Klankbord op die TV-spyskaart: ’n onderhoud met Ilse van der Merwe

  • 1

Ilse van der Merwe (foto's verskaf)

Ilse van der Merwe vertel vir Naomi Meyer van haar program Klankbord wat binnekort op Via TV uitgesaai sal word.

Ilse, ek sien jy gaan binnekort 'n program op die TV hê met die titel Klankbord. Wil jy dalk vertel hoekom die titel so van pas is? Waaroor handel die program?

Die reeks is 'n samekoms van twee kreatiewe wêrelde: musiek ("klank") en kos ("bord"). In elke episode laai ek 'n topmusikant op en ons reis na 'n toprestaurant-bestemming waar die sjef die uitdaging kry om een van die musikant se mooiste liedjies as 'n keurige bord kos te interpreteer. Die "mini-roadtrip" vind plaas in 'n BMW X4 en die gesprekke op pad na die bestemmings is gemaklik, informeel en somtyds baie snaaks. Die kos wat voorberei word, is "next-level" – ons het soos konings geëet. Die verfilming van die reeks was 'n absolute plesier en 'n geweldig verrykende ervaring vir my op 'n persoonlike vlak, spesifiek agv die mense. 

Ek is aanbieder, inhoudsvervaardiger en ontwikkelingsvervaardiger in die reeks. Die konsep is myne en Carien Loubser s'n. Ek het die naam uitgedink. Vervaardiger: Whippet Films. Konsulterende Vervaardiger: Carien Loubser. Regisseur: Geoff Butler.

Jy het 'n agtergrond met musiekmense (en persoonlike verbintenis met 'n musikant). Dalk kan jy eers daaroor vertel, en dan ook oor jou reis met kos.

Ek het vir 10 jaar in die musiekwêreld gewerk as besprekingsagent en event-organiseerder, meestal in die rock 'n roll-genre, maar nie uitsluitlik nie. Vandat ek agt jaar gelede 'n loopbaanskuif gemaak het na die koswêreld, was dit vir my ooglopend hoe baie ooreenkomste daar is tussen sjefs en musikante – dis twee kreatiewe wêrelde wat ewe "rock 'n roll" is, en waarin beide sjefs en musikante aan dieselfde genadelose werksure en kreatiewe uitdagings in die publieke oog blootgestel word. Aan die einde van 2010 was ek seker dat ek 'n skuif wou maak vanuit musiekbestuur na die koswêreld (verkieslik kos-TV), maar het my voet in die deur gekry met my kosblog www.thefoodfox.com in 2011. Dit het my agt jaar geneem om die regte konsep vir 'n TV-reeks op die planke te kry – daar was baie ander idees en planne tussendeur wat nooit die lig gesien het nie! Baie van die musikantgaste is oudkollegas van my vorige loopbaan, en baie van die sjefs is nuwe vriende wat ek oor die laaste paar jaar gemaak het, en vir wie ek geweldig baie respek het.

Wat kan mense op jou program verwag?

Klankbord is vars en nuut, en daar bestaan nie iets soortgelyks op Suid-Afrikaanse TV nie. Die konsep het ontstaan omdat ek iets wou skep wat 100% eie is aan my persoonlike agtergrond en ervarings, en iets waarmee ek op 'n outentieke manier kon identifiseer sonder dat dit 'n kopie is van iets anders. Mense het al kos en musiek "pairings" hier en daar gedoen, maar nie op hierdie skaal of in hierdie formaat nie. Die reeks is 'n viering van Suid-Afrikaanse talent en kreatiwiteit, asemrowende bestemmings, pragtige musiek en ongelooflike kos. Ek voel dat die reeks ook "fine dining" meer toeganklik maak, omdat jy die sjefs ‘n bietjie beter leer ken en in hul eie woorde hoor vertel hoe hulle by hul idees uitkom en dit kreatief op 'n meesterlike vlak uitvoer. Ek het self ook gevind dat ek van voor af weer plaaslike musiek ontdek en waardeer het – daar is ongelooflik mooi liedjies in die reeks. Die liedjies vorm die basis van die tema vir elke episode, en dis gewoonlik 'n tema van emosie, bv verlange, vergifnis, hoop, liefde, 'n hunkering na kinderdae, of selfs donkerder temas soos depressie en persoonlike trauma. Daar is egter ook geweldig baie humor in die reeks, en die kos wat gemaak word, is 'n absolute inspirasie.

NUWE REEKS: In die splinternuwe reeks, #Klankbord, is voorste rockers se bekendste liedjies die inspirasie vir ’n...

Posted by VIA TV on Thursday, 24 January 2019

Die naam van jou program is veelseggend, maar is musikante noodwendig nadenkend oor wat hulle eet? Is hulle nie dalk eerder ouens wat baie drink en minder aandag gee aan kos nie? Wat was jou ontdekkings?

Musikante kan nie almal oor dieselfde kam geskeer word as dit kom by kos en drank nie. Sommige is baie ingelig oor kos en restaurante, sommige weer glad nie. Baie van my musikantgaste drink glad nie (of het opgehou drink); ander het 'n glasie wyn of bier baie geniet. Om matigheid voor oë te hou is baie algemeen onder top-rockers deesdae – veral soos mense ouer word en graag op 'n langlewende loopbaan wil fokus. Baie van my musikantgaste is passievol oor onthaal tuis, en braai veral graag.

Wanneer begin die program op Via en is daar heruitsendings sodat mense dit op 'n tyd kan kyk wat hulle pas?

Episode 1 word Woensdag 6 Februarie 21h30 op Via uitgesaai, met Francois van Coke en sjef Chris Erasmus van Foliage. Daar is heruitsendings op Sondagaande 21h30, maar ons het so pas verneem Klankbord sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees. Moet dit nie misloop nie!

  • Klankbord vertoon vanaf 6 Februarie 2019 op Via TV.
  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Elize Pretorius

    Dit is n absolute briljante program ... ons geniet dit baie. Moet asseblief nie ophou daarmee nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top