Klankdig, om musiek saam met die tegnologie te skryf: ’n onderhoud met André Nel

  • 0

 

Omslag: https://distrokid.com/hyperfollow/swerwerx/klankdig/

Naomi Meyer praat met André Nel, ’n prokureur wat lief is vir gedigte, musiek en die skeppingsproses saam met kunsmatige intelligensie, oor sy toonsettings.

Skakel om in te sluit: https://distrokid.com/hyperfollow/swerwerx/klankdig/

André, jy is ’n prokureur van beroep, maar nou toonset en sing jy ook Afrikaanse liedjies. Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond, jou werk en jou belangstelling in gedigte en musiek.

Dis reg, ja. Ek is ’n regsgeleerde, maar musiek is nie iets waarby ek eers onlangs betrokke geraak het nie. Ek maak al vir langer as 50 jaar musiek. Ek het op ses begin klavierlesse neem. Musiek was ’n vak deur tot matriek, met teorie, komposisie en musiekgeskiedenis. Ek het byna my hele lewe as kerkorrelis gedien en speel steeds elke dag klavier en klarinet. Ek tree op by klein huiskonserte en speel ook in ’n plaaslike amateur-simfonie-orkes. Ek komponeer al privaat vir baie jare waar ek gebruik maak van digitale musiekproduksie – goed soos sequencers, DAW’s (digital audio workstations) en virtuele instrumente. Ek het selfs ’n hele paar jaar gelede ’n klassieke album Simple beauty met dié gereedskap gemaak wat steeds op Spotify en ander dienste beskikbaar is.

My poësieliefde kom van dieselfde plek. My ma was ’n Engelse onderwyseres met ’n diep liefde vir letterkunde in albei tale. My pa het Afrikaanse liedjies gesing en was baie lief om vir ons resitasies op te sê. Nie hoë poësie nie, maar die bekende versies wat in jou murg vasslaan. Teen die einde van sy lewe het demensie soveel weggeneem, maar wat oorgebly het, was die liedjies en die versies – soos “Muskietejag”, waarmee hy ons tot aan die einde bly vermaak het. Daardie beeld, dat taal so diep kan lê dat niks dit kan wegneem nie, is grootliks waar Klankdig vandaan kom. Ek skryf ook self gedigte, al jare lank. Sommige daarvan kry nou eindelik ’n musikale stem op my ander album Kruispad.

Jy het ’n album geskep van 12 liedjies waarin jy agt van die groot ikoniese Afrikaanse digters se gedigte ’n nuwe, musikale stem gegee het. Wie is hierdie digters en watter gedigte het jy gekies?

Die 12 snitte, met hul digters:

  • Eugène Marais – “Winternag”, “Skoppensboer”, “Die dans van die reën”
  • NP van Wyk Louw – “Die beiteltjie”, “Ballade van die nagtelike ure”
  • AD Keet – “Muskietejag”, “Amsterdam”
  • Totius – “Vergewe en vergeet”
  • CJ Langenhoven – “Die openbaring van die waarheid”
  • C Louis Leipoldt – “Op my ou ramkietjie”
  • Jan FE Celliers – “Die ossewa”
  • Ingrid Jonker – “Toemaar die donker man”

Sommige digters kry meer as een snit. Marais het byvoorbeeld drie. Hulle werk dra so ’n groot deel van hierdie tradisie. Ek het met opset elke digter se naam by die titel gevoeg. Dit gaan met Klankdig nie oor my musiek nie. Dit gaan oor húlle en oor die taal. As mense nooit die naam Swerwer X onthou nie, maar ’n “nuwe” gedig leer en saamsing, dan is ek gelukkig.

Dis nie kunsliedjies nie, maar eerder ritmies-gedrewe musiek, vertel jy omtrent die liedjies. Verduidelik wat jy bedoel.

.........
’n Kunslied respekteer die gedig deur dit stil, respekvol te hou. Dit vra die luisteraar om aandagtig, amper eerbiedig te luister. Dis waardevol. Maar dit beperk ook wie luister en wie onthou. Ek wou hierdie gedigte ’n melodie gee wat vassteek.
...........

