
Jamestown bestaan al sedert 1902 en die gemeenskap word geken aan hul vriendelike mense, natuurskoon en natuurlik die aarbeie wat op die stoepe van Jamestown groei. Red Letter Day Pictures het die volgende video gemaak wat gemeenskapslede en ander betrokkenes se gevoel oor die aarbeifees saamvat:
Die Jamestown Aarbeifees vind op 3 en 4 November plaas as deel van die gemeenskap se erfenisvieringe. Die fees is drie jaar gelede op die been gebring en sedertdien sorg die geleentheid vir groot opwinding onder inwoners sowel as besoekers.
Vanjaar se program belowe om iets vir elkeen te verskaf: kunsklasse, uitstallings, ’n pretloop, rieldans, kosstalletjies en vele meer.

Die fees skop Vrydagaand 3 November om 18:00 af met ’n aandmark en die volgende oggend om 08:00 is daar ’n pretloop waar deelnemers deur Jamestown se natuurskoon sal stap.

Gemeenskapsbemagtiging en -betrokkenheid is vir die organiseerders van groot waarde, en daarom neem talle leerders en jongmense aan van die aktiwiteite deel. Marié Stander, ’n plaaslike kunstenaar, bied ook ’n kunskompetisie aan en ongeveer 120 leerders sal daaraan deelneem. Stander sal ook ’n portretwerkswinkel op die Saterdag aanbied. Die doel van die kompetisie en die werkswinkel is om die jeug en ander belangstellendes se kunstalent te ontwikkel en sodoende entrepreneurskap aan te moedig.

Ander kunstenaars wie se werke in die Rynse Kerk uitgestal en verkoop sal word, is Marié Stander, Clare Menck, Marriana Booyens en Jacques Buys.
Vir meer inligting oor die fees, kontak Linda Isaacs by 084 696 5477 of Cheryl Farao by 071 445 8185, of volg die Facebook-blad (@JamestownStrawberryFestival), Twitter (@Jamestownfest1) en Instagram (@Jamestownstrawfest).
Foto's: Porchia Adams

