
Foto van Hugo Theart: https://www.litnet.co.za/persverklaring-hugo-theart-aangestel-as-artistieke-direkteur-van-kunste-onbeperk/
Yolanda Wessels vra tien vrae aan Hugo Theart oor vanjaar se KKNK.
Jy is as artistieke direkteur van Kunste Onbeperk aangestel in Januarie 2019. Kort daarna het die inperkings alles lamgelê. Veral die kunste het swaar gely. Hoe het julle te werk gegaan met die beplanning (en deurlopende onsekerheid of die fees sal kan plaasvind) van KKNK 2022? Wat het die beplanning op praktiese vlak behels?
Ek het nog vandat ek begin het as artistieke direkteur nie ’n normale jaar gehad nie. Maar ek kla nie. Ek is dankbaar en bevoorreg dat ek kan doen wat ek lief het en by die kunste betrokke te wees. Daagliks. Ons het reeds vroeg in laasjaar ’n plan A, B, C en D in posisie gehad. Voorstelle vir wat in verskillende omstandighede kan gebeur. Maar Plan A was maar nog altyd ons voorkeur: ’n lewende in-persoon fees in Oudtshoorn. Ons kon nie antwoorde kry voor Januarie van dié jaar nie, want almal wou eers sien wat Covid oor die seisoen doen. Op ’n stadium het ek gedink dit gaan nie kan gebeur nie. En toe die wonderwerk – die direksie, borge en vennote gee toestemming. Toe moes ons omtrént wegspring, want dit wat mens gewoonlik oor ses maande doen moes nou oor ses weke gedoen word. Dis gek. Amper onmoontlik. Maar hier is ons en alles is agtermekaar en ons is reg om fees te hou. Ek moet net byvoeg dit is alleenlik as gevolg van moedige mense dat hierdie fees nou kan gebeur – die KKNK se direksie wat hulle nekke uitgesteek het om die bestuur te ondersteun om ’n fees nou aan te bied, Absa, Media24, die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering, NATi, ATKV, wat hul nekke uitsteek om hierdie fees te laat gebeur omdat hul weet dat die kunstebedryf en Oudtshoorn dit nodig het, die kunstenaars en tegnici en ander vennote wat net ingespring het met entoesiasme en ’n "must/can do"-aanslag.
En dan die belangrikste – as die borgskappe daar is en regulasies bepaal word en die nodige toestemming verleen word, dit is een ding, maar om dit dan te laat gebeur is ’n ander ding. En as dit nie was vir ’n uitsonderlike span mense wat ’n klein kerngroepie vorm wat die fees reël nie, dan sou dit nie kon gebeur het nie. Dis dapper mense met hare op hul tande – en die twee met die meeste hare is ons algemene bestuurder Lizane Basson en ons logistieke bestuurder Bernard le Roux. Maar daar is van finansiële bestuurders tot tegniese bestuurders tot bemarkingsbestuurders en ontwerpers wat letterlik 24/7 werk om alles betyds te laat gebeur. En elkeen van hulle is die werklike heroes van die fees.
Het die gebrek aan feeste, beplanning en die finansiële impak ’n negatiewe uitwerking op jou produktiwiteit gehad of het dit jou juis kreatiewe ekstra tyd gegee om met vuur en vlam weg te trek met die fees vanjaar?
........
Maar om weer terug te keer na ’n fees in Oudtshoorn was maar die heeltyd die fokus. Alhoewel ons onder druk die amper onmoontlike in ’n baie kort rukkie moes vermag, was dit die opwinding om weer fees in Oudtshoorn te kan hou, om weer in-persoon kontak te kan hê en die gepaardgaande adrenalien wat ons almal gedryf en gedra het. En natuurlik die energie, opwinding en wonderlike ondersteuning van vele mense, vennote en ’n hele bedryf wat agter ons staan.
.........
