Kompetisie: Wat is jou gunsteling Suid-Afrikaanse boek sedert 1999?

  • 16

Wat is jou gunsteling Suid-Afrikaanse boek wat sedert 1999 verskyn het? LitNet is sedert Januarie 1999 aanlyn en ons vier hierdie week die 600ste gratis nuusbrief met erkenning aan die Suid-Afrikaanse woordkuns.

wenboeke650

Kompetisie

Wat is jou gunsteling Suid-Afrikaanse boek wat sedert 1999 verskyn het? Watter boek het steeds 'n impak op jou? Fiksie of niefiksie.

Dit kan 'n roman wees of 'n kinderboek; 'n lekkerleesstorie of 'n woordeboek. Dalk is daar een gedig in daardie bundel wat jou lewensuitkyk verander het, of 'n resep in daardie resepteboek wat 'n familiegunsteling geword het. Dalk is dit 'n selfhelpboek wat die wiel ten goede laat draai het, of 'n geskiedenisboek met interessante feite.

Stuur jou boektitel en skrywer se naam, saam met 'n kort motivering en jou posadres aan LitNet by wen@litnet.co.za.

Sluitingsdatum: 31 Mei 2016

LET WEL: Die wenboeke kan slegs na 'n Suid-Afrikaanse posadres versend word.

Jy kan per gelukkige trekking hierdie lekker boekpakkie wen:

theuns

Wat nou, Suid-Afrika?

  • Skrywer: Theuns Eloff
  • Uitgewer: Tafelberg

Om braaivleisvure skiet gewone Suid-Afrikaners se kommervlakke deesdae amper net so hoog op soos die vonke. In Wat nou, Suid-Afrika? kyk die oudrektor Theuns Eloff na die kwessies op almal se lippe – werkloosheid en verlammende armoede, die impak van regstellende aksie, die bedreigings vir die oppergesag van die grondwet, die probleme in ons onderwys, misdaad … Eloff steun op die jongste navorsing en sy ervaring in die politieke- en sakewereld om nuwe perspektief te gee op al hierdie kwelpunte.

 kookkaaps  

Kook saam Kaaps

  • Skrywers: Koelsoem Kamalie, Flori Schrikker 
  • Uitgewer: LAPA

Boontjiestowe, koolfrikkadelle, tamatiebredie, sagopoeding en broodpoeding – eerlik gemaak, sonder fieterjasies en moderne byvoegings – is die onopgesmukte huiskos waarna ons elkeen verlang. Die hartskos wat met ’n stewige dosis van ma se liefde voorberei is en ons instinktief laat weet dat ons by die huis is. Kook saam Kaaps, in samewerking met RSG, stel die kos van Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, twee afgetrede tannies van Bonteheuwel in die Kaap, bekend.

 dink  

Dink jouself gelukkig

  • Skrywer: Pieter van Jaarsveld
  • Uitgewer: Lux Verbi

Romeine 12: 2: "... maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe …" Met dink jouself gelukkig wys die wêreldbekende spreker Pieter van Jaarsveld jou hoe jy jou lewe kan omkeer. Die inspirerende boek: Ontbloot ondermynende mites oor geluk, verduidelik dat vreugde vir alle mense beskore is, wys hoe jy jou brein kan herbedraad, inspireer jou tot 'n positiewe ingesteldheid, bevat die nuutste navorsing en tegnieke jy kan floreer - hierdie praktiese gids plaas 'n lewe van geluk binne elkeen se bereik.

 lanoye  

Gelukkige slawe

  • Skrywer: Tom Lanoye, vertaal deur Daniel Hugo
  • Uitgewer: Protea Boekhuis

In Gelukkige slawe bevind twee Belgiese mans met presies dieselfde naam en van, Tony Hanssen, hulleself op 'n keerpunt. In Buenos Aires speel Tony Hanssen – eens 'n toerdirekteur op van die mees luuksueuse plesierbote ter wêreld – 'n gevaarlike speletjie as toyboy van mevrou Bo Xiang, die bejaarde eggenote van 'n skatryk Chinese bouondernemer met legendariese genadeloosheid. In Suid-Afrika korrel 'n ander Tony Hanssen – die vlugtende rekenaarprogrammeerder van 'n bankrot bank – met 'n geweer na 'n renoster in die Krugerwildtuin. Die een Tony wil sy vryheid terughê, en die ander een sy gesin. Eers as hulle mekaar vir die eerste keer ontmoet, op 'n ander kontinent, blyk dit hoeveel hulle op mekaar aangewese is.

