KKNK 2022: ’n onderhoud met Loki en Margot Rothman

  • 0

Foto van Margot Rothman: YouTube; foto van Loki Rothman: verskaf; KKNK-logo - kknk.co.za

Loki & Margot Rothman is op 2 April 2022 by die KKNK. Hulle beantwoord Yolanda Wessels se vrae oor dié optrede.

Dit is jul eerste vertoning by die KKNK. Hoe voel jul oor dié debuutgeleentheid?

Ongelooflik opgewonde – net oor die feit dat dit net nog ’n positiewe teken is dat dinge besig is om heeltemal terug na normaal toe te keer. Ons is so lief vir die KKNK-fees. Dis lekker om saam ’n vertoning aan te pak by die fees van die jaar!

Julle is nie vreemdelinge vir mekaar nie, en sekerlik baie gemaklik saam op ’n verhoog, alhoewel jul afsonderlike musiekloopbane het. Margot, wat het jul laat besluit om ’n vertoning te deel en het julle al baie gehore saam vermaak?

........
Dit kom al van kleins af waar ek in Loki se kamer in hardloop en luister na watse musiek hy nou weer vandag maak, en op die ou einde "jam" ons saam uit in die huisstudio.
..........

Dit kom al van kleins af waar ek in Loki se kamer in hardloop en luister na watse musiek hy nou weer vandag maak, en op die ou einde "jam" ons saam uit in die huisstudio. Dit het eers stadig begin waar Loki my gevra het om "background vocals" te doen by sy albumbekendstellingsvertoning, en toe van daar af het ons net besef twee is beter as een en dat ons mekaar goed komplementeer op die verhoog. Ons het vanaf 2019 begin saam optree by geleenthede.

Kom julle uit ’n musikale familie of is dit net julle twee, Margot? Vertel asseblief meer oor jul grootwordjare en die impak wat musiek op jul lewens gemaak het?

Ons is drie kinders – ’n ouer suster, Loki en dan ek. Ons pa het definitief die meeste musikale gene, waar hy musiekstukke van sy kinderjare nog kan improviseer op die klavier, en hy sing ook so nou en dan. Loki en Grethe, ons ouer suster, was saam in ’n band, waar Grethe baskitaar gespeel het en ook gesing het. Ons ma is meer die sportiewe een in die familie, maak seker ons bly fiks, en ek sou sê sy het ook ’n musikale kant aan haar. Musiek speel al vandat ek gebore is ’n groot rol in die hele familie. My ouers is groot ondersteuners van "jaag jou wildste drome na" en het gereeld vir Loki ondersteun deur hom te vat na kompetisies, te vervoer na sy vertonings ens. Daar is permanent musiek in die huis, al was dit band-oefeninge, klavier-oefeninge, laataand-studiosessies ens.

Bring musiek mense (familie en vriende) nader aan mekaar en bied ’n geleentheid vir ’n samekoms?

Musiek is die basis van ’n samekoms. Al is dit by ’n braai of ’n dans. Musiek bring mense nog altyd nader aan mekaar. Met ons familie het musiek definitief ’n sterker band tussen ons gevorm. Ek assosieer gereeld liedjies met kosbare oomblikke tussen familie en vriende.

Loki, jy is bekend as vir akoestiese vertonings en Margot vir sang. Wat is die genre wat julle gaan lewer en waarna feesgangers kan uitsien in jul KKNK-produksie?

Ek sou ons vertoning beskryf as ’n ietsie vir almal. Ons doen ’n verskeidenheid van genres wat die gehoor altyd geïnteresseerd hou, omdat daar ’n geliefde genre is wat pas by elke gehoorlid – van pop, jazz, blues tot klassiek. Ons is lief daarvoor om onsself uit te daag deur verskeie genres te beoefen.

........
Ons doen ’n verskeidenheid van genres wat die gehoor altyd geïnteresseerd hou, omdat daar ’n geliefde genre is wat pas by elke gehoorlid – van pop, jazz, blues tot klassiek. Ons is lief daarvoor om onsself uit te daag deur verskeie genres te beoefen.
.........

Loki, jou eerste solodebuutalbum is in 2020 uitgereik. Oorweeg julle om saam ’n album op te neem en vry te stel?

Ek dink die idee van ’n album saam uitreik staan sterk op die rakkie van idees! Margot werk nog self aan haar sangloopbaan en sal graag eers as solokunstenaar haar merk wil maak voor ander paaie uitgetoets word.

Margot, jy is nog jonk en redelik nuut op die musiekfront. Vertel LitNet-lesers en veral voornemende feesgangers asseblief meer oor jou.

Ek het ’n groot liefde vir die kunste, waar ek so pas my driejaargraad in modeontwerp voltooi het, en ek werk daaraan om modeontwerp en musiek saam te doen as ’n loopbaan. Ek werk tans aan nuwe musiek om dié jaar vry te stel en werk ook daaraan om my eie "fashion brand" stadig maar seker aan die gang te kry. Ten opsigte van die musiekfront, het ek my loopbaan aan die gang begin kry in 2019 toe ek die temalied vir Fiela se kind gesing het, en het al ’n paar samewerkings gedoen met kunstenaars soos Jack Parow, Die Heuwels Fantasties, Corne Pretorius ... Ek is so opgewonde om dieper te kan delf in my musiekloopbaan hierdie jaar, omdat ek dit vir drie jaar moes kant toe probeer stoot om op hoogte te bly met my studies.

Julle is betrokke by ander produksies ook, soos MusiekPaniek, en het al op verskeie televisieprogramme en feeste opgetree. Hoe ervaar julle dit om mense te vermaak en jul vlerke te sprei as ’n broer-en-suster-span?

Omdat ons mekaar goed ken, is dit baie maklik om saam te werk, en dinge gebeur makliker en vinniger, voel ek! So wanneer ons mense vermaak, is dit meer pret as ’n stresvolle, stage panic-saak. Ons val gemaklik in bymekaar en geniet elke performance, maak nie saak wat nie!

.........
Omdat ons mekaar goed ken, is dit baie maklik om saam te werk, en dinge gebeur makliker en vinniger, voel ek! So wanneer ons mense vermaak, is dit meer pret as ’n stresvolle, stage panic-saak. Ons val gemaklik in bymekaar en geniet elke performance, maak nie saak wat nie!
..........

Margot, hoe voel dit om weer na die inperkings voor gehore op te tree?

Opgewonde. Ek dink dis vir Loki ’n ander saak, omdat hy die afgelope twee jaar tydens die inperking meer in die studio agter sy rekenaar gewerk het aan musiek, maar vir my is dit verfrissend en inspirerend om weer voor mense te kan optree.

Hier is die KKNK 2022 se volledige program.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top