun deur die Spier Arts Trust en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).

Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, Kunstekaap en dotsure.co.za. Smile FM is die fees se amptelike radiostasie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top