Kleur en Karamel: ’n Onderhoud

  • 0

In Februarie 2022 verskyn wat beskryf word as die eerste lesbiese romantiese werk in Afrikaans, Kleur en Karamel deur Analize Viljoen, by LAPA Romanza. Nie net het dit al gelei tot ’n akademiese artikel (De Korte en Sutton 2022) wat in Stilet se Populêre Fiksie in Afrikaans verskyn het nie, maar Ilse de Korte het besluit om met hierdie besonderse skrywer te gesels om meer te wete te kom oor haar boek.

Titel: Kleur en karamel
Skrywer: Analize Viljoen
ISBN: 9780639607252
Uitgewer: Romanza

Analize, baie geluk met jou twee onlangse publikasies! Nie net sien jou en Trisa Hugo se boek Oor en weer die lig nie, maar dan skryf jy wat beskryf word as die eerste lesbiese romanse in Afrikaans! Hoe het dit gekom dat jy Kleur en Karamel geskryf het?

LAPA Uitgewers het my genader en gevra of ek so ’n boek sal wil skryf, na aanleiding van die selfdegeslagverhouding in my en Trisa Hugo se boek, Oor en weer. Ek het toe dadelik ja gesê, want ek het gedink dit is ’n lekker uitdaging. Oor die volgende dag of twee het idees losweg in my kop gekom, maar al wat ek van daardie aanvanklike idees gebruik het, was dat die storie in Swellendam afspeel. Dit was asof Swellendam die hele tyd in my kop opgepop het as ek aan die storie dink, en toe besluit ek, oukei, duidelik wil die meisies in hierdie storie in Swellendam bly. Die boek begin waar Hanri, wat huise verf, pas klaar is met ’n verfprojek. Toe ek die bladsy geskryf het, het ek nog nie geweet waar die storie heen gaan nie, maar dit het stadigaan alles vanself in plek geval en begin ontwikkel.

Is Kleur en Karamel jou eerste romanse en is dit jou gekose genre?

Dit is my eerste romanse, maar ek dink vrouefiksie is die genre wat vir my natuurlik kom. Ek sal egter baie graag ook ander genres wil probeer skryf.

Het LAPA as uitgewer enige voorskrifte gehad waarby jy moes hou vir hierdie boek (bo en behalwe nou die gewone voorskrifte vir Romanza)? 

LAPA het geen voorskrifte gehad nie. Lisa Immelman het my gekontak en gevra of ek ’n lesbiese Romanza wil skryf, en dit was eintlik maar die hele opdrag! Ek kon self besluit oor die storie, die karakters, hulle beroepe en al die res. Lisa het net vir my die vereistes vir ’n Romanza gestuur. Sy het gesê ek kan ook self besluit hoe warm ek die liefdestonele wil maak.

Was daar enigiets wat jy liefs moes vermy of dalk selfs bywerk? 

Nee, glad nie. Hulle het gehou van die storie soos dit was, en van die karakters ook.

Ná die eerste weergawe het hulle gevra dat ek die backstory van die twee karakters net meer inkleur. Ek moes so bietjie dieper ingaan op Lily se redes vir waarom sy aanvanklik nie vir Hanri wou val nie.

Ek moes ook daarop let dat ek die woord “mos” te veel gebruik! Ek het toe ’n klomp mosse gaan uithaal! 

Het jy gevoel jy moes die boek sanatize wanneer dit kom by die verhouding tussen Lily en Hanri? 

Nee, nie juis nie. Ek het wel van die begin af gedink ek maak dit maar nie te wild nie, maar meer omdat ek wou fokus op die emosionele sy van hulle verhouding, en vir mense wou wys dat dit maar net ’n liefdesverhouding is soos enige ander. Ek dink ek sal graag in ander boeke bietjie meer seks inskryf waar dit ’n doel dien, maar ek wou niemand afskrik met die eerste een nie. Ek het soort van gedink die storie is vir my die belangrikste. Enige iemand wat sex for sex’s sake wil lees, kan dit op die internet gaan soek! Interessant genoeg, in Oor en weer, die boek wat ek saam met Trisa Hugo geskryf het, is daar ook ’n lesbiese verhouding, en die sekstonele is aansienlik meer stomend, maar ons het minder negatiewe kommentaar gekry. Inteendeel, ons het niks gekry nie! Almal het gesê die seks in die boek (Oor en weer) is smaakvol en maak hulle nie ongemaklik nie. Maar dis ’n liefdesroman (so sê hulle – ek dink dis ’n verhoudingsroman) en het ’n heel ander teikenleser as Romanza. Die negatiewe kommentaar op Kleur en karamel was ook uitsluitlik van mense wat nie die boek gelees het nie en dit wou duidelik maak dat hulle nie wil of sal nie. LAPA het selfs ’n e-pos gekry van iemand wat haar kommer en teleurstelling uitgespreek het!

