Kom nader: ’n resensie

  • 0

CD: Kom nader
Kunstenaar: Anneke Hanekom

 

Die girl kán sing; sy gebruik regte en interessante instrumente; skryf omtrent al haar eie musiek; en gebruik nie skoktaktiek om aandag te trek nie – sy is net haarself. In ’n see van Afrikaanse doef-doef backtracks, Afrikaanse “vertalings” van groot geeste en seuntjies wat deur hulle neuse skree, is Anneke Hanekom ’n vars briesie.

Die stem
Sy kan dit wyd gooi, maar ook skielik terugtrek en in jou oor fluister – in die ateljee én op die verhoog. Wat meer wil jy hê?

Instrumente
Hel, sy gebruik trekklavier, banjo, tjello, saksofoon en papoose (’n soort klein kitaar).

Tipe klank
Sy beskryf haar musiek as ’n tipe gypsy music of wêreldmusiek – iets wat herinner aan die klankbaan van die Franse film Amelie, en behalwe ’n paar ballades, stem ek saam. Sy gaan nou nie Van Coke Kartel of Die Skynmaagde se fans steel nie, maar as jy hou van ’n beautiful melodie, ’n sterk stem en regte musiek gespeel met regte instrumente, luister gerus na Kom Nader.

Pyn
Gypsey-musiek het mos ’n element van dreigende tragedie, van hartverskeurende verlies. As jy dit in ’n klankbaan gebruik, verwag jy chaos. Ek sien die toneel: die dronk neef staan op by die troue en beledig die bruid. Oupa probeer keer, maar Ouma spreek ’n vloek uit en iemand haal ’n lang mes uit. En terwyl die alles gebeur, speel die musikante ongestoord voort. Hierdie tipe onvoorspelbaarheid, die dreigende drama, ontbreek egter vir my op die album, bloot oor alles te perfek is – die produksie, die note, die gebruik van instrumente – alles word streng beheer, presies beplan, en dit demp die energie wat hierdie girl duidelik oor beskik. Ek sien uit na die tweede album.

Slotsom
Gaan koop net die album. Jy sal nie spyt wees nie.

Soundcloud
https://soundcloud.com/annekehanekom/kom-nader

Te koop
iTunes, www.cdbaby.com of direk by annekehanekom@gmail.com

Lees 'n onderhoud met Anneke Hanekom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top