Kom les jou dors na boeke (en stil jou honger) by die ATKV se Boeke-oase

  • 0

Karen-Christine Meiring – bekend as Kabous – behartig vanjaar die ATKV se Boeke-oase by die Clover Aardklopfees. In die persverklaring kan vanjaar se Aardklopganger sien na watter boekbekendstellings hulle kan uitsien – of dit nou betrekking het op prosa, poësie of boeke uit die buiteland. Naomi Meyer het vir Kabous nog 'n paar vrae oor dié lekker lees- en kuierplek gevra.

Kabous, ek sien jy’s vanjaar betrokke by die ATKV Boeke-oase by Aardklop. Waar kan mense julle opspoor?

Ons is reg langs die feesterrein. Deesdae kan mens lekker koffie of lewer en netvet op die Bult koop en dan kom luister na 'n gesprek in die ATKV Boeke-oase.

Na watter items op die Boeke-oase-program sien jy self die meeste uit?

Ek is maar 'n ou sucker vir poësie, dus sien ek uit na die Adam Small-huldeblyk die Vrydagaand en Loftus Marais se boekpartytjie die Woensdag. En natuurlik die gesprek tussen Hans du Plessis en PG du Plessis. Jy kan nou dink hoe lekker dit gaan wees.

Ek sien die FAK-sangbundel word ook hier bekendgestel – watter ander soort boeke, behalwe storieboeke, word hier bekendgestel?

Ek dink almal moet die onderhoudende Rigtingbedonnerd van Fred de Vries lees. Dit word by die ATKV Boeke-oase bespreek, asook by Diskoers. Fransjohan Pretorius se Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika, Onthou deur Andries Raath en Johannes Bertus de Villiers  se insigte oor Die einde van die wêreld word ook bepreek. Johannes gesels vreeslik lekker!

Gaan die publiek kans kry om met die skrywers te gesels en hulle boeke te laat onderteken?

Beslis. Hulle moet baie vrae kom vra.

Watter ander items gaan jy by Aardklop bywoon?

Die Diskoers, die Hanneke Benade-uitstalling en Dismotief. Wat betref teater wil ek baie graag Kind Hamlet sien, en Ont-, N is vir neurose en Ubu and the Secrecy Bill. En ek is baie bly ek kry kans om die Die rebellie van Lafras Verwey en Die vrou vantevore te sien. Ek het dit gemis. Ek hoop maar ek kom by alles uit – dis nogals rof. En dan kuier mens nog tussendeur by die Snowflake, waar ek uitsien na uitstekende musiek – dié jaar boonop ook Boeremusiek!

Klik hier vir nog inligting oor die ATKV Boeke-oase by Clover Aardklop 2012.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top