
Titel: Into the fire
Skrywer: Gregg Hurwitz
ISBN: ISBN: 9781405928588
Uitgewer: Penguin
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
...
Op die voorblad waarborg David Baldacci lesers: “Read this book. You will thank me later.”
...
Ek hou daarvan dat die skurke in elke nuwe Orphan X-boek opgegradeer word na iemand erger. Dalk ontmoet die Nowhere Man eendag sy gelyke.
In 2016 stel Gregg Hurwitz ons bekend aan Orphan X. Die boek is uit alle oorde geloof, Lee Child, Harlan Coben, Robert Crais en Jonathan Kellerman. Op die voorblad waarborg David Baldacci lesers: “Read this book. You will thank me later.”
Dit is geen leë bemarkingstegniek nie. Inteendeel, Orphan X staan in my boekrak naas groot legendes soos The day of the Jackal en The Bourne Identity. En sedertdien is ek ’n bewonderaar van die karakter Evan Smoak, die voormalige regeringsluipmoordenaar wat nou as die Nowhere Man pro bono kriminele teregstel.
Die Orphan X-reeks waarborg konstante aksie. In Into the fire (die vyfde boek in die reeks) red David “The Terror” Terzian die forensiese rekenmeester, Grant Merriweather, uit ’n motorongeluk, net om hom en die dokters minute later dood te skiet.
Maar Grant het voor sy dood voorsorgmaatreëls getref vir ingeval iets met hom sou gebeur. Hy los ’n koevert – met ’n geheuestokkie in – vir sy nefie Max agter. Max moet dit aan die media oorhandig indien daar iets met hom gebeur. Skielik word Max gejag en sy enigste uitkoms is om Evan se geheime 1-855-2-NOWHERE-nommer te skakel. Alhoewel Evan wil uittree, antwoord hy die telefoon met sy gebruiklike: “Do you need my help?”
Die backstory kleur Evan Smoak met elke boek meer in. Getrou aan die reeks is daar gereeld ’n kisduiweltjie wat onverwags uitspring. Die reeks se gunstelingkarakters kuier ook lekker saam: Mia Hall (Evan se DA-buurvrou), Joey Morales (die sestienjarige hacker), Melinda Truong en Tommy.
Ek was hoogs teleurgestel toe die film nooit gerealiseer het nie en alhoewel ek steeds op ’n Orphan X-televisiereeks wag, is ek aan die einde van bladsy 449 verheug om te sien dat The Last Orphan bestem is om in 2023 te verskyn. Met apologie aan David Baldacci: Koop die boek. En bedank my later.