’n Kunslied respekteer die gedig deur dit stil, respekvol te hou. Dit vra die luisteraar om aandagtig, amper eerbiedig te luister. Dis waardevol. Maar dit beperk ook wie luister en wie onthou. Ek wou hierdie gedigte ’n melodie gee wat vassteek. ’n Ritme wat jou voet laat tik voor jy eers besef jy luister na Van Wyk Louw of Celliers. Die doel is dat ’n gewone musiekliefhebber, sonder enige literêre agtergrond, dit sommer in die motor of die stort saamsing. Sonder om eers agter te kom dat hulle ’n taalikoon se woorde sing. Só bly ’n taal lewendig. Nie deur dit in ’n glaskas te sit nie, maar deur dit te laat saamsing.

Maar hier was een ding vir my ononderhandelbaar. Die musiek moes getrou bly aan die siel van die gedig. Aan die woorde. Aan die emosie wat dit dra. Dit is nie sommer net ligte musiek ter wille van musiek ni

Wat was eerste vir jou: die musiek of die gedig — die liriek? Kan mens die musikaliteit van die een van die ander skei?

Vir Klankdig spesifiek was die gedig altyd eerste. Dis nie my woorde nie; dis die digters s’n. My werk begin met wat die gedig eintlik sê en voel. Ek moes eers daardie essensie verstaan voor enige musikale besluit gemaak is. Maar ek dink nie ’n mens kan die twee heeltemal skei nie. ’n Gedig het gewoonlik reeds sy eie ritme. Sy eie klankkleur is reeds in die woorde self. ’n Goeie digter het reeds onbewustelik op ’n manier musiek en ritme in die teks self ingebou. My werk was om te luister na wat reeds daar was. En dit hoorbaar te maak vir ’n oor wat nie noodwendig gewoond is om gedigte te lees of te waardeer nie.

Ons het gepraat oor die kopieregaspekte van die gedigte — wil jy vertel waarom dit veilig is om die gedigte se woorde te toonset?

Ek het doelbewus gedigte gekies waarvan die outeursreg reeds verval het. Die algemene beginsel in ons reg is dat outeursreg op ’n letterkundige werk voortduur tot 50 jaar ná die dood van die skrywer. Al agt digters op Klankdig val buite daardie tydperk. Dit beteken geen klaring van ’n uitgewer of boedel was nodig nie. Dit was ’n bewuste keuse om binne daardie grens te bly, eerder as om regte te probeer beding vir werk wat nog beskerm word.

Dit was ook nie net ’n praktiese keuse nie. Die nuwer digters, Krog, Kamfer, Arendse, leef en werk merendeels vandag nog. Hulle het hul eie stem en voorspraak. Hierdie ouer digters het nie meer daardie lewende voorspraak nie. Dit is presies waar Klankdig probeer instaan.

Wie skryf die musiek? Is dit jy, of kunsmatige intelligensie? Hoe verseker jy dat dit veilig is en geen inbreuk op ander werke maak nie?

Ek wil eers iets sê voor ek die vraag beantwoord. Ek weet KI is baie kontensieus en het terdeë besef toe ek met die projek begin het, dat ek my kop in ’n byenes steek. Veral op gebiede waar mense vrees dat dit individuele kreatiwiteit kan vervang, is dit oop vir sterk kritiek.

Kom ons draai nie doekies om nie. Mens kan vandag vir ’n KI vra om ’n gedig, ’n lied, selfs ’n hele boek of opera te skryf. En dit word gedoen. Die meriete daarvan is natuurlik ’n hele gesprek werd op sy eie. Maar dis nie wat ek gedoen het nie. Om vir KI te vra om een van my gunstelinggedigte te toonset, sou wees om alle beheer aan iets anders oor te gee. Ek het oor baie jare ’n oor ontwikkel. Ek het die emosie en die siel van die gedig verstaan. Hoe sou ek dit sommer net laat gaan en vir ’n masjien vra om dit te doen?

........
Nou, om die vraag direk te beantwoord: Ek skryf elke liriek. Of, in Klankdig se geval, kies en werk ek met die bestaande gedig self. Ek verander nie die woorde nie – ek herhaal miskien gedeeltes van ’n gedig, sodat dit musikaal sin maak, maar die teks bly dieselfde. Ek komponeer elke melodie. Baie van Klankdig se melodieë lê al vir jare in lêers op my rekenaar en in my lessenaar se laaie. Met behulp van tegnologie, kon ek dit behoorlik afstof. Elke kunstige besluit, instrumentasie, emosionele toon, verwerking, finale keuse is myne. Produksie word gerealiseer deur ’n mengsel van tegnologiese musiekgereedskap, waarvan KI een is.
.........

