KKNK 2018: Programbekendstelling

  • 0

Die week is afgeskop met die programbekendstelling van 2018 se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Haidee Muller was die gasvrou, en as ’n inboorling van Oudtshoorn sê sy die plek het al wye bekendheid verwerf. Vanjaar se program bevat ’n verskeidenheid produksies, wat sal verseker dat daar weer iets is vir almal – van kinderteater, tot musiek, tot visuele kuns.

Tydens dié geleentheid het die voorsitter van die Kunste Onbeperk-direksie, Crispin Sonn, genoem dat die direksie tydens hul strategiese sessies ’n paar bestaansvrae gevra het: Hoekom bestaan die fees? En wie word gedien deurdat daar ’n kunstefees soos die KKNK bestaan? Vrae rondom taal, spesifiek Afrikaans in die hedendaagse Suid-Afrika, is ook gevra.

Sonn in gesprek saam met Tobie Cronjé

Hy gaan verder en sê dat daar nog baie werk vir Suid-Afrika voorlê en dat daar nog op talle gebiede genesing moet plaasvind. Kunste kan help om ’n land te herstel. Hy sê ook: “Sport and art can play a uniting factor, or it can be a divisive factor […] and [we] very deliberately have chosen to ensure that there will be an uniting factor.”

Hy meen daar lê nog baie werk voor vir kunstefeeste en vir kuns en dat dit ook ’n doelbewuste besluit was dat die KKNK in Oudtshoorn plaasvind. Alhoewel die KKNK ’n nasionale kunstefees is wat ’n ekonomiese hupstoot aan die dorp gee, moet daar ook ’n verhouding met die gemeenskap wees. Op talle gebiede kry die KKNK dit alreeds reg, en Sonn plaas klem daarop dat die kunstefees in ’n koherente atmosfeer geskied.

Tydens die programbekendstelling is daar drie spesiale vererings gemaak.

Tobie Cronjé, wat al vir meer as 50 jaar as akteur en regisseur werk, is vereer vir sy lewenslange bydrae tot die kunste.

Cronjé saam met Katinka Heyns, wat die commendatio vir Cronjé se verering gelewer het.

Collen Maswanganyi ontvang vanjaar Kunste Onbeperk se Nuwe Stem-prys.

Maswanganyi is ’n beeldhouer en sy werk is dikwels lewensgroot en kan handel oor politiek of sosiale gebeurtenisse. Sy pa, Johannes Maswanganyi, is ook ’n beeldhouer, asook die KKNK se feeskunstenaar in 2018.

Lucia Boer, kunskurator, lewer die commendatio vir Maswanganyi.

’n Opwindende nuwe produksie, Lepeltjie vol snare, met Hannes Coetzee, Frazer Barry, Earl Witbooi, Loit Sols, Deniel Barry en Stefne van Dyk, handel oor Coetzee wat sy merkwaardige manier van kitaar speel met ’n teelepel in sy mond aan die volgende generasies oordra. Dit is geskoei op Coetzee en Barry se persoonlike verhouding waar die nalatenskap van die unieke gebruik van snaarinstrumente van die een na die ander oorgedra word.

Frazer Barry gaan in die produksie Lepeltjie vol snare die banjo met ’n lepel speel.

Hannes Coetzee met sy lepel en kitaar

Hannes Coetzee is ook tydens die geleentheid vereer met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys.

Hannes Coetzee saam met David Kramer, wat die commendatio gelewer het.

Die KKNK vind plaas van 29 Maart tot 4 April 2018 en die program is beskikbaar by http://kknk.co.za.

In die woorde van Crispin Sonn, beywer die KKNK hulle vir uitnemendheid en kwaliteit. So, sien jou in Oudtshoorn!

  •  Foto’s deur Hans van der Veen (verskaf deur JC Aucamp)
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top