Ek en die KKNK-span moes na die 2020-fees se afstel in "overdrive" gaan. Ons het nuwe planne saam met ons borge en vennote soos Absa, Netwerk24 en ander gemaak om werk te skep vir mense in die uitvoerende kunste en ook inhoud vir ons gehore te skep. Selfs in die hoogty van grendeltyd het ons 24/7 gewerk om nuwe projekte te ontwikkel en uit te rol op veral digitale platforms. Maar om weer terug te keer na ’n fees in Oudtshoorn was maar die heeltyd die fokus. Alhoewel ons onder druk die amper onmoontlike in ’n baie kort rukkie moes vermag, was dit die opwinding om weer fees in Oudtshoorn te kan hou, om weer in-persoon kontak te kan hê en die gepaardgaande adrenalien wat ons almal gedryf en gedra het. En natuurlik die energie, opwinding en wonderlike ondersteuning van vele mense, vennote en ’n hele bedryf wat agter ons staan. Want almal weet dat as mens een fees weer ten volle kan aanbied en dis ’n sukses, baan dit die weg vir al die ander feeste.
Ek moet ook sê dat die uitdagings en beperkings van ’n fees in dié tye stimuleer kreatiewe denke, want jy moet anders dink en anders doen. En met die terugkeer van ’n fees het ek geweet ons moet ’n baie versigtig saamgestelde program hê. ’n Program en fees wat spreek tot die tye.
Hoe gaan ’n mens te werk om ’n fees te beplan met die meegaande onsekerheid of dit sal kan voortgaan? Is dit enigsins ’n demper op die entoesiasme? Hoe het jy dit ook saam met die res van die KKNK-span beleef?
Die onsekerheid is maar altyd daar, en omdat ons as span deur die kansellasie van ’n fees was en ook soveel planne die afgelope jare gemaak het wat soms nie kon realiseer nie, is daar maar altyd die stemmetjie wat sê: "Gaan hierdie nou gebeur? Doen jy nou al die beplanning vir niks?" Die KKNK-personeel is staatmakers en na die afgelope twee jaar weet ek ons sal enige krisis of uitdaging kan hanteer. Dit was nie maklik vir die personeel die afgelope tye nie. En ek dink ons almal dra ook swaar aan ’n pligsbesef en ’n wil om mense in ons meestal vryskut-kunstebedryf gedurende dié tye te kon help en ondersteun. Ons het baie vermag, maar maak nie saak hoeveel jy doen nie, dit voel nooit genoeg nie – en jy kon/kan nie almal help nie.
Ek moet sê, mens se lyf het maar in die afgelope weke ’n "body memory" van die 2020-tydperk. En elke week soos wat die fees nader kom, wonder mens of iets nou gaan gebeur om hierdie planne en die fees in die wiele te ry. Maar waar ons nou is, selfs met laaste dinge wat ons nog gereed kry, is die entoesiasme en opwinding groot! Alles word nou ’n werklikheid en volgende week hou ons uiteindelik weer KKNK in Oudtshoorn.
Het die inperkings jul genoop om ’n nuwe strategiese plan in werking te stel – ook vir die toekoms?
Absoluut. Ons het alles herbesin. Ons moes noodgedwonge sekere dinge anders aanpak en nuwe platforms ondersoek – soos aanlyn en TV. Maar vreemd genoeg het hierdie tyd ook geleenthede vir ons gebied om sekere dinge en projekte wat ons al lank voor Covid oor praat en wonder in posisie te kon sit. Die KKNK het ’n sterk visie vir die volgende vyf jaar en ons weet wat ons wil en moet doen. Die 2022 is ons wegspring uit die blokke ... en ons begin reeds beplan aan die 2023-fees en ook verskeie projekte voor dit.
