Oor en weer deur Trisa Hugo en Analize Viljoen, ’n lesersindruk

  • 2

Titel: Oor en weer
Skrywers: Trisa Hugo en Analize Viljoen
ISBN: 9780639605654
Uitgewer: LAPA

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Daar is iets vry en wild omtrent ’n vriendskap tussen vroue. Enigiets kan daar uitbroei. Spesifiek omdat dit gewoonlik ontwikkel buite die sfeer van mans. As ’n tema van ’n boek is dit dan ook die ideale dryfveer om kommentaar te lewer op vrouwees en die samelewing waarin hulle hul bevind.

Oor en weer deur Trisa Hugo en Analize Viljoen is eintlik ’n vriendskap binne ’n vriendskap, ’n wonderlike vermenging van realiteit en fiksie. Want toe dié twee begin het met die skryf van die boek, het hulle mekaar nog net twee keer in lewende lywe gesien. Die boek is in “real time” geskryf met behulp van Google docs, en hul storie en werklike vriendskap het so saam-saam verder ontwikkel.

Die karakters in die boek, Billie en Manda, is op die oog af teenpole van mekaar. Die geskeide Billie het kinders en is verlief op ’n Irakkese skoonheid, Amani. Manda is weer die ene neurose en alleenlopend (behalwe vir ’n ongesonde verhouding met ’n getroude man).

Waar die verlede (’n uiters traumatiese tragedie) Manda se lewe swart inkleur, is dit weer haar stormagtige verhouding met Amani in haar onmiddellike hede wat Billie omvergooi.

Onderliggend aan al dié verskille is daar wel ooreenkomste … albei vroue is inherent alleen en sonder ’n beste vriendin. Albei word gelei deur die hart en onder elkeen se intrige draai ’n manlike duiwel rond – die arrogante verneuker Danie wat Manda vir sy seksuele bevrediging gebruik en Amani se man wat bereid is om tot uiterstes te gaan om haar te behou.

En ja, weerloosheid bring hulle dalk bymekaar, maar die resultaat is weerbaarheid en waagmoed. Dis dan ook nie lank nie of die poppe begin dans. Want hierdie is nie ’n oppervlakkige boek met anoreksiese karakters nie. Dié girls het vleis om die lyf.

Manda kyk pornografie en beoefen Japannese bondage of sjibari met haar getroude minnaar. Sy sukkel met posttraumatiese stressindroom en is verslaaf aan Xanor. Billie sukkel om die balans te handhaaf tussen ma- en vrouwees. Dié gay karakter is nooit ’n karikatuur nie en die sekstonele is romantiese realisme op sy beste.

Dié twee karakters is iets vars in Afrikaanse literatuur. Ons almal ken iemand wat getroud was en nou borrelend baljaar tussen die vrouelywe. Ek self was lank deel van ’n groep wat pornografiese materiaal en foto’s gedeel het op Tumblr. En wie weet nie van iemand wat Xanor drink soos Smarties eet nie?

Tog word daar selde oor geskryf – maar dit is juis waar vrouevriendskapboeke so ’n belangrike rol kan speel – om die kollig te plaas op presies wat gebeur agter daardie toe deur wanneer al die girls saam badkamer toe storm …

Interessant genoeg het die vrouevriendskapboek nie altyd bestaan nie. Voor die 20ste eeu was boeke oor vrouevriendskappe so ’n onding soos ’n vrou in ’n kroeg. In die 1800’s het Jane Austen oor susterlike bande begin skryf en in Jane Eyre het Charlotte Brontë geraak aan vriendskap, maar dit was eers hier van die sestigs af dat skrywers begin het om vrouevriendskappe ten volle te ontgin.

Om te skryf oor vrouevriendskappe is ontsettend belangrik in vandag se tyd van toenemende geweld teen vroue en ’n seksistiese atmosfeer wat nog maar dik lê in hierdie land van ons.

Vrouevriendskappe kan ’n veilige ruimte bied waar vroue se letsels kan genees. Dit is dan ook wat gebeur met Billie en Manda. In mekaar se huise, dikwels oor ’n bord kos en ’n glas wyn, word hul psiges en harte gesonder.

Boeke soos Oor en weer is belangrik. Daar is so baie stereotipes van jaloerse en vyandige vrouevriendskappe in flieks en boeke wat nuttig te pas kom in ’n patriargale omgewing waar mans juis nie wil hê vroue moet saamstaan nie. Kyk na #metoo. Kyk wat gebeur as vroue wel hande vat.

Oor en weer is darem nie net derms uitryg nie. Dit is vol verrassings en interessante wendings en humor wat ingemeng is in die boekbrousel so tussen die gekokery deur.

Die boek het my half leeg laat voel ná die tyd – nie oor die inhoud nie, maar omdat Manda en Billie ook my vriendinne geword het – en nou is ek klaar gelees en sonder my pelle. Wat gaan nou verder gebeur? Ek wil weet!

Erger nog … ek gee om. Ek hoop dus daar is ’n opvolg. Anders is my persoonlike vriendskap met die skrywers op die spel.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top