
Sedert die ontstaan van die KKNK se Teksmark in 2016, is 43 teks-idees tot volskaalse produksies ontwikkel. Foto: © Nardus Engelbrecht
“Sedert die ontstaan van Teksmark in 2016, is 156 tekste ingesluit as deel van dié inisiatief, met 43 teks-idees wat in volskaalse produksies ontwikkel is, waarvan verskeie bekroon is met ’n rits toekennings en pryse”, sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.
Verskeie teksvoorstelle wat na die afgelope twee jaar se Teksmark tot volskaalse teaterproduksies ontwikkel is, was reeds vanjaar by die KKNK en Suidoosterfees op die planke en verskeie is binnekort ook by Innibos en die Vrystaat Kunstefees te sien.
Volgens Theart is volledige tekste nie ’n vereiste om ’n voorstel vir Teksmark in te dien nie. “Voorstelle wat ’n tema, storielyn, kort beskrywing van die karakters en ten minste vyf bladsye se dialoog insluit is voldoende. Die voorgestelde teks moet lank genoeg wees vir ’n optrede van ten minste tien minute.”

Foto: © Nardus Engelbrecht
Teks-idees word in alle genres verwelkom. Voorstelle kan slegs deur Suid-Afrikaanse burgers ingedien word en alhoewel veeltalige tekste aangemoedig word, word teks-idees in alle amptelike Suid-Afrikaanse tale oorweeg.
Slegs oorspronklike tekste word oorweeg en geen vertalings of verwerkings word aanvaar nie. Dit is ook belangrik dat tekste wat ingedien word, nog nie vantevore professioneel opgevoer is nie.
Alle tekste wat voor die sluitingsdatum van Maandag 1 Julie om middernag aanlyn ingedien is, word deur ’n onafhanklike paneel geëvalueer, waarna verskeie tekste gekies word om by Teksmark in Kaapstad en Johannesburg voorgelê te word.

Foto: © Nardus Engelbrecht
Regisseurs en akteurs word in oorleg met die skrywer en organiseerders gekies om ’n uittreksel van 10 minute uit die teks as leesteater vir verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers, ander moontlike beleggers en teaterentoesiaste op te voer. Skrywers het hier die geleentheid om hulle teks met die gehoor te bespreek en gehoorlede neem deel deur middel van vrae en terugvoer.
Die mark is oop vir enigiemand wat daarin belangstel om met die skrywer te onderhandel oor moontlike verdere ontwikkeling van hulle teks.
Teksvoorstelle kan aanlyn via die KKNK se webblad ingedien word. Vir meer inligting of met enige navrae, kontak Lizané Basson, die KKNK se algemene bestuurder, by lizane@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.