Nou, om die vraag direk te beantwoord: Ek skryf elke liriek. Of, in Klankdig se geval, kies en werk ek met die bestaande gedig self. Ek verander nie die woorde nie – ek herhaal miskien gedeeltes van ’n gedig, sodat dit musikaal sin maak, maar die teks bly dieselfde. Ek komponeer elke melodie. Baie van Klankdig se melodieë lê al vir jare in lêers op my rekenaar en in my lessenaar se laaie. Met behulp van tegnologie, kon ek dit behoorlik afstof. Elke kunstige besluit, instrumentasie, emosionele toon, verwerking, finale keuse is myne. Produksie word gerealiseer deur ’n mengsel van tegnologiese musiekgereedskap, waarvan KI een is. Ek gebruik dit soos ’n produsent met sessiemusikante sou werk. Of soos ’n komponis met virtuele instrumente werk. Ek gee vir elke snit voltooide woorde. ’n Basiese gekomponeerde melodie as verwysing. Gedetailleerde produksie-instruksies oor instrumente, gevoel, tempo en atmosfeer. Die gereedskap genereer verskeie weergawes, soms meer as 50. Ek evalueer en verfyn tot dit ooreenstem met wat ek in my kop gehoor het. Dis nie ’n kortpad nie. Dis eintlik net die jongste stap in ’n proses wat by vroeë sequencers en rekenaarmusiek begin het. Dit het deur DAW’s en virtuele instrumente geloop.

Oor veiligheid en inbreuk: Die gedigte self is in die publieke domein. Daar is dus geen kwessie van klaring vir die tekste nie. Wat die musiek betref, is elke verwerking gebou uit my eie oorspronklike melodiese en produksie-instruksies. Dis nie ’n nabootsing van ’n bestaande opname nie. Ek keur elke weergawe self, met 50 jaar se musikale opleiding, voordat dit gebruik word. Ek wil nie voorgee om ’n oorkoepelende juridiese opinie oor KI en musiekouteursreg te gee nie. Dis ’n vinnig ontwikkelende regsgebied wêreldwyd. Maar vir hierdie spesifieke projek is die risiko sorgvuldig bestuur. Openbare domein-tekste. Oorspronklike komposisierigting. En ’n mens wat elke finale keuse maak.

Ek moet darem ook bysê dat daar vir my ’n heerlike ironie is in die samekoms van ou poësie en moderne rekenaartegnologie. Ek kan net met ’n glimlag wonder wat sou Eugène Marais daarvan dink dat sy 100 jaar oue gedig nou deur KI verwerk en gesing word! Miskien draai hy in sy graf om – en miskien dalk nie.

Tegnologie, KI ingesluit, het ons tot by ’n kruispad geneem en elkeen van ons moet maar self besluit wat om daarvan te maak. My lied, met dieselfde naam, wat juis hieroor gaan, eindig met hierdie woorde:

My siel is net ’n stelsel
My hart net ’n hardeskyf
En ’n diep geleende stem
wat net jou lied wil sing –
Sing jy saam, of draai jy weg?

Hoe werk die proses vir jou? Hoor jy die gedig ook in musiek en klanke? Hoe weet jy hoe ’n liedjie van meer as 50 jaar gelede nou moet klink?

Mens moet eers met ’n gedig saamleef voor jy dit kan verstaan. Soms gebeur dit oornag. Soms vat dit veel langer. Eers wanneer ek die essensie van ’n gedig begin verstaan, kan ek begin dink aan musikaliteit. Dan hoor ek dit byna onmiddellik as klank. ’n Tempo, ’n stemkleur, ’n instrument wat by die gevoel pas. Dis nie ’n stap wat apart van die lees gebeur nie. Dit gebeur daarmee saam. My uitgangspunt is altyd die essensie van die gedig. Wat dit werklik sê. Wat dit gevoel het toe dit geskryf is. Wat dit vandag nog beteken. Ek probeer nie ’n gedig “moderniseer” deur dit los te maak van sy oorsprong nie. Ek probeer eerder die emosionele waarheid daarvan vertaal in ’n musiektaal wat vandag nog lewe. As Marais hartseer geskryf het, moet dit hartseer klink. As Keet speels was, moet jy dit hoor. Die tydloosheid lê nie in ’n spesifieke era se produksiestyl nie. Dit lê daarin dat ’n eerlike emosie nooit verouder nie en nie gewaan kan word nie.

