Kennisgewing: KKNK-treffer Jakkals en Wolf Onbeperk kom Stellenbosch toe

  • 0

Foto: KKNK / Fotograaf: Hans van der Veen

Die Kanna-bekroonde toneelstuk Jakkals en Wolf Onbeperk word van 4 tot 11 Mei by die Adam Small-ouditorium op Stellenbosch opgevoer. Devonecia Swartz, wat die rol van Jakkals in dié gesinsproduksie vertolk, het ’n Kanna-toekenning as Beste opkomende kunstenaar vir haar spel gewen. Jakkals en Wolf Onbeperk het ook Kanna-benoemings vir Beste regie (Amelda Brand) en Beste opkomende kunstenaar (Wian Taljaard) ontvang.

Dié speelse stuk bied ’n humoristiese en skerp, kontemporêre blik op die geliefde ou Suid-Afrikaanse diereverhale. Van hierdie stories kry nuwe lewe wanneer Jakkals, Wolf en ’n paar ander diere ’n TV-span vra om ’n werklikheidsreeks oor hulle te maak. Wanneer Koning Leeu die kalklig probeer steel, is die vet in die vuur. Die kameraspan vererger al die nuwe moeilikheid in die diereryk en ontketen ’n verhaal van verraad en oorlewing, wat uiteindelik ook ’n lewensles of twee leer.

Jakkals en Wolf Onbeperk is geskryf deur die bekroonde dramaturg Malan Steyn (Jan en Jorie, Johnny is nie dood nie). Die oorspronklike musiek en lirieke is geskep deur Frazer Barry van Tribal Echo-faam wat in 2018 saam met Oom Hannes “Slide Spoon” Coetzee vir Lepeltjie vol snare ’n Kanna vir Beste musiekproduksie gewen het. Estelle Olivier het die choreografie behartig.

Laetitia Pople beveel in haar resensie vir Die Burger dié stuk entoesiasties vir groot en klein aan:

“Steyn se teks werk op meer as een vlak – die ouers sal veel meer pitkos en maatskaplike kommentaar daaruit haal as hul jillende spruite. […] Dit is ’n fisieke, enduit lewendige produksie waar baie van die studente geverg word. Hulle handhaaf hul rolle regdeur met groot entoesiasme en lieflike voorstellings. […] Hopelik kry dit ook elders speelkans, want kinders verdien dit om só trakteer te word.”

Nic de Jager, in die rol van die verteller, sal die diere bystaan van 4-6 en 10-11 Mei met Kabous Meiring wat op 9 Mei die rol sal oorneem. Kaartjies is by www.quicket.co.za beskikbaar.

Dié kleurryke weergawe van Jakkals en Wolf word deur die Dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch aangebied in samewerking met Kunste Onbeperk en met die ondersteuning van NATi.

Kontak Amelda Brand vir enige verdere navrae by ameldab@sun.ac.za of 072 159 6764.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top