
Anneke Hanekom se debuutalbum, Kom Nader, is middel-Junie bekendgestel. Réney Warrington het die konsert gaan kyk, die CD gekoop en bietjie met Anneke gesels.
Wie is Anneke Hanekom?
Ek is ’n 39-jarige vrou. Ek is ’n Suid-Afrikaner wat bly is om hier te wees. Ek’s ’n kantoorwerker wat regtig hou van my werk en ’n liedjieskrywer wat mal is oor my stokperdjie. Soms is ek vir kort rukkies ’n bergfietsryer of ’n drawwer, maar nooit weer ’n gym-besoeker nie. Ek is ’n aartsoptimis wat glo dat die oorgrote meerderheid mense inherent goed is.
Seriously? Musiek is net ’n stokperdjie?
Jy’s reg. Maar vir my is musiek nie klein of minder belangrik nie. My hele hart is in hierdie album. Met “stokperdjie” bedoel ek net dat dit nie is hoe ek my brood verdien nie. Ek moet buite kantoorure vir musiek tyd maak. Dit beteken baie vroeg opstaan om musiektyd in te pas voor ek kantoor toe gaan. En na aandete gaan sit ek weer met die kitaar.
Hoekom sing jy in Afrikaans?
Afrikaans is ’n ryk taal met verskeie fasette. Dit is nie net ’n ligte-liedjie- of popmusiek-taal nie. Dis ook ’n passievolle en eksotiese storietaal. Afrikaans is verleidelik, speels en driftig alles gelyk. Die tipe musiek waarna ek graag luister, is skaars in Afrikaans, toe besluit ek om ’n album op te neem waarna ek self sou luister.
Beskryf jou musiek in een woord?
Verbeeldingstories.
Wat maak jou anders as ander Afrikaanse sangers/groepe?
Geen produk is 100% uniek nie. Daar’s altyd raakpunte met iets wat reeds bestaan. Maar daar is elemente van Kom nader wat anders is. Dit het ’n baie spesifieke gypsy-folk-klank wat nog min in Afrikaans gedoen is. Ek dink ook dit dra by tot uniekheid dat die musiek en woorde alles oorspronklik is – geen covers nie, geen vertalings nie.
Hoekom betree jy die musiekbedryf? Hoekom maak jy nie net musiek vir jouself nie?
Ek het ’n inherente drang om te skep. Die medium waarin ek werk, is die kombinasie van woorde en musiek. En dan, wanneer ’n mens klaar geskep het, wil mens tog graag hê mense moet dit hoor en geniet. Toe maak ek ’n CD.
Is jy reg vir die haters?
Ek’s oukei daarmee dat almal nie dieselfde smaak het nie. As mense nie van my musiek hou nie, hoef hulle mos nie daarna te luister nie. So nee, ek weet nie of ek reg is vir haters nie. Ek verwag dat mense wat nie van my musiek hou nie, net stilweg ander keuses sal maak. Ek sal moet voel hoe haters my laat voel en dit vat soos dit kom.
Stilweg ander keuses sal maak? O nee. Elke Jan Rap en sy maat gaan ’n opinie hê – die sogenaamde “bottom half of the internet”. Gaan jy reaksies/resensies lees? Daarop reageer, dalk?
Ek gaan definitief reaksies en resensies lees. Dit sal moeilik wees om afbrekende kritiek te kry, maar ek sal dit vat soos dit kom. Ek sal jou laat weet hoe dit voel! Maar elkeen mag ’n opinie hê. Trouens, ek verkies mense wat darem opinies het. En daar was al haters. Twee. Maar niks is die einde van die wêreld nie, behalwe die einde van die wêreld.
Beplan jy ’n toer?

Ek beplan om in September in Kaapstad te wees en Desember in George. En voor die einde van die jaar nog ’n optrede in Gauteng. As daar ’n ander dorp is waar iemand my graag wil sien optree, laat my asseblief weet, dan maak ek ’n plan.
Gaan jy by feeste optree in Kaapstad/George?
Ek hoop om so gou as moontlik by feeste in te kom. Vir nou mik ek na George en Kaapstad, omdat ek vriende en familie daar het.
Wat is jou day job?
Ek werk by Momentum as bestuurder van ’n span kommunikasiespesialiste. My werk behels alles van video’s en nuusbriewe tot konferensies en die fasilitering van strategiese sessies. Dis my werk om inligting op ’n kreatiewe maar betekenisvolle manier oor te dra.
Het dit jou gehelp om voor te berei vir die bemarking van jou eie produk?
Definitief. Ek verstaan die taal van ontwerpers en redakteurs en ek weet hoe om ’n projek aan te pak en vas te byt om dit uit te voer. Maar bemarking is vir my skielik moeiliker noudat die produk so persoonlik is. Ek leer baie soos ek aangaan.
Wat het jy geswot?
Ek het besigheidskommunikasie op Potch geswot. Ek het in my finale jaar gespesialiseer in joernalistiek en oudiovisuele kommunikasie.
Did you pay your dues, soos hulle in die musiekbedryf sê?
My eerste gig was by die Hatfield-vlooimark. Ek het letterlik R2 verdien vir die dag. Ek’t vir ’n groot gedeelte van my studies betaal deur my gigs in Bourbon’s Street Jazz & Blues Bar in Potchefstroom. Na universiteit het ek vir ’n jaar lank net gegig vir ’n lewe. Dit was meestal in pubs en restaurante in Pretoria – op ’n stadium sewe nagte ’n week met hier en daar ’n lunch gig tussenin. Finansieel was dit maar op en af. Toe kry ek ’n day job in die finansiële bedryf en hou aan met musiek na ure. Op ’n stadium het ek moeg geword daarvoor om kroeg covers te sing. Toe doen ek ’n paar propperse teateroptredes by Centurion Teater. En toe wil ek meer daarvan hê.
Wat doen jy op ’n Sondagmiddag?
Ek hou op met alles wat voel soos werk en spandeer tyd by die huis en doen net wat op daardie stadium vir my die heel lekkerste voel. Gewoonlik behels dit baie min.
Gunsteling Suid-Afrikaanse sanger?
Yoav. (Phew, hy’s net-net Suid-Afrikaans …) En as jy ’n Afrikaanse sanger soek: Karen Zoid.
Pretoria of Johannesburg?
Ek het lank in Joburg gebly en is mal oor die stad se definitiewe en interessante persoonlikheid. Maar ek het in Pretoria grootgeword en ek voel hier tuis. Dis ’n lekker stad om in te bly. Dis ook prakties naby aan my werk. Om in verkeer vas te sit is vir my ’n totale mors van kosbare tyd.
Vloek jy?
Nee wat. Dit help gewoonlik nie om mense te kry om jou punt in te sien nie. Behalwe wanneer ek alleen in my kar ry. Dan vloek ek soms lang stringe van baie woorde in verskillende verbuigings.
Gunsteling-wyn?
Hmmmm. Ataraxia Sauvignon Blanc. Met ys.
Wat irriteer jou?
Mense wat op hulle selfone tik terwyl hulle bestuur.
Wat laat jou glimlag?
Baie dinge. Filet met murgbene by Kream. Kleuters. Mense vir wie ek lief is. Gauteng se wolke. My verbeelding.
Nuutste blink kar of ou Volla?
’n Intreevlak nuwe kar kos soveel soos ’n goeie-kwaliteit CD-produksie. Die keuse is maklik! Ek ry baie lekker met my afbetaalde Toyota Yaris en beplan om hom nog lank te ry.
Koffie of tee?
Elke dag begin met varsgemaalde bone.