Waarom het jy die toonsettings gedoen? Het jy ’n teikenmark in gedagte?

Ek is oortuig dat hierdie ou skatte, Marais, Celliers, Van Wyk Louw, stil-stil buite hoorafstand raak. Daar is niks hedendaags wat hulle vorentoe dra nie. Die lewende digters het vandag nog hul eie stem. Hierdie digters het dit nie meer nie. My teikenmark is doelbewus nié ’n literêre of akademiese gehoor nie. Dis die gewone Afrikaanssprekende musiekliefhebber, van alle ouderdomme. Iemand wat van gewone folk-agtige musiek hou – iets met ’n beat! Iemand wat dalk nooit hierdie gedigte in ’n skoolklas geniet het nie. As iemand Eugène Marais deur ’n Swerwer X-snit ontdek en nooit weer die projek se naam onthou nie, is dit nie mislukking nie. Dis presies die doel bereik.

Hoe versoen mens die reg met musiek en skepping? Is daar ’n integrasie van kreatiwiteit en dissipline?

Ek is maar ’n kreatiewe wese. My behoefte aan kreatiwiteit is soos die lug wat ’n mens inasem. Dit kry grootliks uiting in my kuns en my musiek.

........
Ek dink kreatiwiteit se grense strek veel verder as net die kunste. In die meeste beroepe is daar, in ’n mindere of meerdere mate, ruimte vir kreatiwiteit.
..........

Ek dink kreatiwiteit se grense strek veel verder as net die kunste. In die meeste beroepe is daar, in ’n mindere of meerdere mate, ruimte vir kreatiwiteit. Regte is nie anders nie. Binne die noodwendige grense wat saam met regsbeoefening gaan, is daar heelwat ruimte vir kreatiwiteit. Maar net tot op ’n punt – dan moet dit vir my oorgaan in iets kunstigs, hetsy dit met ’n verfkwas, woorde of note gedoen word.

Ek dink nie dis twee kante van ’n brein wat teen mekaar werk nie. Dis eintlik dieselfde vermoë, op twee tekste toegepas. Regsuitleg vra dat jy ’n teks fyn lees. Jy moet agterkom wat dit werklik sê, teenoor wat dit lyk of dit sê. Jy neem presedent en konteks in ag. Dan bou jy met dissipline ’n interpretasie wat verantwoordbaar is. Om ’n gedig te toonset vra presies dieselfde soort aandag. Jy kan nie sommer ’n gevoel oplê nie. Jy moet luister na wat die teks self dra. Dan bou jy met dissipline ’n musikale antwoord wat daardie teks eer. Die kreatiwiteit lê nie in die ontsnapping aan dissipline nie. Dit lê juis daarin.

Wat is volgende? Jy skryf ook self gedigte. Wil jy jou liedjies iewers sing? Is jy besig om nog liedjies te toonset?

Ja, beslis. Ek skryf steeds gedigte. ’n Hele klomp lê al jare op ’n hardeskyf en wag. Dit is wat my ander album Kruispad is. My eie oorspronklike woorde en melodieë, geskryf lank voor enige tegnologie bestaan het om dit tot lewe te bring. ’n Paar snitte is reeds vrygestel, maar daardie album groei nog steeds. Klankdig was die eerste stap. Om te bewys die konsep werk en om ’n ou literêre skatkis te probeer red. Kruispad is die volgende. My eie stem in dieselfde eerlike musiekstyl. Soveel as wat ek klassieke musiek geniet en waardeer, is daar ’n deel van my wat nog altyd wou uiting gee aan my ligter musiekmaak-sy. Dit is wat Swerwer X is – my ligte Afrikaanse musiekprojek. Dit is nie ’n enkele album of ’n enkele projek nie. Dis ’n reis wat nog lank nie klaar is nie.

En as ek eerlik moet wees, êrens diep, stilletjies, is daar ’n heimlike droom om eendag self ’n paar van hierdie liedjies in die openbaar te sing. Mens moet liefs nooit sê nooit nie. Maar vir eers moet daar nog heelwat water in die see loop.

Lees ook:  

Die etiese gebruik van KI vir akademiese skryfwerk: ’n literatuuroorsig met behulp van NotebookLM

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top