Kô lat ôs praat oo food security, Uncle Cyril

  • 2

Foto: Leroy Skalstad | Pixabay

...
Ek sien Uncle het dié wiek ’n BRICS meeting. En Uncle wil food security oppie agenda sit. Is norag, daai conversation. Broodnorag, no pun intended.
...

Mornings Uncle Cyril, Uncle se loveletter soe eeste ding oppie Maandag is altyd ie highlight van my dag. Okay, maybe nie allie tyd ie, petykeer maak Uncle mens se blood pressure die hoogte inskiet. Ek wiet die witjasse praat van mens moet cardiac activity oek inkry, maa darem sieke nie sam met my morning koffietjie nie. Is dan een vannie min plesiere wat mens nog kan afford.

In dié week se ene is Uncle wee on fire – is obvious Uncle se furniture het ie weekend wee lekke stuffing gekry. Ek sien daa was wee auction oppie plaas, en Uncle het noggie ees vi my gelat wiet oo my job ie.

Maa anyhow, ôs kan anne slag daai conversation hou.

Ek sien Uncle het dié wiek ’n BRICS meeting. En Uncle wil food security oppie agenda sit. Is norag, daai conversation. Broodnorag, no pun intended. Maa nou sit ek hie, en ek wonne hoe gan Uncle ie saak beginne.

Innie brief praat Uncle vannie conflict in Ukraine, soe innie passive tense. Soe ampe asof it nieman se skuld issie. Is maa net iets wat gebeu het. Nou wiet ek, is sieke maa akward as djou tjommie  droegmaak en djy moet nou op ’n way djou eie wickets cover sonne om sy gesigvel af te trek. Soe hoe maak Uncle assit nou kom by die conflict? Kyk Uncle net doerie kant toe, weg van Poetin se screen af, of innie lug op, of hoe maak Uncle? Of is ammel van djulle in oppie joke en is net ôs wat nog vi gatte gevat wôd?

...
Uncle is actively besag om, in ôs ammel se name, die kant vannie oppressor te vat en te try benefit uit hulle crimes. Dis worse dan Thabo se quiet diplomacy, worse dan Zuma se Bashirgate en firepool-gate. Djulle ammel vat ôs vi gatte, en somewhere gan dit djulle inhaal.
...

Uncle wiet, die politically correct ouens praat mos van ghosting en gaslighting en al daai goete. Lat it mooi klink, maa hie tussen ôs praat ôs maa padlangs. Issie gaslighting ie, is virre gat gevat wôd. En daai ding wêk net tot oppe punt, Uncle. En as djy veby daai punt is, dan moet djy maa die pyne vat wat djou kant toe kom. Decembe is nader as wat Uncle dink, en ie sharks circle al om daai settee van Uncle. Issie lat hulle dink Uncle is skelm ie, is lat hulle dink is unfair dat Uncle ie share nie.

Maa anyway, trug na die conflict. Nog soe ’n softly-softly wood. Conflict is as twie kinnes oo een ball stry kry en mekaa pad toe uitnooi. Daai in Ukraine is war crimes, rape, moord. En daai graan en daai sunflower oil wat daa gesteel is, waavoo boere uitgemoo is, moet nou by djulle meeting oo food security gedeel wôd? Looting with a licence, soes wat daa van djou predecessor gesê was.

Ek hou eider op brood eet en kook als op voo ek benefit uit djulle war crimes. Djulle s’n, ja, Uncle. Die deler is soe goed soes die steler, after all. En ek dink altyd aan daai quote van Elie Wiesel: “We must always take sides. Neutrality helps the oppressor, never the victim. Silence encourages the tormentor, never the tormented.”

Wat Uncle nou doen is worse dan neutrality. Uncle is actively besag om, in ôs ammel se name, die kant vannie oppressor te vat en te try benefit uit hulle crimes. Dis worse dan Thabo se quiet diplomacy, worse dan Zuma se Bashirgate en firepool-gate. Djulle ammel vat ôs vi gatte, en somewhere gan dit djulle inhaal.

Vemaak is een dag, maa verleë is elke dag. Die dag dat djulle verleë gan wies vi ôs vote, issie mee soe ver ie.

Onthou daai, wan ôs gan ie vegiet ie.

  • 2

Kommentaar

  • Ek het die meningstuk met groot plesier gelees. Dit vat my ver terug na my kleintyd. Ons het jaarliks vir die Kersvakansie Kleinmonstrand toe gegaan om vir famile daar te kuier. 'n Oom van my het 'n paar "skuide" daargehad en het 'n bestaan gemaak deur vis te vang. Aanvanklik het hulle gewoon in een van vissershuisies wat reg by die hawe gestaan het. Nietemin, dis waar ek my eerste kennis met die smaaklike taal van Bettina gemaak het. Komplimente aan haar!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top