Kommadagga-kortverhaal: “Seemeeu”

  • 4

Regardt Visser het vanjaar LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool in Somerset-Oos meegemaak. Hierdie kortverhaal is een van sy skryfprodukte wat by die slypskool onder hande geneem is.

..................

Desembervakansie is verby.

Koeldrankblikkies en ice cream wrappers waai deur leë strate. Hulle staan kaal bolyf op die brug. ’n Seemeeu duik vir die sigaretstompie in sy hand en vlieg daarmee weg.

“Dink seker dis ’n chip.”

“Onnosele voël.”

“Jy weet, daar’s seemeeue in Bloemfontein en Johannesburg,” sê hy.

“Sal nie weet nie. Was nog nooit daar nie.”

“Ek ook nie, maar ek’t gehoor.”

“En? Wat’s jou punt?”

“Wat maak ’n seemeeu in die middel van die stad?”

“Ek weet nie. Wat máák ’n seemeeu in die middel van die stad?”

“Ek weet ook nie. Net vreemd dat jy ’n seemeeu in die middel van die stad kry.”

Hy kyk uit oor die dorp.

“Hulle sal altyd moet huis toe kom.”

“Hoekom?” vra hy.

“Want dis ’n seemeeu. Dis in sy naam.”

Vakansiegangers met Venter-trailers vol swartsakke stop aan die anderkant van die brug. Hulle gooi die vullis op die hope gemors van vakansies voor dié een. Sodra hulle wegry, klouter die silhoeëtte van kinders handeviervoet tussen waatlemoenskille, bierblikkies en geskenkpapier rond.

’n Kar toet. Hy draai om. Hy waai vir die gesinne wat een vir een in die verte verdwyn. Voordat hy kan sien waarheen hulle gaan, verblind die son hom.

“Het jy al besluit oor skool?”

“Nee,” sê hy. “Ek moet geld verdien.”

“Laat weet my as ek ’n lyntjie moet gooi by die fabriek.”

“Ek sal iets kry, dankie.”

“Soos wat?”

“Vullisman. Daar’s baie geld in ander mense se gemors.”

“Hoe wil jy ryk word van daai pay?”

“Kry die werk. Klim die ranks. Koop ’n lorrie en sit ’n span bymekaar.”

“Soos ’n entrepreneur?”

“So iets.” Hy klim versigtig op die rand van die brug. Hy vind sy voete op die smal muur en kyk af na die water. Onder op die rivierbank staan vissermanne en skreef hul oë na die figuur wat bo die dorp uit toring.

En hy spring.

Nou sit hulle onder die brug. Die vriend gee vir hom ’n plastiekbottel aan. “Dis goedkoop, maar dis lekker.”

“Sure.” Hy vat ’n diep trek en ’n koudte brand deur sy sinusse. Sy kop is swaar. Die motors word ’n dowwe gedruis in die verte. Sy kakebeen word lui.

“Jy sal nog sien,” sloer hy oor sy woorde. “Ons gaan orraait wees.”

Hy vat ’n geroeste draad en krap in die sand: Thys was hier.

Die fabriek se groen lig gloei teen die agtermiddagson wat verdwyn. ’n Seemeeu krys.

 

Lees Theolla Langenhoven, ook ’n Kommadagga-slypskoolganger, se opiniestuk hier:

Kommadagga-opinie: Hou ons begrafnis of show ons af?

 

  • 4

Kommentaar

  • Zubayr Charles

    Well done, Regardt! I enjoy how your simplistic writing style says so much about every day life. May you continue to inspire others.

  • Abieda Charles

    Ek likes jou goeie gebruik van uitdrukkings wat die seemeeue betref. Dit herinner my daagliks wanneer ek hulle voed met die leftover korsies wat niemand wil eet nie en hulle die vermetelheid het om op my kop te kak met hul verby vlieg...

    Ja, ek bly vergeet om my kop te bedek.

    Onnosele voëls?

    Of...

    Is ek die ou fool?

  • Gamida Soeker

    Likes joy styl! Seevoëls hou vannie stad ... glo my ... ek voer die duiwe daagliks in BoKaap net soe paar minute vannie stad ... en glo my, daai seevoële het die vermetelheid nes soes Sis Abieda sê ... om op jou kop te kak nes sommige mense maar nou ja ... maar net 'n onnosele seevoël soes djy sê ... maar vir my 'n seevoël met 'n stylvolle gedagte wat daagliks uitstiek in die BoKaap om sy vrete te genoeg!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top