 langenhoven

 

Die beste spookstories van CJ Langenhoven

  • Uitgewer: Tafelberg

Langenhoven se spookstories is reeds volksbesit. Hierdie bloemlesing – nou in sagtebandformaat – verteenwoordig die ‘bestes’ binne die genre waarin ou gunstelinge soos "Bestelling met ’n spook" weer nuwe lewe kry. Dis ’n bundel toeganklike verhale wat gewone mense in allerlei vreesaanjaende en grillerige situasies plaas, altyd met ’n kragtige slot: boeiende leesstof vir oud en jonk!

 jackparow  

Jack Parow

  • Skrywer: Jack Parow, Theunis Engelbrecht
  • Uitgewer: Penguin

In Die ou met die snor by die bar vertel die superster-rapper Jack Parow van sy lewe en al sy wilde, mal avonture. Die storie begin agter die Boereworsgordyn en maak draaie in plekke soos Onrusrivier, The Lollipop lounge in Randburg, Mitchells Plain, Belgie, Nederland, Londen, Los Angeles, Hollywood en Moskou. Daar is sappige staaltjies oor wilde partytjies, warm bokkies, dodgy plekke, trance-paarties en avonture in jacuzzi’s, en hy lig ook die sluier oor sy ervarings met onder andere rofstoeiers, skoonheidskoninginne, polisiemanne, hipsters in nagklubs, 'n sanger wat hom wou bliksem, ooms wat hom van verhoë gegooi wil he en 'n stewige tannie wat met 'n krieketkolf op hom afstorm.

 nataniel

 Die huis van rye

  • Skrywer: Nataniël
  • Uitgewer: Human & Rousseau

Nataniël se beste kookboek ooit, met meer as 100 resepte – van handhappies en ontbyt tot heerlike gebak en nageregte. Met uiteenlopende en buitengewone geregte soos chorisobrood, biltong-en-aarbeislaai, Frans-Italiaans-Meksikaans-Pretoria-panbredie en sprinkaankoek is dit 'n pragboek vol verrassings.

 altydsaam  

Vir ewig en altyd saam

  • Skrywer: Danny Fourie 
  • Uitgewer: Lux Verbi

“Vergewe my Here as ek haar te lief het, te lief het om haar te laat gaan.” Danny Fourie en Adri-Louise van Renen, het mekaar laat in hul lewe ontmoet en lief geraak vir mekaar. Kort na hulle verlowing word Adri-Louise geopereer vir ’n gebarste blindederm, net om agter te kom sy is ernstig siek. Sy bied aan om die verlowing te verbreek, maar Danny hou vol: Ons sal saamwees, nou en vir altyd. ’n Ware verhaal van merkwaardige liefde in die skadu van die dood.

 dana

 In die blou kamp

  • ISBN13: 9780624072256
  • Skrywer: Dana Snyman
  • Uitgewer: Tafelberg

In sy nuutste boek het Dana van sy ware ontmoetings geboekstaaf – ontmoetings met mense, maar soms ook met dinge – die vleispastei, of tuisgemaakte braai-apparate. Die stories het hy aanvanklik op Facebook gepos. Die wat die grootste reaksie gekry het is hierin verwerk. 'n Ware interaktiewe Suid-Afrikaanse boek.

 speletjies  

Speletjies uit vrouekeur

  • ISBN13: 9780799374926
  • Skrywer: Vrouekeur; Xword
  • Uitgewer: LAPA

Die boek is ’n samestelling van 224 speletjies wat oor die laaste paar jaar in die gewilde gesinstydskrif, Vrouekeur, verskyn het. Die speletjies word verskaf deur XWord wat een van Suid-Afrika se mees bekende spelletjie- en blokraaiselopstellers is.

 

  • 16

Kommentaar

  • Avatar
    Regine Fourie

    Ingrid Winterbach, Niggie. 'n Wonderlik intieme roman oor die laaste paar maande van die Anglo-Boereoorlog, wat die werklikheid van die oorlog op 'n nuwe manier en vanuit nuwe standpunte voorstel.

  • Uit deur Fanie Viljoen. 'n Tienerroman wat belangrike sake - waaroor mense nie sommer praat nie - op 'n intelligente en simpatieke wyse by die horings pak en dit dan aan die leser op só 'n manier voorlê dat hy dit verstaan en meegevoel daarvoor het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top