Het jy geskryf met ’n straight leserskap in gedagte? Om hulle so half op te voed of was jou gedagte om vir lesbiese lesers te skryf?

Bietjie van al twee! My eerste gedagte was om vir lesbian lesers te skryf, maar ek moes in gedagte hou dat Romanza ’n gevestigde handelsnaam is en dat daar ook ’n Romanzaklub is en dat lede elke maand vier boeke kry. Myne was die 5de een vir Februarie. Dit sou beteken dat alle Romanzalesers daarvan sou kennis neem, en dat dit vir lesbian lesers eintlik heel nuut sou wees. Ek wou vir seker vir lesbians sommer net ’n lekker ligte liefdesverhaal gee, maar ook vir straight lesers wys daar is niks om voor bang te wees nie. Ek wou hê hulle moet sien wat Alta Cloete gesien het toe sy oor die boek gesels het op Boekemakranka – liefde is liefde, en dis net ’n liefdesverhaal. Die ander kant was natuurlik ook dat ons geen maatstaf gehad het van hoe so ’n boek sou verkoop onder Afrikaanse lesers nie. Die marknavorsing het gewys die lesers is reg daarvoor, en dat lesbians sowel as straight lesers van liefdesverhale dit sal lees, maar ek weet eintlik te min daaroor. Ek glo Lisa (wat intussen weg is by LAPA) sou meer inligting kon gee oor hoe hulle die besluit daaroor geneem het. 

Wat was die reaksie op Kleur en Karamel? Was daar enige uitermatig-negatiewe terugvoer of was die reaksie grotendeels positief? Was daar enige kommentaar wat jou regtig geskok het?

Daar was ’n paar negatiewe kommentare, maar uitsluitlik van mense wat nie die boek gelees het nie, en ’n probleem gehad het met die tema. Een persoon het gesê dit vergiftig haar siel. ’n Ander een het gesê sy is straight en sy wil nie ’n lesbiese verhaal lees nie. Dit was vir my vreeslik ironies, want in al die dekades wat liefdesverhale al beskikbaar is, moes gay vrouens wat van liefdesverhale hou maar lees oor straight paartjies se verhoudings, want dit was al wat beskikbaar was. Dit blyk dat die persoon steeds vasklou aan die uitgediende idee dat slegs haar eie heteroseksuele oriëntasie oukei en aanvaarbaar is. Al wat ek kan sê, is dis heeltemal oukei. Jy hoef niks te lees wat jy nie wil lees nie, maar as jy dit sou lees, sou jy dalk ’n bietjie insig kry. Ek kan ook nie help om te wonder of sy ook nie moordverhale lees nie, omdat sy nie ’n moordenaar is nie. Uit ’n morele oogpunt is moord vir my baie verkeerd, en liefde tussen twee vroue is maar net wat dit is. Dalk is dit net ek...

Is Kleur en Karamel die einde van Hanri en Lily se storie of kan lesers uitsien na nog van hul storie?

Dit is die einde van Hanri en Lily se storie as sodanig, maar hulle het ’n vriendin wat nog enkellopend is. Ek het Maryke se storie begin skryf, en Hanri en Lily is ook in die storie, maar LAPA het reeds laat weet dat hulle nie verdere lesbiese Romanzas gaan publiseer nie. Dit lyk vir my asof die boekwinkels nie juis die boek wil aanhou nie, want ek kry baie navrae van mense wat sê hulle kry nie die boek te koop nie. Van die winkels sê hulle sal dit op aanvraag bestel, maar mens het nie ’n graad in bemarking nodig om te weet dat dit nie die beste manier is om iets te verkoop nie. Nou sal ons maar moet sien wat verder gebeur.

Vertel ons ook ’n bietjie meer van Oor en weer.

Oor en weer is ’n roman wat ek saam met Trisa Hugo geskryf het. Dit gaan oor ’n onwaarskynlike vriendskap tussen twee buurvroue wat soos dag en nag verskil. Ten spyte daarvan raak hulle lewens verstrengel en hulle leer hoe kosbaar vriendskap is en eintlik maar hoe mens jou sielfamilie kies. Ons het dit uit die twee hoofkarakters se perspektiewe geskryf, Trisa uit Manda s’n en ek uit Billie s’n.

Manda is ’n kluisenaar wat ingehaal word deur trauma uit haar verlede, en Billie is pas geskei en in ’n komplekse verhouding met ’n Irakese vrou. Hulle begin op mekaar steun en hul vriendskap help al twee om sin te maak van hul onderskeie situasies.

Oor en weer was in 2021 een van die drie finaliste vir ’n ATKV Woordveertjie in die liefdesromankategorie. Lees gerus meer oor Oor en weer hier.

Lees ook:

’n Skeppie Kleur en karamel vir jou vrugteslaai

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top