King Richard III deur William Shakespeare by die Maynardville Opelugteater

  • 0

Cassandra Mapanda en Lee-Ann van Rooi in Richard III (foto-erkenning: Jesse Kramer)

Alan Committie lewer ’n vertolking van hoogstaande gehalte. Aanvanklik is hy die hertog van Gloucester. Hy stuit nie vir geweld en geslepenheid om koning Richard III te word nie. In die openingstoneel rig hy hom tot ons oor sy aard en lewensingesteldheid:

          As I am subtle, false, and treacherous ...

Deur die drama heen kry ons uitbeeldings daarvan, of juis die teenoorgestelde. Hy beskryf homself as iemand wat nie goed vaar as dit by liefde en seks kom nie.

But I … that am not shape’d for sportive tricks ...
I, that am rudely stamp’d, and want love’s majesty ...
To strut before a wanton ambling nymph;
I, that am curtail’d of this fair proportion,
Cheated of feature by dissembling nature,
Deform’d, unfinish’d, sent before my time
Into this breathing world scarce half made up,
And that so lamely and unfashionable
That dogs bark at me as I halt by them.

Nie net die honde wil hom aanval nie. Een van sy vyande noem hóm ’n hond.

In hierdie drama is daar geweldig baie haat, aanklagte, wantroue, vervloekinge, gekonkel, sluheid, moorde. Die sterkste tonele van konfrontasie is tussen hom, Lady Anne (Bianca Minnie) en Queen Margaret (Anthea Thompson). Vir laasgenoemde is hy ’n “murderous villain”. Saam met hierdie donkerheid is daar ook talle Bybelse verwysings en natuurbeelde.

Regisseur Hyland het Committie dikwels heel voor op die verhoog geplaas sodat sy alleensprake die gehoor direk bereik. Veral in die voorste rye kon ’n mens sy gesigspel volg en daardeur sy gedagtegang. Wanneer hy byvoorbeeld glimlag of op ’n sekere manier kyk, besef ’n mens dat wat hy so pas gesê het, bedoel hy nie. Daarin is lieflike ironie en selfs humor opgesluit. Nadat hy uiteindelik gekroon is, lyk dit of sy liggaamstaal oorsein dat hy meer verwag het. Soms voer hy ’n treffende klein handeling uit: daardie getik terwyl hy sit. Is dit op sy ring, op sy swaard? En dan is daar sy uitroepe terwyl hy uithardloop in die middelpaadjie op. Ek wil sweer hy het iets in my oor geskreeu!

Hyland het die verloop van die opvoering netjies beheer. Daar’s voortdurend sinvolle handeling, spraak en tog ook deurleefde pouserings. Byklanke is ekonomies gebruik om stemminge te skep. Ek het lanklaas ’n Shakespeare-opvoering beleef waarin ek gewoon nooit belangstelling verloor het nie. Daarvoor het die “donderslae” by ’n verskyning van Anthea Thompson as Queen Margaret ook gesorg!

My aandag het wel effens gedwaal toe ek begin dink het aan die toekenning van rolle aan spelers wat nie van dieselfde ras as die karakters is nie. Dekades gelede is sogenaamde kleurblinde rolbesettings dikwels bespreek. Het ons gewoond geraak daaraan, veral by dramaskole van universiteite? Maar dit gaan mos om inlewing, egtheid en oortuigendheid in ’n toneelopvoering. Kan dit nou werklik gebeur? Maar soos die aanstaande koning sê: “Dive, thoughts, down to my soul.”

Teen die einde is ’n kaptein aangespreek. Toe speel ’n jonge dame dit. Is daar jou werklik nie ’n man in die hele Kaap om dié kort verskyning te maak nie?

Wanneer twee spelers in die openingstonele met mekaar gepraat het, het daar dikwels ’n skaduwee op een se gesig geval. Soms moes ek rondkyk oor die verhoog om te sien wie dit is wat praat. Dit het gebeur wanneer die laaste spraak vir die gehoor heeltemal van regs kom en die nuwe spraak van die eindpunt links.

Byspelers het onheilspellende maskers gekry. Dit het die spraak van die twee kinders belemmer; die meisie s’n was in elk geval nie oortuigend nie; dit het nageboots geklink.

Steeds is dit ’n voorreg om die natuur in die park te bewonder. En om jou kaartjies ná al die jare steeds tussen daardie outydse houtdeurtjies te ontvang by die hoofingang. Terwyl ek gewag het, het een van die jong beamptes, ’n tenoor, om die draai iets oor ’n “rooi rokkie” gesing.

Regie: Geoffrey Hyland

Met Alan Committie (hertog van Gloucester; later koning Richard III), Anthea Thompson (Queen Margaret), Lee-Ann van Rooi (Duchess of York), Andrew Laubscher (Duke of Buckingham), Bianca Mannie (Lady Anne), Cassandra Mapanda (Queen Elizabeth), Sanda Shandu (Richmond), David Viviers (Lord Hastings) en John Maytham (Lord Stanley). Ander: Matthew Bobby Stuurman, Tailyn Ramsamy, Damon Munn, Tafara Nyatsanza en Sam Alexander.

Kostuums: Ilka Louw en Alicia Wallace

Kostumier: Jennifer Williams.

Stel: Geoffrey Hyland en Bridie Birdy

Beligting: Faheem Bardien.

Klank: Liam Cooksen, Geoffrey Hyland en Bernard Kotze.

Verhoogbestuur: Alicia Vincent Price en Sophie Joans

Aangebied in die Maynardville Opelugteater in Wynberg deur Alan Committie, Siv Ngesi en Simon Cooper in samewerking met Maynardville-trust en Liquidmatch Productions en met ondersteuning van die Kunstekaapteater en die Universiteit van Kaapstad se Centre for Theatre, Dance & Performance. Plekbespreking by Computicket en Shoprite Checkers. Tot 9 Maart 2019.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top