Die belangrikste vir my is dat ons die tyd gehad het om die fees van binne na buite te begin verander. Kom ons wees eerlik: Die formule van wat feeste was en hoe die bedryf gewerk het, het probleme gehad en vernuwing en ’n nuwe aanslag was nodig. Maar dis moeilik om verandering teweeg te bring, veral in die hamsterwiel waarin mens vasgevang was in die verlede. Wat dan gebeur, is dat verandering kunsmatig gedoen word – en dit dien niemand nie. Hierdie tyd het ons die geleentheid gegee om werklik vanuit die kern van die organisasie dinge aan te spreek en aan te pas. Een so ’n voorbeeld is die Karoo Kaarte-projek wat ons in Oudtshoorn sedert Mei verlede jaar aangepak het. Dis ’n projek uit Oudtshoorn en van die eerste resultate sal by dié jaar se fees te siene wees. Maar dis net die begin, want dit is ’n projek wat sal voortgaan ná die fees. Dis ’n projek wat delf in die psige van ’n dorp en deur die kunste langtermyn ’n verskil moet maak. So, hierdie is letterlik net ’n eerste fase. Ons sal eers oor drie tot vyf jaar sien wat die impak van die projek op die dorp en ook die kunstebedryf het.
..........
Hierdie tyd het ons die geleentheid gegee om werklik vanuit die kern van die organisasie dinge aan te spreek en aan te pas. Een so ’n voorbeeld is die Karoo Kaarte-projek wat ons in Oudtshoorn sedert Mei verlede jaar aangepak het. Dis ’n projek uit Oudtshoorn en van die eerste resultate sal by dié jaar se fees te siene wees. Maar dis net die begin, want dit is ’n projek wat sal voortgaan ná die fees. Dis ’n projek wat delf in die psige van ’n dorp en deur die kunste langtermyn ’n verskil moet maak. So, hierdie is letterlik net ’n eerste fase.
...........
Hoe benader julle die gesondheidsuitdagings/inperkings/logistiek en hoe sal dit by die fees geïmplementeer word?
Ek moet bieg dit het die meeste van ons tyd in beslag geneem. Ons neem geen van die besluite hieroor op ons eie nie – alles word in konsultasie met van regsgeleerdes tot viroloë en medici en regeringsorganisasies gedoen. Uiteindelik moes daar ’n beleid opgestel word wat die riglyne bepaal en wat goedgekeur moes word deur alle betrokke partye en die nodige regeringsorganisasies. Die besluite en riglyne is een ding, maar om dit ook prakties uit te voer is weer ‘n ander uitdaging. Ek is so dankbaar dat ek iemand soos Bernard le Roux, verteenwoordiger van ons logistieke vennoot Dryland Events Management, het wat dit alles reël. Hy het gesweet die afgelope tyd, maar nou is ons uiteindelik reg. Alle prosedures tydens die fees – die waar en hoe – is nou uitgewerk en ons is reg om mense by die fees te verwelkom.
Alle inligting is beskikbaar op ons webtuiste, maar as ek die basiese so kort as moontlik kan opsom:
Die inentingsmandaat behels dat mense wat ’n Johnson & Johnson-inspuiting het, of twee Pfizer inspuitings, die fees kan bywoon. Mense wat nie ingeënt is nie, kan die fees bywoon indien hul amptelike bewys lewer van ’n negatiewe PCR-toes of "rapid" toets. By aankoms by die fees kan jy aanmeld by verskillende plekke waar jy registreer met jou bewys van inenting of negatiewe toets saam met ’n amptelike identifikasie. Jy sal dan jou "paspoort" in die vorm van ’n bandjie kry wat jou dan toegang gee vir die res van die amptelike KKNK venues waar jy kaartjies gekoop het.
Ons vra maar dat mense vroeg aanmeld, want dit is ’n proses en dis nodig om dit te doen met aankoms by die fees. Daarna is dit ook elke feesganger en betrokkene by die fees se verantwoordelikheid om hul eie gesondheid dop te hou – en indien jy enige simptome wys, moet jy eerder wegbly of in die bed bly. Daar is ook toetsstasies in die dorp waar mense sal kan toets indien hul simptome wys.
Verder word die basiese maatreëls gevolg – maskers, sanitering, en so meer.
Het julle invalshoek vir die feesprogram verander ná die vermaaklikheidsdroogte die afgelope twee jaar?
