Kinky Boots: die meeste pret wat jy vanjaar gaan hê – met jou "boots" aan, natuurlik!

  • 0

Tshepo Ncokoane, Phillip Schnetler, Earl Gregory, Emile Doubell en Chester Martinez (foto: Jesse Kramer)

 

Kinky Boots: Wanneer jy in die hoofteater van die Fugard instap en die hele plafon is weggeskuif om die idee van ’n fabriek te skep (heel bo sit musikante agter glas en daar is ’n ligte vibrasie in die gehoor oor dit wat wag), dan weet jy hier kom groot dinge.

Die storie in ’n neutedop, of skoenboks, as jy wil: Charlie Price (Darren Craig) erf sy pa se plattelandse skoenfabriek, Price & Son, maar sy verloofde wil in Londen woon. Wat Charlie nie weet nie, is dat die fabriek bykans bankrot is en daar stoorkamers vol skoene staan wat net nie verkoop nie.

Hy ontmoet vir Simon, oftewel Lola (Earl Gregory), ’n vermaaklikheidskunstenaar wat hemelhoë stilettos dra, maar kan doen met handgemaakte, goedontwerpte stewels. Hul vennootskap begin en met ’n modevertoning in Milaan wat wag, kan die nuwe rigting vir Price & Son nie net werksgeleenthede red nie, maar ook nuwe hoop vir Lola en Charlie se persoonlike lewens bring.

Natuurlik is ’n man in vroueklere nie iets wat sommer net deur elke Jan Rap en sy maat aanvaar sal word nie en Lola kry opdraende op die platteland. Op die ou end besef Lola en Charlie hoeveel hulle eintlik in gemeen het en dat wanneer jy jou houding jeens iemand verander, jy die hele wêreld kan verander.

Earl Gregory pas só goed in sy rol as Lola, jy kan sweer hy is Lola. Wanneer hy heel ongemaklik in mansklere lyk omdat mense hom dwing om soos ’n man aan te trek, is sy ongemak daar ook só oortuigend, jy wil glo hy is meer tuis op die spykerhakstewels en in blinkerrokke.

Sy vertolking verdien ’n prys – ek weet nie, gee die man ’n Kaapse Oscar of ’n Kaapse Emmy of ’n beeldjie van Tafelberg of iets van die aard; sulke sang en spel het ons lanklaas op die teaterverhoog gehad.

Ek het destyds gedink Earl was verstommend as Joseph in Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat, maar hier oortref hy selfs daardie vertoning. 

Maar dan – dit kan van die hele groep gesê word. Van die vier fopdossers, Tshepo Ncokoane, Phillip Schnetler, Emile Doubell en Chester Martinez, wat heelwat koortjies sing en allerhande akrobatiese toertjies op hul hoë hakke vermag, tot die fabriekswerkers en Charlie, is almal begeesterd en hou jou aandag die hele tyd gevange. Selfs die twee jong Lolas en Charlies is oortuigend en natuurlik in hul rolle.

En hoe lekker om in ’n uitverkoopte vertoning te sit, drie weke na openingsaand. Kaapstad se steun is ’n riem onder die hart.

Malcolm Terrey het vroeg vandeesweek by die groep aangesluit en sal die rol van die skoenfabriekbestuurder, George, oorneem totdat die produksie op 27 Oktober ten einde loop. Die produksie se speelvak is danksy die gewildheid daarvan binne twee weke na openingsaand verleng.

Birry le Roux se kostuums skitter blinker as tevore; die stel deur Paul Willis het ’n paar keer mense se asem weggeslaan en stelruilings is met oe’s en aa’s begroet.

Die vertoning word aangebied deur dieselfde kreatiewe span agter die Fugard–produksies van The Rocky Horror Show, Cabaret, Funny Girl en West Side Story. En met Cyndi Lauper wat die musiek en lirieke geskryf het, hoe anders as ’n wegholtreffer?

Kinky Boots is gebaseer op ’n ware verhaal en was in 2005 eers ’n film voordat dit in ’n musiekblyspel omskep is – en toe wen dit ses Tony– en drie Olivier–toekennings. Dit het ’n gros ander toekennings wat iewers op ’n kaggelrak pryk en speel sedert 2013 op Broadway en die West End vir uitverkoopte gehore, net soos hier in die Kaap.

Hierdie is sekerlik die meeste pret wat jy vanjaar gaan hê: met jou "boots" aan, natuurlik!

En as jy pouse uitkom vir ’n drankie, maak ’n draai by die kartonuitknipsel van die rooi stewels en neem ’n foto. Ek dink ons het ’n halfuur gewag vir ons beurt, want toe die Kinky Boots–gees die gehoor pak, was daar geen keer nie: oud en jonk, manlik en vroulik het daar gaan poseer!


Kinky Boots
Met onder andere: Darren Craig, Earl Gregory, Namisa Mdlalose, Amy Campbell, Nathan Ro, Lucy Tops, Lindy Abromowitz Sachs, Stephan van Huyssteen, Ralph Lawson, Malcolm Terrey en Glenn Swart (laasgenoemde twee van 21 Julie). 
Deur: Harvey Fierstein
Musiek en lirieke: Cyndi Lauper
Regie: Matthew Wild
Musikale regie: Charl–Johan Lingenfelder
Musikante op die verhoog: Dawid Boverhoff, Matthew Foster, Lumanyano Mzi, Shaun Johannes, Robert Jeffery
Stelontwerp: Paul Wills
Choreografie: Louisa Talbot
Kostuumontwerp: Birry le Roux
Die Fugard–teater, Caledonstraat 6, Kaapstad.
Tot 27 Oktober 2019
Geen onder 10’s
Kaartjies aanlyn by www.thefugard.com of by die Fugardteater se kaartjieskantoor by 021 461 4554.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top