Dit was nog altyd vir ons belangrik om kreatiewe en gehaltewerk by die fees aan te bied. Dit is ’n kunstefees en jaarliks ‘n viering van die beste van die beste van ons land se talent. (Natuurlik kan mens nie almal wat mens wíl insluit, elke jaar insluit nie.) En dit is die fokus. ’n Viering van ’n terugkeer na in-persoon feeste. En ’n viering van die ongelooflike talent wat ons het.
Hoe vlot die kaartjieverkope – is mense meer huiwerig of juis uitgehonger vir vermaak? En gaan mense ook gedeeltes van die fees aanlyn kan bywoon?
Ons stroom wel van die amptelike funksies. Maar as jy die fees wil bywoon, dan moet jy Oudtshoorn toe kom. Daar is wel planne om van die produksies op te neem en uiteindelik weer op TV en aanlyn beskikbaar te stel. Maar jissie, as jy dit eerder in persoon kan sien – doen dit!
Die kooppatrone het verander en mens kann ie volgens enige van die jare voor Covid bepaal wat die koopgedrag van feesgangers is nie. Ons is dankbaar dat van die vertonings reeds uitverkoop is, en die kaartjieverkope styg daagliks. Dit gaan goed en mense is uitgehonger. Die mense kom!
Hoe voel die kunstenaars ... Is hulle nog huiwerig of gereed om gehore te bekoor?
Nee genade, ek dink nie daar is enige huiwering by die kunstenaars nie – hulle kan nie wag om weer voor gehore op te tree nie. Ek dink daar is maar onsekerheid en selfvertroue wat tog in hul agterkoppe is, want vir so lank kon hul nie hul vakmanskap beoefen nie. Maar ons kunstenaars is professioneel en hul kan enige uitdagings trotseer. Ek kan nie wag om al die mense weer op die verhoog te sien nie!
Tydens die inperkings, wat was julle beplanning/uitkyk/toekomsvisie om weer die vermaak-ekonomie en Kunste Onbeperk ’n hupstoot te gee?
Ons is gereed vir die nuwe tydperk. Dit sluit klompe nuwe projekte in, en omdat ons ook met nuwe platforms begin werk en speel het, maak dit nuwe geleenthede moontlik. Sodra die fees klaar is, sal ons ook uitgebreid na die res van Kunste Onbeperk se projekte en drome kan kyk.
En ondertussen het daar ook nog ’n oorlog uitgebreek! Watter ander uitdagings staar julle in die gesig noudat die fees die groen lig gekry het en kan voortgaan?
Dit het die afgelope tyd gevoel soos die tien plae van Egipte. Daar is baie veranderlikes en uitdagings: ’n dreigende wêreldoorlog wat ook petrolpryse beïnvloed, beurtkrag wat altyd ’n uitdaging by ’n fees is, ’n sprinkaanplaag wat die Klein Karoo so twee weke gelede getref het maar darem nou vir eers verby is, ’n pandemie wat nog nie verby is nie. ’n Ewige stryd om finansiële ondersteuning van die nasionale regering te kry vir die kunste, droogte in die Klein Karoo en so meer en so meer.
.........
Niks is vanselfsprekend nie en dat ons nou fees kan vier, is ’n voorreg. Ons moet elke oomblik geniet en waardeer. En ons moet mekaar waardeer. Elke oomblik is kosbaar.
.........
Maar niks hiervan gaan ons stuit nie en daar is planne A tot Z gereed. Ons is reg vir wat ook al ons kan toe kom. The show will go on. Ons is reg om weer fees te vier en daarmee saam die lewe en mekaar! Ek het nou die dag vir iemand gesê dat ek altyd so gegrief is as mense so "soppy" raak en al die clichés sê, maar ná die pandemie en nou, is ek nou maar daar en sal met oorgawe sê dat ons nou die lewe en mekaar moet vier. Niks is vanselfsprekend nie en dat ons nou fees kan vier, is ’n voorreg. Ons moet elke oomblik geniet en waardeer. En ons moet mekaar waardeer. Elke oomblik is kosbaar.
Hier is die KKNK 2022 se volledige program.

